Ons dink gewoonlik aan “olie-oorloë” as iets wat beperk is tot die Midde-Ooste. Nog ’n oorlog van woorde, gefokus op die moontlike olie-rykdom in die Falklandeilande, verhoog kommer van ’n “olie-oorlog” in die Suid-Atlantiese oseaan.

Die Falklandeilande, bewoon deur Britse boere vir byna 200 jaar, is ’n eilandgroep, ongeveer 480 kilometer oos van die suidpunt van Suid-Amerika. Hoewel hulle 160 kilometer buite die aanvaarde limiet van 320 kilometer is, eis die nasie van Argentinië hierdie eilande op – wat hulle die Malvinas noem – as hulle eie. Argentinië grond sy aanspraak op Pous Alexander VI se Verdrag van Tordesillas in 1494, wat aan Spanje al die lande wes van ’n mid-Atlantiese meridiaan toegesê het, asook dat toe Argentinië onafhanklikheid van Spanje verklaar het in 1816, die regte op die eilande dus oorgegaan het na Argentinië.

Brittanje baseer sy aanspraak op die eilande – wat onder die laaste oorblyfsels van ’n ontbindende Britse Ryk tel – op Sir Richard Hawkins se 1594 verklaring dat die eilande Britse eiendom is, al was dit nie voor 1833 dat ’n nedersetting van Britse skaapboere, in diens van die Koninklike Falklandeiland Kompanjie, op die eilande aangekom het nie.

Argentinië het die eilande vir ’n totaal van 74 dae in 1982 beset gedurende die Falkland-oorlog, maar Brittanje het besit daarvan herwin. Hoewel die 1994-hersiening van die Argentynse grondwet Argentinië se aanspraak op die eilande verder herhaal het, het die Argentynse regering gesê dat hul geen planne het om die gebied militêr weer te beset nie.

Dus, wat sal van die Falklandeilanders word? Sal dit vir hulle nodig wees om ’n blitskursus in Spaans te neem of om hulle self voor te berei om aan die ander kant van die pad te ry?

Die Britse Eerste Minister, David Cameron, het onlangs gesê: “Die absoluut belangrike punt is, ons is daarmee eens dat die toekoms van die Falklandeilande ’n saak is vir die mense self, en so lank as wat hulle deel wil bly van die Verenigde Koninkryk en Brits wil wees, moet hulle in staat wees om dit te kan doen” (“DavidCameron accuses Argentina of ‘colonialism’ over Falkland Islands”, The Telegraph, 14 Mei 2012).

Olie-oorloë?

Eerder as om militêr op te tree, het Argentinië sy pogings daarop toegespits om besitreg van Groot-Brittanje weg te skeur deur ’n wettige eis deur die Verenigde Nasies te loods, vergesel van ’n goed-geoliede media-veldtog. “Goed-geolie” mag inderdaad ’n gepaste woordspeling wees om die huidige situasie te beskryf, noudat ’n Britse maatskappy sy ontdekking van olie in die see rondom die eilande aangekondig het. Die Britse olie-verkenningsmaatskappy, Rockhopper, glo daar kan 1,2 miljard vate olie beskikbaar wees vir ontginning. Rockhopper is op soek na vennote om die olie te pomp teen ’n beraamde koste van US $2 miljard, met die vooruitsig om gesonde winste te maak.

Een so ’n potensiële vennoot wat onder bespreking was, is die Amerikaanse firma Anadarko Petroleum. As gevolg van diplomatieke sensitiwiteit, kan ’n vennootskap met ’n Amerikaanse firma egter die balans van geopolitieke druk ten gunste van die Britte laat swaai. Die Argentynse President, Cristina Fernandez de Kirchner het haar kommer uitgespreek, tesame met haar Minister van Buitelandse Sake, Hector Timmerman, wie Britse banke gewaarsku het om nie betrokke te raak nie, en hy het gedreig met regstappe teen enige firma wat wil meedoen aan die vergrype na olie.

Indien ’n Amerikaanse olie-maatskappy betrokke sou raak in olie-boordery in die Falklandeilande, sal groot dele van die Suid-Amerikaanse kontinent in woede kan uitbars, en Amerika en Brittanje beskuldig van “ekonomiese imperialisme” teen Argentinië – ’n relatiewe swak lid van Suid-Amerika se Mercosur handelsblok. Nogtans, sonder die werklike bedreiging van militêre mag agter die uitdrukking van woede, sal enige oorlogspropaganda eenvoudig “warm lug” wees. Britse olie-ontginners vertrou op hulle gevoel dat die werklikheid baie sterker is as retoriek.

Hoeveel olie kan daar dus wees binne die gebied van die Falklandeilande? Tussen ongeveer 400 en 500 miljoen vate olie is bevestig, maar ramings dui daarop dat ’n olieveld bekend as die “Seeleeu”-veld tot 1,2 miljard vate kan oplewer, met nog ’n ander veld verder suid, om die totaal op 8,5 miljard vate tot stand te bring. Tog, ten spyte van die vooruitskattings, het die gebied nog nie bewys dat dit ekonomies winsgewend sal wees nie, en ’n onlangse verslag het aan die lig gebring dat “Desire Petroleum and Border & Southren Petroleum, twee van die vyf Londen-genoteerde verkennings-maatskappye met belange in die eilandgroep, onlangs jaarlikse voor-belastingverliese van $42,5 miljoen en $1,7 miljoen onderskeidelik, aangekondig het” (“UK explorers struggle to strike Falklands oil”, The Guardian, 2 April 2012).

Is daar ’n voorbeeld vir ’n vreedsame oplossing vir die konflikte van die Argentynse en Britse olieveld aansprake? Sommige kenners meen dat ’n oplossing vir die probleem soortgelyk kan wees as die vriendskaplike hantering van die Bonaparte-vallei olie- en gasvelde waarop beide Australië en Oos-Timor aanspraak gemaak het. In daardie geval, het Australië ruim toegewings gemaak aan Oos-Timor, een van die wêreld se nuutste en armste lande. Die bepalings van die 2002 Timor Seeverdrag het aan Oos-Timor 90% van die inkomste uit die Joint Petroleum Development Area (JPDA) en ’n 50% aandeel in die Greater Sunrise gas reservoirs gegee. Sal so ’n onderhandelde skikking in die Falklandeilande werk? Slegs die tyd sal leer.

Seepoorte in gevaar

Sowat 300 jaar gelede het Groot-Brittanje begin om sy strategiese vlootbelange bymekaar te maak. Die geografiese en kommersiële belangrikheid van hierdie “seepoorte” beteken dat die Koninklike Vloot nie slegs sou “heers oor die golwe” nie, maar ook ’n belangrike strategiese voordeel sou hê oor sy vyande in tye van oorlog en ’n belangrike kommersiële voordeel in tye van vrede.

Namate die Britse Ryk gegroei het, het die Suezkanaal, Singapoer, die Kaap van Goeie Hoop, Aden, Malakka, Ceylon, die Falklandeilande – en, natuurlik, die heel belangrikste van almal, Gibraltar – Britse besittings geword. Toegang tot die Middellandse See was beheer deur die Britse militêre mag en skepe wat rondom al die wêreld se suidelike kape gevaar het, was onder die wakende oog van die Koninklike vlag. Intussen het Amerika die Panamakanaal as ’n strategiese “seepoort” gehad, sowel as die Filippynse Eilande.

Wat die meeste mense nie weet nie, is dat dit God is wat hierdie belangrike poorte – “wurgpunte” van die wêreld – aan die nageslag van Josef, die seun van Jakob (Israel), gegee het. God het aan Abraham, die aartsvader, belowe “dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem” (Genesis 22:17). Hierdie beloftes in verband met “geboortereg” was oorgedra aan Isak en Jakob, en was uiteindelik gegee aan Josef se twee seuns, Efraim en Manasse. Dit is die afstammelinge van hierdie twee seuns van Josef, wat vandag Groot-Brittanje en die Verenigde State van Amerika geword het. Om meer te leer oor hierdie belangrike sleutel tot begrip van Bybelprofesie, lees gerus ons gratis boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? U kan dit aanlyn lees op ons webwerf www.wvm.co.za of u kan ’n gratis kopie aanvra van die Streekskantoor die naaste aan u (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif).

God het egter gewaarsku dat die nasies hierdie seëninge sal verloor as hulle aan Hom ongehoorsaam sal wees – as straf vir ongehoorsaamheid, sal vyande “jou in benoudheid bring in al jou poorte” (Deuteronomium 28:52). Dit is inderdaad wat ons sien gebeur. Ten spyte van oorblyfsels van ’n nominale “Christelike” kultuur, is Groot-Brittanje grootliks in opstand teen God en Sy weë. Dieselfde is waar van Amerika. As gevolg hiervan, is dit geen verrassing om te sien dat hierdie nasies een vir een elke waardevolle “seepoort” verloor nie. Vandag het nog net twee – Gibraltar en die Falklandeilande – oorgebly. Die tyd sal kom wanneer selfs hierdie twee weggeskeur sal word van Britse beheer. Die omstredenheid oor die Falklandeilande is net nog ’n teken dat die eindtydse Bybelse profesieë besig is om vinnig in vervulling te kom!