Die Wêreld van Môre-tydskrif het 'n uitdruklike sending of opdrag. Daardie sending is om Jesus se opdrag, wat Hy na Sy opstanding aan Sy ware dienaars gegee het, uit te voer. Jesus het hierdie opdrag gegee en gewys dat dit van toepassing sou bly tot “aan die voleinding van die wêreld,” toe Hy gesê het: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen” (Mattheus 28:19-20). 

“So, wat maak jul sending en jul begrip van Christus se opdrag anders as dié van die 'algemene Christendom'?” sal sommige mense vra. 
Die verskil is dat ons werklik glo dat Jesus dit bedoel het toe Hy aan Sy dienaars gesê het “leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Soos u weet, sal u die een voorbeeld na die ander vind waar “algemene” Christendom duidelik en beslis afwyk van dit wat Christus Sy oorspronklike dissipels geleer het!

Skokkend? Is dit net ek wat dit sê?

Nee, want interessant genoeg erken dosyne gesiene algemene teoloë en kerkgeskiedskrywers hierdie vreemde teenstrydigheid.

'n Welbekende Protestantse geskiedskrywer Jesse Lyman Hurlbut erken: “Vir vyftig jaar na Paulus se lewe hang daar 'n gordyn oor die kerk waardeur ons tevergeefs probeer loer; en wanneer dit uiteindelik lig, ongeveer 120 n.C. met die skrywes van die vroegste kerkvaders, vind ons 'n kerk wat in vele opsigte baie verskil van die kerk in Petrus en Paulus se dae” (Story of the Christian Church, bl. 41). 

As die belydende Christelike kerk “baie verskil” van hoe dit in Petrus en Paulus se tyd was, moet iemand wat die saak eerlik ondersoek, vra: “Waarom?” Want die apostel Paulus het die Korintiërs opdrag gegee: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Korintiërs 11:1). En: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8).

Dus moet die ware Christendom nooit sy basiese leringe en gebruike verander nie! Dit is egter presies wat gebeur het, soos Hurlbut en andere openlik erken.

Die welbekende filosoof en teoloog, Soren Kirkegaard, het geskryf: “Die Christenskap van die Nuwe Testament bestaan eenvoudig nie ... wat gedoen moet word, is om lig te werp op 'n kriminele oortreding teen Christendom wat deur die eeue voortgesit is, deur miljoene gepleeg is (party meer skuldig as ander), waardeur hulle skelm, onder die vaandel dat hulle Christenskap vervolmaak, daarna gestreef het om God stukkie vir stukkie uit Christendom te kul. Hulle het daarin geslaag om Christendom presies die teenoorge-stelde te maak van wat dit in die Nuwe Testament is (Attack Upon Christendom, bl. 32-33).

Dit is waarom God die apostel Judas aan die einde van die Apostoliese tydperk geïnspireer het om te skryf: “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën” (Judas 3-4).

Judas sê mense moet “kragtig stry” of veg vir die “geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is”, omdat misleide mense oor die eeue heen probeer het om God se “genade” te verander in “ongebondenheid” – in 'n soort toestemming om ongehoorsaam te wees aan God se geestelike Wet en die duidelike leringe van Jesus Christus!

So, wat is dit wat ons glo?

Ons by Die Wêreld van Môre glo dat God ons beveel het om terug te keer na die oorspronklike Christenskap van Jesus en die Apostels. Ons is ernstig verbind daartoe om die “Christenskap van die Apostels” te hervestig – deur te leef volgens die eerste-eeuse Christenskap van die vroeë Kerk van God, wat later deur vals leraars omvergewerp is. Ons is daartoe verbind om die leefwyse te onderrig wat konsekwent deur Jesus Christus onderrig is. Onthou, dit was Christus wat aan die jong man wat navraag gedoen het oor hoe om die ewige lewe te beërwe, gesê het: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheus 19:17). 

Ons probeer – deur Christus in ons – om daardie hele leefwyse deel te maak van elke aspek van ons bestaan! Ons glo, soos Jesus leer, dat ons al tien van die Tien Gebooie moet gehoorsaam. Ons glo dat dit slegs gedoen kan word deur Jesus Christus wat Sy lewe binne-in ons leef deur die Heilige Gees. Deur Hom, probeer ons toeneem in liefde en gehoorsaamheid aan ons Vader in die hemel en ook om toe te neem in liefde en spontane besorgdheid vir almal om ons. 

My persoonlike gunstelingvers in die Bybel is Galasiërs 2:20, waar Paulus skryf: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het”. Hierdie vers som ware Bybelse Christelikheid beter op as enige ander vers en dit tipeer die benadering tot die Waarheid waarin ons glo.

Soos Jesus sê: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). As dit werklik toegepas word – soos die Bybel opdrag gee – sal ware Christelikheid die hele wêreld vrywaar van oorlog, verkragting en geweld, van diefstal en oneerlikheid, van owerspel en gebroke huisgesinne – en dit sal weer tot gevolg hê dat moderne belydende Christennasies daarvan gevrywaar sal waas om tallose miljarde dollars in belasting en ander uitgawes te vermors sodat ons die bogenoemde sondes van die mensdom kan “bekostig”! Ons belasting sal verminder en ons jong manne en vroue sal nooit nodig hê om oorlog toe te gaan nie. Daar sal geen behoefte wees vir slotte aan ons deure, vir polisie en sekerheidswagte of vir 'n rits ander beskermingsmaatreëls nie.

Benewens dit alles, sal die hele wêreld 'n ongeëwenaarde innerlike vrede en vreugde ervaar. Dit word “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan” (Filippense 4:7) genoem. Met kinders wat grootword in liefdevolle en stabiele huise – met 'n hele gemeenskap wat probeer om hul Skepper en Sy wonderlike geestelike wette te dien en te gehoorsaam – sal die aarde gevul wees met 'n diepe gevoel van verwesenliking en geluk – groter as enigiets wat ons nog ooit ervaar het.

Is ons besig om te droom?

Is dit alles 'n onpraktiese “droom”? Hoegenaamd nie! Dit is presies wat u Bybel voorspel toestande in Die Wêreld van Môre gaan wees! Dit is die verwesenliking van die “Evangelie” – die goeie nuus van die Koninkryk van God – die goeie nuus van Jesus Christus se toekomstige heerskappy hier op aarde (Openbaring 11:15). Soos Jesaja voorspel: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9). En: “In plaas van julle skande ontvang julle 'n dubbele deel; en in plaas van die smaad sal hulle jubel oor hul deel. Daarom sal hulle in hul land 'n dubbele deel in besit neem, ewige vreugde geniet” (Jesaja 61:7).

Ons by Die Wêreld van Môre verkondig en publiseer met erkentlikheid die boodskap van Christus se offergawe vir ons sondes, die goeie nuus dat ons sondes totaal vergewe kan word deur Jesus se dood aan die kruis! Maar ons verkondig ook ywerig die goeie nuus van Christus se Wederkoms as Koning van konings en van Sy glorieryke heerskappy oor die ganse aarde. Dit is met entoesiasme dat ons ons aandeel in daardie komende Koninkryk voorsien, wanneer die ware heiliges Christus as konings en priesters gaan bystaan om hierdie wêreld te herorganiseer, te onderrig en te regeer. God se geïnspireerde Woord verkondig dat Hy ons – in Sy groot plan – “konings en priesters vir onse God gemaak [het], en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:10).

Die deurslaggewende faktor is of u werklik die Bybel glo al dan nie! Ons verkies om na God en Sy geïnspireerde Woord te kyk as die beslissende gesag in ons lewens. 

Dan streef ons deur Sy Gees daarna om in hierdie lewe te leef volgens elke woord van God en ons sien gretig uit na Sy ingryping in mensesake en die komende Koninkryk van Die Wêreld van Môre. Ons weet dat dit die “donkerste sal wees net voor dagbreek.” Omdat ons Sy gehoorsame dienaars is, het God ons werklike insig gegee in baie spesifieke Bybelprofesieë oor die nabye toekoms, wat ons met dié van u wat verstaan, deel. U Bybel sê: “Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Openbaring 19:10). Dit is ons plig om u te help om die ontsagwekkende profetiese gebeure te verstaan wat gaan plaasvind namate ons die einde van hierdie tydvak nader! Daarbenewens, sien ons met afwagting uit na Die Wêreld van Môre en die geleentheid om miljarde van ons medemense gedurende die komende Millennium te leer en te dien.

Jesus het die traumatiese gebeure wat voorlê beskryf toe Hy aan Sy dienaars gesê het: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Lukas 21:28). Ons moedig u almal dus aan om God te dank vir die vergifnis wat Hy moontlik gemaak het deur die offergawe van Jesus Christus. Ons moedig u aan om verheug te wees oor die wete dat Jesus Christus Sy lewe in ware Christene sal leef deur die krag van die Heilige Gees. Ons moedig u aan om entoesiasties voor te berei vir die komende Koninkryk van God – 'n tyd van ware vrede en vreugde op hierdie aarde.

Dit is wie ons is. Dit is waarvoor ons werklik staan!