Die geestelike skatte in u Bybel is baie meer werd as enigiets fisies.
Jaag u daardie skatte na?


Rolprente, boeke en televisieprogramme prikkel die verbeelding wanneer hulle stories aanbied oor die soektog na verborge skatte. Die seerowers van ouds het fortuine in goud, silwer en juwele versamel. Sommige van hierdie rykdomme is tot vandag toe nog nie gevind nie. Daar is egter skatte wat baie meer waardevol is as enigiets wat u ook al in 'n verborge skatkis of in 'n gesonke seerowerskip kan raakloop. Daardie skatte is in u Bybel te vinde. Ons noem hulle die beloftes van God en hul waarde is onskatbaar! 

Skrywer David MacDonald het meer as 40 jaar gelede 'n artikel geskryf met die titel “Oak Island's Mysterious Money Pit” (Reader's Digest, Januarie 1965). Dit vertel die storie van hoe die 16-jarige Daniel McGinnis in 1795 op Oak Island, suid van Halifax, Nova Scotia, gaan jag het. Hy het 'n holte van vier meter gevind, met 'n katrolstel wat van 'n oorhang-ende boom hang. Hy het die volgende dag saam met twee vriende teruggekeer om te begin grawe. Sowat 3,3 meter ondertoe, het hulle op 'n houtplank afgekom. Op omtrent 6,6 meter diep, het hulle op 'n tweede plank afgekom en op 10 meter op 'n derde plank. Die seuns het ophou grawe en teruggekeer na hul plase, maar het nege jaar later weer teruggekeer en in alle erns begin grawe.

Hierdie keer het hulle 'n staalpen in die grond gesink, wat op 'n diepte van sowat 32 meter iets getref het wat hulle aanvaar het 'n skatkis moes wees. Hulle kon egter nie tot by die skat kom nie, en die volgende dag toe hulle terugkeer, was die hele skag vol water. Dit wou voorkom asof wie ook al die skat begrawe het, vindingryke ingenieurs-tegnieke aangewend het om vloedtonnels bokant die skat te bou, om sodoende te voorkom dat dit gevind sal word. Een beraming dui daarop dat dit 200 man minstens twee jaar sou neem om die ingewikkelde tonnelstelsel te bou.

McGinnis en sy vriende het gesterf sonder dat hulle ooit die skat kon bereik. Sedertdien het ander skattejagters miljoene doller in die “geldgat” gestort en kon slegs drie skakeltjies van 'n goue ketting en 'n antieke stukkie perkament vind. Skattejagters vermoed egter steeds dat ongelooflike seerowerskatte daar begrawe kan wees – moontlik die buit van kaptein Kidd of van die berugte Swartbaard of selfs van die seerower Henry Morgan. Andere bespiegel weer dat die ingewikkelde skag Inka-skatte wat deur die Spaanse ontdekkingsreisigers gesteel is, kan bevat, of selfs dat die Franse kroonjuwele wat eens aan Lodewyk die Sestiende en Marie Antoinette behoort het, daar begrawe mag wees. 

Fortuinsoekers het vir meer as 200 jaar hul fortuine daar spandeer en hul lewens afgesloof om die skat van Oak Island te soek. Een skattejagter het glo opgemerk: “Ek het genoeg gesien om te weet dat daar 'n skat daar onder moet wees en ook genoeg om te weet dat niemand dit ooit sal vind nie.”

'n Belofte van 'n ware skat

Daar is een skattejag wat altyd ongelooflike rykdom sal oplewer – mits u gewillig sal wees om u aan die soektog toe te wy. Daardie skattejag begin in u eie Bybel, waar ons wonderlike skatte van waarheid en die onskatbare waardevolle beloftes van God kan vind.

Indien u soos die meeste ander Afrikaans- of Engels-sprekende mense is, besit u heel waarskynlik reeds ten minste een Bybel. 'n Meningspeiling wat in 1993 deur die Princeton Navorsingsentrum gehou is, het bevind dat 93% van alle Amerikaners 'n Bybel besit en dat 27% van hulle vier of meer besit. In die VSA besit selfs meeste ateïste 'n Bybel per huisgesin. 'n Barna Navorsings-opname het in 2005 bevind dat 45% van Amerikaners die Bybel minstens een maal per week lees. Daar is natuurlik talle mense – met inbegrip van baie lesers van die Wêreld van Môre-tydskrif – wat die Bybel daagliks lees. Net soos Jesus ons aangemoedig het om te bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood” (Mattheus 6:11), behoort ons elke dag op God se Woord te voed.

Indien u op soek is na 'n Bybel, of indien u probeer besluit watter een van u Bybels om te gebruik, beveel ons by Die Wêreld van Môre gewoonlik die Afrikaanse Ou Vertaling aan, of die New King James-weergawe, indien u na 'n Engelse Bybel soek, omdat dit oor die algemeen die akkuraatste vertalings is. Ander vertalings kan natuurlik ook van nut wees namate u dieper in u studie van die Bybel vorder.

Om egter slegs 'n Bybel te besit, is nie genoeg nie. Terwyl die meeste Amerikaners [en Suid-Afrikaners] een of meer Bybels besit, is hulle kennis van die Skrif maar beroerd. In 1997 het 'n Gallup meningspeiling bevind dat slegs 46% van Amerikaners al vier die Evangelies kon opnoem en slegs 42% kon vyf of meer van die Tien Gebooie opnoem.

Amerikaners is nie die enigste mense wat kontak met God se woord verloor het nie. 'n Meningsopname wat in 2004 in Groot Brittanje gehou is, het bevind dat die Britte God se Gebooie vergeet. In 'n artikel, “The (forgot)ten command-ments” berig Jeremy Reynolds: “Volgens 'n nuwe Britse meningspeiling, vergeet die land baie vinnig die Tien Gebooie. Slegs drie van die Wette – wat op kliptafels aan Moses oorhandig is in die tyd van die Ou Testament – was enigsins sigbaar in die opname... Minder as die helfte van die bevolking het die waarskuwings om nie te steel, te moor, of om nie egbreuk te pleeg nie, onthou, maar dit wil voorkom asof gebooie soos 'Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie', vinnig besig is om 'n veraf herinnering te word. Slegs 9% van diegene wat aan die opname deelgeneem het, het die gebod om nie valse getuienis te gee nie (nie te lieg nie) onthou. Die gebod wat die swakste onthou word, is: 'Gedenk die Sabbatdag dat jy dit heilig', wat deur slegs 4% van deelnemers aan die opname korrek geïdentifiseer is” (London Assist News Service, 17 September 2004).

Net soos baie Amerikaners en Britte, behoort baie van ons ook terug te keer na die geloof van die Bybel! Ons behoort die Bybel te lees – en die Bybel te bestudeer. Om dit te doen, sal help om u oë te open vir die groot waarhede van God. Een van daardie groot waarhede is dat God belowe het om aan ons die ewige lewe te skenk. In Mattheus het 'n jong man aan Jesus gevra wat hy moes doen om die ewige lewe te verkry. Jesus antwoord: “As jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie. Hy vra Hom: Watter? En Jesus sê – dit: Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mattheus 19:17-19).

Jesus het die jong man aangesê om die Tien Gebooie te gehoorsaam! Hy het vervolgens vyf van die Tien Gebooie opgenoem – en in geval enigiemand sou wou dink dat Hy toestemming verleen het dat die ander maar verbreek mag word, het Hy geëindig deur uit Levitikus aan te haal: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Levitikus 19:18).

Hier het Jesus aangetoon dat die Tien Gebooie nie net noodsaaklik is tydens ons fisiese lewens nie, maar ook wanneer ons die ewige lewe van God ontvang. Ons moet daarop let dat die Tien Gebooie nie net verbodsbepalings bevat nie; die Vyfde Gebod word selfs die “eerste gebod met 'n belofte” genoem (Efesiërs 6:2). God sê aan ons dat diegene wat die Vyfde Gebod gehoorsaam, seëninge sal ontvang!

Die jong man in Mattheus 19 het ongelukkig “bedroef weggegaan” (vers 22) en verkies om nie gehoor te gee aan Christus se woorde nie. Hy was te geheg aan sy “baie besittings” en het nie besef dat hy nóg die Tien Gebooie, nóg Jesus Christus, wat aan hom daardie gebooie gegee het, gehoorsaam het nie.

God se beloofde Koninkryk

Fortuinsoekers kan 'n hele leeftyd spandeer om rykdomme te soek. Baie misluk, maar selfs al is hulle suksesvol, wat het hulle eintlik bereik? Sal hulle soos die ryk jong man van Mattheus 19 wees wat meer waarde aan sy rykdom as aan sy God heg? In teenstelling daarmee, soek Jesus se volgelinge 'n ewige skat – die Koninkryk van God. Christene behoort God met meer ywer te soek as wat fortuinsoekers na skatte van goud en juwele soek. Jesus sê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheus 6:33). Diegene wat fisiese, tasbare skatte soek, faal dikwels in hul soektog. As ons egter God se Koninkryk en Sy geregtigheid soek, sal ons die grootste skat van alles vind – en God het boonop beloof om in al ons behoeftes te voorsien. 

Wanneer ons werklik na God se wil soek, sal Hy ons gebede verhoor. “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom 'n klip sal gee; en as hy 'n vis vra, aan hom 'n slang sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Mattheus 7:7-11).

Ons moet natuurlik ook ons deel doen. Ons moet “soek” en “klop.” Is u op soek na ’n betrekking? Ja, u moet bid vir daardie betrekking. God mag egter ook van u verwag om navorsing te doen oor potensiële werkgewers en om 'n paar oproepe te maak. Soek God se geregtigheid en tree dan met geregtigheid op – deur God se Gees.

Die Bybel vergelyk God se koninkryk met 'n waardevolle pêrel. “Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit” (Mattheus 13:45-46). Die baie kosbare pêrel verteenwoordig geestelike rykdom. Mense leer steeds die harde les dat geen hoeveelheid stoflike rykdom blywende geluk kan bring nie. Ons sien dit in die lesse wat koning Salomo geleer het. Hy het alles besit, maar regdeur die boek Prediker vind ons herhaaldelik dieselfde tema: “Alles tevergeefs … dit is alles tevergeefs” (Prediker 1:2). Salomo was die rykste man op aarde, maar sy rykdom het hom geen bevrediging verskaf nie. Nadat hy geluk op baie verskillende maniere gesoek het, wat was sy gevolgtrekking? “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense” (Prediker 12:13). 

Soos Christus ons leer en soos Salomo ondervind het, is ware rykdom beskikbaar, selfs ook aan diegene wat finansieel arm is. Is u ook een van dié mense wat eer en aandag skenk aan mense met 'n stewige bankbalans, terwyl u daardie mense met finansiële probleme ontken? Verwaarloos u daardie mense aan wie God eer gee? Die apostel Jakobus herinner ons: “Luister, my geliefde broeders – het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie?” (Jakobus 2:5).

God het nie Sy Koninkryk beloof aan diegene met groot finansiële vermoëns nie, maar eerder aan dié wat Hom liefhet. Alhoewel hulle arm mag wees in die oë van die wêreld, besit diegene wat ryk is in die geloof, die ware rykdom – die ware skat. Hulle streef God se weg in hul lewens na. God se weg is 'n skat, soos ons in Spreuke lees: “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand; ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die Here verstaan en die kennis van God vind (want die Here gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand” (Spreuke 2:1-6). 

Diegene wat die skat van goddelike wysheid ontvang, ontvang wonderlike beloftes wat hul lewens – en hul ewigheid – kan verander. Soos die apostel Petrus skryf: “Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here! Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is” (2 Petrus 1:2-4).

God se belofte aan u en u kinders

Begeer u die goddelike aard in u lewe? Christene wat God se Heilige Gees ontvang het, het reeds in 'n mate van daardie goddelike aard of natuur ontvang. Dit is een van die Bybel se heel kosbaarste beloftes. Op Pinksterdag het die apostel Petrus voor duisende mense gestaan om te preek: “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep” (Handelinge 2:38-39).

Soos Petrus gesê het, kom God se beloftes “julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.” Indien God u roep, behoort u op Sy roeping te reageer. Bekeer u, bereken die koste van toewyding aan Hom (Lukas 14:28), gaan dan in gebed na God en vra vir Sy leiding. U voel dalk gereed om gedoop te word. Indien u berading rakende die doop verlang, kontak gerus ons streekkantoor wat op bladsy 2 van hierdie tydskrif gelys is en 'n ware leraar van Jesus Christus sal met u in aanraking kom, op 'n tyd en plek wat u pas, om met u te gesels en u te help om voor te berei vir die doop.

Ons kan nie God se Koninkryk sonder Sy Gees beërwe nie. Soos die apostel Paulus skryf, is daardie Gees 'n gees van “krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timotheus 1:7). Deur God se Gees kan u menslike aard verander word en kan u werklik begin om God te volg en Hom gehoorsaam te wees. Soos Paulus skryf: “En die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is” (Romeine 5:5). Deur God se Heilige Gees, kan u u eie selfsugtige menslike aard vervang met God se liefdevolle aard.

Christene ontvang die gawe van God se Heilige Gees, ingevolge Sy belofte, na berou tot bekering en die aanvaarding van Christus se gestorte bloed vir die kwytskelding van ons sondes. Hierdie gawe sluit God se wonderlike belofte van saligmaking in deur die lewende Jesus Christus. “Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe. Want nouliks sal iemand vir 'n regverdige sterwe – vir 'n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe – maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn. Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is” (Romeine 5:6-10). Ja, God se ontsagwekkende belofte is dat Hy ons sal red deur die lewende Jesus Christus!

Soos ons gesien het, is die Bybel 'n skatkis vol goddelike beloftes. Een van die heel kosbaarste beloftes, maar ook die een wat die meeste misgekyk word, vind ons in die brief aan die Filippense. Indien u vrede in u gemoed wil hê, sal u op hierdie belofte wil reageer: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:6-7). 

Net soos Salomo ontdek het, kan al die rykdom en skatte van hierdie wêreld nie vir u vrede in u gemoed koop nie. God kan u egter Sy vrede gee, wat “alle verstand te bowe gaan.” Hoe kan u hierdie belofte opeis? Deur innige, vurige gebed. Soos wat u die Bybel lees, sal u tallose beloftes vind wat God aan u gemaak het. In gebed, op u knieë, kan u God vertel hoe graag u dít wat Hy beloof het, wil bekom – hoe dringend u dit nodig het. Bid met vrymoedig-heid. Onthou die skriftuur: “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:16). 

Christene kan met vrymoe-digheid bid, want hulle weet dat hulle 'n groot Hoëpriester het wat om hul onthalwe sal intree. God is liefde en Hy is ook die grootste gewer (Jakobus 1:17). Hy wil ons selfs die aarde as erfenis gee (Mattheus 5:5). God beplan om ons uiteindelik nog 'n groter geskenk te gee: “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom 'n God wees, en hy sal vir My 'n seun wees” (Openbaring 21:7). 

God se beloftes is vir u. Deursoek u Bybel daagliks en namate u daagliks nader aan God beweeg, bedank Hom vir die baie groot en waardevolle skatte – met inbegrip van God se egte waarheid – wat Hy wil hê u moet besit, nou en in die Wêreld van Môre.