Is godsdienstige dweepsug iets wat “elders” gevind word? Kan u eie nasie onder die invloed van ’n sterk godsdienstige leier val? U Bybel openbaar die antwoord!

Meer as 1,5 miljard mense bely die Islam-godsdiens. Vir baie van hierdie gelowiges is hulle godsdiens hulle lewe. Reg of verkeerd, hulle is passievol oor hulle godsdiens! Hoewel baie Moslems basies vreedsaam is en dit goed bedoel, veroorsaak die kragtige invloed van die Islamitiese godsdienstige oortuigings – so ook die ekstremiste wat uit die mees militante begrip van daardie oortuigings munt slaan – dat baie ander Islamiete gewelddadig raak.

Baie top politici en strateë in die Weste het probeer om daarop aan te dring dat die Islamitiese Staat van Irak en ash-Sham (ISIS) – die “Islamitiese Staat” wat nou oor die Midde-Ooste versprei en wat alreeds oor ’n landmassa groter as die hele Verenigde Koninkryk regeer – nie oor godsdiens gaan nie. Hulle is egter heeltemal verkeerd! Indien u dit noukeurig bestudeer, sal u tot die slotsom kom dat dit “alles” oor godsdiens gaan! Nog erger, die “godsdienstige” oriëntasie van hierdie militantes veroorsaak dat hulle die dood van almal wat hulle teenstaan soek, terwyl hulle probeer om die einde van die wêreld, soos dit in Moslem-geskrifte geprofeteer is, te verhaas.

Hoe bloeddorstig en volksmoordend het hierdie ISIS-Moslems in die naam van hulle godsdiens geraak? Kyk na hierdie insiggewende verslag wat onlangs deur Graeme Wood van The Atlantic-tydskrif geskryf is:

“In September het Sheikh Abu Muhammad al-Adnani, hoofwoordvoerder van die Islamitiese staat, ’n beroep op Moslems in Westerse lande soos Frankryk en Kanada gedoen om ’n ongelowige te vind en ‘sy kop met ’n klip inmekaar te slaan’, hom te vergiftig, hom met ’n motor raak te ry, of ‘sy oes te vernietig’. Vir Westerse ore klink die Bybelse straf – steniging en oes-vernietiging – vreemd naas sy meer modernklinkende oproep om met ’n voertuig moord te pleeg. (So asof hy wil wys dat hy slegs deur beeldspraak kan terroriseer, het Adnani ook na Staatsekretaris John Kerry as ’n ‘onbesnede ou man’ verwys).

“Adnani praat egter nie net twak nie. Sy toespraak was deurspek met teologiese en wetlike besprekings en sy aandrang om gewasse te teiken, eggo direkte opdragte van Mohammed om putwater en gewasse met rus te laat – tensy die Islamse magte in ’n verdedigende posisie is, in welke geval Moslems in die lande van kuffar, of ongelowiges, ongenadig behoort te wees en voortgaan om te vergiftig.

“Die werklikheid is dat die Islamitiese Staat Islamities is. Baie Islamities. Ja, dit het psigopate en avonturiers gelok, grootliks uit die ontevrede bevolkings van die Midde-Ooste en Europa. Die godsdiens wat deur sy vurigste aanhangers verkondig word, is uit samehangende en selfs geleerde interpretasies van Islam afgelei.

“Feitlik elke belangrike besluit en wet wat bekend gemaak is deur die Islamitiese Staat voldoen aan dit waarvoor dit staan – in hulle pers en aankondigings asook op dle advertensieborde, nommerplate, skryfbehoeftes en muntstukke – ‘die Profetiese metodologie’, wat beteken dat hulle die profesie en voorbeeld van Mohammed tot in die fynste detail volg. Moslems kan die Islamitiese Staat verwerp; byna almal doen dit. Om egter voor te gee dat dit eintlik nie ’n godsdienstige, duisendjarige groep is met ’n teologie wat verstaan moet word om dit te kan bestry nie, het alreeds daartoe gelei dat die Verenigde State dit onderskat en dwase skemas ondersteun om dit teen te werk” (The Atlantic, Maart 2015).

Soos hierdie artikel in groot detail en met baie verwysings uitwys, is aanhangers van die Islamitiese Staat absoluut “passievol” oor hulle godsdiens!

Wat van u? Hoe passievol is u oor u godsdiens?

“O, nee”, kan u sê, “niks van hierdie aard kan ooit hier in ons ‘opgevoede’ Westerse samelewing gebeur nie”. U mag heeltemal verkeerd wees. Die geïnspireerde Woord van die Skepper-God – die Heilige Bybel – maak dit baie duidelik dat daar in die “laaste dae” van hierdie samelewing, ’n baie kragtige godsdiens op die toneel sal verskyn – ter misleiding “Christelikheid” genoem. Dit sal daarop aanspraak maak dat dit Jesus Christus verteenwoordig en dit sal groot gedeeltes van hierdie wêreld oorneem – die aanbiddingsplekke, die besighede en hoofsaaklik die hele lewenswyse. Ja, die meeste van u wat vandag leef, sal lewe om ’n wêreld te sien waarin ’n nominale vorm van Christelikheid tot so ’n mate mag in die Weste sal hê, dat vandag se ISIS militante dit net sal kan beny!

Godsdiens kan magtig wees

Of dit nou tot heil of tot teëspoed was, was godsdiens voorwaar ’n kragtige mag in die grootste gedeelte van die menslike geskiedenis. Godsdiens het ’n enorme drang in die menslike natuur tot gevolg, om ’n hoër mag te volg en iets te dien wat groter as hyself is. Baie bose mense het misbruik gemaak van hulle vermoë om hierdie edele kant van die menslike natuur te verdraai. Inderdaad, die geïnspireerde profesieë van die Bybel toon duidelik dat hierdie wêreld se samelewing gedurende die volgende paar jaar deur ’n “botsing van godsdienste” van kolossale afmetings beïnvloed sal word. Die twee groot wêreldmoondhede, wat elkeen deur ’n ander godsdienstige passie ondersteun word, sal teen die einde van hierdie beskawing ’n tyd van oorlog bereik. Op daardie punt sal die hele wêreld geskok wees wanneer ’n derde mag – die leier van wat na nog “’n ander godsdiens” sal lyk – met verstommende mag sal ingryp om die mensdom van selfvernietiging te red.

Ja, dit is alles in u Bybel! Op hierdie oomblik lees ons byna daagliks van die verskriklike gruweldade wat deur die “Islamitiese Staat” gepleeg word – gruweldade wat vir die meeste mense byna onverstaanbaar is.

Waarom?
Wanneer u in besonderhede oor die Midde-Ooste lees, waar die meeste mense onder die gesag van Islam is, sal u besef dat miljoene mense hulle hele lewe lank hoor hoe hulle deur Amerika en sy Europese bondgenote en veral deur die Jode wat hulle so graag wil vervolg, “onderdruk” is. Dit is inderdaad waar dat die Arabiese nasies in die verlede deur Europese magte verower is. Hulle nasionale grense is om politieke redes verskuif en hulle voel hulle is deur vervolging verkleineer en geviktimiseer. In hulle eie dorpe en gehuggies, in arm landelike gebiede en in hulle stede, het baie mense absoluut uitgesien na ’n soort wraak.

Talle Arabiese Moslems is deur hulle imams en ander leiers ’n ideologie gevoer wat te kenne gee dat ’n komende “Mahdi” of super-godsdienstig-politieke leier aan die einde van hierdie tydvak sal kom om hulle van verdrukking te verlos en hulle weer op hulleself trots te maak. Op hierdie tydstip verewig en oordryf baie mense in die groep wat hulleself die Islamitiese Staat noem, hierdie konsepte en idees en probeer hulle om ’n “Kalifaat” tot stand te bring. Dit is ’n volskaalse Islamitiese ryk waardeur ondersteuners kan saamstaan om die boeie wat deur die Europese en Amerikaanse volke aangebring is los te maak. Die Arabiese massas is duidelik omgekrap en ekstremistiese godsdiensleiers hits hulle begeerte vir wraak toenemend aan deur ou Moslemprofesieë aan te wend as ’n manier om “hulle te wreek” en hulle in staat te stel om “weer hulle koppe hoog te hou”.

Let op na die geïnspireerde profesie in Daniël 11. In hierdie profesie beskryf die Skepper-God ’n finale herlewing van die ou Romeinse Ryk in Europa – natuurlik ooglopend noord van die Arabiese state. Die agtergrond word duidelik beskryf as in die “tyd van die einde”, die laaste jare van hierdie wêreld se huidige beskawing (vers 40). Op hierdie punt sal die “koning van die Suide” – ’n magtige leier van Arabiese nasies – ’n magtige leier van die finale herrese Romeinse Ryk aanval (of soos sommige geleerdes dit vertaal, hom “uitdaag”). Met wapens wat tegnologies meer gevorderd is sal die komende leier van hierdie Europese moondheid – wat as die “Dier” in Bybelse profesie bekend staan – “soos ’n warrelwind” toeslaan om hierdie Moslemmag te oorweldig. Op daardie punt sal die Dier en sy leërs die “Pragtige Land” betree en groot dele van die Midde-Ooste oorneem.

Daniël se profesie toon duidelik aan: “... ook Egipteland sal nie vrykom nie” (vers 42). Hier toon die Skrif egter ook die aankoms aan van ’n groot leër uit die Ooste, wat kom om teen die Dier te veg en hom te keer om die hele wêreld oor te neem (vers 44).

Op hierdie punt sal die mensdom op die rand van selfvernietiging wees, algehele uitwissing van homself. U Bybel toon dat slegs dan sal die finale en grootste “Godsdienstige Leier” van alle tye ingryp en heeltemal ’n einde maak aan hierdie menslike oorloë. Daardie Leier? Sy naam is Jesus Christus!

Wie is hierdie “koning van die Noorde”?

Baie godsdiensgeleerdes en studente van profesie verstaan dat die “koning van die Noorde” wat hier beskryf word, ’n toekomstige “Hitler” is, wat in u Bybel as die “Dier” beskryf word. In die relatief nabye toekoms, sal hy in beheer van die wêreld se belangrikste supermoondheid wees, wat oor die grootste militêre en industriële mag sal beskik wat die wêreld nog ooit gesien het.

Wie is hy? Indien u noukeurig en onbevooroordeeld die Bybel bestudeer, sal u maklik aan uself kan bewys dat hierdie komende “Dier” eintlik die leier van die herrese Romeinse Ryk is. U Bybel sê: “Hier kom die verstand wat wysheid het, te pas. Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit. En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ’n kort tydjie bly. En die dier wat was en nie is nie, is self ook die agtste, en hy behoort by die sewe en gaan na die verderf. En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier” (Openbaring 17:9-13).

Selfs nou gee baie Europese nasies hulle mag vreedsaam aan een van die voorste nasies van Europa oor. Uiteindelik sal die laaste leier van hierdie stelsel, wat in u Bybel bekend staan as die “Dier”, tien konings of koninkryke hê wat met hom verenig sal wees en hy sal mag hê wat ver buite daardie koninkryke sal strek. Johannes sê aan ons “... omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid” (Openbaring 18:3). Christene moet nie voor die versoekings swig nie. Johannes is geïnspireer om ons te waarsku: “En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (vers 4).

Die heersers oor hierdie massiewe militêr-industriële kompleks, wat deur hulle godsdiensleiers gelei sal word, sal so arrogant word dat hulle letterlik teen Jesus Christus sal veg wanneer Hy terugkeer as Koning van die konings. “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou. En hy sê vir my: Die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, is volke en menigtes en nasies en tale” (Openbaring 17:14-15).

Die valse kerk of “hoer” wat in vers 15 beskryf word, sit met godsdienstige mag oor ’n menigte nasies en tale! Onthou, hierdie stelsel word genoem “’n woonplek van duiwels en ’n versamelplek van allerhande onreine geeste en ’n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls” (Openbaring 18:2).

Wanneer u daaraan dink dat dit ’n werklikheid is wat kom, is dit absoluut verstommend. Aangesien die mag van godsdiens wat misbruik word so groot is, dat honderde miljoene mense mislei sal word om ’n godsdienstige mag te volg – ’n “vrou” wat op die toekomstige Dier sal ry, simbolies van haar beherende rol (Openbaring 17:3-7). Sy sal die oorsaak wees dat daar teen Jesus Christus Self geveg word wanneer Hy weer kom om oor die wêreld te regeer (Openbaring 17:14)!

Soos die meeste van u wat lank reeds intekenaars van die Wêreld van Môre-tydskrif is reeds weet, is hierdie tekens heeltemal bewysbaar uit die duidelike verse in die Bybel. Vir dié van u wat dalk meer onlangse intekenaars van hierdie tydskrif is en graag wil verstaan en hierdie noodsaaklike waarhede wil bewys, skakel ons asseblief onmiddellik of skryf aan ons vir u gratis eksemplare van ons insiggewende boekies oor hierdie onderwerp: Die Dier van Openbaring en Die Midde-Ooste in Profesie. Lees en bestudeer asseblief die kragtige inligting in hierdie boekies saam met u eie Bybel vir u eie beswil!

Die finale “godsdienstige oorlog”

Die Skrif openbaar dat ’n finale oorlog soos wat die wêreld nog nooit gesien het nie sal plaasvind na die verskriklike ontwrigting en traumas wat deur die “koning van die Suide veroorsaak sal word” en ook sy uiteindelike nederlaag teen die “koning van die Noorde”. Terwyl die Europees-geleide leërafdelings van die Dier saamdrom om teen die 200 miljoen soldate, wat uit die Ooste afkomstig is, te veg, sal die Almagtige God ingryp om die komende wêreldvernietiging wat andersins sou plaasvind te stop. Ja, Christus Self sal terugkeer en ingryp om algehele uitwissing van die mensdom te voorkom! Hy sal die nasies van die aarde laat “optrek na die dal van Jósafat” (Joël 3:12). Daar sal Hy deur Sy algehele mag, die hoogtepunt van die geprofeteerde “dag van die Here in die dal van beslissing” tot stand bring (vers 14). “Die son en die maan word duister, en die sterre trek hulle glans in” (vers 15), “En die Here brul uit Sion, en uit Jerusalem verhef Hy sy stem, sodat hemel en aarde bewe. Maar die Here sal ’n toevlug wees vir sy volk en ’n skuilplek vir die kinders van Israel” (vers 16).

Wanneer ’n enorme aardbewing letterlik die hele aarde skud, sal Christus in Sy algehele mag terugkeer om Sy Koninkryk, Sy Regering, op hierdie aarde te vestig: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15). Christus sal nie net terugkeer as die Koning van die konings nie, maar ook as die “Here van die here”. Hy sal weer kom as Hoëpriester van die een ware godsdiens: “... dat Hy ons in syweë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Miga 4:1-2). “Want al die volke mag wandel elkeen in die naam van sy god, maar óns sal wandel in die Naam van die Here onse God vir ewig en altoos” (vers 5).

“En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van dieHere uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:3-4).

Anders as in ons huidige tyd, waar godsdienstige militantes moor en vermink in die naam van Islam en ander gelowe, sal die Koninkryk van God op hierdie aarde ’n tyd inlei wanneer mense nie eers sal leer van oorlogvoering en moord of om mekaar te vernietig nie. Hulle sal God se weg geleer word.

Ja, geloof is inderdaad ’n magtige dryfkrag. Aan die einde sal die ware godsdiens so ’n vreugdevolle utopia van liefde, vreugde en vrede tot stand bring, soos wat die geskiedenis van hierdie wêreld nog nooit beleef het nie! Laat niemand u ooit vertel dat godsdiens nie meer belangrik is nie. Dit gaan die belangrikste dryfkrag en motiveerder wees vir die finale gebeure in hierdie wêreld se geskiedenis en dit sal die uiteindelike positiewe dryfkrag wees in die eeu wat kom! Moet dus nie die krag van godsdiens onderskat nie. Dit het alles te doen met u werklike toekoms wat reeds begin het met hierdie gevegte tussen die Europeërs en die Arabiese nasies en sal uiteindelik al die nasies oor die hele aarde beïnvloed.

Ware godsdiens en u!

Wanneer al die ontsagwekkende dinge wat ek beskryf het begin om rondom ons plaas te vind, verstaan dan asseblief dat indien u aan die verskriklike onrus wil ontsnap, dit absoluut noodsaaklik is dat u die ware godsdiens wat regdeur u Bybel verkondig word leer en toepas! Dit word duidelik uitgebeeld dat Satan die duiwel al die nasies van hierdie wêreld mislei (Openbaring 12:9). Jesus Christus onderrig herhaaldelik: “... onderhou die gebooie” (Mattheüs 19:17). Die weg van God beteken dat Geesgevulde Christene die inwonende Gees sal gebruik om hulle in staat te stel om die gebooie te onderhou.

Christus het selfs gesê dat diegene wat aan andere die “minste” van die gebooie onderrig en dit toepas, baie geseënd sal wees. Ongelukkig kom die meeste mense wat hulleself Christus se volgelinge noem, deesdae met allerhande argumente te voorskyn deur te sê dat mens nie aan God se gebooie gehoorsaam hoef te wees om ’n ware Christen te wees nie! U weet immers van beter! Soos u self in die Bybel kan lees, word die ware geloof in Christus herhaaldelik uitgebeeld as gebaseer op God se weg – die Weg waarvolgens almal die Tien Gebooie as ’n lewenswyse onderhou – wat vrede bring aan almal wat dit onderhou. Soos God se Woord in Openbaring 14:12 sê: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar”.

Ja, die ware godsdiens wat deur Christus en Sy Apostels in die Nuwe Testament beskryf word, is werklik magtig en dit behels verseker die onderhouding van die gebooie, wat moontlik gemaak word deur die gawe van die Heilige Gees. Moet asseblief nie toelaat dat vroomklinkende predikers u mislei om iets anders te glo nie. Hou asseblief aan om hierdie tydskrif te lees en te bestudeer, asook die kragtige boekies wat ons absoluut gratis aan u stuur om u te help om die weg van God te verstaan en om u voor te berei om die “konings en priesters” te wees wat Christus sal bystaan om op hierdie aarde te heers, nie bo in die hemel nie, maar in die toekomstige Koninkryk of Regering van God (Openbaring 5:9-10).

Sonder twyfel sal sommige van u wat hier lees vriende hê wat hulle kerk, moontlik selfs hulle hele godsdiens, gekies het op grond van hoe “gerieflik” dit is om na die erediens te ry of selfs te loop, of watter kerk die aktiefste jeugprogram, of die beste koorleier het, of die “gaafste” mense het. U, as ’n opregte en ywerige Bybelstudent, behoort egter van beter te weet! U behoort aan uself te bewys wie die volle Waarheid van die Bybel verkondig! Mag God u help om al hierdie dinge na te gaan en: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). Mag God u help om te besef hoe belangrik die krag van die ware godsdiens is en hoe dit binnekort hierdie hele wêreld, soooku eie persoonlike lewe, indien u dit sal toelaat, met die “regte kant na bo” sal draai!