Ons wêreld verander vinniger as wat dit u sal neem om hierdie tydskrif te lees. Wat sal die einde wees? Die verrassende antwoord is dat ons nader beweeg na ’n wêreld van vrede! Laat ons egter nie die nabye toekoms vooruitloop nie. Die tyd wat binnekort voorlê, gaan nie mooi wees nie. ’n Nuwe donker tydperk sal voor daardie vreedsame tydperk kom.

Die Verenigde State is steeds die leidende wêreldmoondheid, maar so verrassend as wat dit vir baie Amerikaners mag klink. sal dit nie vir ewig so bly nie, Geen ryk het vir ewig bestaan nie. Ons kan ons voorstel dat die landsburgers van vorige beskawings ook verwag het dat hulle regerings sou bly voortbestaan. Die “on-indringbare” stad Babel met sy groot ryk is in een nag deur die Meders en Perse ingeneem. Nie een van hulle het dit voorsien nie. Die Persiese Ryk het tot ’n val gekom as gevolg van die waaghalsige verowerings van Alexander die Grote en sy Grieks-Macedoniese Ryk, wat later weer tot ’n val gekom het as gevolg van die opkomende mag van Rome. Soos ons weet, het Rome se mag en oorheersing ook tot ’n einde gekom. Baie mense regoor die wêreld hoop met oorgawe op Amerika se ondergang, maar het geen idee wie die vakuum sal vul of wat die gevolge sal wees nie.

Regsgesinde partye is aan die opkom in die wêreld. Die AfD (Alternatief vir Deutschland) is nou die derde grootste politieke party in Duitsland en maak uitsprake wat net vyf jaar gelede ondenkbaar en onaanvaarbaar sou wees. Sy leiers sê nou met vrymoedigheid wat baie Duitsers dink, maar in die verlede te bang was om te sê. New York Times skrywer Brian Dawson het onlangs ’n artikel afgesluit met hierdie ontnugterende vraag oor die AfD: “Sal sy visie op die grense van die Duitse [sic] samelewing bly of verder in die hoofstroom inbeweeg en die kern daarmee saamsleep?” (“How the Far Right is Shaking Germany’s Political Order”. NYTimes.com, 31 Oktober 2018).

Wie sal die vakuum vul wanneer die Duitse kanselier Angela Merkel in 2021 aftree? Hierdie Werk het dekades lank die opkoms van die ver-regses in Duitsland voorspel, wat ’n sterk leier in die hart van Europa sal meebring. Tien konings sal uiteindelik hulle mag aan hierdie charismatiese leier oorgee om ’n magtige moondheid van wêreldwye invloed te skep wat met die huidige oorheersende Engelssprekende nasies sal wedywer.

Die nie-so-Verenigde State

Die Verenigde State is erg verdeeld en is glad nie meer verenig nie. Die nasie was nog nooit so verdeeld sedert die Amerikaanse Burgeroorlog nie en daar is geen aanduiding dat die kloof oorbrug kan word nie. Hoe kan mens ’n kompromie aangaan oor die onderwerpe van aborsie, die LGBT-agenda, hulpverlening om te sterf en oop grense? Waar is die middeweg vir aborsie? Begin die lewe by bevrugting of nie? Is dit moreel reg om ’n ongebore kind dood te maak?

Wát enigiemand ookal van die VSA president Donald Trump mag dink, hoe kan enigiemand dit rasioneel betwis dat ’n land sonder grense nie meer ’n land is nie? Waarom sou enige land mense toelaat om in hulle groot stede in te vlieg, sonder enige vooraf goedkeuring en hulle dan verwelkom om daar te bly? Is daar ’n verskil tussen om in ’n land in te loop of daar in te vlieg? Behoort elke land nie, ongeag hoe deernisvol ookal, die reg te hê om te beheer wie deur sy hekke ingaan nie? Die Wêreld van Môre ondersteun of opponeer nie kandidate vir openbare posisies en vind nie links en regs fout oor die politieke spektrum heen nie. Tog is sommige dinge net dwaas en verkeerd. Aborsie is moord. Oop grense maak geen sin nie. Stede as toevlugsoorde is onverantwoordelik.

Daar is ’n tekort aan beleefdheid aan albei kante van die politieke kloof en daar is meer as genoeg beskuldigings om rond te slinger. Wanneer politici hulle volgelinge aanmoedig om hulle teenstanders in restaurante, by vulstasies en enige ander plek waar hulle hul mag raakloop, te treiter, is iets ernstigs verkeerd.

Vrede sal kom, maar nie op die manier wat die meeste mense verwag nie. Vir dekades lank het hierdie Werk die uiteindelike ondergang van Brittanje en die Verenigde State voorspel. Brittanje het sy mag verloor en die Verenigde State sal volg. Waar sal dit Kanada, Australië en Nieu-Seeland laat? Wat sal gebeur met België, Nederland en die Skandinawiese lande? Waar sal Frankryk eindig? Sal hulle met ’n komende Europese moondheid verenig word soos wat lank gelede in die Bybel voorspel is? Sal hulle moontlik aan die kortste ent trek soos in twee groot oorloë gedurende die vorige eeu?

Die einde is vooruit voorspel

Die Bybel wat deesdae deur so baie mense verag word, het lank gelede voorspel dat die mensdom die punt sou bereik waar alle lewe nie maar net uitgewis sou kon word nie maar wel uitgewis sal word (Matthéüs 24:21-22). Daar is egter goeie nuus. Namate die wêreld nader aan die rand van volkome uitwissing kom, sal God ingryp om die kranksinnigheid te beëindig.

Baie mense glo in God. Hulle glo dat Jesus na hierdie aarde gekom het as ’n mens, dat Hy magtige wonderwerke gedoen het, dat Hy doodgemaak is en dat Hy uit die dood opgewek is. Om een of ander rede is dit makliker om in iets te glo wat twee millennia gelede gebeur het, as om te glo dat Jesus Christus sal terugkeer, letterlik sal ingryp in menslike sake en op aarde sal regeer as Koning van die konings. Ons behoort liewer te hoop dat Hy sal, want volgens die rigting wat ons nou inslaan, is die val van die Amerikaanse ryk en selfs die menslike uitwissing, nie so ver in die toekoms as wat ons graag sou wou glo nie!

Wedywerende belanghebbendes veg vir beheer oor die stad Jerusalem – daar is geen vrede in die “stad van vrede” nie! Die Bybel vertel ons dat dit sal verander. Let daarop dat dit wat ons vandag sien akkuraat beskryf word: “En in dié dag maak Ek Jerusalem tot ’n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word” (Sagaria 12:3). Sagaria beskryf ook hoe die voortdurende konflik sal eindig: “Kyk daar kom ’n dag vir die Here ... Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem ... En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg ... En die Here sal Koning wees oor die hele aarde ...” (Sagaria 14:1-4, 9). Hy wys dan daarop dat die Koning, Jesus Christus, alle nasies sal verplig om die feesdae te onderhou wat Sy doel en plan vir die mensdom verduidelik (verse 16-19).

Dit is die goeie nuus wat Jesus verkondig het! Dit is die Evangelie van die Koninkryk van God, soos in meer detail verduidelik word in my artikel in hierdie tydskrif: “Waarom word hierdie boodskap weggelaat?” Dit is ook geboekstaaf in ons boekie, Glo U die ware Evangelie? Hierdie boodskap van vrede en voorspoed vir almal, kan gevind word onder van die heel mooiste Skrifgedeeltes:

“En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom. En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Miga 4:1-3).

Die heersende Christus sal hulpbronne aanwend om op te bou eerder as om te vernietig. Hy sal weet wat om te doen met die meedoënlose diktators wat hulle naaste en selfs hulle eie mense onderdruk! Dit is nie net ons beste hoop vir vrede nie, dit is ons enigste hoop! Dit is die boodskap wat ons hier by die Wêreld van Môre verkondig!