Ons reeks oor die Hervorming kom tot ’n hoogtepunt met die verrassende en dikwels onvermelde wrede taktiek van die hervormers.

Het die hervormers hulle volgelinge teruggelei na die “geloof wat eenmaal oorgelewer is”? Lees die skokkende metodes van die hervormers in hierdie aflewering wat gebaseer is op dr. Roderick C. Meredith se boek wat binnekort sal verskyn.

Verrassend soos dit mag wees, het die meeste van ons nog nooit regtig bewys waarom ons die dinge glo wat ons glo nie – veral daardie dinge aangaande God en die ewigheid!

Waarom is dit so?

Dit is as gevolg van ’n flater in die menslike natuur wat ons geneig maak om te aanvaar dat wat ons ouers, vriende en medewerkers ons ookal vertel, heeltemal waar is. Sodra ons eers roekeloos van hulle verskillende idees en oortuigings aanvaar het, hou ons nie daarvan om te verander of om te oorweeg dat ons verkeerd mag wees nie!

Die duidelike feite van die geskiedenis wat in hierdie reeks uitgelig word, mag dus skokkend voorkom vir baie mense wat voorheen aanvaar het dat wat vandag “Christelikheid” genoem word, waarlik die geloof is wat deur Jesus Christus en Sy Apostels verkondig is. Dit is beslis nie die geval nie! Ons kan nou sê dat die Bybelse en geskiedkundige bewyse van hierdie stelling meer as genoeg in hierdie reeks artikels gedemonstreer is. Dit is iets wat elke opregte persoon vierkantig in die gesig moet staar!

Laat ons ons nie blind hou vir die betekenis van die waarheid nie!

In hierdie reeks het ons uit die outentieke geskiedenis gesien dat heidense seremonies en tradisies kort na die dood van die oorspronklike Apostels op groot skaal in die belydende Christelike kerk ingebring is. Daar is aangetoon dat heidense filosofieë en oortuigings ook in hierdie tyd ingekom het.

Ons het die geestelike korrupsie en verdorwenheid van die sigbare kerk in die “Donker Middeleeue” bespreek. Terwyl ons Luther se opstand teen hierdie stelsel ondersoek het, het ons gevind dat hy terselfdertyd teen alle gesaghebbende opdragte van God en Sy Woord gerebelleer het. Omdat hy ’n afkeer gehad het aan die klem wat Jakobus geplaas het op die noodsaaklikheid om God se Wet te gehoorsaam, het Luther hierdie geïnspireerde boek “’n sendbrief van strooi” genoem.

Ons het gesien hoe Luther op die politieke mag van die Duitse vorste staatgemaak het om hom te ondersteun en hoe dit hom genoodsaak het om bigamie toe te laat en ’n “goeie sterk leuen” aan te beveel om hulle politieke guns te behou.

Johannes Calvyn se diktatoriale metodes en betrokkenheid in die politiek was vir baie mense skokkend. Sy bereidwilligheid om ’n godsdienstige teenstander lewendig te verbrand, sal in hierdie aflewering bespreek word.

In die vorige uitgawe het ons gesien hoe seksuele wellus en hebsug vir mag veroorsaak het dat Henry VIII die Engelse opstand aan die gang gesit het – ’n beweging wat eerlikwaar nie ’n godsdienstige beweging in die ware sin van die woord genoem kan word nie.

Ons het dikwels die ontnugterende vraag gevra: Was die Hervorming deur God se Heilige Gees geïnspireer en gelei? Het dit mense werklik gelei om na die geloof en praktyke van Jesus en die Apostels terug te keer?

Onthou Jesus se waarskuwing: “Maar pas op vir die valse profete” (Matthéüs 7:15). Hy het gesê: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken” (vers 16). Die “vrugte” van die Protestantse hervormers bestaan sekerlik uit ’n baie groot deel wat nie goed is nie. Hulle motiewe, metodes en die resultate was geensins dié van Jesus en Sy Apostels nie!

Nadat ons die feite van outentieke geskiedenis regdeur hierdie reeks gegee het, laat ons nou die motiewe en metodes van die Protestantse hervormers ondersoek in die lig van die boek wat hulle beweer dat hulle daarin glo, die Bybel.

Die Bybel en die Hervorming

Ons het die basiese grondslag van die Protestantse kerke van vandag ondersoek. Ons het na die bron van “verdeelde Christendom” van ons tyd gegaan.

Indien daar een ding is waaroor alle godsdienstiges saamstem, dan is dit die betreurenswaardige feit dat die Protestantse hervormers ’n godsdienstige “Babilon” van ontsaglike omvang aan ons nagelaat het. Soos ons gesien het, moet byna elke groot Protestantse denominasie sy geskiedenis, direk of indirek, naspoor sedert die Hervorming van die sestiende eeu. Tot op daardie tydstip was hulle godsdienstige voorouers almal onder die invloed van die Rooms-Katolieke kerk.

Jesus Christus het gesê: “... op hierdie rots sal Ek my gemeente (kerk) bou ...” (Matthéüs 16:18). Ons kan ons net Sy reaksie voorstel by die aanskoue van honderde verskillende kerke wat almal op Sy naam en goedkeuring aanspraak maak.

Ons wonder wat die uitspraak van Christus se getroue apostel Paulus sou wees, wat ons aangemoedig het om “die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede” en geïnspireer was om te sê: “Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is” (Efésiërs 4:3-6).

Nodeloos om te sê, hierdie eenheid vind ons nie in die Protestantse wêreld van vandag nie. Daar is baie gelowe en baie gemeentes of kerke. Al te dikwels toon hulle dieselfde antagonisme as wat Luther teenoor die Switserse hervormers gevoel het: “Julle het ’n ander gees ... Ons kan julle nie as broeders erken nie” (Schaff, Philip P., History of the Christian Church, vol. VII. Wm. B Eerdman’s Publishing company, 1950. bl. 645).

Jesus het gesê: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken” (Matthéüs 7:16). Dit is ’n onweerlegbare feit dat die “vrugte” van die Protestantse Hervorming die verdeelde kerklikheid” van ons dag is. Ons moet aan die begin sê dat dit slegte vrugte is.

Paulus sê aan ons dat die Gees van God eenheid meebring – nie verdeeldheid nie. Daarom behoort ons in retrospek te ondersoek wat die gees was en wat die motiverende faktore was wat die godsdienstige verwarring, wat voortgespruit het uit die Hervorming, tot gevolg gehad het.

Nasionalisme en wellus

Ons het gesien hoe die gees van nasionalisme net voor die Hervormingsbeweging dwarsdeur Europa toegeneem het. Die mense van Europa was moeg vir Rome se godsdienstige en finansiële onderdrukking.

Daarom het Luther dadelik baie aanhangers gekry onder die Duitse adel en middelklas toe hy uitgeroep het: “Ons is gebore om meesters te wees ... Dit is tyd dat die glorieryke Teutoniese volke behoort op te hou om die marionet van die Roomse pous te wees” (Bettenson, Henry, Documents of the Christian Church. New York: Oxford University Press, 1947. bl. 278). Ons het ook gesien hoe die Engelse adel aan Henry VIII se “hervorming” toegewy was omdat hulle toegelaat was om op die rykdom van die kloostergronde en instellings beslag te lê. In laasgenoemde geval het ons opgemerk dat hulle parlementêre verteenwoordigers hul “godsdiens” drie keer verander het en “sou vir die vestiging van die Mohammedaanse godsdiens gestem het” indien die monarg dit versoek het.

Dit was die seksuele wellus wat Henry VIII vir Anne Boleyn gehad het, wat die beginpunt van die Engelse opstand teen Rome baie duidelik aandui.

Natuurlik bestaan daar geen twyfel dat baie duisende van die gewone mense in al hierdie lande opreg, nie net alleen ’n verlossing van die tirannie van Rome opreg begeer het nie, maar ook die herinstelling van godsdienstige waarheid en godsdiensvryheid. Mense volg egter hulle leiers.

Die werklike vraag is nie wat moontlik kon gebeur het nie, maar wat wel gebeur het en wat die politieke en godsdienstige leiers van die Hervorming gemotiveer het.

“Aan die einde was dit ’n nasionale stelsel van Hervorming wat uitgevoer is ... In daardie lande waar die nasionale en politieke motivering afwesig of verswak was, het die godsdienstige beweging misluk” (Plummer, Alfred. The Continental Reformation, Londen: Robert Scott, 1912. bl. 16).

Ons sien dus dat die gees van nasionalisme ’n baie belangrike faktor was om die Hervorming te laat slaag. Dit is belangrik om te besef dat hierdie einste verheffing van nasies nou uitgeloop het op die bedreiging van menslike uitwissing in ons tyd!

As gevolg van politieke, finansiële en nasionalistiese redes het mense teen die Kerk van Rome in opstand gekom. Hulle het persoonlike oordeel en redenasies opgehemel. In die plek van die Roomse gesag wat veronderstel was om God te verteenwoordig, het hulle nasionalistiese gesag geplaas – asook die gode van oorlog!

Dit is waar dat Luther en Calvyn persoonlike godsdienstige motiverings gehad het. Soos ons beskryf het, was Luther se denke geteister deur ’n onophoudelike skuldgevoel. In sy uiterste klem op verlossing deur die geloof alleen, het hy desperaat probeer om ’n stelsel te versin waar die Wet van God en die geregtigheid van God geen plek sou hê nie.

Luther se persoonlike geestelike opstand sou egter min invloed op Duitsland of die wêreld gehad het, as hy nie ’n beroep gedoen het op die politieke en finansiële instinkte van die Duitse vorste nie. “Dit is waar om te sê dat die motiewe wat tot die Lutherse opstand gelei het, tot ’n groot mate sekulêr eerder as geestelik van aard was” (Plummer, bl. 9).

Terwyl die hervormings onder Luther en Calvyn ’n element bevat het van godsdienstige oortuiging onder die geestelike leiers, het hulle hoofsaaklik die materialistiese griewe van die vorste en die mense aangewend as ’n aansporing om teen Rome te rebelleer. Dit was ’n gees van nasionalisme wat die algemene sukses van hierdie bewegings verseker het.

Gewelddadige metodes van die hervormers

Toe dit op ’n konfrontasie uitloop, was die Protestantse hervormers net so gereed om hulle tot geweld, bloedvergieting en vervolging te wend as hulle Rooms-Katolieke teëstanders. In enige bespreking van die metodes waarmee die Hervorming triomfeer het, moet hierdie feit erken word.

Ons het reeds gesien hoe Luther die Duitse vorste tot sy saak oorgehaal het. Hoe hy hulle gebruik het om Katolisisme te beveg en om diegene wat nie met hom saamstem nie, te vervolg, is ’n ander saak. Dieselfde beginsel kan op Zwingli en Calvyn van toepassing wees asook op die politieke gesag onder hulle beheer en koning Henry VIII en sy onderdanige parlement en adel.

Onthou ons nog Luther se besete beroep op die Duitse vorste om die plaasboere wat die beginsel van sy leerstellings op hulle eie omstandighede toegepas het, “in die geheim of in die openbaar te slaan, te verwurg en dood te steek”? Onthou ons nog dat hy homself in 1529 weerspreek en gesê het dat Christene “gebonde” is om hulle tot wapens te wend om hulle Protestantse oortuigings te verdedig?

Dit is ook ’n feit dat Luther die vervolging en marteling tot die dood van die Anabaptiste en ander sektes wat sy leerstellings verwerp het, goedgekeur het. Toe hy kommentaar gelewer het op die onthoofding van die Anabaptiste in Sakse, het hy gesê “hulle dapperheid het getoon dat hulle van die duiwel besete was” (Plummer, bl. 174).

Op diegene wat nie saamgestem het met die nasionale kerkstelsel wat op die Engelse mense afgedwing was nie is dieselfde straf toegepas. Buiten die honderde adelikes en gewone mense wie hulle lewens verloor het deur die persoonlike en godsdienstige skynheiligheid van Henry VIII, het honderde ander hulle lewens verloor onder die bewind van sy Protestantse dogter, Elizabeth I.

Diegene wat geweier het om die godsdienstige oppergesag van die Engelse monarg te erken, was behandel asof hulle aan hoogverraad skuldig was. “Voor 1588 was twaalf-honderd Katolieke reeds slagoffers van die vervolging. In Engeland alleen is honderd-twee-en-veertig priesters gedurende die laaste twintig jaar van Elizabeth se regering gehang, uitmekaar getrek, en in stukke gekap vir hulle geloof. Negentig priesters en godsdienstiges het in gevangenisskap gesterf, een honderd-en-vyf is lewenslank verban en twee-en-sestig lekebroeders is doodgemartel” (Deharbe, Joseph, A History of Religion. Londen: Burns and Cates, 1880. bl. 484).

Dit was nie net die monarge wat onverdraagsaamheid in Engeland toegepas het nie, maar ook die Protestantse godsdiensleiers. Gedurende die bewind van die jong koning Edward VI, het Aartsbiskop Cranmer hom oorreed om die doodsvonnis van twee Anabaptiste, een van hulle ’n vrou, te bekragtig. Hulle is op die brandstapel verbrand. In verband hiermee vertel Schaff aan ons: “Die Engelse hervormers was nie ver agter dié van die vasteland wanneer dit by onverdraagsaamheid gekom het nie” (Schaff, bl. 711).

Nadat Calvinisme in Skotland bekend gestel is, was diegene wat die Katolieke geloof bely het onderworpe aan die doodstraf en baie het met hulle lewens geboet vir hule godsdienstige oortuigings (Deharbe, bl. 485).

Onthou dat hierdie mense slagoffers van Protestantse vervolging was!

Deur hulle te beroep op finansiële of nasionalistiese motiewe en betrokke te raak met en deur die politieke mag te domineer, kon die leidende Protestantse hervormers hulle leerstellings op die gewone mense afdwing. Voordat hulle politieke mag verkry het, het die hervormers almal aangedring op die onvervreembare reg van elke Christen om die Bybel self te bestudeer en om die leerstellings daarvan onafhanklik te beoordeel (Deharbe, bl. 620). Sodra hulle egter aan bewind was, wee die Katolieke, die Anabaptis of enigeen wat steeds daarop aangedring het op hierdie “onvervreembare reg”!

Soos ons gesien het, was dit dieselfde situasie onder Johannes Calvyn se “teokrasie” in Genève, Switserland. Fisher meld: “Nie alleen goddeloosheid en dronkenskap nie, maar ook onskuldige vermaak en die verkondiging van uiteenlopende teologiese leerstellings, is swaar gestraf” (Fisher, George P., History of the Christian Church. New York: Charles Scribner’s Sons, 1897. bl. 325). Ons het reeds sommige van die honderde gevalle waar mense onderworpe was aan tronkstraf, openbare geseling of die doodstraf weens onskuldige vermaak of omdat hulle nie saamgestem het met Johannes Calvyn se godsdienstige idees nie, gekatalogiseer.

Een geval wat egter deur byna al die hervormers van daardie tyd verdedig was, staan uit. Dit is een wat ons veral behoort te onthou as ’n uitstaande voorbeeld van die redenasie van die vroeë hervormers, oor die onderwerp van godsdienstige verdraagsaamheid. Dit is die marteldood van Michael Servetus.

Michael Servetus se verbranding

Servetus was ’n man van omtrent dieselfde ouderdom as Calvyn. Alhoewel hy in Spanje gebore is, was hy ’n geneeskundige in Frankryk en dit word beweer dat hy Harvey se ontdekking van die bloedsomloop te wagte was. Toe hy nog ’n jong man was, het hy ’n boek oor die “foute van die Drie-eenheid” gepubliseer. Daarin het hy nie saamgestem met die algemene leerstellings van God as ’n Drie-eenheid, soos voorgehou deur Katolieke en Protestante nie. Sy posisie was soortgelyk aan dié van die Unitariër-geloof [eenheids-geloof] van vandag (Plummer, bl. 170).

Omdat hy hierdie leerstelling onderrig en daaroor geskryf het en ook omdat hy ’n ander siening oor die presiese aard van Christus se goddelikheid gehad het, is hy deur beide Katolieke en Protestante gehaat en vervolg.

Terwyl hy voor die die Katolieke Inkwisisie in Wene, Frankryk gevlug het, was hy dwaas genoeg om deur Protestantse Genève te reis. Iemand het hom herken en sy teenwoordigheid aan Calvyn gerapporteer. Hy is gearresteer en in die gevangenis opgesluit (Plummer, bl. 172).

Toe Servetus se verhoor voor die Calvyn-gedomineerde Raad begin het, het Johannes Calvyn aan ’n mede-hervormer geskryf: “Ek hoop dat die uitspraak die doodsvonnis sal wees ...” (Plummer, bl. 172).

Plummer gaan voort:

Tydens die verhoor het Calvyn as aanklaer opgetree en dit was nie moeilik om Servetus sover te kry om homself hopeloos te inkrimineer nie ... Dit is een van die baie pynlike kenmerke van hierdie geval dat dit duidelik was dat dit in Calvyn se belang sou wees om Servetus te veroordeel, aangesien so ’n oorwinning sy posisie in Genève baie sou versterk. Die saak het voortgesleep en soos in Bolsec se geval, was daar baie korrespondensie met ander owerhede, beide kerklik en burgerlik, in Switserland. Op die ou einde was dit duidelik dat Calvyn se vyande misluk het en dat die Protestantse gesindheid ten gunste daarvan was om so ’n pes soos Servetus van die aardbol af te verwyder. Op 26 Oktober is hy gevonnis om die volgende dag lewendig verbrand te word. Calvyn het ’n meer gematigde vorm van dood gevra, maar sy versoek is geweier. As gevolg van die laksman se onhandigheid was Servetus se smarte verleng. Sy laaste uitroep was: “Jesus, Seun van die Ewige God, ontferm U oor my” en dit is opmerklik dat “ewige” die byvoegsel is, nie van die Seun nie, maar van God. Die boek waarvoor Servetus veroordeel is, was aan sy nek vasgebind om saam met hom verbrand te word. Dit het afgeval en is uit die vlamme gered. Dit kan nou nog in die Nasionale Biblioteek in Parys gesien word – ’n afgryslike gedenkwaardigheid van Hervormings-“etiek”.

Ons behoort altyd te onthou dat om Servetus dood te maak, nie Calvyn, die Raad of die Switserse Regerings wat hulle geraadpleeg het, het enige jurisdiksie daaroor gehad nie. Hulle daad was ’n lynchwet [vonnisvoltrekking sonder verhoor], een van die afgryslikste soort (Plummer, bll. 172-173).

Ons let op dat selfs die Protestantse geskiedkundige gedwing word om te erken dat een van die twee grootste Protestantse hervormers ’n onwettige lynchwet-prosedure gebruik het om ’n godsdienstige teenstander te vernietig!

Die naakte waarheid is dat dit niks anders as ’n “ordentlike” moord was nie!

Jesus Christus sê: “Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” (Matthéüs 5:44).

Die apostel Paulus was geïnspireer om te skryf: “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here. As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink” (Romeine 12:19-20).

Deur duidelik aan te toon dat die reg van siviele oordeel of ter dood veroordeling van andere in geestelike aangeleenthede nie aan feilbare mense gegee is nie, het Jesus die vrou wat tydens egbreek betrap is, vrygespreek (Johannes 8:11). Hy beveel: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie” (Matthéüs 7:1).

Het Johannes Calvyn hierdie skrifte geken? Het hy hierdie beginsels verstaan wat byna alle beskaafde mense sedertdien leer ken het?

Hoe kon Calvyn so ’n keuse gemaak het?

Die Protestantse geskiedkundiges antwoord: “Hy neem maklik die voortou onder die sistematiese uitleggers van die Gereformeerde stelsel van die Christelike leerstellings ... Calvyn se teologie is gebaseer op ’n deeglike kennis van die Skrifte” (Schaff, Philip P., History of the Christian Church, volume VIII. Wm. B. Eerdman’s Publishing company, 1950., bll. 260-261).

Hier was ’n man wat die Bybel werklik geken het. Hy het geleerde kommentare daaroor geskryf en was deeglik vertroud met die leerstelling en voorbeeld van Christus en die geïnspireerde Nuwe Testamentiese Kerk.

Tog was hy nie gewillig om dit net alleenlik te vergewe nie, maar om direk te veroorsaak dat ’n man verbrand word omdat hy nie met sy godsdienstige leerstellings saamgestem het nie. In die lig gesien van alles wat Jesus Christus onderrig, voor gestaan en geleef het, staan Johannes Calvyn veroordeel as ’n moordenaar. Het hy bedoel om dit te wees? Was hy opreg? Of was dit onbedagsame optrede wat in die hitte van die oomblik uitgevoer is?

Op die laaste vraag mag ons antwoord negatief wees. Na genoeg tyd vir deeglike oorweging het Johannes Calvyn probeer om hierdie afskuwelike daad te verdedig en homself te regverdig. So buitengewoon as wat dit mag voorkom, het baie van die ander voorste hervormers dit ook gedoen!

Gedurende die jaar na die verbranding van Servetus, beweer Calvyn aanmatigend: “Wie nou ook al beweer dat dit onregverdig is om ketters en godslasteraars te dood, sal willens en wetens skuld op hulleself laai. Dit is nie op menslike gesag vasgestel nie; dit is God wat praat en ’n ewigdurende  reël vir Sy Kerk voorskryf” (Schaff, bl. 791).

Dit is ’n ontnugterende waarheid dat, indien Johannes Calvyn se soort “ewigdurende reël” vandag teen ketters uitgevoer word, baie min van ons lank sou bly leef!

Gelukkig vir sy naam, het Luther nie geleef om ’n vonnis uit te spreek ten gunste van Servetus se verbranding nie. Omdat ons egter sy vroeë rekord ken, is dit byna seker dat hy met Calvyn sou saamstem om Servetus te dood.

Luther se naaste bondgenoot en adviseur Philip Melanchthon het nogtans vinnig laat blyk dat hy met Calvyn saamstem. Hy het later aan Bullinger, nog een van die Switserse hervormers, geskryf: “Ek is ook van mening dat die Geneefse Senaat volkome reg gedoen het om ’n einde te maak aan hierdie hardkoppige man wat nooit met godslastering kon ophou nie. Ek verwonder my oor diegene wat kapsie maak teen hierdie soort strengheid” (Schaff, bl. 707).

Ons sien dus dat die Duitse hervormers met die Switsers saamgestem het om ’n man dood te brand bloot omdat hy nie met hulle teologiese siening saamgestem het nie!

Ons het gevra of Calvyn in alle opsigte opreg kon wees. Dit is ’n moeilike vraag, waarop net God die volmaakte antwoord ken. Die menslike denke speel soms truuks op ons. Ons ignoreer dikwels opsetlik daardie dinge wat ons nie wil erken nie. Soos ons binnekort sal sien, is dit duidelik dat beide Luther en Calvyn dit gedoen het in die ontwikkeling van hulle leerstellings en ook in sommige van hulle optredes.

Om nogtans te oordeel uit die feite tot ons beskikking en van eietydse getuienis, blyk dit dat Calvyn egter bedoel het om opreg te wees. In sy eie denkwyse was Calvyn op een of ander manier opreg om te voel dat dit reg was om Servetus vir godsdienstige meningsverskil te verbrand, alhoewel hy en die ander hervormers aanspraak gemaak het op vryheid van die individuele gewete in hulle stryd met Rome.

Die rede vir Protestantse geweld en vervolging

Die antwoord op die moord van Servetus lê dus nie in voortvarendheid waaroor daar later berou getoon is nie en ook nie in Calvyn se totale gebrek aan opregtheid nie. Wat is dan die antwoord?

Dieselfde antwoord word in wese deur baie Protestantse geskiedkundiges gegee. Dit is een wat elke eerlike student van die Bybel en die geskiedenis moet erken.

Die antwoord is dat, selfs lank nadat hulle hulself van Rome afgesonder het en hulle “bekeer” het tot Protestantisme, die vroeë hervormers en hulle volgelinge nog steeds letterlik deurdrenk was met die leerstellings, die idees en die gebruike van hulle “moeder”-kerk in Rome. “Die hervormers het die leerstelling van vervolging van hulle moederkerk geërf en dit beoefen tot sover as wat hulle die mag gehad het. Hulle het onverdraagsaamheid met onverdraagsaamheid beveg. Hulle het goedgunstiglik verskil van hulle teenstanders in mate en omvang, maar nie in beginsel van onverdraagsaamheid nie” (Schaff, Volume VIII, bl. 700).

Soos ons sal sien, openbaar hierdie openhartige erkenning deur Schaff waarom so baie van die Protestantse leerstellings en optredes so heeltemal teenstrydig was met hulle verklaarde voorneme om alles “slegs op die Bybel” te baseer.

Ons het gesien dat Martin Luther politiek gespeel het, veelwywery vergewe het, ’n leuen opgedis het, die slagting van plaasboere en die teregstelling van Anabaptiste aangemoedig het (wat verdrinking van baie van hulle ingesluit het).

Daar is aangetoon dat die Engelse opstand met die wellus van Henry VIII begin het en dat hy en koningin Elizabeth en hulle Protestantse teoloë almal deel gehad het aan die slagting van honderde Katolieke, Anabaptiste en later van Puriteinse andersdenkendes.

Ons het nou die deel hersien van watter rol Johannes Calvyn en die Switserse hervormers gespeel het in die vervolging van Anabaptiste en die wrede straf en teregstelling van hulle eie Geneefse burgers omdat hulle nie in alle opsigte met Calvyn se leerstellings saamgestem het nie. Laastens het ons die ooreenkoms beskryf van byna al die vroeë Protestantse leiers in die “lynchwet” van teregstelling deur verbranding op die brandstapel wat Calvyn vir suiwer godsdienstige redes op Michael Servetus opgelê het.

Ons het bewys dat dit “koelbloedige” moorde was. Dit was nie die gevolg van woede in die hitte van die oomblik nie. Ook was diegene wat verantwoordelik was, nie deur tydelike versteurdheid geteister nie.

Hierdie misdade in die naam van godsdiens was vooraf beplan en was steeds met teologiese argumente verdedig, lank nadat dit gepleeg is!

Ons het gesien dat die ware verduideliking gevind kan word in die feit dat die vroeë hervormers baie van die leerstellings en gees van hulle “moeder”-kerk “geërf” het. Hulle was as mense geestelik dronk – nie in staat om die werklike betekenis en gevolge van hulle leerstellings en dade in te sien nie!

 

Nota van die Redakteur: Dit was vir ons ’n voorreg om hierdie reeks deur Roderick C. Meredith, Hoofredakteur van die Wêreld van Môre, tot en met sy dood in Mei 2017 te publiseer. Hy het die werk wat ons hier in reeksvorm gepubliseer het, as een van die belangrikste werke beskou wat hy nog ooit nagevors en geskryf het. Die waarheid agter die Protestantse beweging en sy leiers, word van die begin van die reeks ywerig verduidelik en is net so boeiend en plofbaar vandag soos wat dit die eerste keer was toe hy sy navorsing, meer as 60 jaar gelede, gepubliseer het.

Daar is nog een laaste hoofstuk oor, maar dit is hopeloos te lank dat ons dit nie as ’n tydskrifaflewering hier in die bladsye van die Wêreld van Môre-tydskrif kan insluit nie. Ons kondig egter met graagte aan dat ons van plan is om die volledige reeks van hierdie artikels – met inbegrip van die laaste hoofstuk – kosteloos beskikbaar te stel as ’n enkele publikasie aan almal wat dit aanvra! Die werk met die titel, Die duidelike waarheid agter die Protestantse Hervorming sal binnekort verskyn!

Aangaande die laaste hoofstuk het dr. Meredith geskryf dat “ons doel is om die werklike doel agter die Protestantse beweging bloot te lê asook die ontstellende motivering agter die godsdienstige verwarring en geestelike dronkenskap wat aan ons geslag nagelaat is. Die feite vervat in hierdie reeks het ’n direkte invloed op ons lewens en toekoms! Vra God vir ’n geopende verstand. Moenie nalaat om die finale aflewering van hierdie belangrike reeks te lees en te bestudeer nie!”

Indien u graag u eie gratis kopie van Die duidelike waarheid agter die Protestantse Hervorming vooruit wil bestel – dr. Meredith se laaste hoofstuk ingesluit – kan u ons kontak by enige van ons streekkantore wat op bladsy 2 van hierdie tydskrif gelys word. Die boek sal binnekort gepubliseer word en diegene wat dit vooraf bestel het, sal onder die eerstes wees om ’n gratis kopie te ontvang!

Tot dan hoop ons dat u ’n ander artikel in hierdie uitgawe sal lees: Is tradisionele Christelikheid Bybels? Dit is geskryf deur Richard F. Ames, dr. Meredith se mede-evangelis en jarelange kollega en kan u help in u strewe om ware Christelikheid te vind – die Christelikheid van Jesus Christus en die Bybel.