Aanvaar u opreg dat u godsdiens uit die Bybel kom? Die meeste Christene glo wel so, maar die waarheid kan u verstom!


Bykans al die leidende Protestante leraars van vervloë geslagte het verkondig dat die Bybel hul “grondslag” was. Bekende Protestante teoloog, William Chillingworth, het gesê: “Die Bybel, die hele Bybel, en niks anders as die Bybel nie, is die godsdiens van die Protestante” (Schaff-Herzog, Encyclopedia of Religious Knowledge, Berig: “Chillingworth, W.”). In hul gedurige bevestiging van die Skrif as die “geïnspireerde geloofsreël en praktyk” (ibid., Berig: “Bible”), het Protestante leiers hulself daartoe verbind om die godsdiens van Jesus Christus en Sy Apostels in alle opsigte te volg.

Hoewel stigtersprotestante hervormer, Martin Luther, die gesag van die Bybel verwerp het wanneer dit hom gepas het, het hy steeds verkondig: “Want dit wat gesê word sonder die gesag van die Skrif of van bewese openbaring, kan as opinie geag word, maar daar is geen verpligting om dit te glo nie” (Doctrines of the Christian Church, ed. Bettenson, bl. 280). Selfs die meeste hedendaagse leraars, nog verder van die waarheid verwyder as Martin Luther, ag hulself as “Bybelgelo-wige Christene”.

Ek het ook so gedink. Ek het in 'n algemene Protestante kerk grootgeword vir die eerste 19 jaar van my lewe. Ek was per geleentheid leier van my Sondagskoolklas. Albei my ouers het by 'n kerkverwante kollege gegradueer en ons het almal aangeneem dat ons inderdaad die Bybel navolg. Uiteindelik het ek egter besef – met absolute sekerheid – dat ons geensins die Bybel gevolg het nie, maar eerder die “tradisies van mense” wat oor honderde jare in “kerkedom” ingespuit is. My vroeëre aannames was verkeerd. 

Dink vir 'n oomblik na oor die honderde verskillende “Chris-telike kerke” met heeltemal verskillende begrippe van God en saligmaking. Volg hulle almal die Bybel? “Ekumeniese” inisiatiewe soos “Evangelie-gesindes en Katolieke gesamentlik” probeer maniere vind vir Protestante en Rooms-Katolieke om deel te hê aan praktyke soos die verering van die Maagd Maria en standbeelde van die “heiliges”. Op die ander uiterste verkondig baie liberale leraars nou dat God die grootskaalse moord van ongebore babas goedkeur. Ons word al hoe meer vertel dat dit aanvaarbaar is vir erkende homoseksuele mense om tot die “Christelike” bediening verorden te word, en dat twee mans (of twee vroue) met mekaar kan trou.

Wat gaan aan?

Glo al hierdie mense opreg dat hulle die Bybel navolg?

Is opregtheid genoeg?

Is opregtheid en ordentlik-heid genoeg? In Indië het die meeste mense “Mahatma” Gandhi as 'n goeie en opregte mens beskou. Hy het homself op verskeie wyses verootmoedig en homself soms bykans uitgehonger ten einde sy mede-landsburgers te dryf tot opstand en om onafhanklikheid van Brittanje te eis. Honderde miljoene mense – selfs in die Weste – het hom as 'n “heilige man” beskou. Wanneer 'n mens lees oor alles wat hy gely het en wat hy deurgegaan het, sal min mense aan sy opregtheid twyfel. Gandhi was egter 'n Hindoe wat 'n diepe toewyding aan die Hindoegod, Rama, bely en die talle gode van die Hindoe-godewêreld vereer het. Sy begrip van God, of hoe om God te aanbid en van die ganse doel van die lewe, was heeltemal verskillend van enigiets wat in die Bybel gevind word.

So ook word die ontslape Rooms-Katolieke non, Moeder Theresa, deur miljoene mense as 'n “heilige” geag. Die meeste mense sal sekerlik sê dat sy 'n “goeie vrou” was. Sy het haarself verootmoedig, ontneem en moeiteloos gewerk vir die armes en verdruktes. Tog het sy daagliks met algehele opregtheid tot die Maagd Maria gebid en hierdie gebruik by miljoene van haar volgelinge en aanhangers bevorder.

Jare gelede het twee toegewyde en hoogs opmerksame leraars in die Kerk van God vir my vertel hoe diepgaande hulle gevoel het dat die Thai-Boeddhiste van die vriendelikste, sagmoedigste en mees diensbare mense is wat hulle nog ooit teëgekom het, en heeltemal opreg. Tog, wanneer godsdiens- of sektariese geweld losgebars het, sou baie van hierdie selfde “sagmoedige” monnike lang messe uitpluk en hul godsdiens- of politieke teenstanders letterlik “aan stukke kap”!

Verstaan asseblief mooi. Om opreg, vriendelik en sagmoedig te wees, is nie genoeg nie!

Die ware God van die Bybel sê vir ons: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:24). Wat is daardie “waarheid”? Jesus Christus verkondig: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Johannes 17:17). Indien u werklik bereid is om die Waarheid in die gesig te staar, sal u sien dat talle algemeen aanvaarde “Christelike” leerstellings en praktyke nie net on-bybels is nie, hulle word trouens heeltemal verdoem in die geïnspireerde woord van God.

“Waarvan praat jy?” sal sommige mense vra. “Hoe durf jy die leerstellings en gebruike van my kerk, my familie en my lewe oordeel?” Daardie klein woordjie “my” kan baie belangrik wees. Die meeste mense wil instinktief hulle idees en hulle gebruike verdedig, selfs idees wat maklik verkeerd bewys kan word! Baie opregte mense wat in Nazi-Duitsland grootgeword het, het dit moeilik gevind om te besef hoe boos en grusaam die Nazi-idees en gebruike was. Selfs vandag nog sal baie mense bly vasklou aan kommunistiese ideologieë en leringe. Om ons gekoesterde oortuigings prys te gee kan baie moeilik wees, selfs wanneer ons met die waarheid gekonfronteer word.

Die belangrikste kwessie

Alles kom hierop neer: Het u vir uself bewys dat daar 'n ware, persoonlike God is en dat die Bybel Sy geïnspireerde woord is? Indien wel, is u bereid om u oortuiging te volg na die logiese gevolgtrekking daarvan? God se Woord sê vir ons: “Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 14:12). Die weg wat vir mense “reg lyk” eindig gewoonlik in verwarring, lyding en die dood. Kyk na die ganse wêreld vandag! In teenstelling het die Jesus Christus van die Bybel verkondig: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Onthou: Toe Jesus hierdie woorde gespreek het, was die enigste geskrewe “woord van God” dit wat ons nou die Ou Testament noem!

Dink! Is u en u kerk bereid om 'n algehele verbintenis te maak om te glo en toe te pas wat die Bybel werklik sê? Om daardie verbintenis te maak sou verstommend wees, iets wat baie min mense of kerke nog ooit gedoen het, want dit is baie moeilik vir mense – en kerke – om hul idees en gebruike te verander en op te hou om gerieflikheidshalwe met hierdie wêreld en sy tradisies, wat Jesus so dikwels verdoem het, “saam te gaan”. Jesus het geweet dat dit moeilik sou wees. Dit is waar-om Hy sê: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Mattheus 7:13-14). 

Die Bybel vertel ons inderdaad dat die meeste mense deur 'n baie werklike Satan, die duiwel, mislei sal word. Die apostel Johannes beskryf 'n komende geestes-oorlog waarin Satan oorwin sal word: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9). Uiteindelik sal Satan in 'n bodemlose put geplaas word “sodat hy die nasies nie meer sou verlei [nie]” (Openbaring 20:3). 

Natuurlik – volgens die duidelike woorde van die Bybel – is die hele wêreld mislei. Verbasend genoeg onthul die Bybel dat die wêreld se mees “beskaafde” nasies, regstreeks teen Jesus Christus sal veg wanneer Hy terugkeer as Koning van die konings (Openbaring 17:14)!

U kan dalk vra: Wat is die talle on-bybelse leerstellings en gebruike wat so baie mense mislei het? Is u bereid om u verstand te open vir wat u Bybel duidelik sê? Is u bereid om die Bybelse opdrag te gehoorsaam wat sê: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessaloni-cense 5:21)?

Is u? Goed. Hier gaan ons! 'n Ganse panorama van sogenaamde “Christelike” leerstellings en gebruike is beslis on-bybels. Baie “Christelike” leerstellings “ontbreek” nie net in die duidelike Bybelse leringe van Christus en die Apostels nie, dit word dikwels verdoem. Dit verwar miljoene mense, keer hulle van God af weg en help om hulle te verblind vir God se ware Plan, Sy ontsagwekkende doel en Sy ganse leefwyse!

Indien u meer gedetailleerde inligting verlang oor enige van die onderstaande punte, moedig ek u aan om in verbinding te tree met die streekkantoor naaste aan u (soos gelys op bl. 2 van hierdie tydskrif), of om ons Afrikaanse Webwerf te besoek by www.wvm.co.za of in Engels by www.tomorrowsworld.org. Ons bied gedetailleerde, insiggewende boekies en oorgedrukte artikels oor al die onderwerpe hieronder en nog baie meer. Ek sal party hiervan noem namate ons met hierdie artikel vorder. Indien u dit versoek, sal dit absoluut gratis en sonder verpligting aan u gestuur word!

WAAROM is u gebore?

Ons sal begin met die mees fundamentele vraag in ons almal se lewens: Waarom is u gebore? Wat is die ware doel van die mens se bestaan? Wat is die mensdom se uiteindelike lotsbestemming?

In sy pogings om die groot Plan van die Skeppergod omver te werp, was Satan in staat om vir die meeste belydende Christene 'n algehele vals begrip van ewige lewe te gee. So is ons grootgemaak om te dink dat wanneer ons sterf, ons net “hemel toe sal sweef”. Ons sal “hemelse geluk” smaak – moontlik op 'n harp speel, mekaar geniet of na die aangesig van God staar. Maar vir alle ewigheid, sal ons bykans niks te doene hê nie! Ons sal geen werklike werk hê nie – geen uitdaging of verantwoor-delikheid nie.

Wat is fout met daardie idee? Dit is nie net on-bybels nie; dit ondermyn en weerspreek ons Skepper se ganse doel, want God se Woord sê herhaaldelik duidelik vir ons dat Christene konings en priesters gaan wees in 'n Regering van God wat binnekort deur Jesus Christus op hierdie aarde opgestel gaan word. “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6). Die geïnspi-reerde “lied van die heiliges” verkondig van Jesus: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:9-10). Jesus Self sê vir die Apostels: “Julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 22:30). Die apostel Paulus is geïnspireer om Nuwe-Testamentiese Christene opdrag te gee: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korinthiërs 6:2-3).

Ja, ware Christene word nou “opgelei” om konings en priesters te word in die eerskomende Koninkryk van God. Daar sal hulle Jesus Christus bystaan om God se ware leefwyse te onderrig, wat 'n diepte van vrede en vreugde na die ganse wêreld sal bring soos nog nooit tevore nie!

U kan dalk vra: “Maar waar pas “hemel toe gaan” in by hierdie Bybelse leringe?”

Die voor die hand liggende antwoord is: Dit pas nie daarby in nie!

Daar is geen duidelike teks in die ganse Bybel wat “hemel toe gaan” beloof as die ewige beloning vir 'n Christen nie. Pleks daarvan sê Jesus Christus: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is” (Johannes 3:13). Jesus sê ook: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Mattheus 5:5). Waar die apostel Petrus praat van 'n man so na God se eie hart (Handelinge 13:22) sê hy: “Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe” (Handelinge 2:29).

Die geliefde koning Dawid is dus nie “bo in die hemel” nie – so ook is niemand anders nie! Die Bybel praat dikwels van die Koninkryk van die Hemele – nie bo in die hemel nie.

Die Bybel sê dat ons as Christene “'n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele” het. Net die volgende vers verklaar hierdie punt en herinner ons dat ons moet begeer “om met ons woning uit die hemel oorklee te word (2 Korinthiërs 5:1-2). Mense lees dikwels hierdie skrifdeel of ander soortgelykes, maar vergeet in hul agtelosigheid om die hele skrifdeel en sy volle betekenis in gedagte te hou. Roekelose wanbegrip en wanaanwending van sulke skrifdele het baie mense mislei om te dink dat hulle “hemel toe sal gaan” as hul ewige beloning.

Trouens, die ganse Bybel is besonder duidelik in sy onthulling dat dit God se Plan vir Christene van hierdie huidige tyd is om op hierdie aarde te wees, om Christus by te staan as konings en priesters in Sy komende Koninkryk wat binnekort opgerig sal word. Vandag se Christene is veronderstel om God se wette en Sy weë te leer, ter voorbereiding vir hierdie baie werklike beloning en geleent-heid om van diens te wees. Hoe jammer dat die gedagte van “hemel toe sweef” aan so baie mense afgesmeer is, met die gevolg dat dit die begrip verduister en mense vir die groot Plan van God verblind. Daarom is die vals leerstelling van “hemel toe gaan” so uiters gevaarlik en vernietigend; dit verdraai die mens se begrip van die hele rede waarom hulle in hierdie tyd deur God “geroep” word!

'n “Onsterflike” siel?

Nog 'n vernietigende leerstelling wat ware Bybelse begrip van ons ewige lotsbestemming vernietig, is die idee van die “onsterflike siel”. Hierdie vals lering het tallose miljoene mense oortuig dat hulle, in wese, onvernietigbaar is. Weens hierdie leerstelling glo miljoene mense wanneer hulle sterwe, gaan hulle hetsy opskiet hemel toe of neergewerp word in 'n ewig-brandende vuur om vir ewig en altyd te ly aan die hand van 'n toornige God.

God se geïnspireerde Woord maak dit egter duidelik dat die mense nie onsterflik of onvernietigbaar is nie, en dat onbekeerde sondaars op die ou einde doodgemaak gaan word – om ewige straf te ontvang, pleks daarvan om vir ewig gestraf te word. 

Jesus sê: “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel” (Mattheus 10:28). Die Seun van God vertel ons dat God ons “siel” kan “verderwe”! Soos die apostel Paulus geïnspireer is om te onthul: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23). Ja, ewige lewe is 'n “genadegawe” – nie iets wat ons alreeds besit as onsterflike siele nie. En die “loon” – of “beloning” – van onvergeefde sonde is die dood – nie ewige lewe in 'n hellevuur nie! Talle teksverse – meer as wat in hierdie artikel kan pas – maak hierdie waarheid duidelik. Indien u hierdie onderwerp in nadere besonderhede wil bestudeer – en glo wat die Bybel inderdaad sê – skryf of skakel asseblief vir ons gratis oorgedrukte artikel “Is daar lewe na die dood?” of ons boekie U uiteindelike lotsbestemming. Hierdie literatuur, soos al ons ander literatuur, sal heeltemal gratis en sonder verpligting aan u gestuur word.

Behoort Christene die Tien Gebooie te GEHOORSAAM?

Nog 'n basiese en verskriklik gevaarlike misverstand is dat mense hetsy “onder die wet” of “onder genade” is. Dit is 'n deurlopende Protestantse “mantra” wat baie leraars in die verstande van hul volgelinge probeer inprent! In der waarheid, toon die Bybel dat Christene die Tien Gebooie – God se groot geestelike Wet – moet gehoorsaam en ook onder “genade” is wanneer hulle die gebooie onwetend oortree, maar dan bewustelik bekeer van hul sondes, want, soos God se Woord vir ons sê: “Sonde is immers oortreding van die wet van God” (1 Johannes 3:4, NV). 

Onthou dat Jesus onderrig het: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.” Direk nadat Hy dit gesê het, het Hy 'n paar van die Tien Gebooie begin opnoem (Mattheus 19:17). Jesus het hierdie argument gedurig en konsekwent aangevoer!

“Maar,” laat hoor baie leraars, “al wat ons regtig nodig het is God se liefde, nie die een of ander werkheilige stelsel nie.” Hoe moet die liefde van God egter uitgedruk word? Volgens elke persoonlike siening van wat “liefde” is? Nee! Want God se Woord sê duidelik vir ons: “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). God se liefde vloei met die “rivierbedding” – die weg – van die Tien Gebooie langs. Gehoorsaamheid aan hierdie gebooie in die letter en in die gees toon aan ons hoe om uiting te gee aan die soort liefde en karakter wat God in Sy potensiële ewige kinders wil vorm!

Indien ons natuurlik al tien van die gebooie wil onderhou, moet ons ook die vierde gebod onderhou, deur die ware Sabbat op die sewende dag van die week te onderhou. Jesus Christus – ons voorbeeld – het die sewendedag Sabbat onderhou, soos ook die Apostels en die Nuwe-Testamentiese Kerk! Soos die apostel Jakobus dit verwoord: “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword” (Jakobus 2:10). Deur God se ware Sabbat te onderhou, lei ons na die ware God – die Skepper wat Self op die sewende dag gerus het. Dit beeld ook die komende sewende “duisendjaarlange dag” uit wat 'n noodsaaklike deel van God se Plan is. Wanneer die egte, Bybelse Sabbat nie onderhou word nie, aanbid mense op die ou einde 'n vals god, deur die antieke “dag van die son” te onderhou en verval hulle in allerlei soorte heiden-dom en afvalligheid as gevolg hiervan. Indien u opreg vir uself wil bewys wat die ware Bybelse Sabbat is, skryf of skakel asseblief dadelik vir ons gratis boekie, Watter dag is die Christelike Sabbat?

Diegene wat die ware Sabbat verwerp, word dikwels slagoffers van die gedagte dat Christene baie van die wêreld se antieke heidense aanbid-dingsdae kan onderhou (bv. Kersfees, Paasfees en Allerheilige nag) eerder as om die dae te onderhou wat God Self aan Sy mense gegee het – dae wat Jesus Christus en die Apostels onderhou het, wat onderhou sal word gedurende Jesus Christus se komende duisendjarige heerskappy. Om meer te wete te kom oor hierdie noodsaaklike onderwerp, vra asseblief vir ons gratis boekie, Die Heilige Dae: God se Meesterplan. Dit sal vir u die waarheid oor hierdie saak in veel meer besonderhede uitspel as wat ons in 'n kort tydskrifartikel kan doen. Dit sal verduidelik hoe God se Heilige Dae duidelik Sy groot plan onthul en omskryf – die stap-vir-stap plan waardeur Hy mense tot volle lidmaatskap van Sy Gesin bring. Sonder begrip van die Heilige Dae, het die mensdom as geheel nog nooit die Skepper se groot plan verstaan nie – en sal ook nooit nie! Die begrip van God se ware Heilige Dae is van onskatbare waarde!

Ek kan voortborduur met nog letterlik dosyne vals leerstellings en begrippe wat in die naam van “Christendom” onderrig word. Die bogenoemde sal u egter 'n goeie idee gee, aangesien die punte wat ek gedek het, grondliggend is.

Indien u beter wil verstaan hoe Satan in staat was om die ganse mensdom hieroor en oor ander punte te verwar en te mislei, skryf asseblief vir ons deeglik nagevorsde boekie, Satan se vervalste Christen-dom. Hierdie boekie gee deeglike bewys vir wat dit sê. Indien u ontvanklik is, sal dit u stomslaan!

Ja, die Bybel bedoel werklik wat dit sê en dit sê wat dit bedoel! Mag God u help om bereid te wees om u gemoed ontvanklik te maak en vir uself te bewys dat die Bybel inderdaad die geïnspireerde Woord van God is. Ons moet die slim argumente en “woordspeletjies” vermy wat dikwels aangewend word deur diegene wat hul gerieflike ou idees wil behou, ongeag hoe onbybels dit is. In die meeste gevalle, moontlik sonder dat hulle dit agterkom, is hulle soos die Fariseërs van Jesus se tyd wat Hom en Sy ware leringe verwerp het, “want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God” (Johannes 12:43).

Mag God u die begrip, die geloof en die moed gee om die intellektuele en geestelike energie te bestee om agter die Waarheid te kom van wat die Bybel werklik sê. Mag Hy u ook lei om waarlik te reageer op hierdie kennis in die vrees van die ware God wat aan ons lewe en asem en elke goeie gawe gee.