Die kontras tussen duisternis en lig bekoor baie mense – selfs die jongstes onder ons. Laat ’n kleuter toe om ’n ligskakelaar aan en af te skakel en u sal dit duidelik sien – of dalk sien u dit nie raak nie! Elke dag getuig op ’n veel groter skaal van die werke van God se hande wat gevind word in die skeiding van lig en donker.

Wanneer ’n mens vanuit die ruimte na planeet Aarde sou kyk, sou ons sien hoe die skaduwees van duisternis stadig van oos na wes skuif, wat veroorsaak word deurdat die aarde om sy eie as wentel, weg van die son se lig af. Soos die sonsondergang vorder, maak ’n groot aantal dagdiere hulle gereed om in die donkerte van die nag te slaap. Natuurlike lig/donker-siklusse wat deur die oë waargeneem word (en moontlik tot ’n mate deur die vel) stimuleer areas van die brein wat die slaaphormoon melatonien en ons brein se natuurlike slaapsiklusse beheer. U Skepper beweeg letterlik hemel en aarde, deels, om aan Sy skepping slaap te gee (Génesis 1:18; Psalm 127:2).

Voor elektrisiteit ontdek is, het daardie siklus van slaap ook die mensdom ingesluit. Deesdae sal ons waarskynlik ’n groot aantal verligte slimfoonskerms sien wat mense se gesigte verlig terwyl ’n klomp woelende duime gou eers die volgende oggend se wekkers stel, slaapkontrolering-toepassings oopmaak of op die web soek na inligting met die sleutelwoord insomnia [slapeloosheid]. Volgens die Centers for Disease Control meld ongeveer een uit elke drie volwassenes in die Verenigde State dat hulle nie genoeg rus of slaap kry nie en die gevolge is oor die algemeen kommerwekkend. ’n Tekort aan slaap is gekoppel aan verhoogde risiko van diabetes, hartsiektes, vetsug, depressie, voertuigongelukke en selfs agteruitgang in verhoudings en werkprestasie. Vandat Richard Arkwright die spinmasjien in die tekstielbedryf ontwerp het – wat gelei het tot ononderbroke industriële produksie – tot Thomas Edison se ontdekking wat ons nagte belig, en van televisie tot slimfone, word ’n oorlog reeds lank teen ons slaap gevoer.

 

Gesonde slaap, gesonde verstand

Ons meesterlike Skepper het slaap ontwerp om belangrike funksies te vervul. Net soos om u selfoonbattery te herlaai, word verskeie stelsels in ons liggame gedurende die slaapproses ”herlaai”. Die brein is een orgaan wat veral reageer op die kwaliteit en duur van slaap. Byna almal het die verjongingskuur van ’n goeie nag se slaap al ervaar – die hele wêreld lyk sommer rooskleuriger wanneer ons wakker word. Kleuters en selfs volwassenes is minder knorrig wanneer hulle beter uitgerus is.

’n Studie wat in 2020 in ’n Journal of Sleep Research gepubliseer is, het die effek wat slaap op emosies het, getoon. Proefpersone het vyf nagte van gebrekkige slaap ondervind, gevolg deur vyf nagte van ónonderbroke slaap. Die hoofnavorser Daniela Tempesta, het opgemerk dat proefpersone verskeie droombeelde as meer ontstellend ervaar het wanneer hulle van slaap ontneem was as wanneer hulle heeltemal uitgerus was. Wat meer is, is dat wanneer ’n tekort aan slaap oor ’n tydperk van etlike nagte voorgekom het, verbindings tussen die “sirene”-gedeelte van die brein, wat die amigdala genoem word, asook die prefrontale korteks – die eiewillige besluitneming-sentrum van die brein – verswak. Dit mag die logiese beheer van ons emosies deur ons wil verminder. Navorsers wat van breinskandering gebruik maak, vind dat slaap die aktiwiteit van die amigdala verswak. Wanneer die ligte afgeskakel word, word die alarmgedeelte van ons brein opnuut gestel. Emosies word reggestel en weer onder beheer geplaas van die logiese, besluitnemende areas van ons brein.

Die meeste van ons het ’n elektroniese toestel wat soms ”hang” of “vries” totdat ons dit afskakel – “die geheue leeggemaak het”. Die brein is netso deur ons Skepper ontwerp met die vermoë om homself van afval-inligting leeg te maak en hierdie proses word versterk deur slaap. In 2013 het navorsers aan die Universiteit van Rochester Mediese Sentrum, skandering gebruik om die verskil tussen slapende en wakker muise waar te neem. Hulle het veral gefokus op serebrospinale vloeistof (CSF), ’n gespesialiseerde vloeistof wat as’t ware as “skok-absorbeerders” dien om die brein en ruggraat binne die benige skedel en werwelkolom te beskerm. Die neurowetenskaplike, Maiken Nedergaard en haar kollegas was verbaas om ’n dramatiese toename in die hoeveelheid CSF in die brein van slapende muise te vind. Die neurale sluise wat die vloei van CSF reguleer, het tydens die slaapperiode wyd oopgegaan en tydens die wakker-periode het dit weer toegegaan. Neurowetenskaplikes sê dat hierdie vloei van CSF na die brein en die daaropvolgende uitspoel van CSF uit die brein en uiteindelik in die bloedsomloopstelsel beland, brein-eroderende gifstowwe soos die proteïen amiloïed-beta skoonmaak. Baie meer van die amiloïed-beta word by muise uit hulle breine gesuiwer wanneer hulle slaap as wanneer hulle wakker is. Ritmes van optimale slaap- en wakkersiklusse is van kritieke belang om die brein van gifstowwe en metaboliese afvalprodukte te suiwer.

 

Rus vir die vermoeides – meer as net ’n fisiese behoefte

Soos wat verskeie ondersteuningsgroepe diegene leer wat met verslawing sukkel, behoort ons ook te probeer om nie té honger, kwaad, eensaam of moeg te word nie [hungry, angry, lonely or tyred] (H.A.L.T.). Dit is nie net tot voordeel van ons fisiese gesondheid en lewe nie. Ons geestelike lewenswandel en lewenskeuses kan ook in gevaar gestel word indien ons nie aandag gee aan ons basiese menslike behoeftes op ’n gedissiplineerde, verantwoordelike manier nie. Sonder voldoende slaap word ons emosies meer intens en kritiese denke verminder.

As gevolg van soveel hindernisse wat die moderne lewe op ons slaap uitoefen, dui statistieke daarop dat baie van ons slaapprobleme sal ervaar. Daar is baie maniere wat ons kan toepas en behoort aan te werk om daardie uitdagings die hoof te bied. Selfs al doen ons dit, gaan baie van ons voort om te sukkel, moontlik met die algemene, ouderdomsverwante afname in kwaliteit van slaap.

God weet dat ons rus nodig het. Jesus Christus, die Rots van Israel, het nie net ons slaap/wakker-siklusse en ons sirkadiese ritmes [wakker en slaapritmes in ’n 24-uur periode] gevorm en geskape nie, in Sy wysheid het Hy elke siklus en ritme geskape wat in die weefsel van die menslike liggaam, verstand en hart ingeweef is. Elkeen van ons is die fyn-beplande werk van ons Skepper se bestendige hande. Deur ’n woord te spreek, het Hy lank gelede menslike longe gevorm om lug in te trek en dit uit te blaas. Hy het gespreek en ons harte geskep om outonoom ritmies te pomp – selfs terwyl ons slaap en rustig onbewus is van wat om ons aangaan. U Skepper het elke aspek van die werklikheid tot stand gebring, selfs u brein waar u drome gesetel is.

 

Ware rus en herstel vir almal

Deesdae sal min mense – indien enige – meer as 40,000 omwentelings van die Aarde beleef voordat hulle in die doodslaap verval en sommige mense sal minder as dit beleef (Psalm 90:10; Hebreërs 9:27). Die dood is 'n toestand waar daar geen hartklop, geen asem, geen drome en geen bewussyn is nie (Prediker 9:10; Psalm 6:5-6; 88:11-12). Al die stroomdienste, sosiale media-plasings, sosiale geregtigheid en stryders oor gelykheid se protes en powere pogings tot blywende betekenis gaan tevergeefs verby (Psalm 115:17). Ten spyte van mites van zombies of onsterflike siele, wanneer ’n mens ter ruste gelê word in die graf of verassingsoond, is ’n mens nie “ondood” nie. Wanneer ’n mens sterf, is jy eenvoudig dood (Prediker 9:5). Die “ligte is afgeskakel”.

Het God ’n plan vir ’n rus wat nié deur die mens en sy vernuftige hedendaagse lewe verontreinig word nie? Wanneer sal ons daardie rus kry? Deur wie sal u wakker gemaak word nadat alles donker geword het?

Jesus Christus en God die Vader het planne vir u (Jeremia 29:11). Hulle beplan om u wakker te maak tot ewige rus (Matthéüs 11:28-29) – ’n rus wat kom en wat geen mens nog beleef het nie (Hebreërs 4:9). Daar is ’n tyd waarvan daar met entoesiasme gepraat word van ’n rus onder die heerskappy van God – ’n heerskappy wat nie sal eindig nie (Daniël 2:44).

U dink waarskynlik daaraan om môre wakker te word en werk toe te gaan. Waarom nie bietjie nadink oor die moontlikheid om vir ewig wakker te word nie (Jakobus 4:14)? U is dit aan uself verskuldig om die Bybel sonder versuim te bestudeer en te verstaan (2 Timótheüs 3:16-17); môre kom dalk vinniger as wat u beplan het (Romeine 13:11).