Selfs voor Charles Darwin het baie mense ’n verklaring gesoek vir menslike bestaan waarin ’n alwetende, almagtige God geen rol gespeel het nie. Om die bestaan van God te erken, is om ’n morele gesag oor ons lewens te aanvaar – iets wat onnatuurlik vir die menslike verstand is. “[O]mdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Romeine 8:7). Die mensdom wil nie vertel word wat om te doen nie.

Elkeen van ons moet ’n noodsaaklike keuse maak. Hoe meer ons oor die begin van ons heelal ontdek, asook die ingewikkeldheid en duidelike ontwerp daarvan, hoe swakker is ons verskoning om die Skepper daarvan te verwerp:

“Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie” (Romeine 1:20).

Wat van u? Glo u in God? Wat nét so belangrik is, gló u God?

Hierdie is eenvoudige vrae met reguit antwoorde, maar soos die profeet Jeremia verduidelik: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9). Dit kan tog sekerlik nie u hart of myne beteken nie? Moenie te seker wees nie.

Ware Christelikheid is meer as ’n intellektuele oefening en wanneer dit ernstig opgeneem word, verander dit lewens. ’n Pligsgetroue Bybelstudent behoort nie onveranderd te bly nie. Moeilike besluite moet geneem word.

Die Wêreld van Môre-tydskrif bevat Bybelse inhoud met betrekking tot ons wêreld en waarheen dit op pad is. Dit bevat artikels wat sosiale tendense, geskiedenis, Bybelprofesie en die doel van die lewe dek – wat alles, indien dit reg verstaan word, tot ’n lewenswyse lei wat verskil van die wêreldse en godsdienstige verloop van ons wêreld. Kortweg, die Wêreld van Môre is ’n oproep om te verander.

Ons uitgawe van Desember 2022 bevat die artikels “Oom George en Kersfees” en “Is Kersfees ’n heidense vakansiedag?” Waarom is dit geskryf? Sonder twyfel, om geskiedkundige en Bybelse perspektiewe oor hierdie gewilde vakansiedag oor te dra. Is dit egter al? Is dit bloot om te onderrig of te vermaak of is dit bedoel om denke en gedrag te verander?

Jesus se eie halfbroer het vermaan: “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie” (Jakobus 1:22). Hy het toe gewaarsku: “Want as iemand ’n hoorder van die woord is en nie ’n dader nie, dié is soos ’n man wat sy natuurlike gesig in ’n spieël sien; want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het” (verse 23-24).

Jakobus het verder verduidelik dat voordele vir almal wat toepaslik reageer beskikbaar is op dit wat hulle in die spieël van God se Woord sien: “Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ’n vergeetagtige hoorder is nie, maar ’n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy doen” (Jakobus 1:25).

Verdra ’n vervalsing

Die Wêreld van Môre vestig ons aandag op baie ongemaklike waarhede wat in die Bybel gevind word. Wanneer God vir ons sê om Hom nie te aanbid soos die heidene hulle gode aanbid nie, bedóél Hy dit. Dit is nie onderhandelbaar nie. Ons evalueer die situasie eerlik, verander en gehoorsaam God óf ons gaan voort om mensgemaakte tradisies te volg wat Sy instruksies weerspreek (Markus 7:1-9; Deuteronómium 12:29-32; Jeremia 10:2).

Waarom reageer so min mense op die geopenbaarde Waarheid? Hoe kan hulle God se Woord lees en wegstap van die spieël van Sy volmaakte Wet – die Wet wat vryheid meebring? Jesus se vraag is vandag nog net so van toepassing soos wat dit in die eerste eeu was: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46).

Mense mag dalk saamstem met wat hulle hoor, maar verander hulle? Gewoonlik nie. Dit was dieselfde gedurende die tye van die groot Bybelse profete. “Sê dan vir hulle: Dit is die nasie wat na die stem van die HERE hulle God nie geluister het nie en die tugtiging nie aangeneem het nie; die opregtheid het verdwyn en is uitgeroei uit hulle mond” (Jeremia 7:28).

God se Woorde is vir baie mense gerusstellend. Dit is egter nie ’n opdrag om ’n mens se lewe te verander nie, veral as dit beteken familietradisies word verwerp. God het aan die profeet Eségiël gesê: “En kyk, jy is vir hulle soos ’n minnelied, soos een skoon van stem, wat goed op die snare speel: hulle hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie” (Eségiël 33:32).

Die hoofstroom Christendom is heeltemal verskillend van dié van Jesus en Sy eerste-eeuse volgelinge; dit is ’n vervalsing wat ’n ánder dag vir weeklikse aanbidding opsy sit, jaarlikse dae wat verskillend onderhou word as wat Jesus onderhou het, ’n ander beloning aanbied vir diegene wat die oproep beantwoord en ’n ander einde vir die ongehoorsames verkondig. Die apostel Paulus het die Kerk van God in Korinthe gewaarsku dat hulle die verkeerde leiers volg (2 Korinthiërs 11:13-15). Die kerk se leraars het die mense van ’n valse Jesus geleer, met ’n ander gees na hulle gekom en ’n ander boodskap verkondig (vers 4). Paulus het vir die Korinthiërs gesê: “... laat julle jul dit goed geval” (vers 4).

’n Vereiste vir dissipelskap

Dit bring my by dít wat die skrikwekkendste vers in die Bybel behoort te wees. Dit is die werklike rede waarom so baie mense weier om te verander. Dit verduidelik waarom sommige mense erken dat Jesus die “Here van die Sabbat” is – die sewende dag – maar tog nie bereid is om te verander van die dag van sonaanbidding op die eerste dag van die week, wat deur keiser Konstantyn in die vierde eeu n.C. ingestel is nie. Dit verduidelik waarom die meeste mense wat weet wat die ware oorsprong van Kersfees en Paasfees is, eerder by hierdie gebruike van heidense oorsprong sal hou, as om die dae te onderhou wat Jesus en Sy volgelinge onderhou het. Dit verduidelik waarom so min belydende Christene bereid is om te handel in ooreenstemming met die Boek wat hulle hulle glo die geïnspireerde Woord van God is.

Wat is daardie skrikwekkendste vers van alle Skrifture? Wat beteken dit vir u? Lees dit. Mediteer daaroor. Hier is dit:

“As iemand na My toe kom en hy haat nie [tot ’n mindere mate liefhê] sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie” (Lukas 14:26).

Hierdie is die skrifgedeelte waar teorie in die praktyk toegepas word. Dit is nie ’n maklike vereiste vir dissipelskap nie en ai, hoe haat sommige mense die woord vereiste. Dit is waarom Jesus vir ons sê dat ons moet ingaan “deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Matthéüs 7:13-14).

Moenie wees soos die mens wat in die spieël van waarheid kyk, ’n probleem sien en dan wegstap nie. Wees sterk, wees moedig en doen wat Jesus sê. Terwyl daar diegene is wat probeer wegdoen met die nodigheid van ’n Skepper, skep ander mense Hom na hulle eie beeld, omdat hulle hul familie en vriende belangriker ag as wat hulle die ware God vrees.

Christelike dissipelskap is nie maklik nie en dit behoort duidelik te wees vir enigeen wat die Bybel lees. Liewe Leser, terwyl u aanhou om hierdie tydskrif te lees en na die Tomorrow’s World-beeldsendings te kyk, is dit my gebed dat God u oë sal oopmaak en u die krag sal gee om volgens Sy Woord te leef – al lyk dit skrikwekkend aan die begin – die beloning is ongeëwenaar.