Hoe beskryf u die Wêreld van Môre aan ’n buurman wat nie vertroud is met hierdie tydskrif nie? Dit is beslis nie soos Time, National Geographic of Sport Illustrated nie, maar dit is ook nie soos die meeste godsdienstige publikasies nie. U het sekerlik teen hierdie tyd al ’n verskil gesien, maar verstaan u waarom dit anders is? Waar kom ons vandaan? Wat is ons doelwitte?

Die Wêreld van Môre berig oor en ontleed wêreldnuus, maar kies polities nie kant nie. (Tog word ons soms daarvan beskuldig – deur albei kante van die politieke spektrum – want waarheid is waarheid, dit maak nie saak waar dit vandaan kom nie!) Ons praat baie oor Bybelprofesieë, maar maak nie daarop aanspraak om profete te wees nie. Ons skryf oor die Christelike lewe as ’n beter lewenswyse en waarsku teen gedrag wat niks anders as hartseer en verdriet meebring nie.

Nog ’n belangrike verskil wat ons van byna alle ander publikasies onderskei, is dat ondanks die feit dat dit ’n tydskrif van hoë gehalte is, word die Wêreld van Môre gratis weggegee. Daar word geen betaalde advertensies in die bladsye daarvan gevind nie. U sal nooit sien dat ons boeke, T-hemde of koffiebekers verkoop nie en ons gee al ons boekies, DVD’s, CD’s en ander materiaal gratis weg. Dus, wat baat óns daarby? Waarom doen ons dit? Wat is ons opdrag?

Ons boodskap en opdrag

Ons by die Lewende Kerk van God, wat hierdie tydskrif asook die Tomorrow’s World-televisie-uitsending borg, neem die Bybel baie ernstig op. Dit is waarom ons nie die Waarheid verkoop nie (Spreuke 23:23; Matthéüs 10:8) en daarom is ons boodskap anders. Neem alle “Christelike” kerke dan nie die Bybel ernstig op nie? Onderrig hulle nie almal wat dit sê nie, net vanuit verskillende perspektiewe?

Ek is bevrees my vriende, dat u teleurgesteld sal wees omdat die ware feite van hierdie saak, verwys na die rede vir die warboel waarin ons wêreld vandag is. Die waarheid is nie betwisbaar nie, ten spyte van die akademici se beste pogings om ons en veral ons jeug, anders te oortuig. Die absolute fisiese waarheid is die rede waarom ons met vliegtuie kan vlieg en morele waarheid is net so absoluut – nie onderhewig aan die onvoorspelbaarheid van menslike opinie nie.

Die Skrif toon duidelik wat ons opdrag behoort te wees. Jesus het Sy dissipels beveel: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (Markus 16:15). Dit klink eenvoudig genoeg, maar wat is die “Evangelie” wat Jesus Sy volgelinge aangesê het om te verkondig?

Die Bybel is gevul met hierdie boodskap wat deur byna niemand verstaan of verkondig word nie. Predikers het die ware Evangelieboodskap vervang met een oor die Persoon van Christus en ’n goedkoop soort genade. Sodoende ignoreer hulle die boodskap wat Jesus Self vir meer as drie jaar voor Sy dood, begrafnis en opstanding verkondig het.

Christus se offer is ’n deel van die Goeie Nuus, maar nét so is die boodskap ’n deel van wat Hy voor Sy kruisiging verkondig het. Min mense is selfs bewús van Sy boodskap, maar die Wêreld van Môre verkondig daardie boodskap van die Koninkryk van God wat binnekort op die aarde gevestig sal word!

In daardie Koninkryk sal Jesus “... Koning wees oor die hele aarde” (Sagaría 14:9). Koning Dawid wat uit die dood opgewek sal word sal oor die hele nasie van Israel heers (Eségiël 34:23-24; Jeremia 30:9) en die twaalf Apostels wat uit die dood opgewek is, sal op twaalf trone sit en die twaalf stamme van Israel oordeel (Matthéüs 19:28). Ons verstaan dat diegene wat waarlik aan Christus behoort by Sy Wederkoms, heerskappy oor stede gegee sal word (Lukas 19:15-19).

Dit alles verklaar waarom die Skrif vir Jesus die Koning van die konings en die Here van die here noem (Openbaring 19:16). Ware Christene van hierdie tydperk sal daardie konings en here wees oor wie Hy sal heers! Waarom is dit dat mense hierdie duidelike stellings lees, maar nie verstaan nie of weier om dit te glo?

Sommige jarelange lesers van hierdie publikasie weet wat die antwoord op daardie vraag is. Ons verstaan waarom die meeste mense – selfs baie gereelde lesers van hierdie tydskrif – “dit nie begryp nie”. Soos Jesus vir ons sê, geen menslike wese kan na Hom toe kom, tensy Sy Vader hulle verstand oopmaak en hulle na die Waarheid trek nie. Dit mag miskien skokkend klink, maar dit ís wat Jesus gesê het en Hy het dit selfs herhaal om dit te beklemtoon: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie ... Om hierdie rede het ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie” (Johannes 6:44, 65).

Maak God u verstand oop?

Indien God u verstand oopmaak om hierdie dinge te verstaan en u wil meer te wete kom oor die toekomstige Koninkryk van God, nooi ons u om ons gratis publikasie, Glo u die ware Evangelie? aan te vra. Jammer om te sê, maar dit gaan nie daaroor om op wolke in die hemel rond te sweef nie!

U mag dalk wonder waarom die Wêreld van Môre soveel tyd aan wêreldnuus en Bybelse profesieë spandeer. Besef u dat een kwart tot een derde van die Bybel uit profesie bestaan en dat die meeste van daardie profesieë betrekking het op, waarna verwys word as, die eindtyd. Dít is die huidige tyd tot en met die Wederkoms van Jesus Christus. Jarelange lesers van die Wêreld van Môre verstaan waarom Hy moet terugkeer. Die rede word in Matthéüs 24:21-22 gevind.

Dit behoort voor die hand liggend te wees vir almal wat sien wat besig is om in ons wêreld te gebeur stuur af op ernstige probleme. Alles is nie reg nie. Ja, daar was in die verlede baie moeilike tye, maar nog nooit ’n tyd met groter potensiaal vir totale uitwissing nie. Die Verenigde State is nie meer verenig nie. Inteendeel, dit is erg verdeeld met feitlik geen vooruitsig van versoening nie, wat niks goed vir die VSA en ook vir die res van die wêreld voorspel nie. Die era van relatiewe stabiliteit na die Tweede Wêreldoorlog is besig om tot ’n einde te kom en die Bybel openbaar waarheen dit alles besig is om te lei.

Ons by die Wêreld van Môre sien hoe ons nasies besig is om op ’n ramp af te stuur. Ons wêreld is op die rand van ’n afgrond en daar is geen keer meer nie. Die einde is in sig en ’n ramp is ons voorland, tensy ons baie vinnig tot stilstand kom of rem aanslaan en omdraai.

Ons het geen illusies dat die meerderheid van mense nie na ons waarskuwing sal luister nie en nog minder dat hulle daarop sal ag slaan en reageer, maar ons is nietemin verplig om dit te gee. “Red die wat na die dood gesleep word, en die wat na die slagbank wankel, hou hulle tog terug! As jy sê: Kyk, ons het dit nie geweet nie! – sal Hy wat die harte toets, dit nie merk nie? En Hy wat let op jou siel, Hy kom dit te wete. En Hy vergeld die mens na sy werk” (Spreuke 24:11-12).

God het aan die profeet Eségiël gesê om ’n boodskap op te teken vir ander mense om aan die einde van hierdie tydperk te verkondig – selfs al sou daardie boodskap verwerp word (Eségiël 3:4-7). Diegene wat die boodskap verstaan en nalaat om die waarskuwing uit te basuin, sal aanspreeklik gehou word. Indien hulle egter die waarskuwing rig, selfs al word dit verwerp, sal hierdie wagte nie verantwoordelik gehou word vir die ramp nie (Eségiël 33:1-7).

Dit som in baie eenvoudige terme op waaroor die Wêreld van Môre alles gaan. Daarom vertel ons die Waarheid. Dit is ook waarom ons besef dat die boodskap wat ons verkondig ongewild is en meer ongewild sal raak namate die tyd verbygaan. Daar is tye in die lewe wanneer ons moet opstaan vir die waarheid, ongeag die koste. Soos die apostel Paulus tereg sê: “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” (2 Timótheüs 3:12).

Die Wêreld van Môre is soos geen ander tydskrif van vandag nie omdat ons die duidelike Waarheid van Christus se boodskap verkondig, wat Hy vir ons gedoen het en hoe Sy plan vir die mensdom gaan uitwerk. Ons verkondig die slegte nuus sowel as die goeie nuus. Ons verkondig die Wederkoms van Jesus Christus wat oor die hele aarde sal regeer vanaf ’n troon in Jerusalem (Sagaría 14:4, 9). Ons verduidelik ook die doel van die lewe naamlik dat mense in die gesin van God ingebore kan word tydens ’n opstanding tot die ewige lewe. Die Wêreld van Môre-tydskrif gee hoop aan ’n wêreld vol onrus wat vinnig besig is om hoop te verloor.

Die werklike vraag is nou, hoe sal u reageer?