In ’n vorige artikel in hierdie reeks, het ons gesien hoe God by verskeie geleenthede dramaties ingegryp het om die verloop van geskiedenis te lei. Ons het gesien hoe Hy Europa bewaar en voorberei het om ’n unieke rol te speel op die wêreldtoneel (“Europa, Christendom en God se plan” in die Wêreld van Môre Januarie-Februarie 2018). Verder het ons ook gesien hoe Sy ingryping die weg gebaan het vir die maatskaplike en godsdienstige invloed wat tot vandag toe die wêreld gevorm het. By kritieke keerpunte wat die toekomstige rigting van die wêreldgeskiedenis bepaal het, was die Perse, die Moslems en die Mongole elkeen op sy beurt verhinder om die vasteland van Europa te verower en hulle godsdienstige kulture oor die kontinent te versprei. Vandag verstaan min mense egter waarom die volke van Europa so teen hierdie buitelandse veroweraars beskerm was. Nog minder mense besef hoe God die oorblywende ware Christenskap bewaar het, dié wat onder ander mededingende weergawes van “Christelikheid” verstrooid was en geworstel het om die Europese vasteland te oorheers. Europa was inderdaad ’n belangrike platform waardeur God Sy plan op aarde uitgewerk het.

’n Nuwe beloofde land

Baie nasies van Noordwes-Europa (met inbegrip van Skandinawië en die Britse Eilande) neem aan dat hulle heidene is, omdat hulle nie Joods is nie. Mense besef egter nie vandag dat die Jode hoofsaaklik twee van die stamme van Israel verteenwoordig nie: Juda (waarvandaan hulle naam kom) en Benjamin. Die Bybel openbaar dat tien ander stamme ook afstammelinge van die Bybelse patriarg Jakob is (sien Génesis 49). Na ’n tydperk van ballingskap in Assirië, het baie Israelitiese stamme na Noordwes-Europa immigreer – waar hulle vermenigvuldig en die beloftes vervul het wat God vroeër aan Abraham en sy nageslag gemaak het. Die afstammelinge van hierdie Europese Israeliete het later oor die hele wêreld versprei en hulle godsdienstige idees en kulturele waardes met hulle saamgeneem (sien ons boekie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid Afrika?). Heelwat van die Israelitiese nasies (Amerika, Brittanje, Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika) vorm wat nou die “Anglosfeer” genoem word. Die Franse, Nederlanders, Belge, Switsers en Skandinawiërs maak ook deel uit van die verspreide Israelitiese nasies. Saam het hierdie Israelitiese volke geskiedenis van die wêreld vir die afgelope vyf honderd jaar oorheers, maar min mense verstaan waarom dit gebeur het.

Die Bybel boekstaaf dat God Sy Wette aan Sy uitverkore volk gegee het, sodat hulle as ligte en voorbeeld vir die wêreld kon dien en die seëninge van ’n Bybels-gebaseerde kultuur met die hele mensdom gedeel kon word (Deuteronómium 4:1-8). Hierdie goddelik geïnspireerde Wette, hoe onvolmaak dit ookal deur die moderne afstammelinge van Israel nagekom word, het ’n unieke rol gespeel om die Westerse beskawing apart van die res van die wêreld te stel. Dit het ’n rol gespeel in waarom God Europa van totale en permanente buitelandse verowering in vorige geskiedkundige tydperke bewaar het. God het die Israelitiese nasies bestem om Sy “dienaars” te wees (Jesaja 44:21) en om ’n kragtige en positiewe impak op die wêreld te hê. Hy het die loop van die Europese geskiedenis gelei om Sy doel ’n werklikheid te maak (vgl. Jesaja 46:9-10). Ons sal hierdie boeiende onderwerp in toekomstige artikels in hierdie reeks ondersoek. Tog het die Israelitiese nasies nie altyd hulle Godgegewe opdrag vervul nie en dit sal in die toekoms tot gevolge lei.

Katakombes, kastele, grotte en kruistogte

Die vasteland van Europa het nog ’n ander unieke rol in die vervulling van God se plan vir die mensdom gespeel. Jesus sê dat Hy gekom het om ’n Kerk te bou wat nooit sou uitsterf nie (Matthéüs 16:18). Hy beskryf Sy kerk as ’n “klein kuddetjie” (Lukas 12:32) wat vervolg sou word (Johannes 15:20), maar wat aan Sy leerstellings sou vashou (Johannes 17:17; Openbaring 3:8). Terwyl ware Christenskap feitlik uit die lande van hulle oorsprong in die Midde-Ooste en Noord-Afrika, as gevolg van die gewelddadige verspreiding van Islam en ander magte verdwyn het, het die geografiese en politieke faktore in Europa gesamentlik die oorlewing van Jesus se getroue volgelinge toegelaat, asook die bewaring van die leerstellings van ware Christelikheid.

Die Bybel sowel as die sekulêre geskiedenis teken aan dat Jesus en Sy volgelinge deur Joodse godsdienstige leiers en Romeinse burgerlike owerhede vervolg is – ’n dodelike onderdrukking wat tot lank ná Sy dood en opstanding voortgeduur het. Gedurende die verskriklike vervolgings wat deur die heidense Romeinse keisers ontketen is, is Christene opgesluit, gemartel en vir wilde diere gegooi om juigende skares te vermaak. In hierdie milieu is baie Christene gedwing om in die geheim in ondergrondse katakombes van Rome te aanbid of in afgeleë plattelandse gebiede. Selfs toe ’n vervalste en afvallige weergawe van die Christendom deur die Romeinse Ryk aangeneem is, het ’n paar vasberade mense besluit om die werklike leerstellings van Jesus en die Apostels te volg – onderhouding van die sewende-dag Sabbat, die Bybelse Heilige Dae en die doop van volwassenes – nie kinders nie – asook ander leerstellings. Hiervoor is hulle vir vervolging geteiken deur die Rooms-Katolieke biskoppe van Rome. Hierdie ware Christene het uitgestaan bo diegene wat begin het om nie-Bybelse gebruike en leerstellings aan te neem – soos om Kersfees, Paasfees en “Dae van die Heiliges” te vier en om die heidense leerstelling van die onsterflike siel aan te neem. Dit is dus vir heidene makliker gemaak om hulle tot die verdraaide “Christelikheid” van die magtige Roomse Kerk te “bekeer” (sien Will Durant, Caesar and Christ, bl. 595).

In ’n poging om eenvormigheid met die Roomse Christendom af te dwing, het die pouse in Rome begin om kruistogte van stapel te stuur teen sogenaamde godsdienstige “ketters” wat hierdie “verchristelikte” heidense gebruike en leerstellings verwerp het. As gevolg van die vervolging en moord wat deur die Roomse kerk aangehits is, het die Albigense en Katarese in die suide van Frankryk na kastele in die bergpieke gevlug waar hulle deur simpatieke leiers beskerm is. Die Waldense in Noord-Italië het na onbereikbare Alpynse valleie teruggetrek en somtyds in grotte aanbid om hulle geloof te onderhou. Die Paulitane in Klein-Asië en die Bogomille in die Balkans is ook deur die Roomse kerk en die Bisantyne vervolg. Selfs in Engeland, waar Protestantisme algemeen was, is gelowiges wat met die leerstellings en voorbeeld van Jesus en die Apostels volgehou het (onderhouding van die Sabbat, die Bybelse Heilige Dae en Bybelse gesondheidswette), deur die Kerk van Engeland vervolg omdat hulle hul nie aan die leerstellings onderwerp het wat deur die Roomse kerk oorgedra is nie (sien ons boekie oor God se Kerk deur die eeue).

Die dokumente van baie van hierdie vervolgde groepe is vernietig en vergete terwyl bestaande verklarings van hulle oortuigings dikwels deur hulle ondervraers en vervolgers verdraai is. Tog kan die spoor van hulle ware geloof gevind word in oorblywende groepe wat verspreid in Europa gewoon het of uiteindelik na die Nuwe wêreld gevlug het, waar sommiges selfs die Bybelse naam van “Kerk van God” gebruik het (1 Korinthiërs 1:2; 10:32; et al.).

Vanuit die gunstige posisie van die geskiedenis, dui die getuienis daarop dat God Europa bewaar het – sodat buitelandse invallers dit nie sou oorrompel nie – soos in ’n wieg, waarin Hy die verspreide Israelitiese nasies kon ontwikkel en dit vir hulle moontlik gemaak het om ’n lewensbeskouing vir beskawing te ontwikkel wat die wêreld sou beïnvloed. Soos Jesus voorspel het, het God ook Sy Kerk gedurende verskeie vegtende verdeeldheid van die sogenaamde “Christelikheid” bewaar wat geworstel het om die Europese vasteland te oorheers. Bybelprofesieë openbaar dat wanneer Jesus Christus weer kom, die gelowiges wat aan Sy leerstellings getrou was, by die Koning van die konings sal aansluit om die Koninkryk van God op hierdie aarde te vestig (Openbaring 11:15-18) in wat die laaste keerpunt in die geskiedenis van die wêreld sal wees.