U het waarskynlik al die gesegde gehoor wat aan die sirkusmagnaat Phineas T. Barnum toegeskryf word: “Daar word elke minuut 'n stommerik gebore.” Amper almal van ons is ten minste 'n paar keer in ons lewens mislei. Na deeglike navorsing, blyk dit dat Barnum se beroemde “gesegde” ook 'n misleiding was wat deur een van sy mededingers uitgedink is. Ons word gewoonlik deur relatief onbenullighede mislei, dikwels as gevolg van ons eie nalatigheid. Dit sal egter baie ernstiger wees as ons uitvind dat ons oor die hoofaspekte van die lewe mislei is. Die meeste van ons aanvaar byvoorbeeld net dat ons ouers se godsdiens “goed genoeg vir ons is.”

Waarom?
As daar 'n werklike en persoonlike God is en as Hy 'n plan en doel met ons het, dan is dit oneindig belangriker om daardie groot doel te vervul as om planne te maak om meer geld te kan maak of om “gelukkig” te wees in die paar kort jare van ons lewens. Is dit by verre die belangrikste ding in u lewe—belangriker as enigiets anders—om te begryp wat die ware verhouding tussen u en u Skepper is? Of aanvaar u maar net dat alles reg is?

’n Baie wyse man het eendag vir my gesê: “Moet niks net aanvaar nie!” Tog kan die meeste mense egter baie maklik vir die gek gehou of “mislei” word aangaande godsdiensaangeleenthede, aangesien hulle aanvaar dat hulle weet wat reg is. Hulle bestee so min tyd of deurdagte denke daaraan om te bewys—of te probeer bewys—wat hulle glo. Soos ons reeds telkemale tevore vir u gesê het, dui verskeie godsdiensopnames en meningspeilings almal daarop dat Amerikaners, Kanadese en Britte in werklikheid “Bybelongeletterd” is. Selfs die meeste kerkgangers kan nie die vier Evangelies, die Tien Gebooie, of die meeste van die ander sleutelfeite en persone in die Bybel opnoem nie. Dit is duidelik dat die meeste belydende Christene in ons Westerse samelewing geen idee hoegenaamd het waarom hulle werklik glo wat hulle glo nie. Hulle neem gewoonlik net die geloof van hul ouers of vriende aan.

Ek het ook opgemerk dat baie Amerikaners aanvaar dat die meeste mense op aarde Christene is. Hulle dink selde aan die feit—'n feit wat maklik bewys kan word deur byna enige ensiklopedie of wêreldkaart—dat die meeste mense op hierdie aarde nie belydende Christene is, of ooit was nie. Die meeste Amerikaners aanvaar dat die “meerderheid altyd reg is.” Tog is Christendom egter beslis 'n “minderheidsgeloof”! 
Ek vra dus weer, waarom glo u wat u glo?

Is dit omdat u deur ywerige studie vir uself die bestaan van 'n ware God bewys het? Het u ook tot u eie tevredenheid bewys dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is—die openbaring van ons Skepper om ons te help verstaan wat die ware doel van die lewe is en hoe om daardie doel te vervul?

Indien u dus glo dat die Bybel deur die Skepper geïnspireer is, bestudeer u die Bybel opreg om te verstaan wat dit werklik sê? Want sonder werklike Bybelstudie, kan u 'n “maklike teiken” vir Satan se misleidings wees! Soos Jesus Christus sê, “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4).

Dink!
Hoe is dit moontlik om te “leef” volgens elke woord van 'n boek wat u nie deeglik bestudeer het nie? Hoe maklik sal dit nie vir misleide of vals leraars wees om u te mislei oor wat die Bybel werklik sê nie? Aangesien die meeste van u wat hier lees, opreg glo dat die Bybel geïnspireer is, let op wat die apostel Paulus geïnspireer is om ons te vertel, “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as 'n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny” (2 Timotheus 2:15). 
Dus wil ek elkeen van u ten sterkste aanraai, vir u eie onthalwe, om tyd en verstand daaraan te begin wy om die Bybel werklik te bestudeer! Dit mag na bog klink, maar ek dink regtig dat u lewe 'n ommekeer sal ondergaan deur dít te doen! 
Maar hoe moet u studeer?

Suksesvolle Bybelstudente gebruik 'n paar verskillende metodes. Die twee metodes wat ek ten sterkste aanbeveel—en u kan dit afwissel—is onderwerpstudie en om bloot die Boek te lees. Onderwerpstudie behels die gebruik van 'n konkordansie om verskillende Bybelonderwerpe, soos “hemel” of “hel”, “ewige lewe” of “gebooie” op te soek en al die skrifgedeeltes wat daarmee verband hou, te lees. Dit is 'n uitstekende manier om op geordende wyse te leer wat die Bybel werklik sê oor watter onderwerp ook al. Hierdie benadering moet beslis gereeld aangewend word.

Die tweede metode van Bybelstudie wat ek meestal gebruik, is die “regdeur lees” metode. Dit behels—net soos dit sê—om bloot regdeur Bybelboeke te lees, soos mens 'n geskiedenisboek of 'n boek oor enige ander onderwerp sou lees. Dit is nou my gunsteling studiemetode, aangesien ek in vorige dekades 'n uitgebreide studie van die meeste hoofonderwerpe in die Bybel gemaak het deur van die eersgenoemde metode gebruik te maak. Deur eenvoudig die Bybel op hierdie manier te lees, gee mens die “gevoel” van presies hoe 'n spesifieke onderwerp in konteks gebring kan word—dit is hoe dit inskakel by die groot geheel van die Boek en by die onderwerp onder bespreking. Dit is ook sonder twyfel die primêre metode wat God se dienaars gedurende Nuwe-Testamentiese tye gebruik het—en vir ten minste 'n paar eeue daarna—omdat daar vir eeue geen konkordansies beskikbaar was nie!

Die apostel Paulus kon dalk byvoorbeeld slegs 'n gedeelte van 'n perkamentrol van die boek Jesaja, of die een of ander boek, gehad het om te bestudeer. In sy leeftyd, was baie van wat ons vandag die “Nuwe Testament” noem, ook nog nie eers geskryf nie. Wanneer hy dus sê ons moet die Skrifte bestudeer, het hy grotendeels die Ou Testament bedoel. Tog word baie belydende Christene egter geleer om “wantrouig” te wees teenoor die Ou Testament. Wat 'n skande, want daar is nie met die Ou Testament “weggedoen nie”! Dit moet net verstaan word in die lig van die vergroting van God se wet en die bedoeling daarvan, soos dit deur Jesus Christus en die Apostels in die Nuwe Testament gegee word (Jesaja 42:21).

Indien u wil verstaan wat Christus onderrig het en hoe dit nie “wegdoen” met die Ou Testament nie, stel ek voor dat u eenvoudig die Nuwe Testament begin lees—van die begin af regdeur die boeke Mattheus, Markus, Lukas, Johannes en Die Handelinge van die Apostels, net soos u enige ander boek sou lees. Dit sal u beslis die ware “evangelie” gee soos Jesus Christus en die oorspronklike Apostels dit onderrig en beoefen het! Dan sal dit vir “liberale” leraars en selfs vir ketters baie moeilik wees om 'n gek van u te maak met die een of ander heidense begrip van God of die Christelike leefwyse—'n vals begrip wat moontlik gedurende die Middeleeue of daarna ontwikkel is!

Deur my eie ervaring as 'n leraar van Jesus Christus die afgelope 53 jaar, kan ek vir u sê dat diegene wat “laat slap lê” in hul Bybelstudie, wesenlik geraak word! Vra asseblief vir God om u te help, u te motiveer en te lei terwyl u Sy geïnspireerde Woord bestudeer. Hou in gedagte dat u in der waarheid “God se gedagtes” lees—die openbaring van u Skepper wat u vertel waarom u hier is, u verduidelik waaroor die lewe gaan en die weg na die ewige lewe openbaar. Onthou dat Jesus Self die nodigheid beklemtoon het dat ons Hom moet “eet”: “Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe” (Johannes 6:57).

Later sê Jesus, “Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe” (vers 63).

Deel van die wonderlike nalatenskap wat deur God se dienaar en ons geliefde broeder, mnr. John Ogwyn, wat verlede jaar gesterf het, aan ons nagelaat is, is die uiters handige Bybelstudiekursus wat hy geskryf het. Hierdie kursus is nie ingewikkeld of moeilik om te verstaan nie, maar lei ’n mens wel op geordende wyse deur die hoofaspekte van die Bybel en gee spesifieke inligting waarmee u groot moeite sou hê, as u dit op u eie moes uitpluis. Dit is alles maklik bewysbaar uit u eie Bybel! Ek moedig elkeen van u wat dit nog nie gedoen het nie, ten sterkste aan om in te teken op hierdie kursus. Skakel ons of skryf aan ons kantoor naaste aan u, soos op bladsy 2 van hierdie publikasie. Sê u wil inskryf op ons Wêreld van Môre Bybelstudiekursus. Dit sal gratis aan u gestuur word—soos al ons ander literatuur.

Ware Christelikheid—die leringe en voorbeelde van Jesus en die Apostels, is beslis vir 'n lang tyd “onder aanval”! As u self die Bybel met toewyding bestudeer ten einde te sien wat dit werklik sê, sal u in staat wees om duidelik deur al die “rook en spieëls” van Satan se misleiding te sien en tot die Waarheid te kom wat God geïnspireer het om deur die bladsye van die Bybel aan die mensdom gegee te word. Soos Jesus sê, “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32).