Bykans 2,000 jaar gelede het Jesus se dissipels Hom gevra wat die tekens van Sy wederkoms en die einde van hierdie eeu sal wees. Watter tekens en profetiese verloop van gebeure het Jesus in Sy antwoord vermeld? Ons moet weet wat die Bybel sê!


Deur die eeue, het baie mense voorspellings gemaak en datums gewaag in afwagting op Jesus Christus se Wederkoms. Tot dusver het almal misluk, maar beteken dit dat Jesus nie sal terug keer nie? Mense het vals profesieë geglo sedert Adam en Eva, maar Bybelprofesie is keer op keer geldig bewys! Die apostel Petrus was getuie van vervulde profesie toe hy die herrese Christus wie vir drie dae en drie nagte in die graf was gesien het. Petrus skryf: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif ’n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Petrus 1:19-21).

Talle gedeeltes in beide die Ou en Nuwe Testamente voorspel Jesus Christus se Wederkoms. Kyk na wat Jesus Self sê: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Johannes 14:1-3).

Waarom glo so baie mense nie Jesus se eie woorde nie? Hy sê dat Hy weer sal kom. Die profeet Sagaria vertel ons selfs waarheen Hy sal terug keer: “En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ’n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide” (Sagaria 14:4).

Die Olyfberg is net oos van die Tempelberg in Jerusalem. Op die suidoostelike hang is ’n ou pad wat na die dorpie Betanië lei. Jesus het daar tyd deurgebring met Maria, Martha, Lasarus en Sy dissipels. Ek en my vrou het daardie selfde pad vanaf Betanië na die Olyfberg gestap. Dit het ons sowat ’n halfuur geneem.

Wanneer Jesus terugkeer na die Olyfberg, sal daar ’n ontsaglike aardbewing wees, en die berg sal in twee skeur. Let op die bepaalde tyd. “Kyk, daar kom ’n dag vir die HERE; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem! Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem” (Sagaria 14:1-2). Die wêreld se leërs sal by Megiddo saamtrek en aftrek na Jerusalem om teen Christus te veg met Sy Wederkoms. Openbaring 16:14 noem dit “Die oorlog van daardie groot dag van die Almagtige God” – meer algemeen bekend as “Armageddon”.

Die boek Handelinge bevestig ook die Wederkoms. In Handelinge 1 aanskou die dissipels Jesus se hemelvaart. “En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle, wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het. Daarop draai hulle om na Jerusalem van die berg af wat genoem word Olyfberg, wat naby Jerusalem is, ’n sabbatsreis ver” (Handelinge 1:10-12).

Hier het ons drie duidelike skrifverwysings na die Wederkoms van Christus gesien – en daar is vele meer. Onthou die aankondiging van die sewende basuin: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Let ook op hierdie gedeelte uit Openbaring 19: “En Hy was bekleed met ’n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here” (Openbaring 19:13-16).

Jesus sê dat, vals gelowe, vals tekens en wonders wat baie mense sal mislei, Sy Wederkoms sal voorafgaan. Hy maak hierdie stelling: “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Mattheus 24:24). Daar sal kragtige godsdiensmisleidings wees. Nie net ’n paar mense nie, maar baie, sal deur vals godsdiens en selfs deur ’n vals Christendom mislei word.

Is u mislei?

Hoe kan u weet wat die waarheid is en wat nie? U behoort ons – en alle leraars – te toets deur u Bybel te lees! In gebed tot die Vader sê Jesus: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Johannes 17:17). God se Woord, die Bybel, is die waarheid. Baie mense aanvaar goedsmoeds dat hul leraar of priester uit die Bybel preek, maar baie leerstellings wat algemeen “as vanselfsprekend aanvaar word” is nie in u Bybel nie! U moet aan uself bewys wat die Bybel sê. Onthou: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21).

U hoef nie mislei te wees nie. Jesus self het die profetiese tekens en verloop van gebeure gegee wat Sy Wederkoms sal voorafgaan. U moet desnoods weet wat dit is. Een van die tekens wat Christus se Wederkoms voorafgaan is die totstandkoming van ’n groot vals geloof met baie mag. U kan in Openbaring 17 van hierdie stelsel, genoem “Die Groot Hoer” lees. Die vals profeet waarvan die apostel Paulus gepraat het, sal hierdie stelsel lei. U kan in 2 Thessalonicense 2:3 van die “man van sonde” lees. Vir verdere inligting, kan u inskryf vir u gratis eksemplaar van ons boekie, Wie of wat is die Antichris?

Nog ’n bepaalde teken waarvoor Jesus sê ons moet voor uitkyk is die toekomstige ontheiliging van die heilige plek in Jerusalem. Slaan Mattheus 24:15 in u Bybel na. Dit is belangrik! Jesus sê: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug” (Mattheus 24:15-16). Let daarop dat die groot vals profeet, die man van sonde, die tempel van God sal ontheilig. Hierdie “gruwel van verwoesting” is een van die tekens wat Jesus sê Sy Wederkoms sal voorafgaan.

Watter ander tekens sal die Wederkoms voorafgaan? Jesus waarsku ons in Mattheus 24:7 dat daar “aardbewings op verskillende plekke” sal wees. Miskien voel u veilig omdat u stad of omgewing nie ’n geskiedenis van aardbewings het nie. In ’n voorbladartikel van ’n Time-tydskrif herinner skrywer George J. Church ons: “Aardbewings is onvoorspelbaar. Hulle slaan bykans sonder uitsondering toe op tye en plekke waar niemand dit verwag nie, en geen skudding is presies dieselfde as ’n ander nie” (30 Januarie 1995).

Hoe kragtig kan aardbewings wees? Die geskiedkundige Mississippivallei aardbewing op 16 Desember 1811 naby Niew Madrid, Missouri, het as’t ware die loop van die Mississippirivier omgekeer! Die reeks skuddings het na raming ’n omvang van 8.6, 8.4 en 8.8 onderskeidelik gehad. Soos die Time Almanak 2001 sê: “Sover bekend is dit die grootste reeks aardbewings nog wat in Noord Amerika voorgekom het” (bl. 614).

Sal daar selfs ernstiger aardbewings in die toekoms wees? Openbaring meld verskeie aardbewings. Na twee en ’n half jaar van die Groot Verdrukking waarvan Jesus in die Olyfbergprofesie praat, lei die sesde seël van Openbaring die Dag van die Here in. Ek hoop u kan die onderwerp met behulp van ons audiokassette en artikels bestudeer. Blaai in u Bybel na Openbaring 6:12. Hier word die sesde seël, oftewel die hemelse tekens beskryf. Let op wat gebeur. “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed” (Openbaring 6:12).

Hierdie aardbewing tesame met die ruimte verskynsels lei die Dag van die Here in – die jaar wat Christus se Wederkoms voorafgaan. “En die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:13-17). Ja, die aarde sal in wanorde wees gedurende die Dag van die Here, hier beskryf as: “Die groot dag van Sy toorn”. Hierdie sal ’n tyd van God se oordeel oor die nasies wees.

Nog ’n belangrike neiging op ons veranderende planeet is die vooruitsig van toenemende vulkaniese uitbarstings. Een tydskrif het ’n glansartikel getitel, “Vulkane met ’n houding” gepubliseer (Time, 24 Februarie 1997). Die artikel beklemtoon verskeie gevaarpunte byvoorbeeld Berg Pinatubo in die Filippynse Eilande, “El Popo” (Berg Popocatepetl) naby Mexiko stad, Berg Rainier in die staat Washington, die Indonesiese ketting van minstens 127 aktiewe vulkane en Italië se Vesuvius wat in 1631 verwoesting gesaai het. Honderde vulkane is gegroepeer om die welbekende “Ring van Vuur,” ’n tektonies aktiewe streek om die Stille Oseaan. Sal hierdie vulkane bloot uitsterf of sal hulle aktief word tot die punt waar hulle ons hele omgewing ontwrig? Die Time artikel haal die hoofwetenskaplike van die Amerikaanse Geologiese Vereniging se Vulkaangevaarprogram, Robert Tilling aan. Hy waarsku: “Eendag sal een van hierdie berge op ’n groter skaal uitbars as wat die mensdom nog ooit aanskou het”. Dit klink beslis apokalipties.

God se waarskuwing

Let op wat God sê met die aarde en die hemel gaan gebeur. Die skrywer van Hebreërs gelas: “Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ’n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek. Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe. En hierdie woord: nog een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly. Daarom, omdat ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ’n verterende vuur” (Hebreërs 12:25-29).

Ons Vader in die Hemel wil net die beste vir elkeen van ons hê. Hy gee die vleeslike mens 6,000 jaar – en vir elkeen van ons afsonderlik ’n leeftyd – om te leer. As ons op God se waarskuwings agslaan, kan ons die aakligste oordele vryspring wat nog op die Westerse nasies en uiteindelik die hele wêreld, voltrek sal word.

Nog ’n neiging waaroor die Bybel ons waarsku, is droogte. Wêreldtemperature skommel drasties. Meer as 10,000 mense het verlede somer in Frankryk gesterf as gevolg van ’n ongekende hittegolf. Sal ons verlengde droogtes in die Verenigde State, Kanada, Groot Brittanje, Australië en Nieu-Seeland sien? Tensy ons onsself heelhartig tot God wend, sal ons swaar gestraf word. God, die Skepper, gee hierdie waarskuwing deur die profeet Amos: “Alhoewel Ék die reën van julle teruggehou het toe dit nog drie maande voor die oestyd was en op die een stad laat reën maar op die ander nie laat reën het nie, die een stuk land reën gekry het, maar die ander waarop geen reën geval het nie, verdor het; en twee, drie stede na een stad geslinger het om water te drink sonder om die dors te les – nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE” (Amos 4:7-8).

Ongelooflik soos dit mag blyk, leer sommige kerkgenootskappe nou dat die “laaste dae” waarna die Skrif verwys “twee jaar, tweeduisend jaar of tweemiljoen jaar” kan duur. Dikwels is die bedoeling: “Moenie Bybelprofesie bestudeer nie, dis net ’n afleiding”. Sulke stellings ignoreer die blote bevele van ons Saligmaker. Net nadat Christus praat oor Sy Wederkoms, sê Hy die volgende: “En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur”. Jesus beveel al sy ware volgelinge om kennis te dra van hierdie tekens. Hy het gesê: “Wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur” (Mattheus 24:32-33).

Ja, daar was nog altyd spotters, maar noú is die tyd om wakker te word en ag te slaan op wat in die wêreld aangaan. God het met die profeet Eségiël gepraat oor die twyfelaars en spotters. “Mensekind, wat is dit vir ’n spreekwoord wat julle het in die land van Israel, naamlik: Die dae gaan voort, en van al die gesigte kom niks nie” (Eségiël 12:22). Wat sê God van die mens se ongelowigheid? “Daarom, sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Ek maak ’n einde aan hierdie spreekwoord, sodat hulle dit nie meer as spreekwoord in Israel sal gebruik nie. Maar sê vir hulle: Die dae is naby, en die woord van elke gesig” (Eségiël 12:23).

Die tyd kom dat God meer dramaties as ooit tevore tussenbeide sal tree. Wetenskaplikes, staatsmanne en wêreldleiers het ons gewaarsku teen die baie gevare wat lewe op aarde kan beëindig. Daardie waarskuwings het nie van godsdienstige mense gekom nie, maar van deskundiges wat vertroud is met die werklikhede van ons moderne wapentuig van massa verwoesting en die geskiedenis van die mens se aard. Die belangrikste waarskuwing kom egter van die Saligmaker van die wêreld, Jesus Christus. Hy sê: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheus 24:21-22).

Dank God dat daardie dae verkort sal word. Jesus Christus sal terugkeer om die mensdom van selfvernietiging te red. Hy sal die Koninkryk van God op aarde binnelei. Alle nasies sal uiteindelik die ware weg na blywende vrede, voorspoed en versoening aanleer. Jesus beveel ons: “Waak dan en bid altyddeur” (Lukas 21:36). Mag ons almal geestelik paraat wees vir die tekens van die Wederkoms. Dan kan ons met vertroue, hoop en geloof na die Wederkoms uitsien. Dank God dat Sy Koninkryk kom. Dank God dat Jesus Christus eersdaags sal terugkeer om ons te red!