Waarom die Boek verban wanneer dit net nodig is om die idees daarin te verban? Kanselleer-kultuur is aan die kom vir die Bybel, net een idee op ’n slag.

In ons moderne samelewing van godsdiensvryheid sal niemand dit sekerlik waag om die Skrif te verban nie – of sal hulle?

Die Bybel het ’n kragtige rol gespeel in die vorming van die moderne beskawing. Ongetwyfeld word dit al hoe meer geïgnoreer en baie min mense probéér selfs om die beginsels daarvan volledig en werklik in praktyk toe te pas. Die ware betekenis van die Skrif word deur soveel mense vermy, verwerp en gerasionaliseer. Alhoewel dit onvolmaak nagevolg is, het geen ander boek meer invloed uitgeoefen wat betref die opbou van die moderne beskawing nie. Baie kulture wat die Bybel nog nooit aanvaar het nie, het sommige van die beginsels daarvan indirek aanvaar omdat hulle die idees vanuit die Weste ingevoer het. Die Bybel het ons denkwyses oor ekonomie en finansies, regering, rasseverhoudings, seksuele etiek, gesinstruktuur, individuele verantwoordelikheid, maatskaplike verpligtings en ’n aantal ekstra fasette van ons beskawing, gevorm. Selfs in ons toenemend wêreldlike samelewing, gaan dit voort om ons denkwyses te beїnvloed.

Indien enigiemand dus die beskawing sou wou herstruktureer met die doel om die norms van menslike interaksie en selfbegrip te herskryf, sal hulle die Bybel uit sy posisie van openbare invloed moet verwyder. Selfs al raak ons samelewing egter toenemend onkundig oor die Bybel se woorde, is so ’n taak makliker gesê as gedaan. Met idees wat verweef is in die struktuur van die Westerse kultuur, het tyd getoon dat die Bybel ’n boek is wat moeilik onderdruk kan word.

Daar was natuurlik direkte aanslae. In 1963 het die Hooggeregshof van die V.S. beslis dat die lees van die Bybel in skole, binne godsdienstige verband, ongrondwetlik is. Baie vroeër – gedurende die Middeleeue – het Rooms-Katolieke leiers met die vervolging van mense begin in ’n poging om die vertaling van die Bybel in die algemene tale van die volk te voorkom en het Latyn verkies met die doel om te waak teen diegene wat die skrille kontraste tussen die leer van daardie kerk en die duidelike woorde van die Skrif, sou opmerk.

Ondanks verbodsverklarings en vervolging, bly die Bybel tot vandag toe die mees gedrukte boek ter wêreld. Volgens Wycliffe Bybelvertalers is die hele Bybel sedert Oktober 2020, in 704 tale vertaal.

 

Hoe om ’n Boek wat nie “kanselleerbaar” is nie, te kanselleer

In die grootste deel van die ontwikkelde wêreld is ’n verbod op die wêreld se gewildste Boek ondenkbaar – vir nou, in elk geval. Die skyn van godsdiensvryheid verseker tans dat ’n verbod op die Skrif, die hoogtepunt van godsdienstige onverdraagsaamheid sal wees, selfs in wêreldgesinde kulture waar die Bybel selde gelees word en die waardes daarvan belaglik gemaak word. Op die oomblik sal sensuur van die Skrif vir die meeste beskaafde mense onaanvaarbaar wees.

Nogtans wil selfaangestelde voorstanders van verandering hê dat niks in die pad staan van die veranderings wat hulle in ons wêreld wil aanbring nie. Nie gewilde sentimént nie. Nie lógika nie. Nie Gód nie. Beslís ook nié ’n Boek nie.

“So tree die kanselleer-kultuur” na vore – die populêre term vir die toenemende neiging van die moderne samelewing om self-sensuur toe te pas op individue wat ongewilde of maatskaplik ongunstige standpunte voorstaan. Die kanselleer-kultuur het baie universiteitskampusse vol gif gepomp – plekke wat veronderstel is om rasionele en onpartydige gesprekke aan te moedig waar sprekers toenemend doodgeskreeu word of nie meer uitgenooi word nie op grond van die studente se reaksies. Professore het ook al verlaging in hulle ampte of direkte ontslag in die gesig gestaar omdat hulle standpunte as aanstootlik beskou is. Trouens die kanselleer-kultuur het akteurs, joernaliste, politici, wetenskaplikes, onderwysers en baie ander mense al hulle werk gekos.

Ongetwyfeld betree ons ’n tyd van verbasende gretigheid om inhoud te sensor en te verbied in lande wat tot onlangs toe beskou was as voorbeelde van die waarde van vrye en ongehinderde inligting.

In hierdie onderdrukkende omgewing sien baie mense ’n geleentheid: ’n Mens hoef nie die Bybel self te verban nie – ’n mens hoef slegs die individuele elemente van ’n Bybelse wêreldbeeld uit aanvaarbare openbare gesprekvoering te verwyder. Dit is nie nodig om die Boek te verban, indien die idees wat in die Boek vervat is, net verban kan word nie.

Diegene wat die samelewing na hulle eie beeld wou herstruktureer, het nou aangepas. Kanselleer-kultuur is aan die kom vir die Bybel – stadig maar seker.

 

Kansellering van Bybelse idees oor aborsie

Een Bybelse beginsel wat toenemend aangeval word, is die lewe in die baarmoeder. Die Skrif is duidelik dat menslike lewe nie dierelewe is nie, maar dit is geskep na die Beeld van God (Génesis 1:26). Die bekende Bybelse stelling met betrekking tot afgemete en billike straf vir misdade – “lewe vir lewe, oog vir oog, tand vir tand” – word deur God verklaar in die konteks van ’n man wat ’n swanger vrou beseer en haar ongebore kind, skade berokken of lewensverlies veroorsaak het (Exodus 21:22-25). God praat by verskeie geleenthede van hoe Hy die lewe in die baarmoeder as ’n lewende mens beskou en eїen Homself die persoonlike eer toe vir die skepping van daardie individu (byvoorbeeld Job 31:15; Psalm 139:13-14; Jeremia 1:5).

Diegene wat hou by hierdie Bybelse siening van die lewe in die baarmoeder, vind dit al hoe moeiliker om hierdie siening in die openbaar uit te spreek.

In 2018 het die V.S.-senaatskandidaat, Marsha Blackburn probeer om veldtog-advertensies op Facebook te publiseer wat haar standpunt téén aborsie beklemtoon het. Aanvanklik het Facebook geweier om daardie advertensies te plaas, wat beskuldigings van politieke sensuur tot gevolg gehad het. Facebook het later verskoning gevra en deur amptelike kanale verklaar dat die verwydering van hierdie advertensies ’n fout was. Ander mense het soortgelyke ervarings gehad, maar daar is egter geen verskoning gemaak nie.

Die gewilde “Women’s March” in Washington, DC lok duisende feministe van regoor die Verenigde State om te probeer druk uitoefen vir wat hulle beskou as regte en wetgewing wat tot voordeel van vroue sal wees. Hulle laat egter nie toe dat sómmige feministe ingesluit word nie, naamlik “pro-life” feministe wat glo in ’n Bybelse konsep van kinders in die baarmoeder. Soos die situasie in Januarie 2019 in die Atlantic beskryf is:

Ondersteuners van Pro-life is ook uitgesluit uit die nasionale optog. ’n Aantal self-erkende feministiese groepe wat aangebied het om as borge op te tree en saam met die oorspronklike Women’s March te marsjeer, is wel vanweë hulle standpunte teen aborsie van die amptelike lys van die optog verwyder”.

Soos die artikel in die Atlantic verder beklemtoon, is die uitsluiting ironies, aangesien dit vroue is wat baie van die polities kragtigste Pro-life-organisasies lei. In die oë van die organiseerders van Women’s March, is die noodsaaklikheid om enigiemand te verwerp wat Bybelse beginsels aanhang, sover dit die lewe in die baarmoeder betref, belangriker as alle ander oorwegings – ongeag alle ander “pro-women”-idees waarmee hulle mag saamstem. Vir hierdie mense is die oortuiging van iemand dat die ongebore kind gerespekteer moet word as ’n mens wat na die beeld van God geskape is, rede genoég om iemand as borg van die optog te verwerp.

 

Die kansellering van die Bybel wat betref die skepping

In Maart 2021 het dr. Joshua Swamidass [’n wetenskaplike], ’n kommentaar vir die Wall Street Journal geskryf: “’n Kompromie oor die Skepping A Compromise on Creationism”. Op die oog af het dit gelyk asof ’n ’n hand van vriendskap uitgesteek word na onderwysinstellings wat onderrig dat God lewe geskep het op die planeet Aarde. Van naderby beskou, is dit duidelik die teenoorgestelde. Swamidass beveel aan dat skole wat enige vorm van skeppingsleer onderrig en wat “afwyk van nasionale norme”, die aanwesigheid van sulke instruksies op transkripsie-dokumente en materiaal “baie duidelik” behoort te openbaar om te verseker dat daardie klasse nie toegelaat word om te tel vir erkende grade in die wetenskap nie.

Daar is weliswaar foutiewe teorieë oor die “skeppingsleer” wat Bybelse en wetenskaplike feite ignoreer. Vir meer inligting hieroor, beveel ons ons gratis boekie, EVOLUTION AND CREATION: What Both Sides Miss, aan wat beskikbaar is by enige van die streekkantore wat op bladsy 2 in hierdie tydskrif verskyn. Die uitdrukking “afwyk van nasionale norme” beteken egter dikwels “aanvaar nie evolusie as die oorsprong van lewe nie”.

Baie mense het inderdaad ondervind dat hulle loopbane skade berokken is omdat hulle erken dat daar belangrike wetenskaplike bewyse is vir intelligente ontwerp wat betref die oorsprong en verskeidenheid van lewe – ’n standpunt wat té na aan die Bybel se beskrywing van God is om toegelaat te word om “nie gekanselleer te word nie en te bly voortbestaan”.

Toe dit byvoorbeeld aan die lig gekom het dat die mikrobioloog, Scott Minnich – wat eksperimente gedoen het wat geloofwaardigheid verleen het aan die teorie van intelligente ontwerp – in die hof gaan getuig, het sy kanselier van die universiteit ’n brief opgestel en aan alle fakulteite, personeel en studente gestuur, waarin verklaar word dat slegs evolusie “geskik is om in ons bio-fisiese wetenskappe onderrig te word”. Die brief impliseer dat om van evolusie te verskil slegs moontlik is op grond van filosofiese en godsdienstige oorwegings, wat teenstrydig is met dr. Minnich se eie navorsing en het in effek enige opmerkings wat strydig is met die universiteit se wetenskapklasse, verbied.

Dr Minnich is nouliks alleen. Die bioloog, Richard Sternberg met 2 Ph.D-grade, het professionele vervolging in die gesig gestaar omdat hy die publikasie van ’n portuur-beoordeelde referaat toegelaat het wat ten gunste is van die idee van intelligente ontwerp. Daar is druk uitgeoefen op die vooraanstaande paleontoloog, dr. Günter Bechly, om uit sy museum-amp te bedank – na ’n loopbaan van 17 jaar en ’n groot aantal publikasies – toe hy openbare steun uitgespreek het vir die idee dat wetenskaplike bewyse dui op ’n intelligente oorsprong van lewe. Hierdie en meer verhale is op die webwerf FreeScience.today gedokumenteer. Die tema van al hulle boodskappe is dieselfde: Selfs ’n sweempie van Bybelse idees oor die oorsprong en verskeidenheid van lewe en enige meningsverskil met die evolusieleer is genoeg om gekanselleer te word.

 

Die kansellering van die Bybel op Amazon

Vir ’n geruime tyd kon ’n mens Ryan T. Anderson se 2018-boek When Harry Became Sally: Responding to the Transgender Moment op die webwerf van die wêreldwye magtige handelaar, Amazon, koop. Tog is die boek nou op die webwerf verban. Wanneer ’n mens in ag neem dat Amazon se aandeel in die kleinhandelmark vir e-handel in die Verenigde State met byna 50 persent gestyg het, het so ’n verbod ’n groot invloed op verkope!

In antwoord op navrae deur vier senatore van die V.S. het Amazon verduidelik dat hulle die verkoop van alle boeke wat “LGBTQ+-identiteit as ’n geestesongesteldheid” beskou, verbied. Wanneer ’n mens die boek egter lees, sal dit moeilik wees om so ’n stelling van die skrywer daarin te vind. Anderson fokus wel baie direk op die vraag oor hoe diegene wat verward is oor hulle geslag, die beste gehelp kan word en sy argument is dat studies toon dat liggaamsveranderende operasies en ’n lewe van hormoonbehandelings, negatiewe resultate tot gevolg het. In die besonder word daar in die boek betoog teen die “verandering” van kinders op hierdie manier, veral omdat geslagsverwarring dikwels vanself opgelos word namate kinders ouer word – trouens, skattings van die aantal kinders wat “geslagsdisforie” ervaar en dit uiteindelik bloot ontgroei sonder ingryping van enige aard, kan wissel van 80 tot 95 persent.

Die Bybelse leerstelling van Jesus Christus dat God hulle van die begin van die skepping af “man en vrou gemaak het” (Markus 10:6; vergelyk Génesis 1:27) is egter ’n gesogte teiken op die lys van diegene wat die samelewing wil herskep. Voorstelle dat, in plaas daarvan om ’n aspek van die skepping te wees wat aktief deur God beplan is as ’n inherente en binêre deel van ons ontwerp, bestaan “seks” en “geslag” op ’n “spektrum” as vloeibare eienskappe. Volgens hulle staan dit die mensdom vry om die heersende leerstellings te herdefinieer soos wat dit hulle pas en die Bybelse leerstellings verhoed dit. Dus, of dit gesteun word deur wetenskaplike studies of nie, word daardie leerstellings toenemend uit die mark van idees verwyder en in Amazon se geval, letterlik uit ons markte.

 

Die kansellering van die Bybel in die Amerikaanse Kongres

Buiten die private en korporatiewe sfeer, het die strewe om die Bybel te kanselleer ons regeringstelsels binnegedring. Deur die jare heen het die stryd om selfs die geringste beduidenis van die Bybel binne regeringsverband te kanselleer, in intensiteit toegeneem, uitgebrei en het dit baie duideliker geword.

In Januarie 2021 het die V.S. se Huis van Verteenwoordigers sy grondwet verander om “alle geslagsidentiteite te respekteer deur voornaamwoorde en familie-verhoudings in die Huis van Verteenwoordigers se reëls te verander om geslagsneutraal te wees” met die doel om te verseker dat hierdie Huisreëls en Handleiding nie meer terme soos vader, moeder, seun of dogter, gebruik nie. Terwyl die Huis op 25 Februarie die uitbreiding van die Wet op Burgerregte van 1964 bespreek het sodat dit “seksuele oriëntasie” en “geslagsidentiteit” insluit, het Verteenwoordiger, Greg Steube van Florida, Deuteronómium 22:5 voorgelees wat handel oor God se begeerte om onderskeid tussen mans en vrouens te handhaaf. Verteenwoordiger Jerry Nadler het geantwoord, “Meneer Steube, enigiets wat godsdienstige tradisie beskryf as die wil van God, het niks met hierdie Kongres te doen nie”.

Die Eerste Wysiging van die V.S. se Grondwet betoog natuurlik lank reeds dat die Amerikaanse regering geen reg het om ’n nasionale godsdiens te vestig nie. Om die waarheid te sê, sal jarelange lesers van hierdie tydskrif ons skeptisisme begryp wat betref die vermoë van enige wêreldse regering om die Skrif behoorlik te verstaan. Die verklaring van Verteenwoordiger Nadler is nogtans ’n vermetele verklaring dat die Bybel en die wil van God geen plek in die regeringsale het nie.

Dalk het ’n meer dramatiese illustrasie van die toenemende begeerte om Bybelse begrippe uit die regering uit te sluit in 2018 na vore gekom met die V.S.-senaatsbevestiging van die destydse genomineerde minister van buitelandse sake, Mike Pompeo. Aangespoor deur opmerkings wat mnr. Pompeo in 2015 gelewer het toe die Amerikaanse hooggeregshof “huwelike” van dieselfde geslag gewettig het, het senator Cory Booker die genomineerde gepeper met vrae oor sy siening van homoseksualiteit en gevra: “Is homoseksualiteit ’n perversiteit?” en “Glo u dat homoseksuele seks onnatuurlik is, ja of nee?” In 2019 het senator Booker vir ’n genomineerde kandidaat vir die D.C. Circuit Court, gevra: “Is homoseksuele-verhoudings na u mening immoreel?” en “glo u dat dit ’n sonde is?” In ’n nasie wie se Grondwet, godsdienstige toetsing verbied vir diegene wat in ’n openbare amp wil dien, was hierdie ondervraging vir sommige mense kommerwekkend – maar was tog deur ander beskou as die “regte besluit”.

Dit lyk asof baie mense hulle daarvoor beywer om ’n wêreld te skep waarin die leerstellings van die Bybel nie net buite die regeringsale gehou word nie, maar selfs ook uit die persoonlike geloof van diegene wat daar dien.

 

Die gevolge van die kansellasie van die Bybel

Die meeste mense wat probeer om die leerstellings van die Bybel uit openbare gesprekke te verban, probeer nie werklik om die wêreld te verwoes of om die beskawing te vernietig nie. Baie van hulle het hulle eie siening van ’n billike, regverdige en “goeie” samelewing en hulle beskou die Skrif bloot as ’n struikelblok vir hulle strewe.

Sulke drome is in werklikheid misleidings. Alhoewel die Bybel se leerstellings selde volledig deur enige volk aangeneem is, bly dit ’n feit dat baie van die burgerlike samelewing se fondamente inderdaad gebou is op beginsels wat in die Skrif gevind word. Hoe onvolmaak dit ook al toegepas word, is hierdie beginsels die kern van wat ons moderne wêreld beskaafd, veilig en verstandig maak.

Ons draai ons rug op die Bybel tot ons eie nadeel en op ons eie risiko.

Die filosoof, Friedrich Nietzsche, word dalk veral onthou vir sy welbekende verklaring: “God is dood!” Hierdie drie woorde het Nietzsche dikwels ’n gewilde man in ateïstiese kringe gemaak en die filosoof het beslis sélf nie in God geglo nie. Die konteks van sy beroemde verklaring word egter dikwels misgekyk en sy waarnemings van wat dit beteken om in ’n wêreld sonder God te leef, is noemenswaardig. Nietzsche het erken dat die beskawing sonder God objektiewe moraliteit en sin van die lewe verloor. Die vele waardes en sedes wat die beskaafde lewe moontlik maak, soos eerlikheid, barmhartigheid, medelye en onselfsugtigheid het glad nie meer enige basis om as “waardes” of “sedes” beskou te word nie. Die resultaat is nihilisme – die idee dat die hele bestaan sinneloos, betekenisloos en nutteloos is.

Nietzsche het die koms van nihilisme verwelkom omdat hy net soos die selfaangestelde maatskaplike manipuleerders van ons tyd, gevoel het dat dit oorkom kan word en die mensdom sonder God op die een of ander manier sou ontdek hoe om hulle waardes so te herdefinieer dat hulle hul uiteindelike potensiaal sal bereik.

Natuurlik het Nietzsche nooit sy projek om alle waardes te herdefinieer, afgehandel nie, want dit is ’n tevergeefse poging. Die oomblik wat ons besluit dat ons beter weet as God – dat ons Hom nie nodig het om die “ware” waardes van die wêreld te bepaal nie, bevind ons onsself ankerloos in chaos gedompel. Daar bestaan geen fantasie-utopie aan die anderkant van nihilisme wanneer die God van die Bybel verwerp word nie. Daar is slegs ’n wrede wêreld van sinnelose, wedywerende diere wat elkeen net wil oorleef.

Die apostel Paulus het profeties oor sulke tye gepraat in een van sy briewe aan die jong evangelis, Timótheüs:

“MAAR weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Timótheüs 3:1-5).

Kan ons aan onsself erken hoe hierdie wêreld rondom ons besig is om te ontwikkel? Brutaal. Godslasterlik. Onvergewensgesind. Sonder selfbeheersing. Gefokus op die self en op plesier. Met ’n vorm van werklike godsaligheid – godsdiensagtige passie en ywer – maar wat die krag van ware Godsaligheid ontken.

Paulus se profesie is ’n weerspieëling van ons toenemend Bybellose wêreld. ’n Hele aantal nuwe ideologieë, soos identiteitspolitiek, klimaatsverandering, maatskaplike en ekonomiese herontwerp, seksuele en geslags-anargie en kritiese rasseteorie, is gereed om te dien as nuwe godsdienste en gretig om die yweriges aan te gryp. Intussen breek chaos toenemend in ons stedelike gebiede uit en dit lyk asof ons medeburgers bereid is om hulle bure as weinig meer as diere te beskou – bloot weens verskillende menings oor ’n bepaalde politikus of die doeltreffendheid van entstowwe.

Ons word stamgebonde en wreed. Net soos Alfred Tennyson die natuur beskryf het, so word die wêreld van die mens ook “barbaars en genadeloos” – omdat mens nie die Woord van God uit die beskawing kan verban sonder enige gevolge nie.

 

Die kansellering wat gaan kom en daarna ’n periode van herstel!

Gelukkig sal al sulke pogings op die ou einde nie die oorhand kry nie. Die Bybel sal nie permanent verban word nie omdat God die Almagtige se stem nie stilgemaak sal word nie. Jesus Christus het voorspel dat, namate Sy Wederkoms naderkom, Sy boodskap oor die toekomstige Koninkryk van God, deur die hele wêreld verkondig sal word (Matthéüs 24:14). Hierdie boodskap behels nie net die goeie nuus van Sy Wederkoms nie, maar ook die waarskuwing dat die weë en wêreldbeskouings van hierdie “verkeerde geslag” (Handelinge 2:40) by Sy aankoms oorwin sal word deur objektiewe waarhede, Bybelse moraliteit en ’n hernude eerbied vir die dinge van God.

Dit beteken nie dat die prediking van daardie boodskap aan die wêreld altyd vlot sal verloop nie. Nét die teenoorgestelde! Terwyl ons tans verset sien teen die boodskap van die Bybel vanuit baie wêreldse oorde, sal die tyd aanbreek wanneer die sterkste weerstand, godsdienstig van aard sal wees – dit sal voortspruit uit ’n staatsgoedgekeurde weergawe van “Christelikheid” wat die hele wêreld onder sy heerskappy sal hê.

Die apostel Johannes skryf oor hierdie wêreldwye godsdienstige mag en sy onheilige vereniging met politieke, ekonomiese en militêre magte. In ’n droombeeld van daardie toekoms – ons toekoms – het Johannes gesien hoe hierdie wêreldwye – godsdienstige en politieke entiteite “groot woorde en godslasteringe” sal spreek teen die ware God en “oorlog te voer” teen diegene wat die waarhede van die Bybel leef en leer (Openbaring 13:5-7).

Namate daardie tyd nader kom, kan diegene wat die Waarheid van die Bybel wil verkondig, toenemend beskou word as misdadigers en sal dan begryp wat die apostel Petrus verkondig het met betrekking tot wanneer verpligtings teenoor God en die wette van die mens in konflik met mekaar kom: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Handelinge 5:29).

Nee, Jesus Christus sal nie onder sensuur geplaas word nie – nie deur wêreldse dwepers wat enige bespreking wil stopsit wat in stryd is met hulle misleidende wêreldbeskouings nie en nie deur godsdienstige invloedrykes wat almal wil verpletter wat dit sou waag om hulle korrupsie van die ware Christelike geloof bloot te lê nie. Soos in die eerste eeu toe Christus se toenemende aantal volgelinge te staan gekom het voor toenemende verset van regerings en heersers, wat ongemaklik geraak het toe gepraat is van “geregtigheid en selfbeheersing en die toekomstige oordeel” (Handelinge 24:25) – kan struikelblokke oor regulasies, wette en beperkings op die pad van die Evangelie van die Koninkryk van God voorkom. Die Boodskap sal egter uitgaan.

Die kansellasie van die Bybel is werklik ’n subtiele kuns, waarin baie magte in hierdie wêreld uitblink as onbewuste pionne van die duiwel. Uiteindelik sal die Woord van God egter nie gekanselleer word nie en sal die stem van God nie stilgemaak word nie. Al wat ons vir u kan sê, geagte lesers, is om voort te gaan om hierdie tydskrif dop te hou vir die bewys daarvan.