Die boek Openbaring in u Bybel, is vir die meeste mense ’n raaisel. Dit is vol buitengewone sinnebeelde en geheimsinnige figure. Een van hulle, is ’n “Dier” wat die toekoms van die wêreld sal verander.


Die boek Openbaring is vol simbole, waarvan een 'n “Dier” is met sewe koppe en tien horings. Volgens Bybelprofesie, sal hierdie toekomstige Dier oor baie nasies regeer.
Wie presies is hierdie Dier? Wat verteenwoordig die koppe en horings? Die antwoord kan u dalk verbaas, en dit sal u ook help om die toekoms van die wêreld te verstaan.

Gereelde lesers van hierdie tydskrif verstaan dat Jesus Christus binnekort na hierdie aarde sal terugkeer om die duisendjarige Vrederyk—die Koninkryk van God—hier op aarde in te lei. Bybelprofesie onthul egter dat alvorens Jesus Christus Sy heerskappy op aarde sal begin, die nasies in 'n vernietigende wêreldoorlog teen mekaar sal veg. Een van hierdie oorlogvoerende supermoondhede, word in u Bybel beskryf as 'n dier met sewe koppe.

Johannes se beskrywing van die Dier

Wat is hierdie geheimsinnige Dier? Die apostel Johannes beskryf 'n duidelike visioen van 'n dier met sewe koppe en tien horings. “En ['n engel] het my in die gees weggevoer na 'n woestyn, en ek het 'n vrou sien sit op 'n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings” (Openbaring 17:3).

Wat is die betekenis van hierdie koppe en horings? Wat verteenwoordig die vrou? Mense hou daarvan om te spekuleer, maar ons hoef nie in die duister te verkeer oor die betekenis van Johannes se skrywe nie. Die Bybel interpreteer die Bybel, soos ons sal sien.
In die Bybel is 'n vrou simbolies van 'n kerk. Soms verteenwoordig 'n vrou die ware Kerk (Efesiërs 5:25, 32). Christus het Sy Kerk lief, net soos die mans hul vroue moet liefhê. 'n Gevalle vrou verteenwoordig egter 'n vals kerk of vals godsdiensstelsel. Let op Johannes se verdere beskrywing: “En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand 'n goue beker gehad, vol van gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was 'n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde. En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien” (Openbaring 17:4-6).

Hier is 'n groot vervolgsugtige kerk, 'n godsdiensstelsel wat die ware Christene oor die eeue heen vervolg het. Johannes sit sy beskrywing voort: “Hier kom die verstand wat wysheid het, te pas. Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit. En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy 'n kort tydjie bly. En die dier wat was en nie is nie, is self ook die agtste, en hy behoort by die sewe en gaan na die verderf” (Openbaring 17:9-11). 
Hier sien ons dat die sewe koppe sewe opeenvolgende konings of koninkryke verteenwoordig, wat op die oorspronklike koninkryk volg. Die agtste sal dus die finale herrysing van hierdie koninkryk wees. Soos ons sal sien, is dit die herrese Romeinse Ryk.

Johannes beskryf voorts 'n uitsonderlike eienskap van die Dier: “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier. Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin—want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings—en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (Openbaring 17:12-14). Hierdie horings is 'n militêre alliansie wat oorlog sal voer teen Jesus Christus, die Lam.

Die Dier by Armageddon

Die Bybel beskryf 'n verskriklike eindtydse slagting, algemeen bekend as die “Slag van Armageddon”. Tydens hierdie skermutseling sal magte wat lojaal is aan die Dier, toetree tot 'n finale stryd tussen goed en kwaad, met die doel om die aarde te beheer. Wat sal tydens hierdie stryd gebeur? “En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die Ooste af kom, reggemaak kon word” (Openbaring 16:12).

Let op waar hierdie veldslag gevoer word! 'n Oosterse alliansie, naamlik die “konings wat van die Ooste af kom”, sal weswaarts oor die Eufraatrivier beweeg. Kyk na 'n wêreldkaart en u sal sien dat die Eufraatrivier sy oorsprong in Turkye het en dan deur Sirië en Irak vloei, voordat dit die Persiese Golf bereik. Watter nasies is Oos van die Eufraatrivier? Nasies wat Iran, Indië en China insluit.

Die Bybel beskryf dat konings wat “van die Ooste af kom” weswaarts sal beweeg om hulle by ander magte aan te sluit. Waarom sal hulle opruk? “En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” (Openbaring 16:13-14). Die Dier, saam met die vals profeet, sal hierdie konings versamel om teen Jesus Christus—die Messias—oorlog te voer met sy Wederkoms. Alhoewel daar dikwels na hierdie geveg verwys word as die “Slag van Armageddon”, noem u Bybel dit iets anders—“die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” (vers 14).

Kan Christene dit bekostig om hierdie beslissende gebeurlikheid te ignoreer? Jesus Christus Self gee die antwoord wanneer Hy ons waarsku: “Kyk, Ek kom soos 'n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie” (vers 15).

Waar sal die Dier die wêreld se leërs byeenbring? “En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon” (vers 16). Die woord “Armageddon” is 'n transliterasie van die Hebreeuse har Megiddo, wat “die heuwel of berg van Megiddo” beteken. Megiddo is sowat 88 kilometer noord van Jerusalem, in Israel, geleë. In antieke tye, het Megiddo die hoofhandelsroete tussen Egipte en Damaskus bewaak. Dit kyk ook uit oor die grootste vlakte in Israel, naamlik die “Vallei van Jisreël” in u Bybel of die Esdraelon-vlakte. Die Ou Testament maak melding van verskeie slagtings wat daar plaasgevind het. Ondanks die feit dat die wêreld se leërmagte al hul moderne wapens van massavernietiging teen die terugkerende Christus sal gebruik, sal hulle hopeloos misluk in stryd teen die Koning van konings.

Die Dier in Daniël

Ons lees in Daniël dat God Sy profeet Daniël geïnspireer het om 'n verstommende visioen van vier groot diere te sien: “Daniël het gespreek en gesê: Ek het in die nag in my gesig gesien, en kyk, die vier winde van die hemel het die groot see in beroering gebring; en vier groot diere het uit die see opgeklim, die een verskillend van die ander. Die eerste was soos 'n leeu, en hy het vlerke van 'n arend gehad; ek het bly kyk totdat sy vlerke uitgeruk is en dit van die grond af opgehef en soos 'n mens op twee voete neergesit is en daaraan 'n mensehart gegee is. En kyk, 'n ander dier, 'n tweede, het gelyk soos 'n beer, en is aan die een kant opgerig; en drie ribbes was in sy bek tussen sy tande; en só het hulle vir hom gesê: Staan op, eet baie vleis” (Daniël 7:2-5).

Daniël beskryf dan 'n dier soos 'n luiperd en nog 'n dier met tien horings, voordat hy verduidelik: “Hierdie groot diere wat vier is—vier konings sal uit die aarde opstaan; en die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem tot in ewigheid, ja, tot in alle ewigheid” (vers 17-18).

Net soos in Openbaring, sien ons hier 'n dier met tien horings! Hierdie dier verteenwoordig ook 'n eindtydse herlewing van 'n groot ryk—'n toekomstige supermoondheid. Daniël verduidelik verder: “Die vierde dier—die vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel. En die tien horings—uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en 'n ander een sal ná hulle opstaan, en hý sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp” (vers 23-24).

Die horings verteenwoordig opeenvolgende konings. Hulle sal geoordeel word en die finale “Diermag” sal omvergewerp word (vers 26). Dan sal God se Koninkryk op aarde gevestig word: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is 'n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (vers 27).

Ons het gesien dat Openbaring sowel as Daniël profesieë aangaande tien horings bevat, wat koninkryke verteenwoordig. Albei profesieë loop saam in die wêreld se finale supermoondheid wat in opstand sal kom teen Jesus Christus. Kan ons hierdie supermoondheid—hierdie finale Dier—identifiseer? 'n Droom wat aan koning Nebukadnésar gegee is, kan ons help om die Bybelse sowel as die geskiedkundige bewyse aangaande die vier wêreldregerende ryke te verstaan en om die Dier te identifiseer wat voor Jesus Christus se Wederkoms sal regeer.

Daniël en sy drie vriende is in Babiloniese ballingskap weggevoer, waar hulle opleiding en onderrig ontvang het om die Koning van Babilon, in wie se diens hulle uitgeblink het, te dien. Waarom het hulle uitgeblink? “En hierdie vier jong seuns—God het aan hulle wetenskap en verstand in allerhande geskrifte en wysheid gegee; ook het Daniël verstand gehad van allerhande gesigte en drome” (Daniël 1:17). Hulle het uitgeblink in hul diens omdat God hulle wysheid gegee het.

Nebukadnésar se droom

Toe Koning Nebukadnésar 'n steurende droom gehad het, kon sy Babiloniese raadgewers dit nie uitlê nie. Nebukadnésar het hom derhalwe op Daniël, wie se wysheid hy gerespekteer het, beroep. Anders as Nebukadnésar se raadsmanne, het Daniël geweet wat die koning se droom was en het die groot beeld beskryf wat die koning gesien het: “U, o koning, het 'n gesig gehad—kyk, daar was 'n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei. U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande 'n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het” (Daniël 2:31-34).

Daniël het nie net geweet wat die koning gedroom het nie, hy kon ook die betekenis daarvan uitlê: “U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het, en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het—ú is die hoof van goud” (Daniël 2:37-38).

Daniël het Nebukadnésar meegedeel dat die kop van goud hom en sy ryk, die Babiloniese Ryk, verteenwoordig. Watter wêreldregerende ryke verteenwoordig die res van die beeld egter? Bybelkenners en historici stem in die breë saam dat die kop van goud die Babiloniese Ryk tussen 625 en 639 v.C. verteenwoordig. Hierdie ryk is vervang deur die Medo-Persiese Ryk van tussen 558 en 330 v.C., en word verteenwoordig deur die bors en arms van silwer. Die buik en lende van koper verteenwoordig die Grieks-Macedoniese Ryk van Alexander die Grote, tussen 333 en 31 v.C. Die twee bene van yster verteenwoordig die Romeinse Ryk tussen 31 v.C. en 476 n.C. Laastens, verteenwoordig die tien tone—aan die twee voete van 'n mengsel van yster en klei—'n toekomstige herlewing van die Romeinse Ryk.

Let daarop dat al die koninkryke wat deur Nebukadnésar se droombeeld verteenwoordig word, tot 'n einde sal kom. Wat sal ná hulle kom? Die Koninkryk van God! Soos Daniël aan Nebukadnésar verduidelik het: “U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande 'n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het 'n groot rots geword wat die hele aarde gevul het” (Daniël 2:34-35).

Daniël gaan voort om die betekenis van die klip te verduidelik: “Maar in die dae van dié konings [gesimboliseer deur die tien tone] sal die God van die hemel 'n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar 'n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44).

God se Koninkryk vervang die Dier!

Die Koninkryk van God sal die Diermag vervang. Soos ons gesien het, voorspel Daniël se profesieë die ryke wat die Babiloniese Ryk sal opvolg. Die laaste ryk, met sy herlewings, was die Romeinse Ryk. Daar was ses herlewings, insluitende die Keiserlike Herstel onder Justinianus in 544 n.C. en nog 'n herlewing onder leiding van Karel die Grote in 800 n.C. Die eindtydse Diermag van Openbaring, sal die finale herlewing van die eertydse Romeinse Ryk wees wat aanvanklik tussen 31 v.C. en 476 n.C. regeer het.

Die eindtydse herlewing van hierdie antieke ryk word ook in Openbaring 13 uitgebeeld. Johannes beskryf wat hy in 'n visioen gesien het: “En ek het 'n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe 'n naam van godslastering. En die dier wat ek gesien het, was soos 'n luiperd, en sy pote soos dié van 'n beer, en sy bek soos die bek van 'n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag” (vers 1-2).

Ander kommentare het ook die Dier van Openbaring as die Romeinse Ryk geïdentifiseer, onder meer die Douay-Rheims uitgawe van die Bybel, wat deur die Rooms-Katolieke owerhede uit die Latynse Vulgaat vertaal is. In die verduidelikende notas, lewer die Douay-Rheims die volgende kommentaar rakende Openbaring 13: “Die beeld van die eerste dier is op Daniël 7 gebaseer. Hierdie dier is die beeld van die wêreldse koninkryke, wat op drif en selfsug gegrond is en tydens alle eras antagonisties teenoor Christus was en dit ten doel het om God se dienaars te onderdruk. Keiserlike Rome verteenwoordig hierdie mag.” Selfs hierdie Rooms-Katolieke bron erken dat die Romeinse Ryk geïdentifiseer word as die Diermag! Bykomend tot die notas oor Openbaring 17:11, lewer die Douay-Rheims die volgende kommentaar: “Die dier waarvan hier gepraat word, blyk die Romeinse Ryk te wees, soos in hoofstuk 13.” Dit is geen verrassing dat die Douay-Rheims geen verband tref tussen die Romeinse Ryk en die “vrou”—die vals kerk—wat “sit op”(beheer uitoefen oor) daardie ryk nie. Selfs ernstige Rooms-Katolieke geleerdes ontken egter hier nie die identiteit van die Dier nie!

Talle Europeërs beskou selfs vandag reeds die Europese Unie as 'n nuwe Romeinse Ryk. Soos die Tomorrow's World-skrywer en TV aanbieder John Ogwyn tydens 'n Tomorrow's World-televisieuitsending berig het: “Gedurende die herfs van 2004, het 'n merkwaardige uitstalling in 'n sirkustent reg oorkant die hoofkwartier van die Europese Unie in Brussels, België geopen. Die beste samevatting van die tema van die uitstalling, was 'n banier wat aangekondig het ‘Die Nuwe Romeinse Ryk’. Hierdie uitstalling het die verhaal van 50 jaar van die Europese Unie se geskiedenis uitgebeeld, en volgens die woorde van een prominente Britse koerant, 'projekteer dit na gebeure in die toekoms op 'n ongewoon reguit vertoon van Europese ambisie'” (The New Roman Empire, 20-26 Januarie 2005).

Sal die Europese Unie 'n nuwe Romeinse Ryk word? Douglas Winnail, Europese streeksredakteur van Tomorrow's World, het verlede jaar geskryf: “Europa se hedendaagse leiers poog steeds om Europa volgens 'n Romeinse model te verenig. Toe die verdrag van Rome in 1957 onderteken is, wat die grondslag vir Europese eenheid gelê het, het die deelnemers verklaar 'ons het daardie dag soos Romeine gevoel... ons het die Romeinse Ryk nog 'n keer doelbewus herskep'” (Shadows Over Europe, Januarie-Februarie 2005, bl. 13).

Bybelprofesie onthul dat 'n groot supermoondheid in Europa sal verrys en dat dit 'n herlewing van die Romeinse Ryk sal wees. Hierdie groot moondheid sal polities, militêr en ekonomies van aard wees. U kan in Openbaring 18 van die moondheid se ekonomiese mag lees. Die huidige Europese Unie neig daarheen om al drie daardie dimensies van mag te volbring. Duitsland staan tans aan die spits van die Europese Unie. Soos ons reeds in vorige artikels in hierdie tydskrif uitgewys het, dui Bybelprofesie daarop dat God die Bybelse nasie Assirië tydens die eindtyd sal gebruik om Sy volk te straf, soos Hy voorheen ook gedoen het. Soos gereelde lesers van hierdie tydskrif weet, is hedendaagse Duitsland die afstammelinge van antieke Assirië, wat deur God gebruik sal word om die moderne afstammelinge van die antieke huis van Israel te straf—die nasies van die Verenigde State en lande van Britse afkoms. Indien u meer inligting oor hierdie belangrike onderwerp verlang, vra gerus u gratis kopie aan van ons insiggewende boekie “Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?”

Bybelprofesie onthul ook dat hierdie Europese supermoondheid—die Diermag—die Midde-Ooste sal binneval. Die profeet Daniël het voorspel dat die eindtydse koning van die noorde die “Pragtige Land” sal binneval (Daniël 11:41) Onthou u wat Jesus hieroor gesê het? “En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is” (Lukas 21:20).

Hou verwikkelinge in Europa en die Midde-Ooste dop! Soos ons gesien het, sal die Diermag selfs teen Jesus Christus veg wanneer Hy na Jerusalem terugkeer, maar Christus sal almal oorwin wat Hom teenstaan. Die apostel Johannes skryf in Openbaring 19:19, “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Openbaring 19:19-21).

Die terugkerende Messias, Jesus Christus, sal Satan—die mag agter die Dier en al sy bondgenote—oorwin. Satan sal in die afgrond gewerp word (Openbaring 20:3). Christus sal dan die Koninkryk van God op die aarde vestig wat 'n “Millennium” van vrede en die voorbereiding van miljarde mense sal inlei om vir alle ewigheid lede van sy Gesin te wees. Mag God u help om Hom lief te hê, Hom te gehoorsaam en te dien, sodat u ook deel kan wees van daardie regerende, dienende Gesin onder u Verlosser, Jesus Christus, tot in alle ewigheid!”