Satan is besig om 'n verwoede aanval op die geldigheid van die Bybel te loods namate die einde van hierdie tydvak nader. Die eienaardige roman, The DaVinci Code, het aanleiding gegee tot 'n vloedgolf boeke, artikels en rolprente wat in werklikheid die geloofwaardigheid van die Bybel aanval. Indien Satan tallose miljoene mense se geloof in die Bybel kan vernietig, kan hy hulle soveel makliker mislei. Onthou, God beskryf Satan as die een “wat die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9). Satan wil mense afsny van die einste bron waardeur hulle werklik die groot Plan en Doel kan verstaan wat hulle Skepper hier op aarde mee besig is. 

Moenie 'n fout maak nie. Die Bybel is God se goddelike openbaring aan Sy potensiële seuns en dogters. Dit onthul die eintlike doel van menslike lewe en hoe om aan daardie verhewe doel te voldoen. Dit openbaar die geestelike wette wat ons verhoudings met mekaar en met God Self beheer. God het die hele patroon van hoe mense moet leef, liefhê, dien en hoe om suksesvol te wees, wonderlik aan ons geopenbaar deur die perfekte voorbeeld van Jesus Christus, God in die vlees. Dit stel ook die voorbeeld van hoe om die ewige lewe te bekom in die komende Koninkryk van God.

'n Baie werklike Satan die duiwel wil egter graag ons geloof in die God van die Bybel vernietig. Onlangse artikels oor die “Evangelie van Judas” – en boeke met totaal onskriftuurlike teorieë dat Jesus getroud was en kinders gehad het – verdraai Christus se sending in iets totaal anders as wat die Skrif beskryf. Satan wil ons daarvan oortuig dat die Bybel nie getrou bewaar en aan ons as God se geheel-openbaring oorgelewer is nie.

Hoe kan ons dus seker wees?

Die pragtige manier wat slegs die Bybel gebruik om die skepping van die aarde – en die geskiedenis en doel van die mensdom – te beskryf, maak dit beslis aan 'n ontvanklike en skrander persoon duidelik dat 'n Groot Verstand hierdie verklarings geïnspireer het. Die leefwyse wat die Bybel beskryf – die enigste manier wat waarlik “werk” – openbaar ook die goddelike inspirasie daarvan wanneer u dit werklik toepas. Die wonderlike beloftes van die Bybel – wat dikwels tot beantwoorde gebed ly – wys ook aan die opregte gelowige dat slegs 'n almagtige God die ontsagwekkende Boek, wat ons die Bybel noem, kon inspireer.

Sommige mense sal egter steeds nie deur hierdie bewyse oortuig wees nie. Slegs die Bybel se kragtige en akkurate profesieë sal as genoegsame bewys dien om hulle te oortuig van die goddelike inspirasie daarvan – as hulle gewillig is om te leer. Soos die apostel Petrus skryf: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif 'n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Petrus 1:19-21). 

Ja, ons moet die Bybel se “profetiese woord wat baie vas is” in aanmerking neem. Onthou dat slegs die God van die Bybel “die toekomstige dinge en wat sal gebeur” (Jesaja 44:7), duidelik openbaar. Deur die profeet Daniël het God ook in die besonder die vier primêre ryke beskryf wat sou verrys en die wêreld in die eeue wat sou volg na die profesie gegee is, sou oorheers. Die finale vorm van die Europese Ryk wat nou stadig maar seker reg voor ons oë besig is om gestalte aan te neem, is reeds duisende jare tevore deur God geopenbaar! Dit sal 'n kern van tien nasies hê – waarvan sommige baie sterker en meer toegewyd as ander sal wees – “omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het” (Daniël 2:41). Let op: “Maar in die dae van dié [finale tien] konings sal die God van die hemel 'n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar 'n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (vers 44).

Geskiedkundiges het lank reeds erken dat Daniël 2 en 7 duidelik die vier primêre ryke van die menslike geskiedenis beskryf. Eerstens die Babiloniese Ryk, dan die Ryk van die Mede en Perse, dan die Grieks-Macedoniese of Hellenistiese Ryk van Alexander die Grote en dan uiteindelik die Romeinse Ryk wat vir honderde jare voortgeduur het nadat Daniël hierdie geïnspireerde profesieë gemaak het. Slegs die groot Skeppergod kan sulke gebeure van enorme betekenis met soveel duidelikheid, soveel jare vooruit openbaar!

Nog een van die baie ander tekens van die Bybel se goddelike inspirasie, is dat Jesaja die groot Persiese Keiser, Kores, by naam noem lank voor Kores se geboorte! Let op: “So sê die Here aan sy gesalfde, aan Kores, wie se regterhand Ek gevat het om nasies voor hom neer te werp, terwyl Ek die lendene van konings losgord; om voor hom deure oop te maak, en poorte sal nie gesluit bly nie” (Jesaja 45:1). Ongelowiges en sekulêre geskiedskrywers het lank met hierdie probleem geworstel! Hoe is dit moontlik dat God 'n heidense keiser so lank vooruit kan beskryf en selfs by “die naam” noem? Skrifgeleerdes erken algemeen dat Jesaja ongeveer in die jare 745 tot 695 v.C. geprofeteer het, meer as 150 jaar voor die dae van Kores! God het Jesaja nietemin geïnspireer om Kores by naam te noem, en te voorspel dat Kores 'n tempel sou “herbou” wat in Jesaja se tyd nog nie eens geval het nie (Jesaja 44:28)!

Vriende, hierdie Werk wat Die Wêreld van Môre-tydskrif publiseer, het in ons tyd herhaaldelik en uitdruklik letterlik dosyne groot gebeure beskryf wat reeds gebeur het, wat besig is om te gebeur of wat binnekort op die wêreldtoneel gaan gebeur! Ons in hierdie Werk het die val van die Berlynse muur beskryf, lank voordat dit gebeur het, aangesien ons 'n goeie begrip van Bybelprofesieë het. Ek het herhaaldelik gepreek en geskryf dat die belangrikste “seepoorte” (Genesis 22:17; 24:60) wat aanvanklik aan die Britse en Amerikaanse nasies behoort het, deur heidense nasies weggeneem gaan word as ons nasionale sondes voortduur. Nou is nog net twee van hierdie belangrikste poorte in ons besit. Ons het Singapoer en die straat van Malakka verloor. Ons het die Panamakanaal verloor, die Suezkanaal, die Bab el Mandeb en die straat van Hormoes. Ons het die Simonstad vlootbasis, wat die suidpunt van Suid-Afrika beheer, verloor. Slegs die Falkland-eilande en die straat van Gibraltar is nog onder Britse beheer – en self hulle is die onderwerp van herhaalde uitdagings en twiste. Hoe lank sal dit nog duur totdat al hierdie seepoorte van die Engelssprekende nasies weggeneem gaan word?

Ons het herhaaldelik in hierdie tydskrif geskryf – soos ek persoonlik vir dekades gepreek het – dat Amerika en die nasies van Britse afkoms tot 'n val gebring gaan word, en dat hul trotse mag “verbreek” gaan word (Levitikus 26:19) tensy hulle tot diepsinnige nasionale bekering kom. Ons sien reeds dat die Britse Ryk nie meer bestaan nie. Ons sien dat die Amerikaanse dollar val. Ons sien dat Amerika en Brittanje met groeiende heftigheid deur toenemende miljoene mense regoor die wêreld gehaat word. Ons sien dat Amerika se energie ten volle in die Midde-Ooste en elders aangewend word, soveel so dat die VSA baie binnekort baie min sal oorhê – hetsy militêr of geldelik – waarmee hulle as groot wêreldmoond-heid sal kan voortgaan. 

Wat gaan aan? Die antwoord word duidelik en dramaties onthul in ons besielende boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? Dit openbaar die Bybelprofesieë wat verduidelik wat deesdae in ons nasies besig is om te gebeur. Trek u die Bybel in twyfel, of wonder u waarom ander mense dit betwyfel? Indien wel, moet u 'n kopie van ons nuutste boekie, Die Bybel: Feit of fiksie? aanvra. Hierdie belangrike en insig-gewende boekie sal u help om te verstaan en om die Satanistiese propaganda te weerstaan wat tans kop uitsteek om die Bybel in oneer te bring. 

U het albei hierdie boekies nodig. Indien u dit nie reeds het nie, skakel of skryf gerus aan ons en vra u gratis kopieë aan. Bestudeer dit dan asseblief met 'n ontvanklike gemoed. Vra God vir insig en wees bereid om te reageer op die waarheid van hoe die groot Skepper Sy doel hier op aarde uitwerk – en dat die Bybel Sy geïnspireerde openbaring aan die mensdom is! Lees asseblief ook my artikel op bladsy drie van hierdie uitgawe, wat beskryf hoe die Bybel werklik bedoel wat dit sê, want u, persoonlik, moenie net weet wat die Waarheid is nie, u moet reageer op die Waarheid en die doel waarvoor u geskape is, volbring!