500 Jaar van die Protestantse Hervorming

DEEL 1

Van die Redakteurs:

Omdat die jaar 2017 die 500ste jaar van die Protestantse Hervorming verteenwoordig, het dit na die ideale geleentheid gelyk om “terug te gaan in die geskiedenis” en die ware betekenis van die Hervorming – wat baie min mense werklik verstaan – glashelder vir ons lesers te maak. Hierdie artikel is die begin van ’n reeks om lig te werp op die onderwerp wat ons bevoorreg is om met u te deel.

Roderick C. Meredith, die Hoofredakteur van die Wêreld van Môre-tydskrif en Voorsittende Evangelis van die Lewende Kerk van God was besonder gekwalifiseerd om hierdie reeks te skryf. Sy bediening het oor ongeveer 65 jaar gestrek, vanaf die vroegste jare van die wêreldwye werk van Herbert W. Armstrong tot vandag se multimedia voortsetting van daardie Werk om die wêreld met die Evangelie van die komende Koninkryk van God te bereik. Dr. Meredith was lank ’n kenner van die geskiedenis en betekenis van die Protestantse Hervorming en hierdie reeks bevat sy navorsing oor hierdie hoogs misverstane onderwerp. Dit sal die waarheid oor die Hervorming verduidelik – ’n waarheid wat tot gevolg sal hê dat u die laaste 500 jaar van die godsdiens wat Christenskap genoem word, in ’n heel ander lig sal sien.

Ons hoop dat u hierdie splinternuwe reeks sal geniet!


Die reine waarheid oor die Protestantse Hervorming

Die Protestantse beweging word vandag ondersoek. Die Protestantse Hervorming het ’n Babilon van honderde verskillende denominasies tot gevolg gehad. Hulle wissel in geloof en gebruike al die pad van fundamentalistiese Kwakers tot moderne Kongregasionaliste, van oorspronklike Metodiste tot Christelike Wetenskaplikes, van konserwatiewe Lutherane tot Mormone, Sewende-dag Adventiste en Jehova Getuies – met honderde skakerings tussenin.

Wat is vandag die werklike grondslag van die Protestantse Kerke regoor die wêreld? Waarom het hulle vroegste leiers teen die gesag van die Rooms-Katolieke Kerk in opstand gekom? Tot watter mate is hulle verantwoordelik vir vandag se “verdeelde Christendom”?

Het die Protestantse hervormers daarin geslaag om hulle verklaarde doelstellings te bereik? Nog belangriker, het hulle met die herinstelling van die geloof en oortuiging van Jesus en die geïnspireerde Nuwe-Testamentiese Kerk geslaag? Die eintlike vraag is of die Protestantse hervormers en hulle opvolgers daarin geslaag het om terug te keer na die “geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas:3).

Hierdie vrae is uiters belangrik. Baie van ons is van kleins af grootgemaak in een van die vele denominasies of sektes wat uit die Protestantse Hervorming spruit. Ons het aanvaar – soos elke kind doen – dat wat ons geleer word heeltemal waar is.

Ons het natuurlik egter almal verskillende dinge geleer!

Die Skrif sê aan ons: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). Die doel van hierdie reeks is dus ’n objektiewe ondersoek na die werklike faktore wat onderliggend aan die Protestantse Hervorming is. Ons sal probeer om uit te vind waarom die vroeë hervormers teen die Rooms-Katolieke stelsel in opstand gekom het en waarom die verskillende Protestantse groepe hulle vorm aangeneem het soos wat hulle wel gedoen het. Deur van die onpartydige feite van die geskiedenis gebruik te maak sal ons in beginsel die leerstellings, metodes en aksies van die Protestantse hervormers met die Bybel vergelyk, waarop hulle aanspraak gemaak het om te volg.

Die grondslag van beoordeling

Met inagneming van die huidige tendens na die modernisme en verwerping van die Bybel as ’n geïnspireerde gesag, laat ons dit net duidelik stel dat hierdie reeks uit die oogpunt van ’n fundamentalistiese, letterlike begrip van die Bybel geskryf is. Hierdie geïnspireerde openbaring van God sal die maatstaf van waarheid wees.

Van daardie lesers wat moderniste, of dalk van die “hoër kritici” is, vra ons eenvoudig net: Het u werklik bewys of die Bybel bonatuurlik geïnspireer is of nie? ’n Goeie manier om dit te weerlê sou wees om oortuigende bewyse voor te lê dat die talle profesieë wat spesifieke uitsprake gelewer het oor die groot stede en nasies van die antieke wêreld, nie plaasgevind het nie. Ongelukkig vir u saak, was niemand nog in staat om dit te doen nie.

Nog ’n toets sou wees om God op Sy Woord te neem, u aan Sy wil te onderwerp, om in werklike geloof en in alle erns gelowig te bid en aanspraak te maak op een van die vele spesifieke beloftes in die Bybel en dan te sien of die wonderwerkende God op Sy Woord sal teruggaan.

Natuurlik het die moderniste dit nie gedoen nie. Hulle kon nie daarin slaag om te bewys dat die Bybel nie geïnspireer is nie. Daarom is dit dalk goed om onsself daaraan te herinner dat dit intellektuele skynheiligheid is om te spot en iets as belaglik uit te maak wanneer daar geen bewyse van die teendeel is nie.

Daarom sal ons die Bybel as die algehele geestelike “maatstaf” gebruik waarteen ons die Protestantse Hervorming meet.

Ons sal ook die stellings van die hervormers self aanhaal oor wat hulle van plan was om te doen. Ons sal die geskiedkundige dokumente ondersoek om te sien wat hulle werklik gedoen het. Daarna sal ons stellings van hulle Protestantse nageslag in aanmerking neem en hulle toelaat om ’n oordeel te vel oor die uiteindelike resultate van die Hervorming.

Die Protestantse doelwitte

Ons sal die bekende gesegde van William Chillingworth, die Protestantse teoloog, ondersoek: “Die Bybel, die hele Bybel en niks anders as die Bybel nie, is die godsdiens van die Protestante” (Schaff-Herzog, Encyclopedia of Religious Knowledge, “Chillingworth, W”). In hulle konstante bevestiging van die Skrif as “die geïnspireerde reëls van geloof en praktyk” (Schaff-Herzog, “Bible”), het die Protestantse leiers hulleself daartoe verbind om die godsdiens van Jesus Christus en Sy apostels in alle opsigte na te volg .

Die Lutherane het in hulle Torgau Book van 1576 verklaar dat “die enigste maatstaf waarteen alle dogmas en alle onderwysers opgeweeg en beoordeel moet word niks anders is as die profetiese en Apostoliese geskrifte van die Ou en die Nuwe Testamente nie” (T. M. Lindsay, A History of the Reformation, bl. 467).

Die gemiddelde Protestant van vandag aanvaar gewoonlik hierdie stellings op sigwaarde en neem aan dat hulle ten minste baie na aan die waarheid moet wees. Ons sou vra: Was dit werklik gedurende die verloop van die Protestantse Hervorming waar? Is dit nou waar?

Dit is goed om ook te onthou dat John Knox in sy geskrifte en onderrig tussen ander hervormers erken het “dat alle aanbidding, verering, of diens aan God wat deur die menslike brein in die godsdiens van God bedink is sonder Sy eie uitdruklike gebod, afgodery is”. Hy voeg dan oortuigingskrag en standpunt by sy verklaring deur te sê “dit sal nie as verskoning kan dien om te sê: Ons vertrou nie op afgode nie, want so sal elke afgodedienaar sê; maar as u of hulle tot God se eer enigiets teenstrydig met God se Woord doen, toon dit dat vertroue in iets anders gestel word dan in God en is dit dus afgodery. Let daarop broeders, dat baie mense ’n afgod van hulle eie wysheid of fantasie maak; meer vertroue stel in dit wat hulle dink goed is en nie in God nie” (William Hastie, The Theology of the Reformed Church, bl. 50).

Knox se waarskuwing teen valse “diens aan God, wat deur die brein van die mens uitgedink” is, is sekerlik gelystaande aan Jesus se veroordeling van die “tradisies van mense” (Markus 7:7-8). Dit is baie belangrik dat ons hierdie beginsel verstaan voordat ons probeer om die ware betekenis van die Protestantse Hervorming te begryp. Soos Salomo met wysheid geskryf het: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 14:12).

Ons moet nie die Hervorming in die lig van menslike idees sien en wat redelik voorkom nie, maar in die lig van Christus se woorde: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Ons behoort ook Jesus se waarskuwing teen menslike tradisie in ag te neem en die feit dat die hervormers hierdie beginsel verstaan en daarop aanspraak gemaak het dat hulle ’n rigting ingeslaan het wat “slegs op die Bybel” gebaseer is.

Was God se Ware Kerk “hervorm”?

Alhoewel baie Protestante nie daarvan hou om die onderwerp te bespreek nie, moet ons ’n ander baie belangrike oorweging in aanmerking neem, naamlik om die belangrikheid van die Hervorming reg te verstaan. Was die Protestantse beweging ’n hervorming van God se ware Kerk wat die spoor bystergeraak het? Is die Rooms-Katolieke Kerk dan werklik die misleide afstammeling van die Kerk wat Jesus Christus gesê het Hy sou bou?

Indien nie, was die Protestantse beweging bloot ’n menslike poging om hulleself van ’n valse en streng stelsel te bevry, wat hulle as heidens en duiwels in baie van hulle oortuigings en gebruike herken het? In daardie geval, waar was God se ware Kerk in al die eeue tussen die oorspronklike Apostels en die Protestantse hervormers?

Jesus Christus het gesê: “... en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Matthéüs 16:18). Aan die einde van Sy aardse bediening, het Hy ook Sy apostels beveel: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matthéüs 28:19-20).

Waar was die Kerk wat Jesus gestig het aan die begin van die Hervorming? Die Kerk aan wie Hy beloof het: “Ek is met julle al die dae”? Indien dit die Rooms-Katolieke Kerk was, dan het die Protestante eenvoudig – soos die Katolieke geskiedkundiges beweer – in opstand gekom teen die Kerk van God op aarde.

In hierdie geval, so veel soos hulle begeer het om toestande binne die ware Kerk te verbeter, moes hulle onthou en geluister het na die woorde wat Christus gesê het ten opsigte van die skrifgeleerdes en Fariseërs – die verdorwe, maar regmatig aangestelde godsdiensleiers van Sy tyd: “Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, ...” (Matthéüs 23:3).

Indien dit egter die geval is dat die kerk van Rome nie die Kerk is wat Jesus gebou het nie, waarom het die hervormers dan nie daarna gesoek en verenig met daardie Kerk wat nog nooit aan die heidensheid van Rome deelgeneem het nie en nie deur sy valse leer en invloed besmet was nie, die Kerk vir wie Jesus beloof het om met hulle te wees tot aan die einde van die wêreld, die Kerk waarvan Hy die lewende Hoof is (Efésiërs 1:22)?

Waarom is baie nuwe kerke begin indien daardie een ware Kerk nog bestaan het?

Was dit nodig om net die geloof en morele waardes van daardie individue te reinig wat bereid was om uit ’n korrupte Roomse stelsel te kom?

Hierdie vrae vereis ’n antwoord! Soos ons later sal sien het baie Protestantse leiers wat geweet en geglo het dat Rome hulle ware bron is, probeer om sy aanspraak as die ware liggaam van Christus op aarde, te regverdig. Hierdie vermoede vereis ’n noukeurige ondersoek.

Is die “moeder”-kerk in Rome die enigste geskiedkundige basis vir die Protestantse argument oor die herkoms van Christus en Sy apostels? Ons sal sien.

Vandag se “Christendom”

Ons moet enige godsdienstige denominasie of beweging opweeg teen Christus se profetiese woord: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ’n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte” (Matthéüs 7:16-17).

Die eerlike geskiedkundige sal gedwing word om te erken dat die Hervorming’n toenemende belangstelling en kennis van die Bybel by die gewone man op straat aangewakker het. Die herlewing van die onderwys en die kunste is ook deur die Renaissance geïnspireer en het meer geredelik na die hele bevolking van daardie nasies versprei as wat die Protestantisme aanvaar het. Toegegee, die Protestantse lande het ’n veel hoër vlak van onderrig gehandhaaf as die Katolieke nasies. Net so het hulle ’n veel hoër lewenstandaard geniet, materialisties gesproke.

Om egter weer na die ware oorsprong van die probleem terug te keer, hoe vergelyk die geestelike standaarde van die moderne Protestante met dié van die geïnspireerde Nuwe-Testamentiese Kerk?

Het ’n werklike terugkeer na die “Christenskap van die Apostels” plaasgevind of lê daar noodwendig nog ’n ander baie groot “reinigings- en suiwerings-” godsdienstige omwenteling voor in die toekoms?

Terwyl Hy met Sy dissipels oor die Fariseërs, die godsdienstige leiers van Sy tyd gepraat het, het Christus gesê: “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word” (Matthéüs 15:13). Is die “vrugte”, wat die resultate van die Protestantse Hervorming is, sodanig dat dit aan ons wys dat hierdie beweging deur God begin is en tot Sy eer gebruik word?

Die doel van hierdie reeks artikels is om die talle vrae wat hierin uitgelig word, te beantwoord. Ons sal tot by die oorsprong van hierdie vrae kom.

Laat ons aan die begin weer herinner word dat die Protestantse Hervorming deur elke eerlike Christen in die lig van die duidelike leerstellings en voorbeelde van Christus en die Apostels gesien moet word – “die Bybel en niks anders as die Bybel nie”, waarop Protestantse leiers aanspraak gemaak het om hulle “enigste reël van geloof en praktyk” te wees.

Indien die Protestantse geloof waar is, dan kan ons bewys dat dit so is. Ons behoort egter nie sonder bewyse te aanvaar, dat die leerstellings, oortuigings en gebruike van moderne Protestantisme die godsdiens verteenwoordig wat deur Jesus Christus, die Seun van God, sy ontstaan gehad het nie.

Ons moet dit bo alles weet. Ons moet seker wees. Ons moet nie bang wees om Christus en Sy Woord te vergelyk met dit wat voorgegee word om Sy Kerk in ons tyd te wees nie.

Dit is ’n regverdige uitdaging.

Christendom na die apostels se dood

Alle geleerdes stem saam dat die Protestantse hervormers van die geskiedkundige Katolieke Kerk weggebreek het.

Baie min leke besef die geskiedenis van die agteruitgang en die volslae verdorwenheid waartoe daardie liggaam gesink het voordat die oproep tot hervorming weerklink het. ’n Besef van hierdie feit en ’n begrip van die geskiedkundige agtergrond van die Protestantse Hervorming, is baie belangrik om dit behoorlik te verstaan.

Dit word algemeen erken dat die gesiene kerk in die vroeë Romeinse Ryk baie van die oortuigings en gebruike van Christus en die Apostels heeltemal verander het. Ons behoort die aard van hierdie veranderings te verstaan om die latere Hervorming behoorlik te kan evalueer. Wanneer ons na die rekord van die Roomse stelsel kyk, behoort ons onsself af te vra: “Is dit die geskiedenis van God se ware Kerk wat verkeerd gegaan het?”

Vroeë afvalligheid

Binne vyftig jaar ná die dood van die oorspronklike Apostels, het ’n raaiselagtige verandering van die leerstellings en aanbidding plaasgevind. Soos Jesse Lyman Hurlbut opmerk: “Vir vyftig jaar ná Paulus se lewe hang daar ’n gordyn oor die kerk waardeur ons tevergeefs probeer kyk; en wanneer dit uiteindelik so teen 120 n.C. met die geskrifte van die vroegste kerkvaders lig, vind ons ’n kerk wat in baie aspekte baie verskil van dié in die dae van Petrus en Paulus” (The Story of the Christian Church, bl. 41).

Hierdie ongewone transformasie herinner ons aan die onheilspellende woorde van Paulus: “... want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Timótheüs 4:3-4). Petrus het in sy tweede sendbrief ’n soortgelyke waarskuwing gegee: “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ’n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Petrus 2:1-2).

Trouens, teen die tyd van die apostel Johannes se laaste brief, ongeveer 90 n.C., was verdraaiings van die ware geloof reeds aan die orde van die dag en valse leraars het voorrang verkry in die gesiene Kerklike gemeentes. Johannes sê dat ene Diótrefes reeds diegene uit die kerk geban het wat aan die waarheid vasgehou het, en “ontvang hy nie alleen self die broeders nie gasvry nie, maar verhinder ook die wat dit wil doen en werp hulle uit die gemeente” (3 Johannes:9-10).

Uit die onafhanklike oogpunt van die wêreldse geskiedkundige, Edward Gibbon, word hierdie gedeelte van die Kerkgeskiedenis beskryf: “’n Meer droefgeestige plig word aan die geskiedkundige opgelê. Hy moet die onvermydelike vermenging van dwaling en korrupsie waarin die kerk oor baie jare verval het onder ’n swak en vervalle geslag ontmasker” (The Decline and Fall of the Roman Empire, vol. 1, bl. 380).

Die gesien Christelike byeenkomste, wat deur valse leraars met wêreldse ambisies ondermyn is, het begin om die gebruike en gewoontes van die ou heidense volke aan te neem in die plek van die geïnspireerde geloof en gebruike van die Apostoliese Kerk. “Christelikheid het reeds begin om die gewaad van die heidendom te dra” (James Wharey, Sketches of Church History, bl. 39).

Seremonies en rituele het begin om die opregte aanbidding van God te vervang totdat die hele godsdiens uiteindelik uit weinig meer as rituele bestaan het (Wharey, bl. 40). Dit was natuurlik as geheel slegs van die gesiene kerk waar.

Sommige mense gaan voort met die gebruike van die Apostels

Ten spyte van die afvalligheid van die meerderheid, is daar ’n oorvloed van geskiedkundige bewyse wat daarop dui dat ’n aantal Christelike gemeenskappe – waarvan sommige heelwat van die waarheid behou het en ander baie minder – voortgegaan het om die basiese leerstellings en gebruike van die oorspronklike Kerk te volg, regdeur tot die tyd van die Hervorming. Gibbon praat van die benarde toestand van die belangrikste navolgers van die Apostoliese Kerk wat “Nasareners” genoem was, wat “die grondslag van die Kerk gelê het, maar hulleself gou oorweldig bevind het deur die toenemende menigtes, wat uit al die verskillende godsdienste van Politeïsme [veelgodery] wat onder die vaandel van Christus toegetree het; en die heidene, wat met die goedkeuring van hulle besondere apostel, die ondraaglike invloed van die Mosaïese seremonies verwerp het, het uiteindelik geweier om vir hulle meer nougesette broeders dieselfde verdraagsaamheid te gun as wat hulle aanvanklik nederig vir hulle eie gebruik afgesmeek het” (Gibbon, bl. 387).

Ons vind dus dat die heidense bekeerlinge begin het om die gewoontes van hulle voormalige heidense godsdienste in die Kerk in te bring, asook ’n gesindheid van minagting vir diegene wat getrou gebly het aan die voorbeeld en handelinge van Christus en die oorspronklike Apostels. Geen wonder hierdie gesindheid was die rede waarom Diótrefes die ware broeders kon “uitwerp” met die klaarblyklike goedkeuring van die gesiene gemeentes.

Aangesien dit nie die doel van hierdie reeks is om die geskiedenis na te speur van die klein gemeenskappie van gelowiges wat getrou aan die Apostoliese geloof en aanbidding gebly het nie en aangesien dit ’n algemene praktyk van sektariese kerkgeskiedkundiges is om die geloof van hierdie mense te verdraai of om hulle te beswadder, mag dit goed wees om Hurlbut se erkenning van die swarigheid wat ondervind word met die vasstelling van die ware geloof van hierdie mense, of, wat dit betref, van die werklike “kettery” van die tyd, in te sluit. Hy sê aan ons:

Met betrekking tot hierdie sektes en sogenaamde kettery, kan een probleem om hulle te verstaan, voortspruit uit die feit dat (behalwe vir die Montaniste [pousgesindes] en selfs daar ook in ’n groot mate) hulle eie geskrifte tot niet gegaan het en is ons afhanklik vir ons menings van diegene wat teen hulle geskryf het en wie ongetwyfeld bevooroordeeld was. Veronderstel byvoorbeeld dat die Metodiste, as ’n denominasie, tesame met al hulle literatuur, uit die samelewing verdwyn het; en ’n duisend jaar later probeer geleerdes om hulle leerstellings uit die boeke en pamflette vas te stel wat in die agtiende eeu teen John Wesley geskryf is, tot watter verkeerde gevolgtrekkings sou gekom word en watter verwronge beeld van Metodisme sou voorgestel word! (The Story of the Christian Church, bl. 66).

Voeg by hierdie karige geskiedkundige bewyse die feit dat baie moderne kerkgeskiedkundiges uit ’n sektariese oogpunt skryf wat teen Apostoliese gebruike en oortuigings bevooroordeeld is, dan is dit maklik om die inherente probleme te verstaan wat ondervind word om die waarheid oor sulke Christene in vorige eeue op te spoor. Selfs die getuienis van vyande bevat nietemin oorvloedige bewyse dat ’n ononderbroke ketting van hierdie getroue gelowiges tot vandag toe bestaan.

Die ontwikkeling van die Katolieke Kerk

Hoewel die grootste deel van die waarheid uit die plaaslike gemeentes verdwyn het binne vyftig jaar ná die dood van die Apostels, soos ons gesien het, het die Rooms-Katolieke Kerk as sodanig nie voor die vierde eeu begin ontwikkel nie. Voor daardie tyd was daar baie skeurings en verdeeldheid binne die gesiene kerk, maar die vordering van letterlike afgodediens is gestuit as gevolg van vervolging deur die Romeinse staat – wat baie van die heidene verhinder het om betrokke te raak en dit het die Kerk in so ’n mate suiwer gehou.

Selfs toe was dit hoofsaaklik ’n foutiewe suiwering, want die teologie van daardie tyd het so ver van die leerstellings van Jesus en die Apostels afgewyk dat baie leerstellings toe op die idees van Plato en ander heidense filosowe gebaseer was. Origen wat een van die groot “kerkvaders” van hierdie tydperk was, was ’n bewonderaar van hierdie filosofie en het dit aangewend om die leerstellings van die Evangelie te verduidelik. Dit het hom tot die allegoriese metode van interpretasie van die Skrif gelei (Wharey, bl. 46).

Terwyl hy hierdie tydperk behandel, beskryf Gibbon vir ons die geleidelike ontwikkeling van wat uiteindelik die Rooms-Katolieke hiërargie geword het en geskoei is op die regering van keiserlike Rome. Hy sê: “Die vroeë Christene was dood vir die dinge en plesier van die wêreld, maar hulle liefde vir aksie, wat nooit heeltemal geblus kon word nie, het gou herleef en nuwe uiting in die regering van die kerk gevind” (Gibbon, bl. 410).

Hy vertel ons van die ontwikkeling van hierdie kerkregering en dat dit gou die model van die provinsiale sinodes gevolg het deur vereniging van verskeie kerke in ’n gebied onder die leierskap van die biskop van die kerk wat oor die meeste lede beskik het en gewoonlik in die grootste stad geleë was (Gibbon, bl. 413-415). Met Konstantyn se bekering tot nominale Christelikheid, het die kerkregering begin om meer van die gebruike van die Romeinse staat te aanvaar. Wharey vertel aan ons: “Onder Konstantyn die Grote, het die kerk die eerste keer met die staat verbind geraak en in die regering was daar plek gemaak vir sodanige verbintenis, volgens die beginsels van staatsbeleid” (Church History, bl. 55).

Korrupsie en sedelike verval

Die toenemende verdorwenheid en korrupsie van die bediening word deur Mosheim vertel en hy beskryf gepas die begeerte na mag, wat die harte en gedagtes van die geestelike leiers van hierdie tydperk binnegedring het: “Die biskoppe het skandelike geskille onder mekaar gehad en die grense van hulle biskopsetels en die omvang van hulle jurisdiksie beskerm; terwyl hulle die regte van die gewone mense en van die minderwaardige geestelikes vertrap het, het hulle gewedywer met die burgerlike goewerneurs van die provinsies in luuksheid, arrogansie en wellustigheid” (Institutes of Ecclesiastical History, bl. 131).

Konstantyn het in 323 n.C. die enigste keiser van die Romeinse Ryk geword en binne ’n jaar is Christelikheid, ten minste in naam, erken as die amptelike godsdiens van die Ryk. Hierdie erkenning het nie net die regering van die kerk en die moraal van sy geestelikes beïnvloed nie, maar het ’n diepgaande invloed op die hele kerk en sy lidmaatskap gehad.

Alle vervolging van die gevestigde kerk is onmiddellik en vir altyd gestaak. Die antieke “dag van die son” was gou as ’n dag van rus en aanbidding geproklameer. Tempels van die heidene is as kerke geheilig. Geestelikes het gou ’n bevoorregte klas geword, verhewe bo die wet van die land.

Nou het almal lidmaatskap van die kerk gesoek. “Ambisieuse, wêreldse, gewetenlose manne het vir sosiale en politieke invloed ’n amp in die kerk gesoek” (Hurlbut, bl. 79). In plaas daarvan dat die Christendom die wêreld beïnvloed en verander, sien ons dat die wêreld die belydende Christelike kerk oorheers.

“Die eredienste het in prag en praal toegeneem, maar was minder geestelik en hartlik as dié van vorige tye. Die vorms en seremonies van die heidendom het geleidelik in die aanbidding ingesluip. Sommige van die ou heidense feeste het kerkfeeste geword met verandering van naam en aanbidding. Teen ongeveer 405 n.C. het beelde van heiliges en martelare in die kerke begin verskyn ...” (Hurlbut, bl. 79).

Die kerk en staat het een geïntegreerde stelsel geword toe Christenskap as die godsdiens van die ryk aangeneem is. Die Rooms-Katolieke stelsel het begin en Hurlbut sê aan ons dat “die kerk geleidelik wederregtelik besit oor die staat geneem het en die resultaat was nie Christelikheid nie, maar ’n min of meer korrupte hiërargie wat in beheer van die nasies van Europa was en wat die kerk hoofsaaklik 'n politieke masjien gemaak het” (Hurlbut, bl. 80).

Katolisisme aan bewind

Binne twee jaar nadat dit wat Christelikheid genoem is die amptelike godsdiens van die Romeinse Ryk geword het, het Konstantyn ’n nuwe hoofstad gekies en gebou. Hy het die Griekse stad Bisantium gekies, omdat sy ligging dit relatief veilig teen die verwoesting van oorlog gemaak het wat Rome so dikwels geteister het.

Kort hierna het die verdeling van die ryk plaasgevind – met Konstantyn wat mede-keisers vir die Weste aangestel het. Die verdeling van die ryk het die weg vir die komende skeuring binne die Rooms-Katolieke Kerk voorberei. Dit het ook ’n makliker pad vir die verheffing van die Roomse biskop voorsien, aangesien hy nie nou deur die keiser oorskadu sou word nie.

Gedurende hierdie tyd het die gevestigde kerk as hoogste gesag regeer en enige poging om na die Apostoliese geloof terug te keer sou swaar gestraf word as ’n oortreding teen die staat. “Die bevel is uitgereik dat niemand teen die Christelike (Katolieke) godsdiens mag skryf of praat nie. Alle boeke van teenstanders moes verbrand word” (Hurlbut, bl. 85).

Dus kan ons sien dat diegene wat enige waarheid gedurende hierdie tydperk kon behou het, daarvan ontneem is om ’n rekord van hulle geloof vir toekomstige geslagte te bewaar. Hierdie edik was effektief om dwaalleer uit te skakel maar dit was ook effektief om enige waarheid te versmoor wat behou is in opposisie met die Katolieke leerstelling.

Rakende die inhoud van daardie leerstelling vertel Wharey aan ons: “Die Teologie van hierdie eeu het begin om baie met bygeloof en heidense filosofie vervals en bederwe te word. Derhalwe kan spore gesien word van oormatige verering van ontslape heiliges, van ’n geloof van vagevuur [suiwering] vir siele na die dood, van die selibaatheid van die geestelikes, van die aanbidding van beelde en stoflike oorskotte en van baie ander sienswyses wat met verloop van tyd byna die ware godsdiens verban het of ten minste baie verberg en bederwe het” (Church History, bl. 60). Ons vind dus dat namate die Rooms-Katolieke Kerk voortgegaan het, bygeloof, heidendom en afgodery toegeneem het.

Gedurende die tien eeue van die Middeleeue was die ontwikkeling van pouslike mag die uitstaande faktor. Die Pous in Rome het gou daarop aangedring om heerser te wees, nie net oor die ander biskoppe nie, maar oor nasies, konings en keisers (Hurlbut, bl. 105).

Gregory I (590-604) het die kerk die eintlike regeerder van die provinsie rondom Rome gemaak en dit was hy wat die leerstelling van die vagevuur [suiwering], die aanbidding van beelde en transsubstansiasie [staat van oorgang in die liggaam van Christus] ontwikkel het. George Park Fisher praat van hierdie tydperk: “Kersfees het sy oorsprong in die Weste (Rome) gehad en van daar af het dit versprei na die Oosterse Kerk. Baie Christene het nog aan die heidense fees van Nuwejaarsdag deelgeneem(History of the Christian Church, bl. 119).

Terwyl hy van die twispunte in leerstellings gepraat het wat gedurende hierdie tyd deur die kerk gewoed het, sê hy: “Die inmenging van die staat in sake van leerstellings is ’n feit wat besondere aandag vereis. Volgens die filosofie was Plato se invloed nog oorheersend: Augustinus asook Origen, was deurdrenk van die Platoniese gees” (Fisher, bl. 121). Hier is ’n duidelike stelling dat die filosofiese leerstellings van sulke heidense denkers soos Plato beslis baie van die vroeë “kerkvaders” se standpunte rondom leerstellings beïnvloed het!

Die hoogtepunt en verval van pouslike aansien

Die hoogtepunt van pouslike oppergesag was onder Gregorius VII, gebore Hildebrand, bereik. Onder sy bewind bekyk ons die skouspel van die huidige keiser, Hendrik IV, wat om kwytskelding van die pous se verbod op die gebruik van sakramente te ontvang, “alle koninklike besittings laat vaar en met kaal voete en in wol geklee, vir drie dae voor die hekke van die kasteel gestaan het” (Hurlbut, bl. 111).

Nog ’n hoogtepunt in die toename van pouslike gesag was die regering van Innocentius III. Hy verklaar in sy intreerede: “Die opvolger van Petrus staan halfpad tussen God en die mens; onder God, bo die mens; Regter van almal, beoordeel deur niemand” (Hurlbut, bl. 112).

Kort hierna het die tydperk wat bekend staan as die “Babiloniese Ballingskap” van die kerk egter gevolg (1305-1378). Deur politieke invloed van die Franse koning, is die pousdom van Rome na Avignon in die suide van Frankryk verskuif. Die politieke en morele skandale van die pous en die geestelikes regdeur hierdie hele tydperk, het die pouslike invloed verswak en begin om mense se gedagtes voor te berei vir die latere pogings tot hervorming (Mosheim, bl. 490).

Dat daar baie goeie en opregte manne in die Roomse Kerk was, selfs gedurende hierdie tydperk, is nie te betwyfel nie. Hulle voorouers se algehele verwerping van die leerstellings en gebruike van Christus en die Apostels, die vervanging daarvan met heidense filosofieë en leerstellings van heidense kerkfeeste, vas, beelde, oorblyfsels van oorskotte en verskeie ander gebruike sou dit alles feitlik onmoontlik vir die meeste mense gemaak het om die eenvoudige waarhede van die Bybel te verstaan, selfs al was dit hulle begeerte. As gevolg van die heersende onkunde en barbaarsheid van die tye, sou die meeste gewone mense nie in staat wees om die skrif te lees nie, selfs al sou dit beskikbaar wees en dit hulle wens was om dit te doen (Mosheim, bl. 491).

Die voortdurende misbruik van kerklike gesag deur onkundige en roofsugtige geestelikes, die voortsetting van skandale van die pouslike hof en inskiklike betrokkenheid van die pouse en kardinale in wêreldlike mag sowel as godsdienstige sake – het ’n ondersoekende gees in die massas laat ontwaak.

Aan die einde van die “Babiloniese Ballingskap” in 1378, het Pous Gregorius XI na Rome teruggekeer. As gevolg van politieke druk en knoeiery met sy dood, is twee pouse deur die kardinale verkies! Die wêreld het toe die skouspel van die benoemde hoofde van die Christendom gadegeslaan wat vervloekings, dreigemente, beskuldigings en verbannings [ekskommunikasies] oor ’n tydperk van baie jare oor en weer geslinger het.

Mosheim beskryf hierdie ongelukkige toedrag van sake gepas: “Gedurende hierdie vyftig jaar wat die kerk twee of drie hoofde gehad het, het die gelyktydige biskoppe mekaar met verbannings [ekskommunikasies], vervloekings en komplotte bestook. Die ellende en angs van daardie tyd was onbeskryflik. Behalwe vir die voortdurende en vernietigende geskille tussen die pouslike groepe is byna alle sin van godsdiens in baie plekke geblus. Groot getalle mense wat betrek was het verlies van lewe en eiendom gely. Goddeloosheid het daagliks meer ongestraf en uitdagend geword. Die voorheen korrupte geestelikes het nou selfs die skyn van vroomheid en godvresendheid ter syde gestel, terwyl diegene wat hulleself Christus se verteenwoordigers genoem het, openlik met mekaar in stryd was en die pligsgetroue mense, wat geglo het dat niemand gered kon word sonder om in onderdanigheid aan die verteenwoordiger van Christus te leef nie, was in die grootste geestelike verwarring en angstigheid gedompel” (Mosheim, bl. 496).

Só was die uitdagende toestand van “Christendom” op die vooraand van die Hervorming. Die mens kan homself afvra: “Is dít die kerk wat Jesus Christus gebou het?”

Voorlopers van die Hervorming

Dit lyk of die geskiedenis ’n paar vreemde verknorsings opgelewer het. Een van twee alternatiewe is dikwels oor die bestaan van die ware Kerk gedurende die Middeleeue aanvaar. Een daarvan is dat die Kerk van God as ’n gesiene, georganiseerde liggaam van gelowiges vir ’n tydperk wat oor honderde jare strek opgehou het om te bestaan. Die ander is dat die Rooms-Katolieke Kerk – waarvan ons die uiterste verdorwenheid beskryf het – die enigste wettige afstammeling van die Kerk was wat Jesus Christus gesê het Hy sou bou (Matthéüs 16:18).

Daar is egter baie geskiedkundiges wat nou begin besef dat daar voor die tyd van Luther groepe was wat in die Apostoliese waarheid geglo het en deur byna elke land van Europa versprei was (Mosheim, bl. 685).

Lank voor die aanbreek van die eintlike Hervorming het baie van hierdie verskillende onafhanklike bewegings en godsdienstige gemeenskappe hulleself sterker laat geld met die agteruitgang van pouslike invloed en gesag. Sommige van hulle het ongetwyfeld oorblyfsels van die gelowiges in Apostoliese waarheid bevat, wat nou lank reeds in onbekendheid weggekwyn het as gevolg van periodieke vervolgings en ontvoerings wat op hulle afgedwing was.

Tussen hulle het die Albigense of Cathari, wat “puriteine” was, in ongeveer 1170 tot prominensie in die suide van Frankryk toegeneem. Die Cathari het baie gebruik gemaak van die Skrif, alhoewel hulle na bewering dele van die Ou Testament verwerp het (Williston Walker, A History of the Christian Church, bl. 250).

Hulle het afskrifte van die Nuwe Testament vertaal en versprei, die gesag van tradisie verwerp en die Rooms Katolieke leerstellings van die vagevuur [suiwering], beeld-aanbidding en verskeie priesterlike aansprake aangeval. Dit lyk of hulle leerstellings ’n vermenging van waarheid en dwaling kon wees, maar hulle verwerping van die pouslike gesag het op aandrang van Pous Innocent III in 1208 ’n “kruistog” teen hulle teweeggebring. As gevolg hiervan was die sekte byna heeltemal deur die roekelose slagting van die meeste van die inwoners van die gebied uitgewis, met baie Katolieke ingesluit (Hurlbut, bl. 141).

Die Waldense

Nog ’n verspreide groep gelowiges van die Apostoliese leerstellings en gebruike word Waldense genoem. Mosheim vertel aan ons hoe die Waldense “ongelooflike vinnig deur al die lande van Europa vermenigvuldig en versprei het. Hulle kon ook nie heeltemal deur enige strawwe uitgeroei word nie, hetsy deur die dood of enige ander vorms van vervolging nie” (bl. 429).

Daar was ongetwyfeld verskillende elemente onder diegene wat Waldense genoem is. Sommiges van hulle het meer Apostoliese waarheid as ander behou. Ons word ingelig dat sommige van hulle na “die Roomse Kerk, hoewel baie verdorwe, as die ware kerk van Christus opgesien het”. Ander het “volgehou dat die kerk van Rome van Christus afvallig, sonder die Heilige Gees en die Babiloniese hoer was, soos deur Johannes vermeld” (Mosheim, bl. 430). Soos ons reeds gesien het, het die vyande van hierdie verspreide Christelike groepe hulle dikwels valslik beskuldig ten opsigte van leerstellings en baie van die skriftuurlike waarheid wat hulle dalk gehad het, het waarskynlik met die vernietiging van hulle oorspronklike geskrifte verlore gegaan. Selfs hulle vyande gee egter soms oortuigende getuienis met betrekking tot die morele waardes en leerstellings van die Waldense. Soos dit in ’n bylaag van Wharey se Church History aangehaal is, is die volgende insident wat uit ’n vroeë en betroubare bron geneem is, ’n aanduiding van die geloof en gebruik van die vroeë Waldense: “Nadat Koning Louis XII inligting ontvang het van die vyande van die Waldense, wat in Provence woonagtig was, van verskeie gruwelike misdade wat aan hulle toegedig is, stuur hy Monsieur Adam Fumee, die Meester van Ondersoeke en ’n sekere Sorbonnistiese dokter, genaamd Parui, wat sy biegvader was, om die saak te ondersoek. Hulle het al hulle [die Waldense se] gemeentes en tempels besoek en nie enige beelde, of teken van die ornamente wat hoort by die mis of seremonies van die Roomse Kerk gevind nie. Nog minder kon hulle enige bewys van daardie misdade waarvan hulle beskuldig was, vind. Inteendeel, hulle het die Sabbat na behore onderhou, hulle kinders volgens die primitiewe Kerk laat doop; en die artikels van die Christelike geloof en die Gebooie van God geleer. Nadat hy die verslag van die genoemde kommissarisse aangehoor het, het die koning met ’n eed bevestig, dat hulle beter mense as hyself of sy mense is” (J. Paul Perrin, History of the Waldenses, Boek I, Hoofstuk V).

Dit is dus duidelik dat daar nog baie kennis van die “geloof wat eenmaal oorgelewer is” in die gedagtes van baie getroue manne en vroue dwarsdeur die Middeleeue bestaan het. Hulle het dikwels saam in godsdienstige groepe vergader om te aanbid. Hoewel hulle soms verspreid en vervolg was, was hulle in werklikheid ’n Kerk wat in die gees, geloof en gebruike van Christus en Sy apostels voortgegaan het.

Dit is nodig dat ons in gedagte hou dat die kennis van Apostoliese waarheid en gebruik ook vir Luther en die ander hervormers beskikbaar was indien hulle dit verlang het.

Behalwe hierdie verspreide groepe gelowiges wat vir honderde jare onafhanklik van Rome bestaan het, was daar baie individuele leiers binne die Roomse Kerk wat bekommerd geraak het oor die geestelike verval en op hervorming aangedring het, nog voor die eintlike Hervorming.

Die werk van John Wycliffe

Een van die mees noemenswaardigste hervormers voor die Hervorming was John Wycliffe, wat in ongeveer 1324 in Yorkshire, Engeland gebore is. Hy staan algemeen bekend as “die môrester van die Hervorming”.

By Oxford het hy as vooraanstaande geleerde uitgestyg en uiteindelik ’n doktor in teologie geword en verskeie hooggeagte posisies aan die Universiteit beklee. Hy het gou ’n leier onder diegene geword wat gepoog het om ’n aantal skandelike misbruike van die geestelikes te beveg.

Wycliffe het die bedelmonnikke gekonfronteer, die stelsel van kloosterwese en uiteindelik die pouslike gesag in Engeland teengestaan. Hy was ook teen die leerstelling van transsubstansiasie [staat van oorgang in die liggaam van Christus] en het ’n eenvoudiger kerkdiens bepleit, volgens die Nuwe Testament se voorbeeld.

Hy het onderrig dat die Skrif die enigste wet van die kerk is maar het nogtans nie die pousdom heeltemal verwerp nie, maar slegs dít wat hy beskou het as misbruike (Walker, bl. 299).

Die geestelikes se onbevoegdheid het hom gelei om predikers, sy “arm priesters”, uit te stuur om twee-twee deur die hele land te gaan – om te werk waar daar ’n behoefte was. Hulle was baie suksesvol, want daar was reeds ’n sterk afkeer aan buitelandse pouslike belasting en ’n verlange om na ’n meer Bybelse geloof terug te keer.

Wycliffe het gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie onderrig

Hoewel hy nooit sy leerstellings ten volle ontwikkel het nie en van sy geboorte af baie met die Rooms-Katolieke konsepte van sy tyd verbind was, het Wycliffe duidelik die noodsaaklikheid bemerk om gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie te herstel. Hy het nooit die kenmerkende konvensionele gebruike van die latere hervormers aangewend om hierdie Apostoliese leerstelling te ontduik nie. Die geleerde geskiedkundige, Augustus Neander, beskryf hierdie openhartige benadering. Hy sê dat een van Wycliffe se eerste werke as ’n hervormer uit “’n gedetailleerde uiteensetting van die Tien Gebooie bestaan het, waarin hy ’n vergelyking tussen die onsedelike lewe getref het wat so algemeen onder alle range in sy tyd was, met dít wat hierdie Gebooie vereis. Ons behoort ongetwyfeld in gedagte te hou wat hy self gesê het, dat hy deur onkunde gelei was om dit te doen deur die onkunde wat die meeste mense geopenbaar het oor die Tien Gebooie en dit was sy plan om ’n neiging teë te werk waar mense meer begaan was oor die verskillende menings van mense as die Wet van God. Terselfdertyd kan ons nie nalaat om ’n geneigdheid op te merk om die hele Ou-Testamentiese vorm van die Wet aan te neem, wat duidelik word in sy toepassing van die Wet van die Sabbat, teenoor die Christelike viering van Sondag” (General History of the Christian Religion and Church , vol. IX, Deel I, bll. 200-201).

Dit is dalk jammer dat Wycliffe geen opvolger met die merkwaardige vermoë nagelaat het om met sy werk in Engeland voort te gaan nie. Sy vertaling van die Bybel in die Engelse taal, wat tussen 1382 en 1384 voltooi is, het ’n groot en blywende voordeel vir sy tydgenote ingehou. “Die grootste diens wat hy aan die Engelse volk bewys het was sy vertaling van die Bybel en sy openlike verdediging van hulle reg om die Skrif in hulle eie taal te lees” (Fisher, bl. 274).

Alhoewel sy sienings deur die Roomse hiërargie veroordeel was, was pogings om hom in die tronk te gooi onsuksesvol as gevolg van sy vriende en volgelinge en hy was toegelaat om in sy gemeente by Lutterworth af te tree, waar hy ’n natuurlike dood gesterf het. Met sy dood het die politieke belangrikheid van die Lollard-beweging, soos dit algemeen bekend gestaan het, tot ’n einde gekom. ’n Paar van sy volgelinge het hoofsaaklik in die geheim aktief gebly tot en met die Hervorming.

Sy geskrifte en leerstellings het egter na die buiteland versprei en soos ’n geskiedkundige sê: “Wycliffe se belangrikste invloed was om in Boheme te wees eerder as in die land van sy geboorte” (Walker, bl. 301).

Die Husitiese oplewing

Die feit dat Wycliffe se sienings ’n meer geredelike aanvaarding in Boheme as in Engeland gehad het, was byna uitsluitlik aan die pogings van John Huss te danke.

Huss is in 1369 in Boheme gebore. Hy was ’n ywerige student van Wycliffe se geskrifte en het die meeste van sy leerstellings gepredik, veral dié wat teen die pouslike wanpraktyke was. As rektor van die Universiteit van Praag, het Huss vroeg reeds ’n noemenswaardige invloed in Boheme gehad.

Aanvanklik het hy glo gehoop om die kerk van binne te hervorm en het die vertroue van sy kerklike meerderes gehad. As ’n prediker het hy egter die heersende sondes van die geestelikes met groot ywer veroordeel en het so begin om agterdog te wek. Nadat hy aangestel was om ’n paar van die beweerde wonderwerke van die kerk te ondersoek, het hy hulle op die ou end as vals verklaar en aan sy volgelinge gesê om op te hou soek na tekens en wonders en om eerder die Skrif te ondersoek.

Uiteindelik het “sy passievolle veroordeling van die sondige verkoop van aflaatgeld vir vergifnis, veroorsaak dat hy deur die pous verban is” (Fisher, bl. 275). Hy was daarna deur die simpatieke koning oorreed om in ballingskap te gaan. Ongelukkig het hy later ingestem om voor die Raad van Konstantyn te verskyn nadat hy ’n belofte van vry geleide van die keiser ontvang het. Hy het sy leerstellings verdedig in ooreenstemming met die Skrif, maar hy was deur die raad veroordeel en aan die siviele owerheid oorgelewer vir teregstelling. Hierdie metode was altyd gevolg sodat die “onskuld” van die Roomse Kerk in sulke gevalle bewaar kon word.

Die keiser se “vry geleide” belofte was verbreek volgens die Katolieke beginsel dat “beloftes met ketters nie gehou mag word nie” (Hurlbut, bl. 143). Die wrede vonnis wat oor Huss gevel is, was dat hy op die brandstapel verbrand moes word. Sy dapper dood en dié van Jerome van Praag, ’n jaar later, wie sy hervorming van gees en ideale gedeel het, het die hervormingselement in Boheme aangewakker en het sy landgenote vir baie jare beïnvloed (Fisher, bl. 276).

Jerome Savonarola

In ongeveer 1452 is ’n man in Florence, Italië, gebore wat die pouslike korrupsie op eie bodem uitgedaag het.

Hierdie man was Jerome Savonarola, wat so deur die goddeloosheid en losbandigheid rondom hom gewalg was dat hy ’n monnik van die Dominikaanse orde geword het, deels om van die euwels rondom hom te ontsnap.

Hy het hewig teen die kerklike, sosiale en politieke euwels van die dag gepreek en het geen ouderdom, geslag, of omstandighede van mense gespaar nie. Aanvanklik wou die mense van die stad nie luister nie, maar het later die katedraal tot oorlopens toe gevul. Hy het later nie meer redenasies in sy preke gebruik nie, maar in die naam van die Allerhoogste gepreek (Fisher, bl. 276).

Vir ’n tyd lank het hy ’n oënskynlike hervorming van die stadsmense teweeggebring en vir ’n kort tydjie werklik die politieke en godsdienstige leier van die stad Florence geword. Sy politieke beleid het vir hom bitter vyande gemaak – onder andere die pous Alexander VI. Hy het geweier om te swyg en daarom is Savonarola spoedig verban [ge-ekskomminikeer], gevange geneem en in die tronk gegooi. Na ’n bevooroordeelde verhoor is hy opgehang, toe verbrand en sy as is in die Arnorivier gegooi.

Geskiedkundiges stem saam dat Savonarola se belange veel minder in hervormings van leerstellings gelê het dan in die suiwering van morele waardes. Dit moes binne die perke van die Roomse Kerk bewerkstellig word. Ons kan ook daarop let dat dit in ’n groot mate die geval met Wycliffe en Huss was. Al drie was in die Katolieke geloof, gebruike en opvattings grootgemaak. Met die moontlike uitsondering van Wycliffe, het almal in werklikheid as Katolieke gesterf, selfs al het hulle ’n hervorming binne daardie liggaam probeer bewerkstellig.

Dit is dus duidelik dat geen gewone man, hoe bevoeg en ywerig hy ook al mog wees, in staat sou wees om ’n suiwering van die geestelike verdorwenheid van die Rooms-Katolieke Kerk as geheel teweeg sou bring nie. As gevolg van die toename van pouslike mag, was net die pous en sy onmiddellike hof die enigstes wat dit kon vermag.

Hindernisse tot ’n ware Hervorming

Die betrokkenheid van die verderflike stelsel was nogtans so groot, die verkoop van kerklike poste so algemeen, die versoekings om munt te slaan uit die verkoop van aflate en ander kerklike inkomste so volop, dat selfs ’n opregte hervormer binne die pouslike hof sy lot as hopeloos sou vind. “Wanneer mense hulle hele fortuin in die koop van ’n winsgewende pos spandeer het, wat op ’n veiling te koop was, sou dit nie afskuwelik wees om al sulke poste af te skaf nie? Daar was geen geld om daarvoor te vergoed nie. Na Leo X se afsterwe was die pousdom nie net in die skuld nie, maar bankrot. ’n Hervormende Pous het geen kans op sukses gehad nie. Daar was geen uitkoms in sig nie.” (Plummer, The Continental Reformation, bl. 15).

Regdeur die nasies van Europa was daar nogtans baie politieke, maatskaplike en ekonomiese wanpraktyke wat gesmeek het vir hervorming – om nie te praat van die oorweldigende godsdienstige vergrype nie. Op een of ander manier, soos ons binnekort sal sien, was ’n soort universele omwenteling onafwendbaar bestem om die uiterlike selftevredenheid van daardie tyd te skud.

Soos ons egter gesien het, dieselfde manne wat probeer het om hierdie korrupte stelsel te hervorm was so deeglik met die leerstellings van Rome geïndoktrineer dat dit uiters moeilik was om heeltemal weg te breek. Dit is nodig dat ons in gedagte hou dat hierdie manne – Luther, Zwingli, Calvyn en hulle bondgenote – almal van kleins af in die Rooms-Katolieke leerstellings en gebruike grootgemaak is. Hulle het van niks anders geleer nie en aangesien daar feitlik geen godsdienstige boeke of Bybels in die algemene tale beskikbaar was nie, het hulle van bitter min anders behalwe die Rooms-Katolieke geloof, seremonies, rituele en tradisies geweet.

Dit was dus vir hulle feitlik onmoontlik om die godsdienstige stelsel waarin hulle grootgemaak is, objektief met die oortuigings en gebruike van Jesus Christus en die geïnspireerde Nuwe-Testamentiese Kerk te vergelyk.

Uit ’n geestelike oogpunt was die werklike vraag van belang egter nie of daar ’n soort van hervorming sou wees nie, maar of daar ’n terugkeer sou wees na die “geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.” ’n Terugkeer na die ware Christenskap van die Apostels was dringend nodig. ’n Terugkeer na die ware Evangelie, die geloof en gebruike van Christus en die Apostoliese Kerk, sou ’n nuwe era van geregtigheid en aanbidding, vrede en vreugde inlui.

Was so ’n ware hervorming aan die kom? Dit is die vraag wat in die gedagtes en harte van alle denkende mense ingebrand behoort te word – die finale antwoord op hierdie vraag sal tot ’n groot mate bepaal wat die ware betekenis van die godsdienstige verdeeldheid en verwarring van ons tyd is.

Die antwoorde op hierdie noodsaaklike vrae, die ontrafeling van hierdie boeiende raaisel, sal volgende keer in hierdie reeks artikels verskyn.