Jesus Christus het nie die Tien Gebooie afgeskaf nie; Hy het dit uitgebrei!

VRAAG: Jesus Christus het gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Johannes 13:34). Vervang hierdie nuwe gebod die Tien Gebooie?

ANTWOORD: Ongelukkig glo selfs baie mense wat hulleself Christene noem dat Jesus se “nuwe gebod” die Tien Gebooie vervang, wat Hyself gehoorsaam het en regdeur Sy bediening aan mense geleer het. Indien ons egter Jesus se onderwysing ondersoek, sal ons die werklikheid van die saak verstaan.

Dit is noodsaaklik om op te let dat Jesus baie duidelik in Sy “Bergpredikasie” aan Sy volgelinge gesê het dat die Tien Gebooie nog van belang is: “Moenie dink ek het gekom om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie” (Matthéüs 5:17-18).

Wat het Jesus bedoel toe Hy gesê het dat Hy gekom het om die Wet te “vervul”? Beteken “vervul” dan “uitwis”? Nee! Jesus se nuwe gebod vervul die Wet ten volle en openbaar ’n geestelike uitbreiding wat Sy dissipels nie voorheen geken het nie. Let daarop dat Jesus in die volgende paar verse die geestelike bedoeling van God se Gebooie uiteengesit het. Moord is ’n sonde, maar haat is die gees van moord en dus ook ’n sonde. Owerspel is ’n sonde, maar so is wellus – die begeerte om egbreek te pleeg (Matthéüs 5:20-28). Ons kan dus sien dat Jesus nie met die Tien Gebooie weggedoen het nie; Hy bevestig dit as ’n integrale deel van Christenskap. Soos Hy inderdaad aan ons gesê het: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Matthéüs 19:17).

Het Jesus ’n nuwe gebod gegee toe Hy gesê het “dat julle mekaar moet liefhê”? Baie mense is verbaas om te ontdek dat die opdrag “jy moet jou naaste liefhê soos jouself” uit die Ou Testament afkomstig is (Levitikus 19:18).

Wat was dus nuut in Jesus se opdrag om mekaar lief te hê? Let daarop dat nadat Christus die dissipels aangesê het om mekaar lief te hê, Hy dit opnuut weer beklemtoon en uitgebrei het – hulle moes mekaar liefhê “soos Ek julle liefgehad het” (Johannes 13:34).

Wat maak Jesus se liefde anders? Die bron van Jesus se liefde was die Heilige Gees (Romeine 5:5), wat Christus beloof het aan Sy dissipels gegee sal word ná Sy dood en opstanding (Johannes 14:16-17). Daardie selfde nag het Jesus Sy dissipels beveel om “in my liefde [te] bly” (Johannes 15:10). Die goddelike liefde van God sou binnekort in hulle wees om hulle te help om Christus se voorbeeld te volg. Totdat Christus aan hulle die gawe van die Heilige Gees gegee het, kon die dissipels mekaar net liefhê met ’n menslike liefde. Met die Heilige Gees kan Christene mekaar liefhê met die ware liefde van God. Deur hierdie liefde kan ware Christene uitgeken word. “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35).

Regdeur Sy lewe op aarde het Jesus Christus gedemonstreer hoe God se liefde waarlik werk. Selfs ten tye van Sy dood het Christus totale liefde vir Sy vyande uitgespreek toe Hy gebid het: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Lukas 23:34). Oomblikke voordat Hy Sy “nuwe gebod” uitgespreek het – tydens Sy laaste Pasgamaaltyd voor Sy kruisiging – het Christus die voetewas seremonie ingestel, wat Christene daaraan herinner om lewens van nederigheid, naastediens en liefde te lei. Jesus het voortdurend ’n lewe van gehoorsaamheid aan die geestelike voornemens en doel van God se Wette geleef. Christus se liefde, gehoorsaamheid en geloof in Sy Vader omvat die eerste vier van die Tien Gebooie. Sy liefde, diens en uitgaande besorgdheid vir ander mense omvat die laaste ses van die Tien Gebooie.

Inderdaad, soos die apostel Paulus verduidelik, die Wet van God (soos dit in die Tien Gebooie uiteengesit is) lei direk na Christus en Sy liefde (Romeine 10:4). God se Wet en Sy liefde is vir ’n ware Christen onskeibaar!