Namate ’n onstuimige jaar tot sy einde kom is baie mense op soek na die gerusstelling van die tradisionele vakansiedae. Daar is egter ’n antieke Bron wat dae van baie belangriker betekenis onthul.

Wat vier u en waarom? Het die hedendaagse hoofstroom Christendom belangrike waarhede verdoesel oor die onderhoudings wat God aan Sy volk gegee het? Die waarheid oor God se eie Heilige Dae kan u nader aan u Verlosser bring en u lewe vir altyd verander!

Almal hou van ’n vakansiedag – dit lyk altans of die meeste van ons daarvan hou. Vakansiedae kan ons ’n blaaskans gee van besige en vermoeiende werkskedules. Ons kan dalk tyd saam met vriende en familielede deurbring wie ons vir lank nie gesien het nie. Daar kan dalk spesiale kos voorberei word vir ’n maaltyd op ’n vakansiedag. Ons het dalk die geleentheid om oor ’n geskiedkundige nasionale gebeurtenis na te dink of om ’n beroemde persoon te vereer wat baie vir ons land opgeoffer het. Daar kan dalk selfs spesiale openbare geleenthede wees – moontlik ’n optog of ’n sportgeleentheid wat ons graag wil sien.

Natuurlik kan daar ook ’n ander kant van die vakansiedae wees. Ons sit moontlik gespanne op stampvol lughawens, in verkeersknope en ou wonde wat tydens familiebyeenkomste weer oopgekrap word. In 2020 beleef ons nog die ekstra spanning van die pandemie. Hoeveel mense wat van groot familiebyeenkomste hou, bevind hulle alleen op dae wat eenmaal pret en saamkuier ingehou het? Hoeveel introverte wat vroeër die gewoel van die vakansiedae gevrees het, wens nou dat hulle ten minste ’n bietjie meer kontak met vriende en geliefdes kan hê?

Moontlik is ons in 2020 meer as ooit daaraan herinner dat daar meer aan ’n vakansiedag behoort te wees as net ’n geleentheid vir pret. Hoeveel mense regoor die wêreld het die jaar op die onafhanklikheidsdag van hulle land, stilweg oor hulle seëninge besin in plaas daarvan om saam met vriende partytjie te hou? Hoeveel mense het dae by die werk afgeneem en dankbaar gevoel vir die voorreg van goeie gesondheid en die vermoë om enigsins te kán werk? Hoeveel mense het ’n eensame Dankseggingsdag deurgebring en nagedink oor die baie seëninge wat nog in hulle lewens oorgebly het, selfs in tye van nasionale spanning?

Vakansiedae is natuurlik nie net nasionale geleenthede nie. Baie godsdienste onderhou “heilige dae” – trouens, dit is waar die Engelse woord “holiday” vandaan kom. Wat maak ’n dag egter Heilig? Hoe kan ons weet of ’n dag Heilig is? Volgens die Skrif word iets wat “Heilig” is, “afgesonder” van dít wat nié heilig is nie. In ’n wêreldse sin word Veteraansdag, Werkersdag en ander soortgelyke dae “afgesonder” van gewone dae op die kalender. ’n Heilige Dag in die Bybelse sin is egter iets baie besonders. Dit is ’n dag wat God Self vir Sy volk afgesonder het. U Bybel bevat ’n lys van verskeie spesiale dae wat God as Heilige Dae afgesonder het.

Watter dae het God afgesonder? Baie mense is verbaas om te verneem dat die Bybel nie eers “Kersfees” of “Paasfees” [Easter] noem nie, alhoewel die King James Version die Griekse woord pascha in Handelinge 12:4 foutief vertaal as Paasfees, in plaas van die regte woord “Pasga”. Nóg meer mense is verbaas wanneer hulle ontdek watter dae in die Bybel as Heilig afgesonder word. Verbasend genoeg het verskeie gewilde “Christelike” vakansiedae nie hulle oorsprong in die Bybel nie, maar in heidense tradisies – ten spyte daarvan dat God Sy volk beveel om die tradisies van hulle heidense bure te verwerp (Deuteronómium 12:29-32; Jeremia 10:1-5)!

Nasionale vakansiedae

God se bevel om heidense gewoontes te verwerp, beteken nie dat ons verbied word om toepaslike nasionale of federale vakansiedae te vier nie. Jesus self het ’n nasionale vakansiedag onderhou wat deur die Joodse volk onderhou is. Ons lees in Johannes 10:22-23 dat Jesus aan die Fees van die tempelwyding deelgeneem het. Dit is nie een van die Bybelse Feeste wat God vir antieke Israel beveel het nie, maar was eerder in baie opsigte gelykstaande aan ’n nasionale Joodse “Dankseggingsdag”. (Met verloop van tyd het dit ontwikkel tot die nasionale vakansiedag wat die Joodse gemeenskap tans “Hanukkah” noem.)

Vandag het baie nasies ’n Dankseggingsdag. Op 3 Oktober 1789 het die V.S. president, George Washington, ’n Dankseggingsproklamasie uitgevaardig. Hy het verklaar: “Dit is die plig van alle nasies om die voorsiening van die almagtige God te erken, om Sy wil te gehoorsaam, om dankbaar te wees vir die voordele wat Hy ons bied en om nederig vir Sy beskerming en guns te smeek” (“Thanksgiving Proclamation, 3 October 1789,” Archives.gov). Die V.S. vier sedert 1942 Dankseggingsdag op die vierde Donderdag van November, in navolging van president Franklin Delano Roosevelt se opdrag om daardie datum vas te stel. Kanadese vier hulle Dankseggingsdag op die tweede Maandag van Oktober.

Oorspronklik was Dankseggingsdag ingestel as ’n tyd om ons innige dank aan God te betuig. Erken ons egter werklik vir God as ons Voorsiener of maak ons staat op ons persoonlike besittings en krag vir veiligheid? Dankseggingsdag is ’n goeie tyd om na te dink oor ons seëninge, ons doel en ons toekoms, individueel asook nasionaal.

Tog het God aan ons ’n ander dag gegee waarop ons Hom kan bedank en oor ons seëninge kan nadink.

’n Weeklikse vakansiedag?

Die Vierde Gebod sê aan God se volk om die sewende dag van die week Heilig te hou.

“Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig” (Exodus 20:8-11).

God het die sewende-dag Sabbat tydens die skepping afgesonder. Dit is waarom ons beveel word “Gedenk die sabbatdag”. Behoort Nuwe-Testamentiese Christene egter daardie dag as hulle weeklikse aanbiddingsdag te beskou? Indien u nog nie die artikel in die Wêreld van Môre-tydskrif van Julie – Augustus 2021 gelees het nie, kan u dit gerus doen: “Wie het die Sabbat na Sondag verander?”

Eenvoudig gestel, geen mens kan die dag wat God vir aanbidding uitgekies het verander nie. Dit was die Roomse kerk wat Sondagaanbidding verpligtend verklaar het. Dit was eers in die vierde eeu n.C. dat die Romeinse keiser Konstantyn, Sondagaanbidding regdeur die hele Romeinse Ryk afgedwing het. As eertydse amptelike aanbidder van Sol Invictus (Onoorwonne Son) het hy in 321 n.C. die volgende verordening uitgevaardig: “Laat alle landdroste en mense van die stad en almal wat as ambagsmanne werk, op die eerbiedwaardige dag van die son rus” (The New Schaff-Herzog Encyclopedia of Religious Knowledge, 1911, vol. 11, bl. 147). Deur dit te doen het Konstantyn ’n gebruik afgedwing wat vreemd was vir Jesus Christus en Sy eerste-eeuse Kerk.

Met betrekking tot die onderwerp van “Sondag”, gee die Katolieke Ensiklopedie toe dat “Tertullianus (202 [n.C.]) die eerste skrywer was wat spesifiek melding gemaak het van die Sondagsrus. ‘Ons behoort egter (netsoos die tradisie ons geleer het), op die dag van die Opstanding van die Here, te waak daarteen om nie net neer te kniel nie, maar ook teen elke liggaamshouding en amp; en selfs om ons besighede uit te stel, sodat ons nie ’n plek aan die duiwel kan gee nie’” (1912, vol. 14, bl. 335). Dit was eers in 202 n.C., meer as 170 jaar ná die begin van die Nuwe-Testamentiese Kerk!

Ja, die Roomse kerk het op so ’n verandering aangedring! In die middel van die vierde eeu n.C. het die Raad van Laodicéa verklaar: “Christene sal nie verjoods en ledig wees op Saterdag nie, maar sal werk op daardie dag; maar die dag van die Here sal hulle spesiaal eer en omdat hulle Christene is, sal hulle, indien moontlik, op daardie dag géén werk doen nie. Indien daar egter gevind word dat hulle verjoods sal hulle van Christus uitgesluit word” (A History of the Councils of the Church, 1876, deel 2, bl. 316). Met ander woorde, Christelike Sabbatsonderhouers wat voortgegaan het om die persoonlike voorbeeld van Jesus Christus en Sy oorspronklike dissipels te volg, was as ketters verklaar en was uitgesluit van die kerklike gemeenskap van Christus.

Op watter gesag het die Roomse kerk so ’n verandering aangebring? In 1876 het die bekende Katolieke teoloog James Cardinal Gibbons dit gewaag om hierdie bekentenis te maak deur te skryf: “U mag die Bybel van Génesis tot Openbaring lees en u sal nie ’n enkele reël vind wat die heiliging van Sondag magtig nie. Die Skrif dwing die godsdienstige onderhouding van Saterdag af – ’n dag wat ons nooit heilig nie” (The Faith of Our Fathers, 1917, bl. 97).

Met ander woorde, Gibbons sê dat indien die Bybel u gesag is, het u geen basis om Sondag te onderhou nie. Hy meld dat die Skrif “die godsdienstige onderhouding van Saterdag afdwing”. Ons stem saam met hierdie stelling. Stem u saam? Die Roomse kerk het hulleself die gesag aangematig om God se Heilige Dag van Saterdag na Sondag te verskuif! As Christene word ons egter in die Skrif aangesê om Christus en die Apostels te volg net soos hulle Christus gevolg het. Sal u dus doen wat Jesus gedoen het? Sal u Sy voorbeeld volg as “Here ook van die Sabbat” (Markus 2:28)?

Jaarlikse Heilige Dae

Jesus het nie net die sewende-dag Sabbat getrou onderhou nie, maar ook die sewe jaarlikse Heilige Dae wat God die Vader vir almal in Sy volk bepaal het. Hierdie jaarlikse Heilige Dae was ook deur die vroeë Nuwe-Testamentiese Kerk onderhou. Die Bybel wys ons nie daarop dat Jesus of Sy dissipels die feeste van vreemde nasies nagevolg het nie, maar wel dat hulle die Heilige Dae, soos in Levítikus 23 aangeteken is onderhou het – die weeklikse Sabbat (vers 3) asook die jaarlikse Heilige Dae (verse 4-43).

Baie mense wat hulleself Christene noem, besef nie dat die apostel Paulus die nie-Joodse Christene beveel het om die Dae van Ongesuurde brode te onderhou nie – die jaarlikse Fees wat dirék na die jaarlikse Pasga-onderhouding plaasvind – wat Jesus ook gehou het, net soos die Christene vandag behoort te doen. Paulus het beveel: “Laat ons dan feesvier, [van die ongesuurde brode] nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid” (1 Korinthiërs 5:8). Die tweede hoofstuk van die boek Handelinge toon aan dat die dissipels ná Jesus se dood en opstanding steeds die Heilige Pinksterdag onderhou het. Nóg ’n bevestiging dat Jesus die jaarlikse Heilige Dae onderhou het, word gevind in Johannes 7, waar Jesus aan Sy broers gesê het om na Jerusalem op te gaan vir die Huttefees (vers 8) en kort daarna Sélf ook gegaan het (vers 14).

Kan u Christus in Kersfees vind?

Ons verbly ons in die opstanding van ons Verlosser, Jesus Christus. Ons is verheug oor die vervulling van Bybelse profesieë ten opsigte van die geboorte van die Messias, wat in die Evangelies opgeteken is, die eerste vier boeke van die Nuwe Testament. Vier die “Kersfees”-vakansiedag egter daardie wonderlike gebeurtenis akkuraat? Enige betroubare geskiedskrywer sal sê: Nee! Hou eerder in gedagte wat die Encyclopaedia Britannica se artikel “Saturnus” aan ons vertel omtrent die rol van die voor-Christelike Saturnalieë, wat ...

... die heel gewildste van die Romeinse feeste geword het. Die invloed daarvan duur steeds in die Westerse wêreld voort. Dit is oorspronklik op 17 Desember gevier, maar later is dit tot sewe dae verleng. Dit was die vrolikste fees van die jaar: Alle werk en besighede is gestaak; slawe het tydelike vryheid verkry om te sê en te doen wat hulle wou; sekere morele beperkings is tydelik opgehef en geskenke is vrylik uitgeruil. Die Saturnalieë het ’n direkte invloed op die feestelikhede van Kersfees en Nuwejaar (Micropaedia, 1974, deel 8, bl. 916).

Saturnus was nie die enigste god wat deur die Romeine aanbid was nie. Hulle het ook die songod Mithras aanbid en vereer as beskermheer van die Romeinse Ryk. U kan dit vind in die Encyclopaedia Britannica se artikel oor “Mithraism” (Britannica.com, 5 Februarie 2020). Die Romeine het die geboorte van die songod gevier – maar wanneer? Lees dit ook in die Encyclopaedia Britannica: “25 Desember – die geboortedag van Mithras, die Iranse god van lig en ’n dag wat aan die onoorwinlike son gewy was asook die dag ná die Saturnalia – is deur die kerk as Kersfees, die geboorte van Christus aangeneem” (“Feast,Britannica.com, 7 Februarie 2019).

In die vierde eeu n.C. het die Roomse kerk met die heidense feeste en gebruike van die Saturnalia asook die aanbidding van Mithras op 25 Desember meegeding. Die kerk het probeer om bekeerlinge te werf deur ’n heidense fees te “verchristelik” en het wel daarin geslaag. Lees ook hierdie gedeelte uit die Encyclopaedia Britannica:

Christendom ... was die godsdiens wat in die Romeinse wêreld geheers het. Dit het keiser Konstantyn se impulsiewe drang na goddelike ondersteuning bevredig. Vanaf 312 n.C. en verderaan het dit, deur ’n ingewikkelde en geleidelike proses, die amptelike godsdiens van die ryk geword ... Vir ’n tyd lank is daar voortgegaan deur muntstukke en monumente om Christelike leerstellings te verbind met die aanbidding van die son, waaraan Konstantyn voorheen verslaaf was. Selfs toe hierdie fase tot ’n einde gekom het, het die Romeinse heidendom steeds voortgegaan om ander permanente invloede, groot en klein, uit te oefen ... Die kerklike kalender handhaaf steeds talle oorblyfsels van voor-Christelike feeste – veral Kersfees, wat elemente vermeng wat die fees van Saturnalieë en die verjaardag van Mithras insluit (“Roman religion,Britannica.com, 2 Mei 2016).

Ja, die geskiedenis bevestig dat die Romeinse heidendom die kerklike kalender, veral Kersfees, gevorm het. Hierdie kompromie wat lank gelede met die heidendom aangegaan is duur vandag nog voort onder honderde miljoene aanbidders!

Konyne wat eiers lê?

Die viering van Paassondag verskil regoor die wêreld. Daar is egter geen onderhouding van Paasfees in u Bybel nie en Jesus het op die sewende dag van die week uit die dood opgestaan, nié op die eerste dag nie! Ons weet dat Jesus drie dae en drie nagte – 72 uur – in die graf deurgebring het. Hy het dit Self voorspel en hierdie teken van Jona was die enigste bewys van Sy Messiasskap wat Hy vooraf aan Sy teëstanders gegee het!

“TOE spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag ’n teken van U sien. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Matthéüs 12:38-40).

Daar is geen manier om ’n “Goeie Vrydag”-kruisiging en Sondagopstanding te laat ooreenstem met die 72-uur lange “teken van die profeet Jona” wat Jesus gegee het nie. In werklikheid is dit nie nodig nie! Ons Verlosser is gekruisig op ’n dag voor ’n Sabbat, maar dit was op die Woensdag voor ’n jaarlikse Sabbat, die eerste dag van Ongesuurde Brode en nié die dag voor die weeklikse sewende-dag Sabbat nie! Ons lees: “En dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was – want die dag van daardie sabbat was groot – het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word” (Johannes 19:31). Die term, “die dag van daardie sabbat was groot”, dui op ’n jaarlikse Sabbat wat verskil van die weeklikse sewende-dag Sabbat en ons weet dat in 31 n.C., die eerste dag van Ongesuurde Brode op ’n Woensdag met sononder begin het.

Daarna, op die Sondag, wat het Maria gesien toe sy by Jesus se graf gekom het?

“EN op die eerste dag van die week kom Maria Magdaléna vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was. Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en by die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: Hulle het die Here uit die graf weggeneem, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie” (Johannes 20:1-2).

Let daarop dat dit op die Sondagoggend nog donker was en Jesus was reeds uit die graf gewees! Volgens u Bybel is Hy nie gedurende die oggend van “Paassondag” opgewek nie!

Om sake te vererger, is baie gebruike en simbole rondom hierdie versinde, onbybelse viering direk uit die heidense rituele geneem! Wat het hase en eiers met mekaar te doen? Niks nie, behalwe dat hulle albei vrugbaarheid voorstel – ’n algemene tema van heidense lentefeeste! Soos Gerald E. Weston in sy kragtige werk Paasfees: die storie wat nie vertel is nie, skryf:

Easter (Paasfees) is niks anders as ’n ander spelling vir die Anglo-Saksiese godin Eostre nie, maar wat is die oorsprong van hierdie godin? Die New World Encyclopedia stel ’n verband voor tussen Eostre en Easter en die baie gewilde en antieke godin Ishtar: “Geleerdes spekuleer ook dat Eostre, die Anglo-Saksiese godin van die lente, wie se naam later verander is na die moderne Engelse ‘Easter’, geskiedkundig gekoppel mag wees aan Ishtar” (artikel “Ishtar”).

Dit is interessant dat die Melkitiese Griekse Katolieke kerk die oorsprong van die naam Easter erken maar ’n effens ander spelling van Ishtar gee. Ons moderne Engelse woord “Easter” is afkomstig van Ou Engels en verwys oorspronklik na die Noorse godin van vrugbaarheid, Istra, wie deur ’n haas gesimboliseer word.

Waarom sou mense wat hulleself “Christelik” noem, die opstanding van Christus in die naam van ’n heidense godin vier? Selfs sommige Protestantse kerke erken die heidense verband tussen Easter (Paasfees) en die veronderstelde opstanding van Christus en vier nie meer Paassondag nie. Hulle noem dit nou “Opstandingsdag”. Deur dit te doen, vermy hulle slegs ’n deel van die heidense afkoms, aangesien hulle nog steeds Christus se opstanding op die verkeerde dag herdenk, omdat Hy nie op ’n Sondag opgewek is nie!

Maak dit saak?

Die geskiedskrywer Will Durant het hierdie ontleding in sy werk The Story of Civilization gegee:

Die Christendom het die heidendom nie vernietig nie; dit het dit aangeneem. Die Griekse denkwyse, het tot ’n einde gekom maar, is oorgedra in die teologie en liturgie van die kerk. Die Griekse taal, wat vir eeue die filosofie oorheers het, het die dryfveer geword van die Christelike literatuur en rituele; die Griekse misteries is oorgedra na die indrukwekkende misterie van die mis. Ander heidense kulture het bygedra tot die sinkretistiese resultaat ... [ortodokse] Christendom was die laaste groot skepping van die antieke heidense wêreld” (1944, deel 3, Caesar and Christ, bl. 595).

Geagte Lesers, is u besig om heidense tradisies in die naam van Christelikheid te beoefen? Onthou Jesus se waarskuwing aan die Fariseërs en skrifgeleerdes in verband met sekere godsdienstige gebruike: “Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou” (Markus 7:9).

Sommige mense mag vra: Watter verskil maak dit? Wat daarvan as daar ’n bietjie heidense gebruike in ons feesvierings is? Die antwoord lê in ’n baie belangrike Bybelse beginsel, een waarvoor godsdienste, kerke en individue verantwoordelik gehou gaan word: “... neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die Here jou God nie; want alles wat vir die Here ’n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode” (Deuteronómium 12:30-31).

Daar is nog ’n belangriker rede waarom God wil hê dat Christene Sy jaarlikse Heilige Dae onderhou. Hulle volg nie net die voorbeeld van hulle Verlosser en gehoorsaam God die Vader deur dit te doen nie, maar hulle onderhou ook ’n reeks dae wat God se wonderlike plan van redding vir die hele mensdom uitbeeld.

Die jaarlikse Heilige Dae, wat in Levítikus 23 voorkom, begin ’n dag ná die onderhouding van die Pasga op die veertiende dag van Nisan, die eerste maand in God se Heilige jaar. Dit is:

Die Eerste en Laaste Dae van Ongesuurde Brode. Word op 15 en 21 Nisan onderhou (28 Maart en 3 April in 2021). Hierdie Heilige Dae begin en eindig die jaarlikse Fees wat Christene herinner aan hulle doel om sonde uit hulle lewens te verwyder.

Pinkster. Word onderhou 50 dae ná die aanbieding van die “beweegoffer” (16 Mei in 2021). Hierdie dag beeld Christus uit wat ’n klein groepie “eerstelinge” wat geroep is in hierdie huidige tydvak, versamel om saam met Hom te regeer in die Millennium.

Die Fees van Basuine. Word onderhou op 1 Tishri (7 September in 2021). Dit stel die sewe basuinplae van die dag van die Here voor, met die laaste basuin wat die Wederkoms van Christus sal aankondig om God se Koninkryk op aarde te vestig asook die opstanding van die heiliges.

Die Versoendag. Word onderhou op 10 Tishri (16 September in 2021). Dit stel die einde voor van Satan se 6,000 jaar-lange heerskappy as die god van hierdie huidige tydperk.

Die Huttefees. Begin op 15 Tishri (21 September in 2021). Dit is die eerste dag van die Feestydperk van sewe dae wat Christus se duisendjarige heerskappy simboliseer, die duisendjarige periode waarin die hele wêreld geroep sal word om God se lewenswyse te leer ken en uit te leef.

Die Laaste Groot Dag. Word onderhou op 22 Tishri (28 September in 2021). Dit stel die groot Wit Troon oordeel voor (Openbaring 20:11-13), die tyd wanneer die miljarde mense wat geleef en gesterf het sonder om ooit die geleentheid te hê om die ware boodskap van Jesus Christus te hoor [of te verstaan] – dit sluit baie mense in wat nooit eens Sy Naam gehoor het nie – wat dan uiteindelik hulle geleentheid tot redding sal hê.

(Let daarop dat die dae van die Gregoriaanse kalender om middernag begin, maar dat die dae van God se kalender met sononder begin. God se Heilige Dae begin elkeen teen sononder op die aand vóór die dag soos in die Gregoriaanse kalender.)

Die jaarlikse Heilige Dae is ’n tydperk wat ryk aan betekenis is vir volgelinge van Jesus Christus. Indien u dit nog nie gedoen het nie, lees gerus [of lees weer] ons boekie Die Heilige Dae – God se meesterplan. U kan dit aanlyn lees by wvm.org of ’n gratis gedrukte eksemplaar aanvra by u naaste streekkantoor waarvan die inligting op bladsy 2 van hierdie tydskrif gevind kan word.

Ja, God se jaarlikse Heilige Dae is vol betekenis en waarheid – waardes wat ons nie aantref in die mensgemaakte Kersfees- en Paastradisies nie. Watter dae sal u dus onderhou – die mensdom se uitgedinkte, heidense, vervalste godsdienstige dae van aanbidding of God se eie weeklikse en jaarlikse Heilige Dae – dieselfde dae wat deur Jesus Christus, die Apostels en Sy getroue dissipels reeds vanaf die eerste eeu tot vandag toe onderhou is? Ons by die Wêreld van Môre bid dat u die regte keuse sal maak!