Alhoewel die grootste deel van ons wêreld in wanorde verval het, openbaar u Bybel duidelik eindtydse gebeure wat tot die Wederkoms van Jesus Christus sal lei. Hier is twaalf belangrike gebeurtenisse wat ’n impak op u lewe sal hê!

U lewenswyse sal binne die volgende paar jaar ingrypend verander word. Hierdie artikel verduidelik hoe en waarom!

Werklik verbysterende gebeure is vir ons wêreld in die nabye toekoms om die draai – veral vir die Amerikaners en nasies van Britse afkoms. Mag God almal van u wat hier lees, help om wakker te word! Na sowat 65 jaar in God se Werk, moet ek terwyl ek nog kan, aan u hierdie ernstige waarskuwing rig.

Baie mense sal spot en verskonings uitdink om dit wat ek nou aan u gaan vertel te ignoreer of te verkleineer. Soos die ou gesegde lui, “ondervinding is die beste leermeester”. U sal nie meer lank hoef te wag om hierdie skokkende gebeure te sien plaasvind nie. Trouens, ’n aantal daarvan is besig om plaas te vind!

Vyf liberale regsgeleerdes het in 2015 in die Hooggeregshof van die Verenigde State van Amerika dieselfde-geslag “huwelike” in elke staat in die land ingestel en daardeur ’n Konstitusionele “reg” deur geregtelike magtiging geskep! Mans wat met mans “trou”. Vroue wat met vroue “trou”. Ons toenemend verwarde en perverse kultuur gaan voort om hierdie verdraaiing van jare lange tradisionele moraliteit as ’n “oorwinning” te vier en dring daarop aan dat soortgelyke “regte” na al hoe meer lande regoor die wêreld versprei word.

Hierdie mense wat in hulle perverse idees vasgevang is bly in gebreke om te erken dat die Skepper en insteller van die ware huwelik heeltemal geïgnoreer en Sy Woord belaster word, deur hierdie opstand teen ’n eerbiedwaardige instelling wat Hy self ingestel het! Sal die Almagtige God dus werklik iets aangaande dieselfde-geslag “huwelike” doen? Wat sal met ons mense gebeur as gevolg van ons voortgesette moord op miljoene ongebore babas? Wat sal ons moet trotseer as gevolg van die toename in owerspel, met miljoene paartjies wat “saamwoon” asof dit niks buitengewoon is nie? Wat gaan van ons samelewing word terwyl dit die verdere vernietiging van tradisionele gesinne en die toename in gemaksugtigheid in al sy vorms sien? Wat sal die gevolg wees van ons mense se algehele eiesinnige, genotsugtige, godlose benadering?

Ek sal nou aan u ’n kort, bondige lys gee van die verskeie belangrikste profetiese gebeure wat voorlê. Baie meer gebeure kan by hierdie lys gevoeg word. Hierdie profetiese gebeure is egter tussen dié waaroor ons by die Wêreld van Môre u al vir jare lank waarsku. Dink daaraan, soos ek later sal verduidelik, dat die Bybelse bewyse ten opsigte van hierdie geprofeteerde gebeure reeds baie duidelik gemaak is in verskeie artikels in die Wêreld van Môre-tydskrif en in heelwat van ons boekies oor profesieë – alles gratis beskikbaar op aanvraag. U het ’n “geheelbeeld” oorsig nodig van wat in die nabye toekoms gaan gebeur om u te help om te weet waarvoor om op die “uitkyk” te wees in naderende wêreldgebeure en om u gebede aan die Almagtige God te inspireer.

Wat is dus op die punt om te gebeur?

Twaalf belangrike gebeurtenisse wat in die nabye toekoms voorlê

Eerstens, Amerika se agteruitgang sal voortgaan totdat die nasie vernietig is. Daar sal natuurlik geringe veranderings langs die pad wees. Tensy die Amerikaners hulle bekeer, sal die God van die hemel hulle nasie se trots en mag “verbreek”. Dit sluit beslis die finansiële mag in wat die “Amerikaanse droom” moontlik gemaak het en wat deur so baie mense regoor die wêreld bewonder is.

Tweedens sal die militêre mag van die Engelssprekende nasies al hoe meer verswak en uiteindelik vernietig word. Amerika en Groot-Brittanje het saam die Eerste Wêreldoorlog, die Tweede Wêreldoorlog en ’n paar ander noemenswaardige konflikte gewen. Tensy ons ons bekeer, neig die pad vorentoe van nou af net afwaarts! Tensy ons ons bekeer, sal daar nooit weer ’n beduidende oorlog gewen word nie. Voordat u grynslag, hou die situasie net vir ’n paar jaar dop en u sal dit sien gebeur.

Derdens, ’n kombinasie van geweldige “natuurrampe” sal met toenemende felheid voortgaan om die mag van die Anglo-Saksiese-Keltiese afstammelinge te verswak en te vernietig. Die Almagtige God beheer werklik die weer. Lank gelede het God ons voorvaders gewaarsku: “Alhoewel Ék die reën van julle teruggehou het toe dit nog drie maande voor die oestyd was en op die een stad laat reën maar op die ander nie laat reën het nie, die een stuk land reën gekry het, maar die ander waarop geen reën geval het nie, verdor het; en twee, drie stede na een stad geslinger het om water te drink sonder om die dors te les – nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here” (Amos 4:7-8).

Vierde, as gevolg van bogenoemde krisisse, sal die Amerikaners en nasies van Britse afkoms binnekort toenemende hongersnood en droogte in die gesig staar. Al hoe meer mense sal sonder werk wees en nie in staat om die stygende prys van skaars kos en water te bekostig nie. Daar sal ’n skokkende toename in die aantal gesinne wees wat gaan honger ly. “Arbeidsonrus” sowel as “voedsel oproer” kan verwag word terwyl massiewe burgerlike onrus as gevolg hiervan sal plaasvind!

Vyfde sal siekte-epidemies toenemend voorkom! Seksueel oordraagbare siektes soos VIGS, sifilis, gonorree en herpes sal die voortou neem as gevolg van ons nasies se skandelike lewenswyses en goddelose weë. Die Ewige God sal nie toelaat dat ons verrotte wanpraktyke voortgaan sonder die straf vir sulke losbandigheid wat al hoe meer algemeen raak nie. God laat Hom nie bespot nie!

Sesde sal die voortreflikheid van die Engelssprekende nasies geweldig verswak en selfs oorheers word deur immigrante wie se waardes teenstrydig is met die erfenis van hulle gasheerlande. As gevolg van politieke druk en ook die sosiale druk wat deur dwelmhandel en ander misdade in die noorde van Mexiko veroorsaak word, kan die V.S. verwag dat verskriklike geweld langs die suidelike grens sal voortgaan en vererger – met al hoe meer duisende mense wat aangerand, vermink, verkrag en vermoor word!

Sewende, in ’n verskynsel wat voorheen meestal tot Europa beperk was, sal Islamitiese radikales begin om soos nog nooit tevore nie, in die V.S. te eis dat hulle Moslemwette toegelaat word om Amerikaanse burgers te regeer. Wees op die uitkyk vir ’n toename in intimidasie – deur “politieke korrektheid” sowel as deur regstreekse geweld – teen plaaslike regerings indien hierdie ekstremiste nie hulle sin kry nie.

Agtste sal China nie die groot mag in die 21ste eeu wees nie. Omring deur toenemende finansiële en maatskaplike probleme, sal die Chinese invloed verswak en ’n Duits-geleide “Europese Ryk” sal in wêreldsake na vore tree. ’n Ontbinding van die huidige struktuur van die Europese Unie en die ondergang of ineenstorting van die Europese geldeenheid sal gevolg word deur die kragtige samevoeging van tien lande in Europa onder leiding van ’n charismatiese “leierfiguur”. Daardie leierfiguur sal die geprofeteerde “Dier” wees wat in Openbaring 17 en 18 beskryf word. Dit sal die finale herlewing van die geskiedkundige Heilige Romeinse Ryk wees, wat Europa vir eeue oorheers het. Dit sal die heel magtigste menslike eenheid op die hele aarde word (sien Openbaring 13).

Negende sien die meeste waarnemers deesdae ’n gemoderniseerde en verwarde Rooms-Katolieke kerk, wat deur skandes van pedofilie en ander immorele praktyke verwond is. In teenstelling met baie mense se verwagting, openbaar profesie dat ’n herleefde verenigde en kragtige Roomse kerk oor die volgende paar jaar as ’n toonaangewende invloed na vore sal tree. Aan die einde van hierdie tydperk sal dit lyk asof die leier van daardie kerk wonderwerke kan verrig. Die Skrif beskryf hierdie man as iemand wat letterlik “selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense” (Openbaring 13:13). Hierdie leier en sy kerk, wat gesamentlik met die herrese Heilige Romeinse Ryk sal werk, sal die ware mense van God vervolg, byna soos dit in die Donker Middeleeue gedoen is (Openbaring 17:6).

Tiende, omdat hulle bang is vir die mag van hierdie godsdienstig-politieke herlewing van die ou Romeinse Ryk, sal ’n groep van die Arabiese lande in die Midde-Ooste en Noord-Afrika ’n alliansie vorm, onder leiding van ’n heerser wat in die Skrif as die “koning van die Suide” beskryf word (Daniël 11:40-45). Hierdie koning en sy magte sal die komende Europese Diermoondheid uitdaag of aanval. Hulle optrede sal ’n gevaarlike Midde-Oosterse oorlog ontketen wat uiteindelik die verspreidende bedreiging van Islam sal vergruis.

Elfde, God sal, meer as ooit tevore, die Amerikaners en nasies van Britse afkoms letterlik met aardbewings “skud”. Terwyl Hy die eindtydse gebeure beskryf het, het Jesus Christus geprofeteer: “En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees” (Lukas 21:11). Wantrouige mense sê soms dat hulle nie enige statisties-beduidende toename in die aantal of omvang van onlangse aardbewings sien nie – maar met die groeiende wêreldbevolking is dit onbetwisbaar dat miljoene mense meer as ooit tevore beïnvloed sal word. Hierdie skuddings is werklik aan die toeneem, ten spyte van wat die spotters sê. Dit is nie net Bybelstudente wat kennis neem van die groot toename in sterk aardbewings in die afgelope jare nie – vanaf Haïti en Chili in die Westelike Halfrond, tot Japan, Sumatra, Christchurch, Italië en ander plekke in die Oostelike Halfrond. Die grote God – wie nie net die weer beheer nie, maar ook Sy hele skepping – meld: “Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe” (Hebreërs 12:26). Watter soort “skudding” sal dit neem om die meeste mense wakker te skud? Miljoene meer Amerikaners en nasies van Britse afkoms het begin om God se Wet en Sy insettinge te “verag” – die hele lewenswyse soos dit in die Bybel uiteengesit is. Presies soos dit voorspel is, begin die Almagtige God nou om Sy ingryping te verskerp om ons tot ons sinne te “skud”!

Twaalfde, uiteindelik sal die ware Jesus Christus – die Christus van die Bybel – na hierdie aarde terugkeer as Koning van die konings (Openbaring 11:15). Omdat die nasies van hierdie wêreld so heeltemal mislei is, sal honderde miljoene ontstoke mense, ontstellend soos dit is, letterlik teen Jesus Christus Self veg – asof Hy een of ander gevreesde vreemde indringer vanuit die buitenste ruim is – wanneer Hy na die planeet Aarde terugkeer om vrede en gesonde verstand in hierdie deurmekaar wêreld te herstel (Openbaring 17:14)!

Teen die einde van hierdie tydperk sal Satan die duiwel die grootste deel van die mensdom so verwar het dat hulle alle vorms van perversies sal aangryp – soos ons in vandag se “transgeslagtelike” beweging sien – saam met bose godsdienstige praktyke wat selfs laster teen die ware God insluit, selfs tot die punt van duiwelaanbidding. Ontelbare miljoene misleide mense sal “God vloek” wanneer Hy Sy plae uitstort in ’n poging om hulle te verootmoedig en wakker te skud: “... en hulle het die God van die hemel gelaster oor hulle pyne en oor hulle swere, en het hulle nie bekeer van hul werke nie” (Openbaring 16:11).

Bid vir begrip!

My vriende, die grondslag vir ’n hele aantal van hierdie ontsagwekkende gebeure word nou alreeds gelê! Gedurende die volgende paar jaar van u lewe sal u sien hoe hierdie gebeure saamval. Onthou, tensy ons in die V.S. en Brittanje en ander moderne Israelitiese nasies ons werklik bekeer en begin om die Skepper-God – die God van die Bybel – te dien en te gehoorsaam, sal ons lewens nooit weer dieselfde wees nie.

Mense wat lankal hierdie tydskrif lees is daarvan bewus dat ek gewoonlik nie só duidelik en só direk beskrywend met al ons lesers is oor die verskriklike gebeure wat in die nabye toekoms voorlê nie. Wanneer ons egter sien dat ons eie mense so rasend en opgewonde en veragtelik in hulle opstand teen die ware God raak – wat al hoe meer in ons koerante vertoon word en wat oënskynlik oor die groeiende seksuele verwarring en die verdraaiing van die tradisionele huwelik feesvier – voel ek dat dit my Godgegewe verantwoordelikheid is om u meer as ooit tevore te help om te besef waarheen al hierdie dinge lei.

Geagte intekenaar, verstaan dit asseblief goed! Die Almagtige God is nie beïndruk of geïntimideer deur die blinde en verwarde manne en vroue van die V.S. se Hooggeregshof en die staat en nasionale wetgewers nie. Hy laat Hom ook nie deur enige nietige mens of groep mense uitdaag nie. Die werklike God van die Bybel sê: “Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:9-10).

U behoort dus te verstaan waarom hierdie vreeslike dinge binnekort sal plaasvind. Weereens het ons in ons tydskrifte, boekies en webwerwe oor die afgelope paar jaar ons bes gedoen om al hierdie dinge duidelik te maak. Vir dié van u wat nuwe intekenaars is of onlangs eers “ingeskakel” het, dink asseblief hieraan: Ons in Amerika en die ander nasies van Britse afkoms het elke geleentheid gehad om die geïnspireerde openbaring van God – die Bybel – te bestudeer en te verstaan. Ons het egter duidelik die God van die Bybel verwerp. In effek het ons die Tien Gebooie as gids vir ’n Christelike lewe “verban”. Ons verbied selfs toenemend die gebruik van die woorde “God” of “Jesus Christus” in baie van ons openbare vergaderings.

Dit is absoluut verstommend as ons daaraan dink dat sodanige uitdrukkings van respek vir die Almagtige oor die afgelope 200 en meer jare byna altyd ingesluit was! Terselfdertyd neem baie van ons belydende “Christelike” leiers deel aan verskeie “intergeloof” konferensies of godsdienstige byeenkomste, waar die aanbidding van Boeddha of Allah saam met die aanbidding van hulle vervalste weergawe van Jesus Christus ingesluit is! Dit lyk of die meeste belydende Christene geen bewustheid of diep respek vir die kragtige leerstellings van die ware Jesus Christus van die Bybel het nie. Hy het in baie ander soortgelyke opmerkings gesê: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46).

Ware Christenskap is nie net een “keuse” onder verskeie gelykwaardige godsdienste nie. Dit is die unieke Waarheid wat alleen die betroubare Wette, oorsprong en die doel van lewe verduidelik en hoe om daardie ontsagwekkende doel te verwesenlik. Weereens het Satan die duiwel ’n meesterlike werk verrig deur die algehele misleiding van die hele wêreld. Die apostel Paulus was geïnspireer om Satan as “die god van hierdie wêreld” te beskryf (2 Korinthiërs 4:4), asook die “owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efésiërs 2:2). Die geliefde apostel Johannes beskryf hom as “die duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei [mislei]” (Openbaring 12:9).

Indien God u denke open – moontlik deur middel van hierdie Werk – dan behoort u te begin om die dinge wat ek nou hier sê, op een of ander manier te “bewys”. Indien ek korrek is, is u en u geliefdes op die punt om die heel ontstellendste en mees traumatiese gebeure in die mens se hele geskiedenis te ervaar! Soos Jesus Christus gesê het: “Want daardie dae sal daar ’n verdrukking wees soos daar nie gewees het van die begin van die skepping af wat God geskape het tot nou toe, en ook nooit sal wees nie” (Markus 13:19).

Iewers op hierdie aarde het die Almagtige God wel ’n ware Kerk met ware leraars wat u die werklike Waarheid sal leer. Dit berus by u om God te “soek” en om noukeurig uit te vind en te bewys waar God werk.

Bid vir moed

My vriende, indien u die agtergrond van die boek Eségiël in Bybelse woordeboeke en ander bronne deeglik bestudeer, sal u vind dat dit ongeveer 593 – 571 v.C. geskryf is. U sal ook vind dat die antieke “Huis van Israel” in Assiriese ballingskap geneem is in ongeveer 721 v.C. – meer as 100 jaar voordat die boek Eségiël geskryf is! Regdeur die boek Eségiël beskryf God keer op keer die straf wat Hy beplan om oor die “Huis van Israel” te bring. Sy waarskuwing soos Hy dit heel duidelik maak, was nie net vir die “Huis van Juda” (vandag se Joodse volk), wat toe ’n aparte nasie van Israel was nie (Eségiël 3:1,17; 4:1-6; 5:4).

Deur Esegiël noukeurig te bestudeer, word dit baie duidelik dat die meeste van die profetiese gebeure wat God beskryf, toekomstige gebeure is wat sal plaasvind teen die “tyd van die einde”, wanneer die moderne afstammelinge van antieke Israel weereens in ballingskap geneem sal word. Indien u ons insiggewende boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? sal bestudeer, kan u aan uself bewys dat die Anglo-Saksiese/Keltiese volke – regoor die V.S., die Verenigde Koninkryk, Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika, sowel as die vredeliewende nasies van Noordwes Europa – werklik die afstammelinge van die sogenaamde “Verlore Tien Stamme” van Israel is. Met daardie kennis sal u insien dat dosyne belangrike eindtydse profesieë direk met die moderne afstammelinge van antieke Israel praat, want dit is ’n belangrike “sleutel” tot begrip van eindtydse profesieë. Hierdie profesieë is juis nou besig om vervul te word – reg voor ons oë!

In Eségiël 33 sê God dat Hy ’n “wag” aangestel het om Israel te waarsku oor wat om in die eindtyd te doen. Ons by die Wêreld van Môre is deel van die Werk van die lewende Christus en vervul die verantwoordelikheid van hierdie eindtydse “wag”! Ons verstaan dat vir die meeste mense die boodskap wat ons verkondig slegs as ’n “getuienis” sal dien en nie positief ontvang word nie. Die feit dat u hierdie artikel lees beteken nogtans dat God u heel waarskynlik nou roep om te verstaan en om op hierdie boodskap te reageer! Indien u opreg belangstel om meer aangaande die ware profetiese gebeure te leer en om dit te verstaan wat binnekort voorlê, vra asseblief die volgende gratis boekies aan en bestudeer dit werklik saam met u Bybel: Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?, Veertien Tekens wat Christus se Wederkoms Aankondig, Die Dier van Openbaring, Die Midde-Ooste in Profesie, Openbaring: Die Verborgenheid Onthul! en Wie of Wat Is die Antichris? Om u gratis eksemplare aan te vra, kontak die streekkantoor die naaste aan u (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) of gaan na ons webwerf, wvm.co.za, om die boekies te bestel of dit aanlyn te lees.

Ons in hierdie Werk wil graag vir u tot diens wees. Indien u opreg belangstel, kan u uitvind dat ons op ’n werklike wyse verbind is tot die uitvoering van Jesus Christus se “Groot Opdrag”. Ons besef dat dit beteken dat dit nodig sal wees om ons “gemaklike” lewe in die wêreld prys te gee. Omdat ons die Waarheid van God met oorgawe verkondig, besef ons dat ons eie vriende en familielede selfs sal begin om ’n afkeer in ons te hê omdat ons ’n boodskap verkondig wat nie gewild is nie. Omdat ons nogtans wel die “vrees vir God” het en omdat ons werklik weet dat Hy bedoel dat ons ’n boodskap verkondig wat die meeste mense in ons “verblinde” samelewing nie aan die einde van hierdie verwarde tydperk sal aanvaar nie, is ons gewillig om dit te doen – omdat ons weet dat God ons beveel het om dit te doen!

Dus – vir u eie beswil – skryf asseblief vir hierdie gratis boekies en die ander materiaal hierbo genoem en bewys aan uself dat wat ons sê die waarheid is! Vra dan vir God vir die geloof en die moed om volgens die Waarheid daadwerklik op te tree. Laat my toe om u te verseker dat oor die volgende paar jaar van u lewe, die twaalf mylpale wat ek hierbo genoem het geweldig sal toeneem, selfs meer as wat die meeste mense vandag kan besef. Hierdie wêreld-veranderende gebeure sal ’n reuse uitwerking op die sogenaamde “Amerikaanse lewenswyse” hê. Dit sal ’n reuse uitwerking hê op ons lesers wat in Kanada, Brittanje, Australië, Nieu-Seeland, [Suid-Afrika] en elders oor die Engelssprekende wêreld woon en uiteindelik die hele wêreld insluit! U behoort God dus vir die begrip en die moed te vra om werklik aan uself die Waarheid te bewys wat nou vrylik van u Skepper beskikbaar is. Hierdie naderende geprofeteerde gebeure sal duisende mense letterlik tot besinning “skud” en ek hoop biddend dat u onder diegene sal wees wat nou deur God geroep word, voordat die eindtydse gebeure vernietiging oor ons mense bring.

Mag God aan u die begrip en die nederigheid skenk om daadwerklik op te tree volgens wat ek hier geskryf het en om u aan die God van die Bybel te onderwerp. Ons wat hierdie Werk van die lewende Christus doen is inderdaad God se “wagte” om u vroegtydig te waarsku oor wat binnekort gaan plaasvind. Hierdie komende gebeure wat ek beskryf het is baie werklik en dit sal u lewe vir ewig verander. Mag God u help om volgens Sy Waarheid op te tree voordat dit te laat is!