Van die begin van die mensdom se geskiedenis af, het ons nie van reëls gehou nie. Ons mislei onsself dikwels, nie deur te sê ’n reël is sleg nie, maar deur onsself te oortuig dat ons ’n uitsondering op die reël is.

In 1 Samuel 13 lees ons dat Saul geweet het dit was verkeerd om sonder Samuel se teenwoordigheid offers aan God te bring, maar hy het dit nogtans gedoen, omdat dit “spesiale omstandighede” was. Dwarsdeur die Bybel lees ons van talle voorbeelde van mense wat God se Wette verbreek het, omdat hulle in hulle harte gevoel het dat hulle situasie ’n “uitsondering” op die reël was.

Dit is menslike natuur om te voel dat ons “spesiaal” is – dat ons op die een of ander manier verdien dat dinge gebeur soos ons dit wil hê, maak nie saak watter struikelblokke ons dalk in die gesig staar nie. Eie-wil is ’n sterk krag en kan ons vir die werklikheid van ons omstandighede verblind, dus het God die profeet Jeremia geïnspireer om te skryf: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit” (Jeremia 17:9). God weet dat die menslike hart, wat besluite sonder die hulp van God se Gees neem, vinnig is om ons te verlei om die verbreking van reëls te regverdig deur onsself te oortuig dat ons situasie ’n uitsondering is.

Hoe is dit van toepassing op myself en op u?

Die grondbeginsels

Terwyl God met die Israeliete gewerk het, het Hy hulle geleer om die basiese reëls, wat die Tien Gebooie genoem word, te gehoorsaam. Daardie reëls het ’n tweeledige doel. Eerstens leer dit ons om God lief te hê en te eer. Tweedens, wanneer dit gehoorsaam word, bewerkstellig dit eensgesindheid tussen ons en ons naaste.

Ja, “wanneer dit gehoorsaam word”. Dit is insiggewend om daarop te let dat die Israeliete, byna onmiddellik nadat hulle daardie reëls ontvang het, in ’n situasie verval het wat ons onderwerp illustreer. Die Eerste Gebod het aan die Israeliete geleer om geen ander gode voor die ware God te hê nie. Die Tweede Gebod het hulle verbied om enige uitgekapte of gesnede beeld te maak om God daardeur te aanbid. Binne enkele dae het hulle nogtans albei reëls oortee deur ’n “uitsondering” te verklaar. Moses het op die Berg Sinai geklim om die kliptafels van God te ontvang. Die Skrif deel ons mee wat volgende gebeur het: “Toe die volk sien dat Moses vertoef om van die berg af te kom, het die volk rondom Aäron versamel en vir hom gesê: Kom, maak vir ons gode wat voor ons uit trek; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie. En Aäron sê vir hulle: Ruk die goue ringe af wat aan die ore van julle vroue, julle seuns en julle dogters is, en bring dit vir my. Toe het die hele volk die goue ringe afgeruk wat aan hulle ore was, en dit na Aäron gebring. En hy het dit uit hulle hand geneem en dit met die beitel bewerk en daar ’n gegote kalf van gemaak. Daarop sê hulle: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het” (Exodus 32:1-4).

Hulle het nie gesê dat die eerste of tweede gebooie sleg of verkeerd is nie, hulle het net gesê hulle het ’n “spesiale situasie”. Hulle het nie gesê dat hulle God nie wil liefhê nie. Inteendeel, hulle het aangeneem dat wat hulle gedoen het ’n manier was om liefde teenoor God te betoon! Hulle het eenvoudig die beeld van die kalf gebruik om God duideliker te “visualiseer”. In vers 5 lees ons dat Aäron ’n altaar gebou het voor die goue kalf en uitgeroep het: “Môre is daar fees tot eer van die Here”. Hulle het geglo dat hulle God eer. In werklikheid het hulle God ’n oneer aangedoen. Hulle het gevoel dat hulle nader aan God beweeg. Die waarheid is dat hulle weg van Hom beweeg het. Dit alles het begin met ’n “uitsondering op die reël”. Omdat Moses nie daar was nie en dit gelyk het of hy te lank sou neem om van die berg af te kom, het hulle besluit dat hulle God sal aanbid soos hulle gedink het reg was.

Moderne kultuur

Ons kan dosyne, selfs honderde voorbeelde vind van maniere waarop ons moderne samelewing die betreurenswaardige voorbeeld van antieke Israel volg.

God beveel ons byvoorbeeld om Sy Sabbatdag heilig te hou (Genesis 2; Exodus 20). Wat is die doel daarvan? Die doel van die Sabbat is om ons te herinner dat God die Skepper en Onderhouer is, om nader aan God te kom en om te dink aan die duisendjarige rus onder Christus se Koningskap in die toekoms. Wat is die resultaat wanneer ons die Sabbatdag onderhou en God se opdrag gehoorsaam? Presies soos dit bedoel is om te wees! Ons bereik daardie doelwitte. Baie mense wat hulleself “Christene” noem, is onder ’n wanindruk dat ons nader aan God kan kom sonder om aan God se reëls gehoorsaam te wees. Hulle glo dat die Sabbat slegs vir die Jode was en dat ons in die moderne tyd daarvan “kwytgeskeld” is. Hulle glo dat ons God op enige dag en op enige manier kan aanbid en maak ’n gewoonte daarvan om God op ’n Sondag te aanbid. Hulle beweer dat die Tien Gebooie almal goed is, maar wanneer dit by die Sabbatdag kom, kan ons ’n “uitsondering” maak oor hoe ons dit toepas.

Nog ’n voorbeeld is die onderhouding van God se jaarlikse Heilige Dae. God het in Levitikus 23 ’n beskrywing van die Heilige Dae voorsien en dit deur ander skrifture dwarsdeur die Bybel versterk. Die onderhouding van hierdie dae is vir die mensdom ’n belangrike deel van gehoorsaamheid aan God se reëls. Wanneer ons hierdie Heilige Dae onderhou, kry ons ’n dieper insig in God se plan vir die hele mensdom en ook vir elkeen individueel. Ongelukkig glo die meeste moderne kerkgangers dat hulle kerk die gesag het om die onderhouding van daardie dae te verander, of dat God op die een of ander manier Christus se volgelinge vrygestel het van die onderhouding van dieselfde dae wat Hy onderhou het en Sy volgelinge ook geleer het om te doen.

Een verkeerde opvatting – ’n baie algemene een, is dat die onderhouding van dié Heilige Dae slegs vir die Joodse volk bedoel is. Christene, of so lui die teorie, het hulle eie vakansiedae. Watter vakansiedae het die meeste belydende Christene dan gekies? Hulle het God se jaarlikse Heilige Dae met heidense vakansiedae vervang. Gedurende daardie vakansiedae word dit as reg beskou om leuens aan kinders te vertel oor Kersvader, Rudolf die rooi-neus rendier en die paashaas. Vir die res van die jaar leer ons natuurlik ons kinders dat leuens verkeerd is, maar wanneer dit by Kersfees en Paasfees kom, lyk dit asof daar ’n uitsondering op die reël is! Wat is die gevolg? In plaas daarvan om nader aan God te beweeg en meer van Sy plan te leer, weet die gemiddelde kerkganger min of niks van die waarheid omtrent God se plan vir die mensdom nie.

Die Bybel gee aan ons reëls oor die huwelik, seksualiteit, finansies, ekonomie en baie ander onderwerpe. Die reëls leer ons hoe om met ons bure om te gaan en hoe om God te eer. Hierdie reëls word nie as laste gegee om ons lewens moeiliker te maak nie, maar om dit suksesvoller te maak. Hoe vroeër ons dus aanleer wat daardie reëls is en hulle deel maak van ons denke, hoe suksesvoller en meer vervuld sal ons wees. Op ’n manier is dit soos om aan ’n sport deel te neem. Wanneer ons die reëls leer ken, eerlik speel en oefen om goed te speel, sal ander saam met ons wil speel. Hulle sal in ons span wil wees en selfs van ons wil leer en ons suksesvolle voorbeeld volg. Aan die ander kant, niemand hou daarvan om saam met iemand te speel wat nie by die reëls hou nie – die speler wat homself as ’n uitsondering op die reël beskou, sal sekerlik gefrustreerd en uiteindelik onsuksesvol wees.

Wat van ons? Die mensdom het ’n lang geskiedenis van die “uitsondering op die reël”-mentaliteit. Indien ons die trekkrag van die menslike natuur kan weerstaan en kan dink soos Dawid gedink het toe hy geskryf het, “Hoe lief het ek u wet” (Psalm 119:97), sal ons goed op pad na sukses wees.