Dolly – bes moontlik die heel bekendste skaap in wêreldgeskiedenis – is 20 jaar gelede op 5 Julie 1996 gebore. Sy was die eerste soogdier wat ooit gekloon is as ’n presiese genetiese weergawe van haar ma en is gesond gebore. Die wetenskaplike gemeenskap en hoofopskrifte in die media het die deurbraak geloof en daarop aanspraak gemaak dat menslike kloning binnekort sou volg. Is daardie vooruitsig iets waaroor die mensdom verleë behoort te wees wanneer ons die moontlike gevare in ag neem of bied dit ’n oplossing vir menslike sterflikheid?

Die sedelike dilemma van hierdie moontlike volgende stap het veroorsaak dat baie mense huiwerend daaroor nagedink het – oor die morele implikasies sowel as die impak daarvan op toekomstige generasies. Wat kan ons 20 jaar ná Dolly se skepping hieruit leer wanneer ons daarop terugkyk?

Die geboorte van Dolly word as een van die belangrikste wetenskaplike deurbrake ooit beskou met die ontwikkeling van nuwe metodes as hoofdoel om diere geneties te verander. Dolly het tegnies drie moeders gehad; een om die DNA te verskaf, een om die eiersel te voorsien en een as ’n surrogaat om die embrio te dra. Bioloë het ’n proses genaamd “somatiese sel kern oordrag” gebruik om ’n lewensvatbare embrio uit ’n liggaam (somatiese) sel en ’n eiersel te skep met behulp van ’n tegniek genaamd reproduktiewe kloning. Die geboorte van Dolly by die Roslin Instituut in Edinburgh, Skotland, was ’n streng bewaarde geheim tot Februarie 1997, toe sy aan die wêreld bekendgestel is.

As ’n media beroemde, het Dolly ’n produktiewe lewe gehad. Sy was die moeder van ses lammers – die eerste was ’n eenling, daarna ’n tweeling, gevolg deur ’n drieling. Sy het artritis in haar latere lewe ontwikkel en is in Februarie 2003 aan ’n progressiewe longsiekte dood. Die siekte is redelik algemeen onder skape wat binnenshuis aangehou word. Dolly was nooit toegelaat om vrylik buite rond te loop nie, omdat gevrees is dat sy ”gesteel” sou word. Daar was ook ongegronde spekulasie dat Dolly vroeg dood is, na ses jaar, omdat haar DNA-bron reeds ses jaar oud was toe sy gekloon was. Dolly was die enigste lam uit 277 kloningspogings wat tot volwassenheid oorleef het, ’n suksessyfer wat in die laaste twee dekades dramaties verbeter het namate kloningstegnieke meer doeltreffend geraak het.

Die etiek van kloning?

Die hoofdebat sedert Dolly se geboorte het betrekking op die etiek van potensiële menslike kloning – ’n proses wat reeds met embrio’s begin is met behulp van dieselfde proses as Dolly, maar nog nie tot geboorte deurgevoer is nie. Die hoë mislukkingsyfer ontmoedig baie wetenskaplikes om morele redes. Hulle beskou die 1% kans op sukses vir ’n lewensvatbare mens met swak gesondheid as ’n te hoë prys om te betaal. Nogtans beweeg die praktyk van kloning teen ’n toenemende tempo vooruit – ’n verdere voorbeeld van die mensdom se vermoë om kennis uit te brei, so uniek onder alle geskape mense (Daniël 12:4; Génesis 11:6). Hoe kan ons van wetgewers verwag om aan die voorpunt te bly met die regulering van hierdie gevaarlike en moreel sorgwekkende praktyk?

Ten spyte van die probleme, sien sommige wetenskaplikes kloning as ’n doeltreffende hulpmiddel, selfs as ’n potensiële manier om menslike lewe te verleng. Dit behoort ons nie te verbaas nie; per slot van sake is daardie nuuskierige wetenskaplikes na die beeld van God geskape (Génesis 1:26-27) met vrugbare en aktiewe verbeeldings wat gretig is om wetenskaplike moontlikhede te verken, selfs al is dit buite ons menslike kapasiteit of moraliteit om te reguleer. Hierdie wetenskaplikes visualiseer om ons as mense in die latere lewe te kloon en dan op een of ander manier, deur die brein te karteer, ons herinneringe en ervarings na ’n jonger replika oor te dra (“Obama proposes brain mapping project”, BBC.com, 2 April 2013). Daarvolgens kan die “jonger self” ’n leeftyd leef voordat dit alles weer oorgedoen word, met reserwe replikas van uself in die vrieskas.

Die V.K. was die afgelope jare aan die voorpunt van genomiese navorsing. In Februarie 2015 het die V.K. die skepping van menslike embrio’s met drie biologiese ouers gewettig. Wanneer moeders met ’n bekende genetiese toestand behandeling vir in vitro-bevrugting ondergaan, kan hulle ’n deel van hulle mitochondriale genetiese kode met ’n derde persoon s’n vervang, sodat die kind gesond gebore word. Selfs al kom net 0,1% van die genetiese kode van die baba uit ’n ander bron as dié van die biologiese moeder en vader, beteken dit effektief dat die kind die genetiese nageslag van drie ouers is!

In November 2015 berig die New Scientist tydskrif dat die nuwe en vinnig vorderende wetenskap van gene-redigering gebruik was om Layla, ’n eenjaar-oue leukemie pasiëntjie van Londen te red. Dokters by Great Ormond Street Hospital het die geneties gemodifiseerde immuunselle van ’n skenker gebruik om die kankeragtige selle in Layla se beenmurg dood te maak.

“Redigering” van menslike embrio’s?

In Januarie 2016 was die regering van die V.K. die eerste om dit te oorweeg – en as ’n saak van belang goed te keur – om gene-redigering op menslike embrio’s toe te laat tot sewe dae oud, wat dan later vernietig moes word. Hierdie tegnologie is so nuut dat regerings, beleidmakers en etiese kundiges sukkel om tred te hou met hoe om dit te reguleer. Die heel eerste beraad oor Genoom-Redigering het in Desember 2015 in Washington, DC plaasgevind. Daar word gesê dat die kragtige gene-redigeringstegnologie wat as CRISPR-Cas9 bekend staan, groot belofte inhou om wetenskap te bevorder en siektetoestande te behandel. Die webwerf van Innovative Genomics Initiative (’n inisiatief wat gestig is om genoom-redigering te meld:): “Hierdie tegnologie wek ook kommer en bied komplekse uitdagings, veral as gevolg van die potensiaal om gebruik te word om genetiese veranderinge aan te bring wat op toekomstige generasies oorgedra kan word en daardeur die menslike oorspronglyn kan verander”. U oorspronglyn is die genetiese inligting wat u aan u kinders, kleinkinders en nageslag oordra. Sal ons onsself kloon en dit waag om ’n gevaarlike genetiese mutasie van ons eie skepping in die menslike genoom in te bring?

Die Skepper-God het ons ontwerp om twee ouers te hê (Génesis 1:27, 28) met die helfte van ons DNA van elkeen afkomstig. Die proses van voortplanting vind na willekeur plaas en bied eindelose moontlikhede vir nuwe lewe by bevrugting. Ons is sekerlik “vreeslik wonderbaar” gemaak (Psalm 139:14). Kloning is aan die ander kant ’n presiese reproduksie van een ouer se sonderlinge DNA, wat nie is hoe God beplan het voortplanting moet werk nie. Dit was nooit God se bedoeling dat die mens deur kloning van voorafbestaande DNA geskep word nie.

God reproduseer Homself!

Ons as mense is sterflik (Hebreërs 9:27). Sonder Christus sou ons uiteindelike dood in die gesig moes staar as gevolg van sonde wat ons almal gepleeg het (Romeine 5:12; 6:23). Die Skrif openbaar hoe wonderbaarlik God dit beplan om Homself te reproduseer. Dit vereis ons vrywillige onderwerping, bekering en doop om in wese God se DNA te ontvang. Die apostel Johannes vertel aan ons dat iemand wat deur God verwek is (gennao, dit word gewoonlik verkeerdelik as “gebore” vertaal) wat God se Gees ontvang het – die werklike “saad” (Grieks sperma) van God verkry het – nie meer sal sondig nie (1 Johannes 3:9). Ja, wanneer ’n berouvolle individu gedoop is en die Heilige Gees ontvang deur die handoplegging van Christus se leraars, het die verwekking van ’n nuwe skepsel plaasgevind (Handelinge 8:14-17)!

God wil hê dat ons deel van Sy gesin word, ’n proses wat Hy inisieer deur ons met sy Heilige Gees, Sy saad, te verwek. Hy het die wonderlike proses ontwerp waardeur ons fisies voortgeplant word. Die mensdom neem reeds die moeilike en potensieel gevaarlike stappe om homself te kloon, huidige navorsing oortref tans die mylpaal van Dolly reeds by verre. Kloning is egter nie die oplossing vir ons sterflikheid nie – God bied op Sy eie, volmaakte manier onsterflikheid aan ons.