Hoe was die Christenskap van Jesus Christus en die Apostels werklik? Sou Jesus selfs die leerstellings en gebruike van die hedendaagse “algemene” Christendom herken?


Die soort Christenskap waarin u glo en wat u beoefen kan die verskil beteken tussen lewe en dood – veel gouer as wat u besef! Jesus Self het 'n ontsaglike Groot Verdrukking voorspel wat so vreeslik is dat “geen vlees gered [sou] word nie”, tensy die Almagtige God in mensesake ingryp (Mattheus 24:21-22). Indien u nie Sy ware weë navolg nie, kan u eie lewe en die lewens van u geliefdes op die spel wees.

Ter beskrywing van die Groot Verdrukking wat voor die deur lê, sê Markus se geïnspireerde evangelie: “Want daardie dae sal daar 'n verdrukking wees soos daar nie gewees het van die begin van die skepping af wat God geskape het tot nou toe, en ook nooit sal wees nie. En as die Here dié dae nie verkort het nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy dié dae verkort” (Markus 13:19-20).

Glo u werklik wat die Bybel duidelik en herhaaldelik sê? Indien wel, moet u bedag wees op Jesus se duidelike waarskuwings oor die navolg van mense se tradisies, want Jesus het die godsdiensleiers van Sy tyd met hierdie betekenisvolle woorde bestraf: “So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering. Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Mattheus 15:6-9).

So, om u ontwil – en vir die ontwil van die guns van die Ewige God en Sy goddelike beskerming vir u en u geliefdes – is dit absoluut noodsaaklik dat u nie die “gebooie van mense” volg pleks van die gebooie van God nie!

Kom ek verduidelik.
Die meeste van u wat lesers van Die Wêreld van Môre is, is ongetwyfeld opreg in u begeerte om die ware doel in u lewens te vind en te vervul! Teen hierdie tyd, vertrou ek, verstaan u reeds dat ons hier by die Wêreld van Môre nie deel is van “algemene” Christendom nie. Moontlik besef u dat ons vir 'n rede anders is. U besef dalk ook dat die meeste van ons in hierdie Werk in algemene kerke grootgeword het en die gebruike van die gemiddelde kerkganger gehad het. Uiteindelik het ons vir onsself bewys dat ons “uit” hierdie stelsel moes kom ten einde die ware God van die Bybel te gehoorsaam en te dien. Die meeste van ons moes familie, vriende of werk opoffer ten einde dit te doen.

Waarom?
Omdat ons tot die besef gekom het dat Jesus Christus beslis daarop aandring dat ons Sy ware Christenskap navolg, nie sommer enige vals Christenskap of ander godsdiens waarin ons toevallig grootgeword het nie. Ons het tot die besef gekom dat God se geïnspireerde woorde werklik diegene verdoem wat Christus se eie naam op allerlei soorte heidense leerstellings en gebruike plaas wat hulle op 'n manier saamgeflans het. Die Jesus Christus van u Bybel daag Sy volgelinge herhaaldelik op baie verskillende wyses uit: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46).

Terwyl ek grootgeword het in 'n “algemene Christenkerk”, Sondagskool toe gegaan het en selfs klaskaptein was van my Sondagskoolklas, het ek nie besef hoe absoluut noodsaaklik dit is dat almal wat hulself “Christene” noem, bereid moet wees om Christus se duidelike en deurlopende leringe te gehoorsaam, hul lewens moet oorgee en waarlik moet streef om te “[lewe] van elke woord van God” nie (Lukas 4:4). Jesus Christus dring daarop aan! Die meeste van u wat hierdie artikel lees, wil Christus en God die Vader eer. In die verlede het u moontlik gevoel, soos ek ook gevoel het, dat u die God van die Bybel gehoorsaam. Tog, indien u eerlik en deeglik “ondersoek instel” – soos ek persoonlik moes doen – sal u waarskynlik vind dat u in talle leerstellings en begrippe geglo het wat hoegenaamd geen grondslag in die Bybel het nie. Eweneens sal u vind dat u – moontlik onwetend – allerlei soorte heidense gebruike en gewoontes nagevolg het wat Jesus en die oorspronklike Apostels sou verdoem het!

Keer terug na die WAARHEID!

Die apostel Paulus waarsku die Christene van sy tyd: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie” (Handelinge 20:29-31).

Liewe vriend, om u eie ontwil, dink asseblief na of u waarlik die “hele raad van God” navolg, waarna Paulus net vroeër in sy geïnspireerde skrywes verwys het! Die meeste van u verstaan verseker 'n gedeelte van die Bybel, 'n gedeelte van Christus se ware leringe – en miskien 'n klein deeltjie aangaande profesie en die ontsagwekkende doel waarvoor God u geskep het. Om Jesus egter net te “aanvaar,” by die kerk om die hoek aan te sluit en te hoop om “hemel toe te sweef” wanneer u te sterwe kom, is nie waaroor ware Christenskap gaan nie! Die meeste mense wat hulself “Christene” noem, is nooit geleer wat die volle doel van die mens se bestaan is nie! Dit is noodsaaklik dat u die “hele raad” van die Almagtige God ten volle verstaan en navolg (Job 15:8; Handelinge 20:27).

Ons het pas Paulus se waarskuwing gelees dat “wrede wolwe” sou inkom en baie “weg ... trek” van die Waarheid van God. Paulus het God se mense ook dringend gewaarsku oor 'n groot “afval” (2 Tessalonisense 2:1-12). Hy skryf: “Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (verse 7-8).

Wat bedoel Paulus met “ongeregtigheid”? Paulus het 'n godsdiensstelsel beskryf – die “verborgenheid van die ongeregtigheid” – wat stadig maar seker die naam van Christendom oorgeneem het en Christus se leringe en gebruike verdraai het om mense te oortuig om God se groot geestelike wet te verlaat!

Bykans alle gerespekteerde algemene geskiedkundiges weet dat daar 'n reuse verandering oor die belydende Christenkerk gekom het binne 'n eeu nadat Christus en die oorspronklike Apostels te sterwe gekom het. Een geskiedkundige skryf: “Vir vyftig jaar na Paulus se lewe hang daar 'n gordyn oor die kerk waardeur ons tevergeefs probeer kyk; en wanneer dit uiteindelik lig, ongeveer 120 n.C. met die skrywe van die vroegste kerkvaders, vind ons 'n kerk wat in vele opsigte baie verskil van die kerk in Petrus en Paulus se dae” (Jesse Lyman Hurlbut, The Story of the Christian Church, bl. 41). 
Op wie se gesag het die vroeë biskoppe hierdie drastiese veranderinge gemaak? Het God of Jesus Christus vir hulle gesê om die ware kerk baie anders te maak as die oorspronklike kerk van Christus en die Apostels?

Glad nie!
Selfs na Sy dood, het Jesus vir die Apostels gesê: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mattheus 28:19-20).

Op wie se gesag het die sogenaamde “kerkvaders” weggedoen met die leringe van Jesus Christus en die oorspronklike Apostels – en diegene wat dit nagevolg het bykans vernietig? Die ware antwoord is dat hulle geen sodanige gesag gehad het nie! Dit is waarom God die apostel Judas geïnspireer het om ware Christene te vermaan: “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën” (Judas 3-4).

Judas vertel ons dat ons letterlik moet “stry” – baklei – vir die “geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.” Hy waarsku teen sekere manne wat “ingesluip” het om die begrip van genade te verander in “ongebondenheid” – in 'n lisensie vir misleide mense om te dink dat hulle ongehoorsaam kan wees aan God se groot geestelike wet en steeds op die een of ander wyse in God se Koninkryk kan kom!

Dit, my vriende, is presies wat die meeste “algemene” Christene vandag glo. Baie kerke praat oor die Tien Gebooie as 'n goeie algemene riglyn, maar wanneer jy hulle in 'n hoek dryf, sal die meeste algemene leraars sê dat 'n Christen nie verplig is om die Tien Gebooie as 'n leefwyse te handhaaf nie! Dit is een rede waarom God Judas geïnspireer het om ons te vermaan om te stry vir die ware geloof wat “eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.”

HERSTEL ware Christenskap!

Wat sou dit beteken om die oorspronklike Christenskap van Christus en die Apostels te herstel? Watter verskille sou ons sien indien die “oorspronklike Christenskap” van die Nuwe Testament werklik weer onderrig en beoefen word?

Sjoe! Hierdie herstel sou veel meer behels as wat die meeste van u moontlik besef! Want, soos ons uit die geskiedenis gesien het, teen 120 n.C. vind geskiedkundiges 'n belydende kerk wat “in vele opsigte baie verskil van die kerk in Petrus en Paulus se dae.”

Gerespekteerde geskiedkundige, Will Durant, skryf: “Christendom het nie heidendom vernietig nie; maar dit aangeneem. Die Griekse verstand, wat sterwend was, het oorgegaan tot lewe in die teologie en liturgie van die Kerk; die Griekse taal, wat vir eeue oor filosofie geheers het, het die werktuig van Christenliteratuur en rituele geword; die Griekse misterieë is deurgegee aan die indrukwekkende misterie van die Mis. Ander heidense kulture het bygedra tot die sinkretistiese gevolg. Van Egipte het die idees gekom van 'n goddelike drie-eenheid ... en 'n persoonlike onsterflikheid van beloning en straf; van Egipte die verering van die Moeder en Kind en die mistiese teosofie wat Neoplatisme en Gnostisisme meegebring en die Christelike credo verskuil het ...” (The Story of Civilization, Vol. 5, Durant, bl. 595, 599).

Vir honderde jare gedurende die Middeleeue, was die ware Christendom van Christus en die Apostels waarlik “verskuil”. Mense het verkeerdelik, in Jesus se naam, 'n heel verskillende leefwyse en benadering tot God onderrig. Vals leraars het die oorspronklike Heilige Dae – wat deur God beveel is en deur Christus en die Apostels onderhou is – met heidense dae en wêreldse begrippe vervang. Soos geskiedskrywer Jesse Lyman Hurlbut skryf: “Die vorms en seremonies van heidendom het geleidelik in die aanbiddingsdienste ingesluip. Party van die ou heidense feeste het kerkfeeste geword met verandering in naam en aanbidding. Rondom 405 n.C. het beelde van heiliges en martelare in kerke begin verskyn, eers as herdenkings en toe in volgorde vereer, gelief en aanbid” (The Story of the Christian Church, bl. 73).

Op daardie tyd het vals Christene geleidelik “heidense feeste”, soos Kersfees, Paasfees en Allerheilige dag in die belydende Christenkerk ingebring. Maar wat van die vierde gebod van die Almagtige God? Wat van die beveelde weeklikse dag van rus en aanbidding? “Solank die kerk meestal Joods gebly het, is die Hebreeuse Sabbat onderhou, maar namate dit al hoe meer nie-Joods geraak het, het die eerste dag geleidelik die plek van die sewende dag ingeneem” (ibid., bl. 45).

Was dit God se idee? Het God geleidelik Sy goddelike wet verander sodat Sy aanbidders die “dag van die Son” – Sondag – kon eer, soos die heidene vir eeue gedoen het?

Glad nie!
Soos talle gesaghebbendes erken, die ware Christene – Grieke en Jode eweneens – het almal op die sewendedagse Sabbat aanbid. Geskiedkundiges stem saam dat dit vir ten minste 'n geslag of twee na die dood van die Twaalf Apostels voortgeduur het! God het nie Sy wet verander nie.

Die apostel Paulus gee Christene die opdrag: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Korinthiërs 11:1). Die apostel Johannes neem waar: “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Johannes 2:6).

Hierdie twee Apostels, soos al die ander, het geweet dat Jesus Christus gekom het om die volmaakte voorbeeld te stel en dat Christene Sy voorbeeld behoort te volg, versterk deur die Heilige Gees. Dit was die algemene begrip in die apostel Paulus se tyd, namate Christendom oor die Romeinse Ryk versprei het. Geskiedskrywers erken hierdie feit, soos die volgende betekenisvolle aanhaling ons herinner: 
“Oral, veral in die Ooste van die Romeinse Ryk, sou daar Joodse Christene wees wie se uitwaartse leefwyse nie merkbaar anders as dié van Jode was nie. Hulle het as vanselfsprekend aanvaar dat die evangelie aaneenlopend was met [die godsdiens van Moses]; vir hulle het die Nuwe Verbond, wat Jesus met die Laaste Avondmaal met Sy dissipels ingestel het ... nie beteken dat die verbod wat God met Israel gesluit het, nie meer van krag was nie. Hulle het steeds die feeste van Pasga, Pinkster en die Loofhuttefees gevier ... die weeklikse Sabbat en die Mosaïese regulasies rakende kosse. Volgens party geleerdes moes hulle so sterk gestaan het dat hulle tot en met die val van Jerusalem in 70 n.C. die dominante element in die Christenbeweging was (Judeo-christianisme, “Paul and Jewish Christianity,” Davies, 1972, bl. 72, aangehaal in Bacchiocchi, From Sabbath to Sunday, bl. 151).

Vir ongeveer die eerste 40 jaar van Christenskap, gelei deur die Heilige Gees, het die dominante element in die Kerk van God dus steeds Christus se voorbeeld gevolg van viering van die weeklikse en jaarlikse Sabbatte wat deur God beveel is. Christene het steeds die voorbeeld gevolg wat deur die Jerusalem Kerk van God gestel is!
Wie het durf waag om dit alles te verander?

Wat het die oorspronklike Christenskap behels?

Die geïnspireerde apostel Paulus sê vir die Efesiese opsieners: “Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het” (Handelinge 20:27-28).

Indien enigiemand op die “gemeente van God wat in Korinthe is” – soos Paulus die kerk aangespreek het – kon inloer, watter leefwyse sou 'n mens kon waarneem onder hierdie Griekse Christene? Watter wette van God en Bybelse leringe sou uitstaan as anders as die algemene “Christendom” soos dit vandag beoefen word?

Eerstens, net om bloot teenwoordig te wees by die vroeë Christene wanneer hulle byeengekom het, sou 'n mens die nodigheid moes verstaan om al tien van die Tien Gebooie te onderhou – insluitend die vierde gebod. Die vierde gebod sê immers: “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie” (Eksodus 20:8-10).

Hierdie gebod, meer as enige van die ander, herinner die gelowige dat die ware God, die Skepper is. God het die sewende dag “heilig” gemaak – nie Sondag, die eerste dag van die week nie. Hy het dit gedoen ten tye van die skepping – lank voordat daar enige Jode was, want die Sabbat is nie vir die Jode gemaak nie! Jesus Self sê: “Die sabbat is gemaak vir die mens” (Markus 2:27). Dit is gemaak toe mense gemaak is en later is dit deel gemaak van die geestelike wet in kodevorm – die Tien Gebooie – wat God Self op twee kliptafels geskryf het (Eksodus 34:28).

Gereelde aanbidding op die sewende dag – die dag wat begin met wat ons vandag Vrydag sononder noem, en deurloop tot en met sononder Saterdag – het vroeë Christene altyd bewus gehou daarvan dat die ware God die Skepper van die hemel en aarde was, wat die Tien Gebooie gegee het ten einde te onthul wat die grondslag van die regte leefwyse is! Die vroeë Christene het ook die sewe jaarlikse Heilige Dae – sewe jaarlikse feeste wat regstreeks in die Bybel beveel word – onderhou, want Christus en die Apostels het Christene geleer om “van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” te leef (Mattheus 4:4, Lukas 4:4) – en die enigste geskrewe woord van God wat toe beskikbaar was, is wat ons die Ou Testament noem. Uit die Ou Testamentiese boek, Sagaria, kon die vroeë Christene gelees en verstaan het dat wanneer die Messias na die aarde terugkeer as Koning van die konings, Hy alle nasies – Jode en Heidene – sou lei om die Loofhuttefees te onderhou, een van die sewe jaarlikse feeste wat God Sy mense beveel om te onderhou.

Soos Sagaria skryf: “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier” (Sagaria 14:16). Dan gaan die profeet voort om ons te vertel dat God die reën sal weerhou van enige nasie wat weier om die Loofhuttefees te vier! Dit, my vriende, gaan gebeur gedurende die eerskomende regering van Jesus Christus!

Klink dit asof die ware Christus van u Bybel ernstig is wanneer Hy gehoorsaamheid aan God se Wette beveel? Ja, dit doen! En “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). Is u bekend met daardie aspek van die Bybelse Jesus Christus?

Sou 'n mens die oorspronklike Christene in Korinthe ontmoet het, sou jy ook opmerk dat hulle nie Paasfees gevier het nie. Hulle het eerder die Pasga en Dae van Ongesuurde Brode gevier, twee van God se beveelde jaarlikse vieringe (1 Korinthiërs 5:6-8). Nadat Paulus hulle daaraan herinner het dat Jesus Christus as ons Pasgalam geoffer is, beveel hy die Christene te Korinthe: “Laat ons dan feesvier” (vers 8). Aangesien Paulus se hele samehang hier die Pasga en Ongesuurde Brode behels, is dit duidelik dat hy hierdie Griekse Christene vermaan om die Fees van Ongesuurde Brode te onderhou – die Fees wat onderhou word in verband met, en pas na afloop van, die Pasga!
Indien ons gereeld saam met die vroeë Kerk van God te Korinthe vergader het, sou ons ook hoor hoe een van die ouderlinge Paulus se eerste brief aan hulle lees, waarin hy geskryf het “Maar ek sal in Éfese bly tot Pinkster toe” (1 Korinthiërs 16:8).

Pinkster? Moontlik het u gedink dat Pinkster ’n eenmalige gebeurtenis was toe die Kerk begin het, toe Petrus vir 'n reuse skare gepreek het en 3 000 mense bekeer is (Handelinge 2).

Nee. Pinkster is ook een van die sewe jaarlikse feeste wat die vroeë Christene onderhou het. Hierdie feeste dui op en help ons om die grote Plan wat God hier op aarde uitwerk, te gedenk. Sonder om hierdie ware Bybelse Heilige Dae te onderhou – wat Christus en die vroeë Kerk onderhou het – is die meeste van vandag se kerkgangers in totale onkunde oor die Plan wat God vandag onder die mensdom uitwerk. Ons het 'n deeglik gedokumenteerde boekie opgestel wat hierdie Godgegewe feeste en hul betekenis ten volle verduidelik, met die titel Die Heilige Dae – God se Meesterplan. Skryf asseblief vir u gratis eksemplaar.

'n OORSIG van God se PLAN

God se sewe jaarliks beveelde feeste leer ons hoe Hy Sy doel onder die mensdom uitwerk. Eerstens fokus die Pasga duidelik op Jesus Christus as die “Lam” van God. Dit is die eerste stap vir ware Christene – bekering van sondes en aanneming van Jesus Christus as Verlosser en Here. Dan volg die Dae van Ongesuurde Brode, waarin die aksie van die “uitsit van suurdeeg” fokus op die volgende stap in ware Christenskap – die absolute noodsaaklikheid om sonde uit ons lewens te verwyder, om “toe [te] neem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Petrus 3:18).

God se derde beveelde jaarlikse fees is Pinkster – of, soos dit in die Ou Testament genoem word – die Fees van “Eerstelinge” (Eksodus 23:16; 34:22). Soos Ou Testament-geleerdes weet, vier hierdie fees die lente garsoes – die klein oes. Dit herinner ons daaraan dat God nou net die “eerstelinge” van saligmaking oes, want die groot oes van siele sal plaasvind gedurende Christus se duisendjarige heerskappy en gedurende die Groot Laaste Oordeel. Pinkster herinner die ware Christen aan die behoefte vir God se mag deur Sy Gees en van Sy seën op die klein getal mense wat Hy nou uit hierdie misleide wêreld uitroep.

Die laaste vier jaarlikse Heilige Dae vind almal in die sewende maand plaas – sewe is die getal van “voltooiing” of volmaaktheid. Die fees van “Basuingeskal” is God se fees wat op die eerste dag van die sewende maand plaasvind. Antieke Israel het basuine gebruik as 'n sein of oorlogalarm! Die ganse Bybel is vol teksverse wat vir ons toon dat Jesus Christus na die aarde sal terugkeer met die “laaste basuin” (1 Korinthiërs 15:52; Openbaring 11:15). Daarom herinner hierdie fees Christene jaar na jaar van hierdie noodsaaklike deel van God se Plan – Jesus Christus se Wederkoms en Sy vestiging van die Koninkryk van God oor die ganse wêreld!

Die Versoendag volg dan, op die tiende dag van die sewende maand. Dit beeld Satan se verbanning van die aarde uit na Christus se Wederkoms. Die ganse wêreld sal dan tot die volle kennis van die Waarheid gebring word en Satan se teenwoordigheid en mag om “die nasies te verlei” (Openbaring 20:1-3), sal tot ’n einde kom.

Dan volg die vreugdevolle en opwindende Loofhuttefees, wanneer “al die nasies ... jaar na jaar optrek ... om die huttefees te vier” (sien Sagaria 14:16-19). Hierdie fees word ook die “Fees van Insameling” genoem (Eksodus 23:16). Dit beeld die tyd uit wanneer God uiteindelik Sy hand sal uitreik om al die nasies van die aarde te “red” en alle volke rondom die aarde onder Christus se heerskappy sal leef, regdeur hul lewens sal leer en leef volgens die Waarheid.

Wat egter van al die miljarde mense wat gesterf het sonder om ooit waarlik deur God “geroep” te gewees het – wat nooit waarlik God se manjifieke plan en die opperdoel vir menslike bestaan verstaan het nie? Dit is wat God se sewende jaarlikse fees uitbeeld. Hierdie fees – die “Laaste Groot Dag” – beeld daardie tyd uit wat in Openbaring 20:11-13 beskryf word wanneer elke mens wat nog ooit geleef het 'n ware geleentheid sal kry om die Waarheid te leer en daarop te reageer. God is nie onregverdig nie! Hy beskryf 'n komende “oordeelsdag” wanneer selfs die slegte Sodom en Gomorrah 'n kans sal kry wat hulle nooit tevore gehad het nie (Mattheus 11:20-24).

Deur dus God se Heilige Dae te onderhou en deur hierdie dae van God se groot Plan te leer en dit te hersien, sou die oorspronklike Christene die groot doel verstaan het wat ons Skepper onder die mensdom uitwerk.

WAAROM die weeklikse Sabbat?

Elke mens moet waarlik een dag in 'n week hê waarop hy waarlik kan rus en die geleentheid kan hê om oor lewenslesse te mediteer en dit te oordink. Soos ons gesien het, “die sabbat is gemaak vir die mens” (Markus 2:27). Dit is gemaak toe die mens gemaak is – lank voor die ou verbond en lank voordat die Jode selfs as 'n volk bestaan het. Dit is geskep vir alle mense. Die weeklikse Sabbat is ook gegee as 'n “samekoms” – 'n beveelde vergadering (Levitikus 23:1-3). Die Bybel sê dat in die Wêreld van Môre, wanneer Christus ten volle in beheer sal wees as Koning van konings: “Elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die Here” (Jesaja 66:23). Ware Christene is vandag in 'n sekere sin “pioniers” wat bereid is om God se leringe te leer en te gehoorsaam en om die dae wat Hy heilig gemaak het, heilig te hou. Die God van die Bybel vertel ons selfs hoe om op Sy Sabbat “saam te kom” en die skrywer van Hebreërs herinner diegene van ons wat in die laaste dae leef: “En laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24-25).

Weet u egter waar om byeen te kom met mense wat waarlik verstaan waaroor dit alles gaan?

'n Derde les wat die Bybelse sewendedag Sabbat ons leer, is dat dit 'n voorbeeld is van die komende Millennium – die heerskappy van Jesus Christus oor die aarde vir eenduisend jaar. Baie wêreldse geskiedkundiges ag Edward Gibbon se Decline and Fall of the Roman Empire as die beslissende geskiedenis van die Romeinse Ryk se latere jare. Ter beskrywing van die vroeë Christene, skryf Gibbon: “Die antieke en gewilde leerstelling van die Millennium was nou verbind met die tweede koms van Christus. Net soos die werke van die skepping in ses dae voltooi is, is hul bestaan in hul huidige staat, volgens 'n tradisie wat aan die profeet Elia toegeskryf word, vir sesduisend jaar vasgestel. Volgens dieselfde vergelyking is daar afgelei dat hierdie lang tydperk van arbeid en twis, wat nou bykans verstreke is, opgevolg word deur 'n blye Sabbat van eenduisend jaar; en dat Christus, met die seëvierende groep heiliges en die uitverkorenes wat die dood vrygespring het, of wat wonderbaarlik opgewek is, op aarde sou regeer tot die aangewese tyd vir die laaste en algemene opstanding” (bl. 403).

Diegene van ons wat die Bybelse Sabbat onderhou word gedurig herinner aan die uiteindelike “rus” wat God aan Sy mense sal gee – die komende duisendjarige heerskappy van Christus as “Koning van die konings” oor hierdie aarde (Openbaring 19:16), en ewige lewe in die Koninkryk van God.

In teenstelling aanvaar diegene wat die heidense “dag van die son” en jaarlikse heidense vakansiedae onderhou – wat so kunstig in die wese van belydende “Christendom” ingeweef is – 'n heeltemal verskillende begrip van Christus en God. Hulle leer om God se bevel om die sewendedag Sabbat as “heilige tyd” te onderhou te minag en is nie in staat om die geestelike lesse te leer wat dit behels nie. Deur na te laat om die ware Bybelse Heilige Dae van God te onderhou, verstaan hulle nooit ten volle die groot Plan van God, wat onthul en ingeoefen word deur Sy beveelde Heilige Dae nie. Gelowiges in “algemene Christendom” word gewoonlik geleer dat hulle “hemel toe sal sweef” met niks om daar te doen nie! Soos geskiedkundige Gibbon egter verduidelik, het vroeë Christene uitgesien daarna om deel te wees van daardie “seëvierende groep heiliges” wat hierdie wêreld sal regeer onder Jesus Christus vir die duisendjarige “Sabbat” van die Millennium! Dit was hul doelwit – nie om hemel toe te sweef nie! Die apostel Johannes onthul aan ons die “gebed van die heiliges” in hierdie woorde: “U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:9-10).

Êrens op aarde vandag is die ware “Kerk van God” – wat talle kere in die Nuwe Testament die “gemeente van God” genoem word. Die lidmate van hierdie Kerk verstaan wel die ware betekenis van die lewe. Hulle word geleer en voorberei om daardie konings en priesters te wees onder Jesus Christus in die Wêreld van Môre. Dit het so gebeur dat u in aanraking gebring is met die ware Kerk van God deur hierdie einste tydskrif te lees – gepubliseer deur die Lewende Kerk van God waarvan die hoofkantoor in Charlotte, North Carolina, VSA is.

Indien God u gedagtes open en u graag wil reageer op die kosbare Waarheid wat Hy onthul, skryf gerus vir ons of skakel ons, ons is ook deur die Internet bereikbaar, en versoek gerus 'n besoek op die tyd en plek wat vir u gerieflik is. Ons het leraars of opgeleide verteenwoordigers in bykans elke deel van die wêreld en ons sal u nie “druk” om enigiets te doen of aan te sluit nie.

Ter afsluiting, indien u verdere geskrewe dokumentasie en bewyse wil hê oor God se Heilige Dae, oor die ware Christensabbat of oor die algehele begrip van die herstel van die Christenskap van die Apostels, versoek gerus ons gratis boekies Die Heilige Dae – God se Meesterplan, Watter dag is die Christelike Sabbat? en Hervestig die Christenskap van die Apostels. Dit sal absoluut gratis aan u gestuur word, sonder enige verpligting. Skakel, skryf, faks of epos bloot ons streekkantoor by die adres op bladsy twee van hierdie tydskrif.

Mag God u die begrip, die geloof en die oortuiging gee om die nodige te doen om uself aan Hom te betoon as iemand wat waarlik begeer om in Sy ewige koninkryk te wees en die doel te vervul waarvoor Hy u geskape het!