Die 21ste eeu het begin met 'n godsdiensoplewing wat baie wêreldleiers en geleerdes verbaas het. Fundamentalistiese godsdiensbewegings versprei in Afrika, China, Rusland en Suid-Amerika. Die Pous praat daarvan om Europa te “her-evangeliseer”. In Noord-Amerika floreer “terug-na-die-Bybel” kerke terwyl liberale “hoofstroomkerke” baie lidmate verloor. Voorstanders van Intelligente Ontwerp staan evolusioniste in die klaskamers en howe teë. Dit alles veroorsaak deesdae opgewondenheid onder talle Bybel-gelowiges. Die Bybel sê egter dat daar 'n “honger om God se Woord te hoor” sal wees wanneer ons die einde van hierdie tyd nader. Hoe kan dit moontlik wees wanneer ons terselfdertyd 'n godsdiensoplewing beleef? Die antwoord is te vinde in wat die Bybel omtrent godsdiens aan die einde van hierdie tydvak onthul—in profesieë wat vandag gestalte aanneem!

Eindtydse geestelike honger

God het die profeet Amos geïnspireer om te skryf: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek 'n honger in die land stuur, nie 'n honger na brood nie en nie 'n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor. En hulle sal swerwe van see tot see en rondslinger van noord na oos, om na die woord van die HERE te soek, maar hulle sal dit nie vind nie” (Amos 8:11-12). Hierdie profesieë verwys na 'n tyd wanneer “die einde vir my volk Israel gekom [het]” (Amos 8:2), en dit het 'n tweeledige toepassing op die antieke volk Israel sowel as op die hedendaagse nasies wat die afstammelinge van antieke Israel is. 'n “Honger” om die waarheid te hoor vind plaas wanneer die nasies van Israel oorgeneem word deur 'n vreemde mag wat die verkondiging en beoefening van die ware Bybelse geloof verbied. Dit het in ongeveer 720 n.C. gebeur toe die Assiriërs die noordelike tien stamme van Israel in gevangenskap weggevoer het. Dit gaan weer gedurende die Groot Verdrukking gebeur, wanneer die moderne nageslagte van antieke Israel gestraf gaan word vir hul sondes (Mattheus 24:9; Hosea 5:5; Jeremia 22:5-9).

Die profeet Daniël verduidelik hoe hierdie “honger” om die waarheid te hoor in die laaste dae sal plaasvind. Daniël het in 'n visioen gesien hoe 'n “klein horinkie” die laaste sewe herlewings van die Romeinse Ryk oorheers (die vierde dier; sien Daniël 7:7-8, 19-20). Hierdie klein horinkie sal 'n prominente godsdiensfiguur (en sy kerk) wees, wat godslasterlike leerstellings onderrig wat die Skrif weerspreek. Hierdie “horing” sal dit ten doel hê om die kalender van godsdiensvieringe te verander en sal diegene vervolg wat die Skrif navolg (Daniël 7:21, 24-25).

Die geskiedenis getuig van die biskoppe van Rome wat voorgesit het in rade waar die weeklikse dag van aanbidding op die Bybelse Sabbat (die dag wat deur Jesus, Sy dissipels en die Christene van die apostoliese era onderhou is; sien Lukas 4:16; Handelinge 13:42-44; 16:11-13; 17:2) na Sondag verander het. Heidense sonaanbidders het reeds Sondag onderhou; een van die redenasies vir die verandering was dat dit dit vir heidene makliker sou maak om na hierdie nuwe vorm van “Christelikheid” om te skakel. Op soortgelyke wyse is die Bybelse Pasga vervang met “Paasfees [Easter]” en is die wintersonstilstand feesvieringe [in die Noordelike Halfrond] “gekersten” om die heidene in die skoot te trek. Die Romeinse wet het hierdie kerklike besluite om onbybelse leerstellings en praktyke in die naam van “Christelikheid” te aanvaar, ondersteun. Die pousdom het Sondag die afgelope aantal jare as dag van aanbidding herbeklemtoon, en daarop aangedring dat Europese wette wat Sondag as vakansiedag vaslê, in gebruik gestel word. Sulke wette kan in die toekoms gebruik word om die onderhouding van die Bybelse Sabbat daadwerklik te ontmoedig en die eenvormige onderhouding van Sondag te bevorder.

Daniël het 'n visioen van 'n ander “klein horing” gesien wat sal veroorsaak dat die daaglikse offerande in die tempel in Jerusalem gestaak sal word en “dit het die waarheid op die grond neergewerp” (Daniël 8:8-14). Hierdie tweeledige profesie is aanvanklik in 168 v.C. vervul deur Antiochus Epiphanes toe hy Jerusalem verwoes het en 'n standbeeld van Zeus in die Tempel opgerig en varkbloed op die altaar geoffer het—'n groot belediging vir die Joodse volk. Antiochus het druk op die Joodse priesters geplaas om hul godsdienspraktyke aan te pas en 'n proses van Hellenisasie te aanvaar. Die Expositor's Bible Commentary maak die stelling dat Antiochus se dade 'n voorskadu is van “'n vasbeslote poging wat deur 'n genadelose diktator gemaak gaan word om die Bybelse geloof totaal te onderdruk” aan die einde van hierdie tydvak, wat sal probeer om godsdienseenheid te bewerkstellig (kommentaar oor Daniël 8:11-12).

In nog 'n ander visioen voorspel Daniël dat 'n magtige eindtydse leier wat bande met 'n herleefde Romeinse stelsel het, 'n sewejaar verbond gaan sluit wat die Jode aanvanklik sal toelaat om offerandes te hervat “en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou” (Daniël 9:26-27). Hierdie verbond sal begin as 'n teken van godsdiensverdraagsaamheid, maar na drie-en-'n-half jaar word “alle skyn van godsdiens-verdraagsaamheid laat vaar”, omdat hierdie leier poog om eenvormigheid met 'n korrupte godsdiens af te dwing (Expositor's Bible Commentary). Hierdie invloedryke eindtydse godsdiensleier en sy pogings om ware Bybelse godsdiens te versmoor en te vernietig, hou duidelik verband met die optredes van vals leraars aan die einde van hierdie tyd (Daniël 12:11; Mattheus 24:3, 11, 15; Openbaring 17:1-5).

Wesenlike profesieë

Die Nuwe Testament bied bykomende insig oor eindtydse gebeure wat sal bydra tot “'n honger... om die woorde van die HERE te hoor”. Jesus sê dat in die jare net voor Sy Wederkoms “baie onder my Naam [sal] kom... en hulle sal baie mense mislei” (Mattheus 24:5). Vals leraars sal 'n ander Jesus en 'n ander evangelie verkondig wat die Skrif weerspreek (2 Korintiërs 11:1-4). Moenie mislei word deur hierdie vals Jesus en ander evangelie nie! Onthou: Jesus, Sy Apostels en die Kerk wat Hy gestig het, het 'n Saterdagse Sabbat en die Bybelse Heilige Dae onderhou. Historiese bronne en die Bybelse weergawe wys dat Jesus nie op 25 Desember gebore is nie. Die Bybel sê dat niemand behalwe Jesus hemel toe gegaan het nie (Handelinge 2:29, 34; Johannes 3:13). Mense is nie geskape om hemel toe te gaan en op wolke te sit en harp speel nie, maar om in die komende Koninkryk van God saam met Jesus Christus op hierdie aarde te regeer (Mattheus 19:28; Openbaring 1:6; 5:10; Daniël 2:44-45; 7:27). Hierdie feitelike Bybelse inligting sal aan die einde van hierdie tydvak onderdruk word omdat dit bots met die tradisionele leringe wat deur die wêreldoorheersende godsdiensstelsel van die tyd voorgestaan sal word.
Die Bybel wys dat namate ons die einde van hierdie tyd nader, daar 'n toename in militante godsdiensbedrywighede sal wees (Openbaring 6:1-2). In die laaste dae sal mense “'n gedaante van godsaligheid” hê, maar dit sal nie stewig op die Skrif gebaseer wees nie (2 Timotheus 3:1-5; 4:1-4). 'n Invloedryke godsdiensfiguur sal van bonatuurlike kragte gebruik maak om mense te mislei om leuens te glo en sal die waarheid onderdruk (2 Thessalonicense 2:1-12). Vals leraars sal “verderflike ketterye heimlik invoer” en 'n bespotting maak van Bybelse leerstellings en boos praat van die waarheid, terwyl hulle die Skrif verdraai om hul verkeerde idees te steun (2 Petrus 2:1-3; 3:1-18). Hierdie klimaat van openbare mening wat krities en afwysend van ware Bybelse Christelikheid is, is vandag aan die ontwikkel en sal 'n klimaks bereik in 'n poging om ware Bybelse lering te vernietig—'n poging wat gelei sal word deur 'n magtige godsdiensfiguur wat bande met 'n herleefde Romeinse stelsel in Europa het. Dit is van uiterste belang dat ons verstaan waarheen hedendaagse wêreldgebeure lei en dat ons “die HERE [soek] terwyl Hy nog te vinde is” (Jesaja 55:6) omdat daar 'n tydperk van duisternis kom (Johannes 9:4)—en daarmee saam kom “'n honger... om die woorde van die HERE te hoor.”