In ’n wêreld van “fopnuus” en “realiteit-televisie”, hoe kan ons die regte perspektief behou van wat werklik die meeste saak maak?

Baie wetenskaplikes en filosowe beweer dat hulle die belangrikste basis van werklikheid soek. Tog weier hulle om die bewyse te aanvaar wat so ooglopend is!

Hoe kan miljarde mense op die planeet Aarde saamleef en tog die werklikheid so verskillend beskou? Die tydskrif Scientific American het hierdie vraag in die September 2019-uitgawe gevra, maar die beste wat hulle kon doen, is om voor te stel dat “die waarheid nie heeltemal duidelik is nie” en dat mense “raaiskote oor die werklikheid moet waag wat met hulle sintuie waargeneem word”.

Daar is ’n mate van waarheid aan verbonde. “... nou sien ons deur ’n spieël in ’n raaisel” (1 Korinthiërs 13:12). Die apostel Paulus het verstaan dat ons as mense beperk is tot wat ons kan sien, hoor en weet.

Hoe kan ons dus sin maak van dit alles? Hoe kan ons so baie, dikwels teenstrydige sienings, van die werklikheid uitsorteer? Hoe kan ons die waarheid vind in ’n wêreld wat ons soveel mededingende “realiteite” bied? Wat is egter die grootste realiteit van alles? As Christene is dit een van die belangrikste vrae wat ons behoort te antwoord!

Hou ons die ooglopende werklikheid voor oë?

Ons hoor dikwels dat sosiale kritici ons aanspoor om “die werklikheid voor oë te hou”. Niemand wil daarvan beskuldig word dat hy in ’n fantasiewêreld van ’n ryk verbeelding leef nie. Wanneer inligting rondom ons egter teen ’n ongekende tempo toeneem, hoe kan ons tred hou met alles wat eg is? Kan iets werklik, maar tog onbelangrik, wees? Waar pas u en ek in die werklike samelewing? As Christene het ons antwoorde op daardie lewensbelangrike vrae nodig.

Indien u na ’n hedendaagse televisieskedule kyk, is dit maklik om te sien dat baie mense deesdae daarvan hou om te kyk na wat “realiteit-televisie” genoem word. Dikwels kan sulke programme egter meer akkuraat beskryf word as bloot “ongeskrewe” of “minimaal geskrewe” drama. In die regte wêreld wen niemand duisende rande omdat hulle insekte eet of om hulle huisgenote uit die huis te stem nie. Normale verhoudings word nie aangeknoop met kameras wat op ’n gretige ongetroude man of ongetroude dame gerig is en met die vooruitsig van baie geld vir wie ook al wen in wat basies ’n “lewendig uitgesaaide speletjie-program” is nie.

Natuurlik, ten spyte van ’n handjievol obsessiewe aanhangers, erken die meeste mense dat “realiteit-televisie” ver van die werklikheid verwyder is. Waarheen kan ons ons wend om die werklikheid te vind? Ons mag sekerlik dink dat ons dit op die gebied van die wetenskap kan vind. In die spesiale uitgawe van September 2019, “Searching for Reality in Unreal Times”, het die Scientific American-tydskrif probeer om die werklikheid deur drie onderwerpe te verken: neurowetenskap, fisika en wiskunde. Wat is die tydskrif se doelwit? “Om te verken hoe dit is dat ons almal in dieselfde heelal kan leef en tog die werklikheid so verskillend kan waarneem” (bl. 27).

Scientific American het erken dat dit vir hulle ’n moeilike uitdaging was. “Selfs in fisika en wiskunde is die waarheid nie heeltemal duidelik afgebaken nie. Toenemende bewyse van neurowetenskap dui daarop dat ons waarnemings nie direkte voorstellings van die eksterne wêreld is nie. Ons verstand wat elkeen uniek is, waag eerder raaiskote oor die werklikheid op grond van die sensoriese seine wat dit ontvang”.

Absolute werklikheid?

Daar is beslis ’n paar absolute waarhede binne die wetenskap en wiskunde. Daarsonder sou twaalf ruimtevaarders nie op die maan kon loop nie en sou sterrekundiges nie hommeltuie op die planeet Mars kon laat land om jare se merkwaardige verkennings uit te voer nie. Daarom laat fisika menslike wesens sonder vlerke toe om vliegtuie te ontwerp wat ons oor die wêreld heen vervoer teen spoed wat ons voorouers nie sou kon glo nie. Soos Scientific American se medewerker George Musser dit gestel het:

Fisika blyk een van die enigste terreine van menslike lewe te wees waar die waarheid duidelik afgebaken is. Die wette van fisika beskryf die onbetwisbare werklikheid. Dit is gegrond op uiterste wiskundige strengheid en eksperimentele bewyse. Dit gee antwoorde, nie eindelose verwarring nie. Daar is nie een fisika vir u en een fisika vir my nie, maar een enkele fisika vir almal en oral. Fisika lyk dikwels vreemd, maar dit is ’n goeie teken – dit is nie onderhewig aan vooropgesette menings nie. In ’n wêreld wat angswekkend kan voorkom, waar dieselfde debatte in sirkels beredeneer word, gee fisika ’n inspuiting van suiwer nuutheid in die lewe en pluk ons uit die groef waarin ons verval (bl. 30).

Ons kan wel vra: Waar het daardie wette vandaan gekom? Het dit aan die begin van die heelal bestaan? Hoe skaars en spesiaal is lewe en ons planeet Aarde? Die sterrekundige Carl Sagan het ons Aarde ’n “eensame spikkel” in die kosmiese donkerte genoem. Moet ons dan tot die gevolgtrekking kom dat ons so onbeduidend is dat ons betekenisloos is?

Oorweeg die akkuraatheid wat nodig is vir die bestaan van die heelal én die bestaan van intelligente menslike lewe. Die astrofisici Stephen Hawking en Roger Penrose lewer kommentaar op die akkuraatheid wat nodig is by die oorsprong van die heelal:

“Indien die tempo van uitdying een sekonde ná die oerknal, minder as een deel in 1010 was, sou die heelal ná ’n paar miljoen jaar ineengestort het. Indien dit groter was as een deel in 1010, sou die heelal na ’n paar miljoen jaar in wese leeg gewees het. In nie een van die gevalle sou dit lank genoeg kon duur sodat lewe kon ontwikkel nie. Daarom behoort ’n mens óf ’n beroep te doen op die antropiese beginsel óf ’n fisiese verklaring vind vir waarom die heelal is soos dit is”. (The Nature of Space and Time, bll. 89-90).

Sommige wetenskaplikes is so desperaat om die werklikheid van ’n goddelike skepping te vermy dat hulle ’n teorie van ’n “veelal” bevorder het waarin daar ’n eindelose aantal heelalle is, sodanig dat ons heelal – hoé onwaarskynlik dit ook al mag wees, langs ontelbare mislukte heelalle moet bestaan wat nie lewe bevat nie en ander heelalle wat elke moontlike variasie van menslike keuse en aktiwiteit bevat. Nadat die filosoof Nick Bostrom in 2003 ’n referaat gepubliseer het wat daarop dui dat die wêreld om ons eintlik ’n rekenaar-nabootsing is, het baie mense daaroor gespot. In die daaropvolgende jare het die “simulasie-nabootsing” egter ’n gerieflike manier vir agnostici en ateïste geword om die werklikheid van God te ontken. Wanneer hulle met die baie werklike bewyse van intelligente ontwerp in die wêreld rondom ons gekonfronteer word, is diegene wat God verwerp, bereid om ’n bomenslike entiteit te bedink wat ’n rekenaar-nabootser skep waarvan ons deel is. Maar, wie het dan die skepper van die nabootser geskep? Die “nabootsing-argument”, is in wese, ’n lui manier om die erkenning van die werklikheid van God as die Skepper, as van geen belang te ag.

Die realiteit van ons heelal

Wanneer ons in die lug opkyk en die uitgestrekte ruimte bokant en om ons waarneem, raak die idee dat ons in ’n rekenaar-nabootsing leef, absurd. Die nabootsing-idee herinner ons hoe kreatief die menslike verstand kan wees, maar ook hoe maklik dit kan wees om daardie kreatiwiteit op ’n dwaalspoor te bring. Sommige van u wat in groot stede woon, met ligte wat die naghemel verberg, het dalk ’n sterrewag besoek of die NASA-webwerf opgesoek. Dalk het u u verwonder aan die “Wawiel-sterrestelsel” wat sowat 500 miljoen ligjare ver is of die Cygnus-lus-supernova-oorblyfsel of die Krap-newel, die Keëlnewel, die Swaannewel, die Paddavissie-sterrestelsel en talle ander.

Daardie newels en sterrestelsels kan slegs bestaan in ’n heelal waarin voorspelbare en absolute wette werk. Indien daar wette is, moet daar ’n Wetgewer wees. “Een is die Wetgewer, Hy wat mag het om te red en te verderf” (Jakobus 4:12).

Terwyl ons dan bewyse van die Wetgewer baie duisende ligjare ver waarneem, kan ons ook daardie bewyse in ons eie menslike liggame sien. In sy boek A Short History of Nearly Everything, maak die evolusionis Bill Bryson, opmerkings oor die wonderbaarlike proses van proteïenproduksie in die menslike liggaam. “Proteïene kan nie sonder DNA bestaan nie en DNA het geen doel sonder proteïene nie. Behoort ons dan aan te neem dat dit gelyktydig ontstaan het met die doel om mekaar te ondersteun? Indien wel: Mooi so” (bl. 289). Alhoewel Bryson sy geloof in evolusie behou, erken hy die onwaarskynlikheid daarvan. “Vir toevallige gebeurtenisse om selfs ’n enkele proteïen te produseer, sal dit na ’n verstommende onwaarskynlikheid lyk – soos ’n warrelwind wat deur ’n skrootwerf dwarrel en ’n volledig saamgestelde jumbo-straler agterlaat, in die kleurvolle vergelyking van die sterrekundige Fred Hoyle”.

Hoe ryk aan inligting is DNA? Robert F. Service, ’n skrywer vir die Science-tydskrif verduidelik DNA se wonderlike kapasiteit:

Die mensdom het ’n probleem met databerging: Meer data is in die afgelope 2 jaar geskep as in die hele voorafgaande geskiedenis. Daardie stortvloed van inligting kan dalk binnekort die vermoë van hardeskywe oortref om dit vas te lê. Nou berig navorsers dat hulle met ’n nuwe manier vorendag gekom het om digitale data in DNA-kode te kodeer om die hoogste digtheid van grootskaalse databergingskema te skep wat nog ooit uitgevind is. Dit is in staat om 215 petagrepe (215 miljoen gigagrepe) in ’n enkele gram DNA te stoor, die stelsel kan in beginsel elke stukkie data wat ooit deur mense aangeteken is, in ’n houer stoor wat omtrent die grootte en gewig van ’n paar groot vragmotors is (“DNA could store all the world’s data in one room,” Maart 2017).

Net so het Stephen C. Meyer van die Discovery Institute die bewyse van intelligente ontwerp in die skepping breedvoerig bestudeer. In die kragtige dokumentêre rolprent Unlocking the Mystery of Life, verduidelik hy dat “alles wat ons weet vir ons sê dat inligtingryke stelsels ontstaan deur intelligente ontwerp. Wat lei ons egter af van die feit dat daar inligting in lewe is – in elke lewende sel van elke lewende organisme? Dit is die fundamentele geheimenis. Waar kom daardie inligting vandaan?”

Vra uself dus af: Wat vereis ’n groter “geloofsprong”? Glo u in toevalligheid? Glo u dat ons in ’n “nabootsing” leef wat ontwerp is deur een of ander onbekende superintelligensie of glo u dat ons in ’n wonderlike werklikheid leef wat ontwerp is deur ’n liefdevolle God?

Die ware geestelike ryk

Ongelukkig, net soos die skoonheid en majesteit wat ons oral rondom ons sien, sien ons bedrog – sosiaal, polities en selfs in godsdiens. “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9). In ’n wêreld wat so vol leuens en leuenaars is, is dit noodsaaklik dat ons standvastig by die waarheid hou. Indien daar ’n Wetgewer is wat die Wette in werking gestel het wat ons heelal beheer, sou ons nie dan verwag dat Hy Wette in werking gestel het wat menslike lewe beheer nie? Behoort ons dan nie ook te verwag dat wanneer ons daardie Wette verstaan, ons die beste van die lewe sal kan maak nie? Jesus Christus het duidelik vir Sy dissipels gesê: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32).

Ons kan nie verwag om op ons eie die volle Waarheid oor God en Sy skepping te leer ken nie. Christus verduidelik dat die grootste deel van die wêreld mislei is, behalwe vir ’n paar mense wat deur God die Vader geroep is om die Waarheid te verstaan (Johannes 6:44). Daardie paar mense is nie noodwendig die groot wetenskaplikes en filosowe nie; inderdaad, Jesus het gebid: “Ék loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het” (Matthéüs 11:25).

Op die stadium dat die apostel Paulus aan die jong evangelis Timóteüs geskryf het, was daar nog nie “Nuwe Testamentiese” voorskrifte nie. Tog het hy vir die jong Evangelis gesê:

“Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” 2 Timótheüs 3:14-17).

Ja, die Woord van God is Waarheid en die Bybel is die geskrewe Woord van God. Hoe is dit van toepassing op elke mens? Jesus maak hierdie duidelike stelling: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4).

Die Skepper het alle mag in die heelal. Mense het beelde van hulleself vergroot, maar God vergelyk dit met “sprinkane”. God het ook alle sterrestelsels en hemelliggame geskep en ken elke ster. “Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit julle nie van die begin af bekend gemaak nie? Het julle nie op die fondamente van die aarde gelet nie? Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos ’n dun doek en sprei dit uit soos ’n tent om in te woon” (Jesaja 40:21-22).

Die werklikheid betreffende gebed

Fisici en sterrekundiges het kragtige instrumente waarmee hulle hul navorsing doen. God het egter aan elkeen van ons ’n baie kragtige instrument gegee – die instrument van gebed. U Bybel is gevul met bemoedigende beloftes wat betref gebed. Jesus gee een so ’n belofte:

“Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ’n klip sal gee; en as hy ’n vis vra, aan hom ’n slang sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid! Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete” (Matthéüs 7:7-12).

Anders as die “onopgeleide filosowe” wie se idees nie getoets en nagegaan kan word nie, is gebed ’n realiteit wat u aan uself kan bewys. Terwyl u God se beloftes in gebed opeis, sal Hy aan u lig en bemoediging gee om die werklikheid met meer duidelikheid as voorheen waar te neem. Hy gee ook aan ons hierdie wonderlike belofte:

“Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here! IMMERS, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is” (2 Petrus 1:2-4).

Op watter ander maniere het God beloof om ons gebede te beantwoord? Hier is net ’n paar:

• Voorsiening in al ons behoeftes (Filippense 4:19)

• Gemoedsrus (Filippense 4:6-7)

• Sy geïnspireerde leiding (Spreuke 3:5-6)

• Krag om beproewings te verduur (1 Korinthiërs 10:13)

• Die begeertes van ons hart, as ons ’n welbehae in Hom het (Psalm 37:4-5)

• Vergifnis van sonde (1 Johannes 1:9)

• Die gawe van die Heilige Gees (Handelinge 2:38; Lukas 11:13)

• Sy liefde (Romeine 5:5)

Die profeet Jesaja vermaan ons: “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is” (Jesaja 55:6). Die profeet Amos waarsku teen ’n tyd wanneer God se Waarheid nie beskikbaar sal wees nie: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek ’n honger in die land stuur, nie ’n honger na brood nie en nie ’n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor. En hulle sal swerwe van see tot see en rondslinger van noord na oos, om na die woord van die HERE te soek, maar hulle sal dit nie vind nie” (Amos 8:11-12).

Wanneer u begin verstaan wat u in hierdie tydskrif lees en u voel dat God u roep om een van Sy getroue eerstelinge in hierdie tyd te word, kontak asseblief die streekkantoor naaste aan u (op bladsy 2). Een van die wonderlikste realiteite is dat dieselfde God wat die uitgestrekte heelal geskep het en wat besig is om Sy geprofeteerde plan hier op planeet Aarde uit te werk, ook daardie planeet en die heelal in geheel voorberei het as ’n erfenis vir Sy mense. Ja, God sê vir ons dat getroue Christene “alles [sal] beërwe” met inbegrip van die heelal (Openbaring 21:7; Romeine 8:32). Die heelal bestaan as die omgewing vir nederige mense om die grootste werklikheid te erken. U kan deel wees daarvan! God is nie net almagtig nie – Sy liefde is volmaak. Trouens, nog een van die grootste realiteite: “God is liefde.” Dit is nie net ’n slagspreuk nie; dit word duidelik in die Skrif gestel (1 Johannes 4:8, 16).

Erken u die “werklikheid”?

Wetenskaplikes en filosowe kan noukeurige planne uitdink om die werklikheid van God en Sy krag te ontken. Wat sê God oor hulle pogings?

“WANT die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie” (Romeine 1:18-20).

Hoe belangrik is dit dus dat ons nie net verstáán dat die heelal bestaan nie, maar wáárom dit bestaan? Die astrofisikus Hawking het dit duidelik gestel: “Wanneer ons die antwoord daarop vind, sal dit die uiteindelike triomf van menslike redenasievermoë wees. Dan sal ons die denke van God verstaan” (The Theory of Everything, bl. 136). Hoe wonderlik is dit dat Christene die denke van God kan leer verstaan en Sy krag in hulle eie lewens kan ervaar. Daardie krag is die kern van die grootste werklikheid van alles.

Wat is daardie werklikheid? In drie woorde, God regeer oppermagtig. Ons vind hierdie bemoedigende waarheid regdeur die Bybel. “God regeer oor die nasies; God sit op sy heilige troon” (Psalm 47:9). Selfs in moeilike tye, kan ons die vertroue hê dat God in beheer is – dat Hy selfs die mees uitdagendste omstandighede kan gebruik om Sy gewenste doel te bereik. Ons onthou uit die boek Daniël dat “die allerhoogste God mag het oor die koningskap van die mens en daaroor kan aanstel wie Hy wil” (Daniël 5:21). Indien God ’n tiran of ’n knoeier in plek gestel het as die heerser van die nasie waar u woon, kan u uself troos in die realiteit dat as ’n Christen, u ware burgerskap in die hemel is, in afwagting van die toekomstige Koninkryk van God (Filippense 3:20).

Die laaste boek van u Bybel, die boek Openbaring, herhaal hierdie allerbelangrikste werklikheid: “En ek het iets gehoor soos die stem van ’n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar” (Openbaring 19:6).

Ten slotte, moet asseblief nooit vergeet dat God se Woord ons daaraan herinner dat hierdie ontsagwekkende almagtige God, persoonlik belangstel in die werklikheid van u toekoms nie: “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde” (1 Johannes 1:7). Die almagtige God die Vader, het Sy Seun Jesus Christus gestuur om Sy bloed te stort sodat u in die grootste werklikheid van alles kan deel. Sal u reageer op Sy liefdevolle aanbod?