Migrasie is lank reeds ’n menslike verskynsel namate mense na veiliger, welvarender lewenswyses gesoek het. ’n Vlugtige blik op wêreldnuus dui daarop dat migrasie – veral van onwettige immigrante en asielsoekers – nie meer as gunstig beskou word nie. Politieke gevegte word gevoer tussen leiers wat beloof om die vlaag van onwettige immigrasie te stuit. Nasies waar immigrante se bevolkings toeneem, is in ’n stryd gewikkel om behuising, werk en dienste vir die immigrante te verskaf. Inheemse inwoners hoor hoe hulle moedertaal minder gereeld gepraat word. Migrante wedywer met inheemse burgers vir werk en dienste. Nasies wat vroeër asielsoekers verwelkom het, reageer nou met toenemende vyandigheid en vrees teenoor hulle.

Waarom is Westerse nasies in hierdie stryd van immigrasie-krisisse gewikkel? Wat sal die lot van Westerse samelewings wees en die immigrante-bevolkings sélf? Die Bybel verskaf antwoorde.

Meer mense, meer probleme?

Die Verenigde Koninkryk en Ierland is onder die nasies wat hulle midde in die wêreldwye immigrasie-krisis bevind. Sedert 2020 het rekordgetalle asielsoekers – meer as 100,000 mense in klein bootjies – die V.K. binnegekom (BBC, 23 Januarie 2024). Die meerderheid Britse asielsoekers kom van Afghanistan, Iran, Indië, Pakistan en Bangladesj. In 2022 het meer as 45,000 onwettige immigrante die Engelse Kanaal vanaf Frankryk oorgesteek – nóg ’n nasie wat worstel met onbeheerde immigrasie. Gedurende dieselfde jaar het die netto-migrasie na die V.K. byna ’n getal van 750,000 mense bereik (BBC, 22 Desember 2023). Die V.K. eerste minister, Rishi Sunak, het dit betreur dat immigrasie-getalle “heeltemal te hoog is”.

Volgens The Guardian (2 November 2022), is daar vanaf November 2022, een uit elke ses inwoners in Engeland en Wallis buite die V.K. gebore – ’n toename van 33 persent in tien jaar. Terwyl wettige immigrante bewys moet lewer van hulle vermoë om te kan werk asook toekomstige indiensneming moet bewys, is asielsoekers aan geen sodanige vereistes onderhewig nie. Hulle ontvang gratis regeringsbefondsde behuising en ’n weeklikse “kontantkaart” (LawCentreNI.org, Julie 2023).

Mnr. Sunak, self ’n seun van immigrante, het in 2023 alarm gemaak en gewaarsku: “Ons vyande sal sien dat ons nie in staat is om die situasie te hanteer nie en daarom sal migrasie toenemend as ’n wapen gebruik word om mense doelbewus na ons kus te dryf in ’n poging om te probeer om ons samelewing te destabiliseer” (The Telegraph, 16 Desember 2023). Hy het gewaarsku dat die immigrasie-beleide sal moet verander, anders sal migrante “ons lande en ons vermoë om diegene te help wat ons hulp die nodigste het, oorweldig”. Hy het gekla dat “dit die publiek se vertroue sal vernietig, nie net in ons as politici nie, maar ook in ons eie regeringstelsels”. Dit herinner aan die waarneming van die voormalige Britse eerste minister, Margaret Thatcher, wat opgemerk het dat Brittanje dalk “eerder oorval kan word deur mense van ’n ander kultuur”. Dit word deesdae as polities foutief beskou en heeltemal misverstaan, hoewel hierdie woorde van die “Ystervrou” die kragtige impak van skielike veranderings op Brittanje se demografie erken het.

Morele agteruitgang, verval van die samelewing

Sosioloog Anne Holohan, van Trinity College Dublin, het in ’n Desember 2023 Sky News-onderhoud opgemerk: “Ons het ’n toename in die aantal asielsoekers gesien – en die toenemende aantal –het probleme in die Ierse samelewing aan die lig gebring, maar hulle het nie hierdie probleme veroorsaak nie”. Deur die gevolgtrekking te maak dat Ierland se ellende die regering se skuld is, sien professor Holohan die diepgaande verband tussen die immigrasie-probleem en inherente probleme in die Ierse samelewing oor die hoof.

Wat is die onderliggende maatskaplike probleem wat deur die huidige immigrasie-nagmerrie teweeg gebring word? Die Bybel waarsku dat wanneer nasies God se Gebooie verwerp, hulle die prys van ontwrigting van die samelewing sal betaal. Die Britse Gemenereg wat die basis is vir baie Engelssprekende nasies word deur die Bybelse Tien Gebooie beïnvloed. Die waardes wat Groot-Brittanje egter daartoe gelei het om behoeftige nasies regoor die wêreld vir eeue lank by te staan, te ondersteun en hulp te verleen – hoe onvolmaak dit ook al mag gewees het – word nou vervang deur ’n goddelose en veranderlike ideologie wat op dit self  gefokus is. Westerse nasies volg nou die model van Israel gedurende die antieke tyd van die Rigters, waarin “daar geen koning in Israel [was] nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë” (Rigters 17:6).

God rig ’n waarskuwing oor wat sal gebeur indien Sy Gebooie verwerp word: “Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jý sal laer en laer afsak” (Deuteronómium 28:43). Ons sien hoedat daardie werklikheid vandag in Brittanje, Ierland en ander Westerse nasies afspeel. Bevolkingstatistieke bevestig dat die bevolking wat in die buiteland gebore is, in Westerse lande toeneem, terwyl die getalle van binnelandse geboortes afneem. Volgens die BBC “het die toename van immigrasie uit die EU daartoe gelei dat sommige dorpe met tradisioneel klein groepe migrante, in die Middellande [van Engeland] en Wallis byvoorbeeld, ’n vinnige verandering in die samestelling van hulle bevolking ervaar het” (19 Januarie 2020). In Londen word slegs 36,8 persent van die inwoners as “white British(Gov.uk) geklassifiseer. In 2021 het slegs 36,2 persent inwoners in Manchester, hulleself Christene genoem, 32,4 persent het gesê dat hulle geen godsdiens het nie en 22,3 persent van die inwoners is as Moslems geïdentifiseer. In 2021 het 34 persent inwoners van Birmingham hulleself Christelik genoem, 24 persent inwoners het gesê dat hulle geen godsdiens het nie en 30 persent is as Moslem geïdentifiseer (Gov.uk). In Maart 2023, volgens die BBC, is daar deur die V.K. se regering op 395 hotelle, regoor die V.K., beslag gelê met die doel om asielsoekers te huisves.

Daar is ’n soortgelyke neiging in Ierland waar ’n derde van die hotelkamers deur asielsoekers bewoon word (NewsTalk, 31 Maart 2023) wat ’n skerp styging in hoteltariewe veroorsaak het. In Roscrea het inwoners geprotesteer teen planne dat die dorp se enigste hotel ’n woonplek vir asielsoekers word, wat 160 meer immigrante sal byvoeg tot ’n dorp van minder as 6,000 inwoners wat toe rééds 600 asielsoekers gehuisves het (RTE.ie, 12 Januarie 2024). Sedert die Covid-pandemie het ongeveer 100,000 Oekraïners alleen na Ierland gekom – ’n nasie van net 6,5 miljoen mense (Sky News, 10 Desember 2023). In Ballyhaunis in die weste van Ierland is 40 persent van die bevolking in die buiteland gebore.

’n Nou-verwante resultaat van ongekontroleerde immigrasie is die vinnig veranderende geloofstelsels van politieke leiers. Die V.K. se destydse eerste minister is Hindoe. Skotland se Skotse Nasionale Party se hoof en Eerste minister is Moslem. Hierdie leiers verteenwoordig ’n steeds toenemende groep van regeringsamptenare met waardestelsels wat verskil van die invloed van die Bybelse grondslag wat eens deur Groot-Brittanje en Ierland gehandhaaf is. ’n Belgiese LP het na bewering in 2015 opgemerk dat Moslem-immigrasie “’n inval is, dit is ’n ‘Trojaanse perd’” (The Guardian, 19 Maart 2015).

Die “vreemdeling wat by jou is” is verseker besig om die “kop” te word terwyl die inwonende volke “die stert” word – presies soos God gewaarsku het. Hierdie kulturele en samelewingsverskuiwing is besig om plaas te vind in Wes-Europa, die Verenigde State, Kanada, Australië, Nieu-Seeland en ander nasies van Britse afkoms.

’n Plek om huis te noem

God toon nie partydigheid nie; Hy verkies geen nasie of volk bo ’n ander nie (Handelinge 10:34). Immigrante in Israel moes goed behandel word (Deuteronómium 10:19), maar God beveel ook dat daardie immigrante Sý lewenswyse aanneem (Númeri 15:15-16).

Mense vlug uit hulle lande weens hongersnood, oorlog en korrupte, selfgesentreerde leiers. Hulle vlug uit hulle huise op soek na die vrede, veiligheid en voorspoed van Westerse nasies wat voorheen deur Bybelse beginsels beïnvloed is. Hierdie uittog sal voortduur totdat ’n diepgaande verandering kom: Jesus Christus sal terugkeer na die aarde en sal regverdige leiers oor die mensdom aanstel. Hulle liefdevolle, onbaatsugtige optrede sal die behoefte vir mense uitskakel om uit hulle huise te vlug. Christus sal die huidige skeidings tussen samelewings herstel en waardigheid en respek aan alle mense gee. Onder Christus se heerskappy sal daar een Wet wees – God se Wet en een waardestelsel wat die wêreld verenig!