Die meeste mense vandag verkeer onder druk om “in te val” met die waardes en gewoontes wat God verafsku. Was u al ’n slagoffer van die duiwel se aanval op ons samelewing?

Is u al deur die duiwel mislei? Is u seker? Hoe kan u seker wees?


Baie meer as wat die meeste mense selfs begin om te besef, is die hele samelewing rondom ons besig om omgekeer te word. Hoewel die media probeer om dit alles op die oppervlak goed te laat lyk, openbaar u Bybel dat die eindresultaat skrikwekkend sal wees!

Gedurende my jeugjare sou mense geskok gewees het deur die geredelike beskikbaarheid van aborsie op aanvraag. Hulle sou nooit kon voorsien dat kondome deur skoolowerhede aan studente versprei sou word nie. “Saamwoon” sonder die voordeel van die huwelik sou as skandelik beskou word, die blote gedagte dat homoseksuele paartjies “dieselfde-geslag huwelike” kan aangaan terwyl hulle hul afwyking van lankbestaande norme van ordentlikheid goedkeur, sou ondenkbaar gewees het.

Nogtans word hierdie praktyke en ander wat soos hulle is, vandag deur ontelbare miljoene mense rondom ons aanvaar – selfs deur baie mense wat hulself Christene noem. Selfs nominale “Christelikheid” is deesdae onder die spervuur, namate die meeste Westerse nasies byna elke oorblyfsel van hul vorige Judeo-Christelike erfenis verwerp. Voorheen sou mense ten minste die gesag van die Bybel erken het, selfs terwyl hulle teen baie van dit wat die Bybel verkondig gegaan het. Deesdae word Bybelse waardes selfs deur ’n spervuur van Sataniese propaganda ondermyn.

Satan, die “god van hierdie wêreld” (2 Korinthiërs 4:4), is inderdaad baie slinks. Hy gebruik slim en selfs hoogsopgeleide mense om hom by te staan in sy veldtog om kwaad goed te laat lyk. Die Skepper God het geweet dat, namate die einde van die wêreld naderkom, toenemende getalle ydele, rebelse mense hulself daartoe sal leen om boosheid te bevorder. Die Skrif waarsku ons uitdruklik: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is” (Jesaja 5:20-21).

Tog besef die meeste gemiddelde mans en vroue eenvoudig nie dat hulle slim mislei word deur ’n noukeurig georkestreerde veldtog om wat verkeerd is, goed te laat lyk nie. Hulle sien nie die maniere raak waarop die “hoofstroom-media” met die idees van diegene wat die moraliteit van die Westerse nasies heeltemal wil ondermyn, saamwerk of dit selfs bevorder nie. Jonger mense vandag kan skaars – indien enigsins – ’n tyd onthou toe die Westerse samelewing werklik vasgekleef het aan die waardes van respek vir die gesinseenheid, die heiligheid van die huwelik tussen een man en een vrou, ’n basiese standaard van sedelikheid soos uiteengesit in die Tien Gebooie en die beskerming van alle menslike lewe – insluitende dié van die ongebore kind in sy moeder se skoot.

In teenstelling daarmee is die moderne God-verwerpende slagspreuk vandag: “As dit goed voel, doen dit!” Feitlik ’n hele geslag Amerikaners, Kanadese en ander Engels-sprekendes is geleer en beïnvloed om die God van die Bybel en die standaarde van gedrag waaraan honderde miljoene van ons voorvaders ten minste lippediens bewys het, basies te verwerp; standaarde wat ons voorvaders volgens hulle begrip in hul daaglikse lewe – ten minste gedeeltelik – werklik uitgeleef het. Wat het gebeur?

Net ’n paar verstaan

Daar is ’n hand vol deurdagte kommentators wat hierdie tendens ingesien en hul stem verhef het om dit bekend te maak, meer as wat ek in hierdie kort artikel van melding kan maak. Een so ’n onthulling is te vinde in ’n boek met die titel: The Marketing of Evil. In hierdie interessante en baie belangrike dokument onthul die skrywer, David Kupelian, die werklikheid van die agenda van diegene wat – hetsy wetend of onwetend – Satan help om Bybelse waardes waaraan die Westerse nasies lank reeds aan vasgehou het, te ondermyn.

Wat is aan die gang? Kupelian skryf: “Die eenvoudige waarheid is, binne die bestek van ons leeftyd, word baie van wat die Amerikaners eens op ’n tyd byna algemeen verafsku het, nou verpak, geparfumeer, in geskenkpapier toegedraai en aan ons verkoop asof dit van groot waarde is. Deur bedrewe met ons diepgewortelde nasionale waardes van eerlikheid, ruimhartigheid en verdraagsaamheid te speel, het hierdie bemarkers ons oortuig om dít te aanvaar as verlig en edel, dit wat alle vorige geslagte sedert Amerika se stigting beskou het as grootliks selfvernietigend – in een woord, boos” (bll. 11-12).

Baie mense sal Kupelian se aansprake ongelooflik vind, tensy hulle sy boek met ’n oop gemoed benader. Hy gaan voort om die propagandaplan van sekere homoseksuele aktiviste wat “’n in-diepte gepubliseerde plan, uitgewerk deur professionele Harvard-opgeleide bemarkers” volg (bl. 12) te verduidelik. Kupelian vra: “Hoe kan dit in Amerika gebeur? Hoe het kindermolestering nou skielik ‘man-seun liefde’ geword? Hoe het die verbryseling van ’n baba se skedel en uitsuig van sy brein nou ’n ‘grondwetlike reg’ geword? Hoe het aanhaling uit die Bybel nou ‘haatspraak’ geword? Presies hoe word dit gedoen dat boosheid goed lyk, en goed nou boos lyk? Hoe het Amerika – wat steeds spog met ’n 80% Christelike bevolking – dit regkry om dít te aanvaar wat net alleen ’n kultuur van dood, eerder as ’n kultuur van lewe, genoem kan word?” (bl. 13).

Neem dit stadig en gemaklik?

Een van die belangrikste strategieë wat dikwels deur Satan en sy gesante deur die eeue heen gebruik word, is om veranderings so geleidelik te laat plaasvind dat die gemiddelde persoon nie die omvang van wat gebeur, besef nie. Dit is die “padda in die pot”-strategie. Wanneer ’n padda in die begin in ’n pot lou water geplaas word, skyn alles aangenaam en veilig te wees. Daarna, namate die water baie stadig verhit word, word die onwetende padda geleidelik dood gekook – voordat hy besef wat besig is om te gebeur!

Omdat bogenoemde veranderings, alhoewel werklik omvangryk, plaasvind oor ’n aantal jare – of in sommige gevalle selfs ’n paar dekades – besef die oorgrote meerderheid mense nie die geweldige omvang van hierdie ontsaglike veranderings in “normale” sedelikheid nie, nog minder sien hulle die gevaar in van wat aangaan. Meeste mense is aan die slaap gesus deur die konstante tamboerslag van propaganda wat daarop aandring dat hierdie omvangryke veranderings slegs maar sake van “regverdigheid” of “gelykheid” is, of net is om “gaaf te wees” – in elk geval maak die verplettering van lank-gehuldigde waardes “niemand seer nie”.
“Iemand seermaak?”

Het die ongebore babadogtertjie wie se brein uitgesuig is, ’n kans gekry om te kla oor die verlies van haar “regte as vrou”? Het kinders met “twee mammas” of “twee pappas” die geleentheid om beide moederliefde en vaderliefde te ervaar? Wat is die boodskap wat aan jong mense gestuur word wanneer hulle sien hoe volwassenes, in die naam van “seksuele vryheid”, “slawe” word van hulle wellus en grille, deur aan fisiese stimulasie en selfs “besteebare inkomste” voorkeur te verleen bo die waarde van ’n tradisionele gesin? Ons moet nie vergeet dat daar op hierdie oomblik nie-Westerse samelewings is wat hierdie agteruitgang van morele waardes van die Weste dophou nie. Sal hulle toelaat dat hierdie boosheid hul eie gemeenskappe binnedring, of sal hulle alles moontlik doen om die Weste te vernietig voordat die boosheid verder versprei?

U mag geskok wees om te verneem dat u Bybel duidelik openbaar dat, voor die einde van hierdie tydperk, die Amerikaanse en die nasies van Britse afkoms in werklikheid “slawe” sal word van die nasies wat hulself nie verswak het soos ons gedoen het nie.

Intussen word die meeste gemiddelde mense so besig gehou deur die Internet en ander afleidings – dat hulle eenvoudig dikwels nie die tyd afstaan om daaraan te dink nie. Indien hulle natuurlik gaan sit en versigtig nagedink het oor waarheen hierdie ontwikkelings lei, sou die meeste verstandige mense van beter weet. Hulle sou die geskiedenis gelees en besef het dat elke ryk of nasie wat die huidige koers van die Westerse nasies ingeslaan het, tot ’n val gekom het.

Die “sleutel” tot begrip

Vir eeue, alhoewel dit onvolmaak gedoen is, het die Westerse nasies minstens voorgegee dat hulle na die Bybel opsien as die beslissende standaard van sedelikheid. Gedurende die afgelope dekades het ons onderwysers, politici, en selfs die meeste van ons sogenaamde geestelike leiers, egter hul bes gedoen om die idee van ’n “werklike” God af te skaf, en het eerder menslike redenasies gebruik om hul eie standaard van sedelikheid daar te stel en te besluit hoe almal moet lewe. ’n Hedonistiese lewenswyse word toenemend op ons afgedwing deur regerings wat ons werkplekke, ons huislike lewens, ons mediese sorg, ons huwelike en so baie ander aspekte van ons daaglikse lewens voorskryf.

Met al hierdie dinge is daar een element wat opsigtelik ontbreek. In die Nuwe Testament van u Bybel is een van die heel eerste opdragte van Jesus Christus wat in Lukas 4:4 aangehaal word: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God.” Iewers langs die pad het die Amerikaners en die Britte wat voorheen vas geglo het in die idee van ’n ware God – die standaarde vir gedrag wat, ten minste losweg, gebaseer was op die Tien Gebooie – enige sweempie van daardie Goduit die oog verloor. Dit is glad nie verrassend nie, aangesien talle van ons godsdienstige opvoeders en leiers propaganda aan ons jeug verkondig het – selfs diegene wat predikante word – met die idee dat die Bybel nie direk deur God geïnspireer is nie, dat mens nie onvoorwaardelik daarop kan staat maak nie en dat die mens derhalwe sy eie standaard vir gedrag kan bedink.

Wanneer u hierdie een “sleutel” verstaan, val alles in plek! Die meerderheid mense in ons Westerse nasies het God werklik dan versaak en maak nou staat op hulself – deur die prisma van hul eie ydelheid en begeertes – om te besluit wat reg is en wat verkeerd is. Nogtans waarsku die Skrif ons: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 14:12). Miljoene geaborteerde babas het dit self ervaar – hul sal tydens die toekomstige opstanding wat die “Wit Troon Oordeel” genoem word (Openbaring 20:11-15), in staat wees om hul ouers in die oë te kyk en te vra: “Hoekom het julle nie God se Woord gehoorsaam nie?”

’n Antieke profesie

In ’n profesie wat aan ons voorvaders gegee is, en wat sekerlik direk verwys na ons huidige tyd, waarsku die Skepper God: “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek – dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet” (Levitikus 26:14-16).

Inderdaad, namate verskeie geestelike, emosionele en fisiese siektes meer en meer onbeheersd voorkom as gevolg van hoerery, owerspel en homoseksuele aktiwiteite, die ontbinding van gesinne, die weggooi van kinders asook ander “vrugte” van ons sedelike verval, sal dit sekerlik “die lewe laat versmag”. Die weg van “seksuele vryheid” en “maklike egskeiding” lei waarlik nie net tot VIGS en ander seksueel oordraagbare siektes nie, maar ook tot voortydige dood.

Terwyl ek in die 1930’s en 1940’s grootgeword het, het ek my ma en dosyne van haar vriendinne ervaar as waardige, geleerde en gerespekteerde vroue wat die aktiwiteite in hul huise behartig het, voedsel en ander nodige items gekoop het, huishulpe en tuiniers by geleentheid gehuur het, hul kinders onderrig en versorg het en ’n “veilige hawe” aan hul mans voorsien het na ’n lang dag by die werk. Hierdie vroue het hul ontsaglike God-gegewe vermoë gebruik om hul gesinne te ondersteun – die hele gemeenskap rondom hulle – deur ’n ordentlike, misdaadvrye en gesonde omgewing vir almal te voorsien.

Na die Tweede wêreldoorlog het die “Women’s Lib”-beweging begin met propaganda om vroue die idee te gee dat hul rolle as tuisteskeppers en moeders nie “vervullend” is nie. Dames wat nie buite die huis gewerk het nie, is toenemend verkleineer as “slawe” van mans asook of hulle hul potensiaal weggooi. Tradisionele rolle in die huwelik is aangeval as “verouderd” en “ongesond” en ’n manier om “vroue te onderdruk”. Feminis-aktiviste het besef dat die huwelik ’n primêre teiken moet wees van hul aanval op die tradisionele sedelike waardes. Soos die feministiese skryfster Robin Morgan dit stel: “Ons kan nie die ongelykhede tussen mans en vroue vernietig voordat ons die huwelik vernietig het nie” (Kupelian, bl. 112). Die feministiese skryfster en joernalis, Jill Johnson, stel dit so: “Totdat alle vroue lesbiërs is, sal daar geen ware politieke revolusie wees nie” (ibid.) Dit mag verregaande klink, hierdie idees is inderdaad dikwels “afgewater” om feminisme aan die gemiddelde persoon te “verkoop”, maar hulle bestaan werklik en is gevaarlik.

Hierdie idees het ook werklike, dikwels tragiese, gevolge. Oorweeg die uitwerking daarvan op kinders. Judith Wallerstein, ’n navorser wie se baanbrekerswerk ’n 25-jaar studie van kinders van egskeiding ingesluit het, vra: “Wat van die kinders?” As ’n kenner op hierdie gebied, het sy ’n verskriklike leegheid en frustrasie wat aan geslagte jong mense aangedoen is, toegeskryf aan hierdie nuutgevonde “vryheid” wat gepropageer word deur die radikale feministe.

The Marketing of Evil beskryf hierdie probleem in detail. “Glen Stanton, ’n kundige van Focus on the Family, som die resultate van ’n terugblik op Amerika se dekades-lange egskeiding-‘eksperiment’ op. Terwyl volwassenes geweldig gely het, het kinders ‘nog slegter gevaar’, is sy waarneming. ‘Baie het die onskuld van kindwees sien verdwyn die dag toe hulle ouers die egskeiding aangekondig het. Ander het beskryf dat hulle ‘lewenslank geskend’ is. Hulle het talle stories vertel van hoe hulle lamgelê was deur angs, beset was deur woede, gedisoriënteer was deur verwarring en geïmmobiliseer was deur vrees van algehele verwerping. Hul gedrag, skoolprestasies en fisiese en geestelike gesondheid het verswak. Hulle was ander kinders. Eintlik het hulle hulself nie meer as kinders beskou nie. Egskeiding het hulle gedwing om volwassenes te word, selfs nog voordat hulle tieners was. Ons weet nou hierdie kinders dra hierdie probleme kumulatief oor na die volwasse lewe” (Kupelian, bll. 115-116).

Weereens, die gevolge van hierdie “maatskaplike eksperimente” laat kinders se hartseer en frustrasie toeneem, dit lei tot dwelmmisbruik, dodelike siektes en selfs selfmoord. Trouens, die weg wat vir die mens reg “lyk” eindig dikwels in die dood!

Vernietig ons onsself?

Deur die God van die Bybel uit die prentjie te laat, is nasies wat eens op ’n tyd ten minste bely het dat hulle Bybelse waardes handhaaf, nou besig om hulself te vernietig. Die gevolge – veral in Amerika en Brittanje wat van beter behoort te weet – is ontstellend! Nogtans is miljoene mense wat mislei is deur die valse beloftes van die sekulariste en anti-God magte – wat eintlik deur Satan en sy demone gelei word – feitlik onbewus van die probleem, hul is toenemend onbewus van die God van die Bybel en enige skyn van Jesus Christus se leerstellings! Ek verwys na die “God van die Bybel”, want – soos die meeste van u weet – is daar deesdae so baie valse “gode” in omloop. Daar is letterlik honderde begrippe van wat God is of nie is nie. Die diep “vrees” of ontsag vir die ware God – die Skepper, die Een wat die Bybel geïnspireer het – is heeltemal afwesig in die gedagtes van die meeste mense.

Geagte leser, u behoort na te dink oor hoe die bogenoemde veranderings begin het om ’n uitwerking te hê op die geestelike gesondheid en geluk van miljoene mense, die stabiliteit van huise en gesinne – ook die uiteindelike oorlewing van die Westerse nasies. Indien Amerika en Brittanje wil voortgaan en floreer, dan moet die diepgaande respek vir daardie God weer herstel word – weliswaar, dit moet verhoog word tot waar dit behoort te wees!

Indien enigeen van u wat hier lees nog nie ons lewensbelangrike boekie, Die Bybel: Feit of Fiksie?, ontvang en bestudeer het nie, voeg dan asseblief die daad by die woord en bestel u gratis kopie nou. Dit kan u oë oopmaak vir die ware openbaring van ons Skepper en Sy lewenswyse – wat subtiel en nié so subtiel nie, ondermyn word deur Satan in die verskillende propaganda-veldtogte wat in hierdie artikel beskryf word. U kan dit óf lees óf aanlyn bestel by wvm.co.za of u kan u gratis gedrukte kopie verkry deur kontak te maak met die streekskantoor die naaste aan u (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif).

Ten slotte, mag God ons almal help om seker te wees dat ons met die werklikheid te doen het. Terwyl die eindtyd profetiese gebeure, geïnspireer deur die God van die Bybel, vinnig begin realiseer, kan die mense nie bekostig om baie langer “hul oë te sluit” vir die Waarheid nie. Upersoonlik, behoort die basiese aspekte van die lewe onder oë te neem: “Hoekom lewe ek? Is daar ’n ware God? Behoort ek daardie God te gehoorsaam of my eie weg te volg?” Die meeste mense steur hulle nie aan, of verstaan selfs nie, hierdie belangrike vrae nie. Nogtans daag die apostel Paulus ons uit: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlikdie ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korinthiërs 4:3-4). Satan is per slot van rekening die een agter die “bemarking van boosheid” waardeur hy poog om soveel moontlik mense as wat hy kan, te mislei. Satan die duiwel het inderdaad die oorgrote meerderheid van die mensdom “verblind” vir begrip van die Waarheid. Indien u begin om te verstaan wat ek geskryf het in hierdie kort artikel, mag God u oë oopmaak en daardie blindheid wegneem! Mag hierdie artikel u help om te dinkaandag te gee, en aan uself die regte antwoorde op die belangrikste vrae oor die lewe te bewys. Hierdie tydskrif en die Tomorrow’s World TV-program is daarop gemik om u te help om ware begrip te verkry. Mag God u help om te verstaan – om te verander!