Jesus se dissipels het Hom gevra: “Wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” Sy antwoord was: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Mattheüs 24:3-5). Jesus en Sy dissipels het herhaaldelik gewaarsku dat godsdienstige misleiding ’n groot kwessie sal wees namate die wêreld die wederkoms van Jesus Christus nader. Bewyse bou op in ons hedendaagse samelewing wat daarop dui dat hierdie antieke profesieë vandag besig is om gestalte aan te neem, en die verhoog word voorberei vir hulle uiteindelike vervulling in die jare wat binnekort voorlê!

Misleiding geprofeteer!

Drie verskillende evangelie-skrywers boekstaaf Jesus se waarskuwings dat baie vals leraars baie mense sal mislei namate die einde van hierdie tydvak nader kom (sien Mattheüs 24:3-5, 11, 24; Markus 13:5-6; Lukas 21:7-8). Jesus het selfs gewaarsku: “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Mattheüs 24:24). Jesus het hierdie waarskuwings uitgereik om gelowiges te help om misleiding te vermy (Mattheüs 24:25; Johannes 16:1-4). Die apostel Paulus het by baie geleenthede soortgelyke waarskuwings gerig. Hy het gewaarsku dat vals leraars wat deur ’n ander gees gelei word, ’n ander evangelie sal verkondig as wat deur Jesus verkondig is, en mense sal mislei word om ’n vals Jesus te aanvaar wat nie die Jesus van die Skrif is nie (2 Korinthiërs 11:3-4). Die Bybelse Jesus is nie op Kersdag gebore nie, en het nie verkondig dat Christene hulle ewige beloning in die hemel sal hê nie (Johannes 3:13; Handelinge 2:34; 13:36). Die ware Jesus het nie weggedoen met die Sabbat of die Heilige Dae nie; Hy het daardie dae onderhou, soos ook die vroeëre Kerk (Mattheüs 5:17; Lukas 4:16; Handelinge 17:2). Paulus het geskryf dat vals leraars wat ander leerstellings verkondig hulleself sal voordoen as dienaars van Jesus Christus, alhoewel Satan hulle in werklikheid gebruik om baie mense te mislei (2 Korinthiërs 11:13-15). Die apostel Petrus het ook die verskyning van vals leraars voorsien wat “verderflike ketterye heimlik sal invoer ... en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Petrus 2:1-3).

Die apostel Paulus het gewaarsku dat Christene “in die laaste dae” mense moet vermy “wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën” want sulke mense sal Christene op ’n dwaalspoor bring (2 Timotheus 3:1-9). Hierdie vals leraars sal opregte mense mislei deur gebruik te maak van slinkse argumente rondom leerstellings, mooiklinkende filosofiese beredenerings en emosionele beroepe op ydele menslike tradisies (sien Efesiërs 4:14; 5:6-7; Kolossense 2:8).

Paulus het verduidelik dat, kort voor Jesus Christus se wederkoms, ’n “mens van sonde” – ’n wettelose godsdienstige leier wat deur Satan beïnvloed is – groot getalle mense wat nie God se woord ken nie, gaan mislei deur aan hulle “allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” te toon (2 Thessalonicense 2:1-15). Die apostel Johannes openbaar dat hierdie bose indiwidu “groot tekens” sal doen en “hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens” (Openbaring 13:11-18). Net voor Christus se wederkoms sal hierdie groot vals godsdienstige leier maak dat miljarde mense ’n magtige politieke figuur aanbid wat ook deur Satan beïnvloed sal word.

Satan is reeds vir ’n lang tyd besig om mense te mislei. Die Skrif openbaar duidelik dat hy Adam en Eva mislei het (Genesis 3:13; 2 Korinthiërs 11:3; 1 Timotheüs 2:14). Sedertdien, as die “god van hierdie wêreld” (2 Korinthiërs 4:3-4) het Satan die hele wêreld mislei met verkeerde idees oor godsdiens (Openbaring 12:9). So moeilik as wat dit vir baie mense mag wees om te glo, openbaar die Skrif dat voor die Wederkoms van Jesus Christus, Satan twee mense gaan beïnvloed – ’n magtige politieke figuur genaamd die “Dier” en ’n wonderwerkende godsdienstige leier van wêreld formaat – om die mense van hierdie wêreld te mislei om Satan self te volg!

Vals profete en leraars

Vandag het die wonders van moderne tegnologie – insluitend radio, televisie en die Internet – dit moontlik gemaak vir honderde en duisende selfverklaarde predikers en leraars om tallose teenstrydige idees oor godsdiens oor die wêreld te versprei. Sommige van hierdie leraars maak daarop aanspraak dat hulle visioene sien, met God praat en besondere openbarings oor die toekoms uit geestelike bronne ontvang. Die Internet, televisie, radio en gedrukte media word oorstroom deur vreemde idees oor godsdiens. Alhoewel baie predikante daarop aanspraak maak dat hulle uit die Bybel preek, stem hulle gereeld nie saam met ander wat ook aanspraak maak dat hulle uit die Bybel preek nie. Ander godsdienstige leraars beweer dat hulle verborge waarhede in ander “heilige” geskrifte of “verlore” evangelies gevind het, wat verantwoordelike geleerdes van die Bybel reeds lankal as vals verwerp het. Dit is aan die elektroniese media te danke dat ons moderne wêreld oorstroom is van godsdienstige leraars. Dit wemel van vals leraars, en baie kom in die naam van Jesus Christus – en hulle mislei baie mense – net soos profesieë van die Bybel lankal voorspel het!

Hoe misleiding plaasvind

Waarom het Jesus en die Apostels so baie waarskuwings geboekstaaf oor godsdienstige misleiding wat aan die einde van hierdie tydvak sal plaasvind? Hoe het hulle geweet dat dit sou gebeur? Die God van die Bybel openbaar dat Hy alleen in staat is om die toekoms te voorspel (Jesaja 46:8-10). Hy weet dat Satan ’n leuenaar is (Johannes 8:44) wat daarop uit is om God se plan van redding te dwarsboom deur die beïnvloeding van niksvermoedende mense wat ontvanklik is vir sy misleidende bedrywighede. Gedurende die laaste eeu in die sogenaamde Westerse “Christelike” wêreld het ons gesien hoe wêreldlike akademici, teoloë, opvoeders en ateïste nie slegs twyfel saai nie maar selfs die Bybel, en selfs die idee van God se bestaan, belaglik maak! Deesdae is dit teen die wet om te bid of die Skrif te lees in baie openbare skole. Baie van hierdie wêreld se mees prominente teoloë glo nie in ’n persoonlike God nie en beskou die Bybel nie as die geïnspireerde woord van God nie; vir hulle is dit vermoedelik net ’n ander boek vol mites en legendes! Hierdie gesindheid van twyfel en ongeloof het ons gemeenskappe deurtrek tot die punt waar baie mense nie eens die Bybel lees nie, dus weet hulle nie wat daarin staan nie. Studies het aangetoon dat groot getalle van mense in die Westerse wêreld vandag Bybel-ongeletterd is! Die meeste hedendaagse mense weet nie wat die Skrif profeteer nie. Hulle weet nie dat Satan ’n werklikheid is nie, hulle weet nie hoe hy te werk gaan of wat sy bedoelings is nie. Dit alles verskaf ’n vrugbare teelaarde vir die saad van misleiding om uit te spruit en te groei – dit is wat ons vandag sien. Dit was lank gelede reeds deur die profeet Hosea voorspel, toe hy geskryf het: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis”, omdat hulle God vergeet en Sy opdragte verwerp het – derhalwe sal ons ernstige gevolge as gevolg hiervan ly (Hosea 4:6).

Namate die einde van hierdie huidige tydvak nader kom, kan u dit vermy om mislei te word deur tyd te maak om die Bybel te bestudeer en te leer wat dit werklik sê (2 Timotheüs 2:15). Die Skrif vermaan ons: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). Jesus Christus het gesê, “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:31-32). Wydverspreide godsdienstige misleiding is geprofeteer om plaas te vind namate die einde van hierdie tydvak nader kom. Indien u weet wat aan die kom is en hoe dit sal kom, en indien u op u hoede bly en na God se woord kyk vir leiding, dan sal u nie mislei word nie!