Ek is as 'n jong man deur God gelei na 'n plek waar die volle Waarheid verkondig is. Op hierdie plek het elkeen van ons 'n stille gewaarwording ondervind dat ons werklik God se weg vir die mensdom verstaan. Ons het besef dat ons nie volmaak is nie - dat ons menslik gesproke nie beter as andere is nie - maar dat God ons verstand geopen het om te verstaan en gehoorsaam te wees aan wat die Bybel regtig sê. Dit het tot ons begin deurdring dat ons moet terugkeer tot die volle Waarheid en die boodskap wat Jesus Christus en die oorspronklike Apostels oorgedra en uitgeleef het. Vir ons was dit 'n lewenswyse.

Wanneer nuwelinge hulle by ons aangesluit het, het ons ons ervarings met mekaar gedeel oor hoe ons tot die Waarheid gekom het. In daardie dae was die hoof besprekingspunt van ons klein ou organisasietjie die ervaring en uitleef van die Waarheid, soos wat die Bybel dit skets.

Die moderne gemeenskap verwerp egter die idee van die absolute Waarheid. Hierdie benadering van Goddelike verwerping is egter niks nuuts nie. Dit was mos die standaard benadering met die onpartydige redenasie wat Pontius Pilatus 2,000 jaar gelede as voorbeeld gestel het. In antwoord op Pilatus se vraag oor Sy koninkryk, sê Jesus: “U sê dat Ek 'n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem. Pilatus sê vir Hom: Wat is waarheid? En toe hy dit gesê het, gaan hy weer uit na die Jode en sê vir hulle: Ek vind geen skuld in Hom nie” (Joh. 18:37-38). Alhoewel miljoene belydende Christene sê dat hulle geloof Bybels is, verafsku hulle met mag en mening enige duidelike bewese Waarheid wat die standpunte van hulle kerk, gesin of gemeenskap weerspreek. Sonder om dit miskien eers te besef, boots hulle Stephen Decatur na oor menslike patriotisme: “Ons land, reg of verkeerd!”

Maak die benadering tot die waarheid met arrogante woorde soos “my kerk, reg of verkeerd” enige sin in ons verhouding met 'n werklike Geestelike Persoonlikheid wat die Almagtige God is - en u ewige lewe op die spel is? Probeer ons die alomteenwoordige Skepper dwing om te verklaar dat die verskillende idees en alle gelowe “gelyk” is - selfs al weerspreek hulle Sy geïnspireerde Woord totaal?

Die sleutelvraag is of u en ek opreg glo dat die boek wat ons Die Bybel noem, letterlik deur die ware God geïnspireer is - die Meester en Gewer van lewe. Indien u hierdie basiese stelling in opregtheid aanvaar, ja, dan is daar ’n doelgerigte geestelike Waarheid! Daardie kragtige Waarheid is in die hoofstukke van die Bybel opgeteken. U sal vind dat die Bybel homself ook nie weerspreek nie, terwyl elke uitdaging daartoe sonder groot omhaal weerlê kan word. Wat betref die sogenaamde weersprekings in die Bybel, behoort die onomwonde mededeling van Jesus Christus vir die meeste belydende Christene voldoende te wees, want Jesus sê dat: “Die Skrif nie gebreek kan word nie” (Joh. 10:35).

Dít, is die beginsel wat die redakteurs en skrywers van die Wêreld van Môre tydskrif toepas. Dit is die uitgangspunt van ons denke en benadering tot enige onderwerp. Die Bybel beskik werklik oor gesag. God “sê in die Bybel wat Hy bedoel en bedoel wat Hy sê”. Daar is geen tierlantyntjies of woordspeling om die onomwonde Bybelse leerstellings of voorbeelde te omseil nie!

Met ander woorde, ons hier by die Wêreld van Môre tydskrif glo Paulus letterlik as hy sê: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:16-17).

Ons weet dat toe Jesus Christus gesê het “die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Matt. 4:4), die enigste bestaande geskrewe Woord van God daardie tyd die Ou Testament was. Net soos Christus met sy geïnspireerde onderwysing die beginsels van die Ou Testament beklemtoon en uitgebrei het, voel ons gebonde om hierdie onderwysing na die beste van ons vermoë te gehoorsaam met die hulp van die Heilige Gees. Ons voel ook gebonde om die duidelike en onomwonde voorbeeld van Christus en die oorspronklike Apostels, naamlik die manier waarop hulle God gedien het, na te streef.

U mag vra, “Glo al die Christelike kerke dan nie in daardie selfde godsdienstige benadering nie?”

Nee! Definitief nie. Talle kerke vertolk die Bybel op 'n baie losse basis - terwyl hulle dan ook nog die Bybelse leerstellings vermeng met menslike tradisies, idees en gebruike wat totaal die teenoorgestelde is van die oorspronklike Christelikheid. Die Rooms-Katolieke, Ortodokse en Protestante kerke doen dit almal. Alle toegewyde Bybelkenners en studente besef en erken dit. So bevestig Jesse Lyman Hurlbut - 'n hoofstroom godsdiensskrywer - dit ook in sy boek, The Story of the Christian Church: “Vir vyftig jaar na Paulus se dood is daar 'n sluier oor die Kerk getrek waardeur ons tevergeefs strewe om insig te bekom, terwyl die geskrifte van die vroegste kerkvaders in omtrent 120 n.C. toe die Kerk uiteindelik weer ‘verskyn’, melding maak van 'n Kerk wat in menige opsigte hemelsbreed verskil van die Kerk soos dit was in die dae van Petrus en Paulus” (bl. 41; beklemtoning deur ons).

Gary Wills skets in sy boek, Why I am a Catholic, wat die Pulitzer prys gewen het, 'n voorbeeld van die huidige benadering tot die Waarheid deur die hoofstroom gelowe. Hy sê in hierdie boek: “Om jong onskuldiges te misbruik is nie net 'n misdaad nie, maar ook 'n veragtelike daad. Die ywerige poging oor baie jare deur die hiërargie van die Rooms-Katolieke kerk om gevalle van pedofilie te verbloem is misdaad op misdaad. Is die kerkgesag wat dit toelaat dan monsters? Wat is hulle motief? ... Eerstens is die pouslike mag 'n gebrekkige instansie. Deur dit te sê word deur sommige Katolieke as dislojaal beskou. Eintlik glo hulle dat 'n ware Katoliek iemand is wat gewillig en in staat is om die lang geskiedenis van misbruik en korrupsie te ontken ... Maar, 'n mens mag terugkap dat indien die pousdom nie die opperste en onfeilbare verkondiger is van die ewige waarheid nie, wat behels sy beginsel dan van bestendigheid met al die ontsporings en doodloopstrate van die verlede? Die pouslike mag is inderdaad die sakrament van die eenheid van die kerk. Die kerk skaar hulle om die pouslike mag en dien as toevlugsoord vir sy hergeboorte en voortgesette lewe. So was die kerk dan uiters suksesvol om die groot waarhede van sy geloofsbelydenis te bewaar”.

Let veral op na mnr. Wills se laaste frase: “die groot waarhede van sy geloofsbelydenis”.

Soos met die meeste basiese foute is Gary Wills se gebrek om die Waarheid te verstaan, gegrond op 'n basiese voorafgaande stelling wat onverskillig en as vanselfsprekend aanvaar is. In sy geval het dit blykbaar nooit by mnr. Wills opgekom om die onbybelse leerstellings van sy kerk omtrent die pouslike gesag te bevraagteken nie, ook nie die aanbidding van die maagd Maria of die algehele begrip van boetedoening eerder as werklike berou nie, asook 'n hele magdom van leerstellings, gebruike en menings wat in totale teenstelling is met alles wat Christus en die Apostels geleer en gedoen het.

Natuurlik is die Katolieke teologie ten minste in 'n mate bestendig betreffende al hierdie dinge, want dit beoefen die leerstelling van die “onfeilbaarheid van die pous” - wat inderdaad hulleself aanmatig dat hierdie kerk op een of ander manier die “reg” het om Bybelse leerstellings en gebruike met die tyd te verander.

Miljoene Protestante aanvaar ook onverskillig dat hulle kerke en hulle teologie gebaseer is op dit wat die Bybel in werklikheid sê. Hulle kan egter nie verder van die waarheid af wees nie! Die reeds vermelde aanhaling van Hurlbut toon duidelik dat die hoofstroom Christendom - beide Protestants en Katoliek - grootliks afgewyk het van die oorspronklike leerstellings van Christus en Sy Apostels. Die oorspronklike Protestantse “hervormer,” Martin Luther, is as Katolieke priester georden. Hy is sy hele lewe lank opgelei as Katoliek. Hy het dus aanvaar dat aflaatgeld en ander immorele praktyke wat hy onderskryf het uiteindelik maar net die gevolg is van die ware kerk wat die spoor byster geraak het. Luther het aanvanklik probeer om die kerk weer op die regte spoor te kry totdat gebeure hom forseer het om 'n ander godsdienstige beweging te begin. Selfs toe het hy aanvaar dat die meeste Katolieke leerstellings in orde is, begrippe soos dat die “Dag van die Son” God se Sabbat vervang, die viering van heidense feesdae in plaas van God se Heilige Dae, die aanneem van die “Drie-eenheidsleer” uit die heidendom en - die belangrikste van alles - die fundamentele idee dat die grootse geestelike wet van die Skepper, die Tien Gebooie, nie onderhou of ten volle gehoorsaam hoef te word nie.

Dit is byvoorbeeld hoekom Martin Luther die algemene slagting van die Duitse boere aangemoedig het, omdat hulle uiteindelik “te ver gegaan” het met hulle teenstand teen die Duitse prinse wat ook Luther se beweging ondersteun het. Dít is 'n historiese feit!

In die hoogs aangeskrewe werk van Henry Vedder haal hy Martin Luther se skrywe aan wat gemik is teen die opstandige boere: “Rebellie is nie 'n veragtelike moord nie, maar soos 'n groot vuur wat aangeblaas word en die land verteer; daarom hou oproer die gevaar in van 'n land vol moord, bloedvergieting, wat weduwees en wese agterlaat en alles vernietig soos ’n groot ramp. Daarom moet elkeen wat die rebelle kan kasty, verwurg en doodsteek, dit in die geheim of in die openbaar doen, want daar is niks meer giftig, dodelik en duiwels as 'n rebel nie. Net soos wanneer mens 'n dol hond van die gras af moet maak; as jy hom nie aanvat nie sal hy jou aanval en 'n hele nasie saam met jou ... Dit is sulke wonderlike tye dat dit makliker is vir 'n prins om in die hemel te kom deur bloed te vergiet as vir andere deur gebed” (bll. 173-174; beklemtoning deur ons).

Ons mag onsself nou afvra: “Waaraan word ware godsdiens gemeet indien hierdie die woorde is van ’n hervormer wat deur God gestuur is?” Is dit die woorde van ’n persoon wat deur die Heilige Gees gelei word? Het die opgewekte Christus hierdie persoon gebruik om Sy “klein kuddetjie” te suiwer?

Geleerde op geleerde erken dat “die Kerk” - bedoelende die hoofstroom ontwikkeling van die belydende Christendom - nog nooit ernstig probeer het om die letterlike voorbeeld van Christus en die Apostels na te volg nie. Professor Rufus M. Jones verwys ook daarna in sy insiggewende boek, The Church’s Debt to Heretics: “Indien Christus miskien deur Sy latere volgelinge as die model en toonbeeld van die nuwe weg beskou is en ’n ernstige poging aangewend is om Sy lewe en onderwysing as die standaard en norm vir die Kerk te handhaaf, dan sou Christelikheid iets heeltemal verskillend gewees het van wat dit nou is. Dwaalleer of kettery sou dan gewees het wat dit nie nou is nie, naamlik die afwyking van God se weë, van Sy onderwysing, Sy Gees, Sy Koninkryk … Wat ons tereg as die ‘Galilese Christelikheid’ moet sien, het ’n kort lewe gehad, alhoewel daar merkwaardige pogings was om dit te laat herlewe. Hier en daar was daar geestelike profete wat daarop aangedring het dat enigiets anders as hierdie eenvoudige Galilese Christelikheid ‘kettery’ is; maar die belangrike geskiedkundige verwikkelings het ’n ander koers ingeslaan en het die klem heel verskillend aangewend” (bll. 15-16; beklemtoning deur ons).

Volgens die Bybel was Jesus Christus die “lig” wat deur God die wêreld ingestuur is. Christene is veronderstel om daardie lig te volg! Die apostel Petrus sê dat Christus vir ons “’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg” (1 Pet. 2:21). Ook Paulus sê aan die Kerk: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Kor. 11:1), terwyl die geliefde apostel, Johannes, ons meedeel: “Hy wat sê: Ek ken Hom - en sy gebooie nie bewaar nie - is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het (1 Joh. 2:4-6). In Sy lerings en volgens Sy perfekte voorbeeld het Jesus Christus die Waarheid verduidelik. Jesus het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh. 14:6).

Tree asseblief met ons in verbinding indien u werklik belangstel om die “klein kuddetjie” - die ware Kerk van God wat deur Jesus Christus gestig is - te vind. Indien u belangstel om betrokke te raak by ’n organisasie wat opreg is in die soeke na die Waarheid en om daarvolgens te lewe, skryf dan in vir die Wêreld van Môre se Bybelstudiekursus.

Ons streef die waarheid na sonder om partydig te wees en ook om hierdie rede sal ons genadeloos vervolg word in die toekoms. Omdat ons egter die opregte Waarheid navolg sal dit vir ons opregte seëninge en vrede in hierdie lewe meebring asook die ewige lewe in die wêreld van môre. Jesus sê: “En julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vrymaak (Joh. 8:32).

Elkeen van ons kan “vrygemaak” wees van menslike tradisie en foute. Indien ons die deursettingsvermoë het om die volle waarheid te aanvaar en daarvolgens te leef kan ons ook “verlos” word van ydelheid, frustrasie en ’n skuldgevoel wat veroorsaak word deur die bande van sonde en bygeloof. Moenie bang wees vir die waarheid nie! Wanneer hierdie misleide en gewelddadige beskawing sy einde bereik en Christus se Koninkryk oor die hele aarde ingestel is, sal diegene wat gewilliglik die werklike Waarheid gevolg het, seëninge geniet wat bo die menslike begrip is.