Tot die uiteindes van die aarde
Gedurende Februarie 2023 het ek en my vrou na Tierra del Fuego aan die suidpunt van Argentinië gereis. Daar is die asemrowende mooi Ushuaia – ’n provinsiale hoofstad – wat daarop aanspraak maak dat dit die wêreld se mees suidelike stad is en wat hulleself as “die einde van die aarde” adverteer. Die naburige Chili maak dieselfde aanspraak vir sy Puerto Williams, vanwaar ons die Tomorrow’s World-program vir ongeveer ’n jaar lank uitgesaai het en ons sal dit aan hierdie twee nasies oorlaat om dit uit te klaar (hopelik sonder dat dit tot oorlog lei – wat by geleentheid al byna plaasgevind het).
Dit was ’n “besigheidsreis” – Kerkaangeleenthede – maar dit was ook ’n ervaring van ’n leeftyd en baie leersaam. Terwyl ons in Ushuaia was, het ons ’n klein parkie besoek met gedenkplate wat die Argentynse standpunt in verband met die oorlog met Brittanje oor die Falkland-eilande/Malvinas weergegee het. Daarna het ons ’n bootrit al langs die Beagle-kanaal verby Puerto Williams geneem.
Chili het tydens daardie oorlog logistieke ondersteuning aan Brittanje verleen, wat sy dikwels gespanne verhoudings met sy buurland Argentinië nie bevorder het nie. Buite Suid-Amerika is min mense bewus daarvan dat die Beagle-kanaal wat die twee lande skei, in die laat negentiende eeu ’n bron van konflik geword het, toe albei nasies aanspraak gemaak het op besitreg van eilande in die kanaal. Albei nasies was teen die vroeë 1980’s gereed vir oorlog, aangesien internasionale pogings om die konflik te bemiddel almal misluk het – totdat die nuutverkose Pous Johannes Paulus II ingegryp het. “Die staatshoofde van Chili en Argentinië het op 29 November 1984 ’n vrede- en vriendskapsverdrag by die Vatikaan onderteken. Die eilande aan die noordelike kanaal was aan Argentinië toegeken en die eilande aan die suidelike helfte aan Chili. Boonop kon beide lande deur die gebied vaar, alhoewel die mariene-gebied aan Argentinië behoort” (“How John Paul II helped Chile and Argentina avoid going to war,” Rome Reports, 30 November 2009).
Dit alles tersyde gestel, ons hoofrede om “die einde van die aarde” te besoek, was om ons Living Church of God-gemeente te ontmoet wat drie ure van daar af in die suide van Argentinië geleë is. Ja, daar is lidmate en ondersteuners van Tomorrow’s World oral, tot aan die einde van die aarde. Hierdie lede is meestal Spaanssprekendes, maar met die hulp van tolke het ons heerlik by hulle gekuier en hartlike samesyn oor ’n heerlike braai geniet. Daar is altyd drukkies en soentjies (op die wang) wanneer ons ook al ons broers in die Spaanssprekende wêreld besoek.
U is waarskynlik bewus daarvan dat die Lewende Kerk van God se lidmate en medewerkers die verkondiging van die ware Evangelie van Jesus Christus aan die hele mensdom ondersteun. Hulle maak dit moontlik om op televisie en radio uit te saai en om hierdie tydskrif – saam met al ons ander hulpbronne – gratis aan meer as 500,000 intekenare te versprei. Diegene van ons wat betrokke is by die Wêreld van Môre is min in getal, maar die omvang van ons invloed strek verder en wyer as wat getalle sou kon aandui. Ons is oor die aarde versprei soos sout op ’n bord fynproewerskos gesprinkel word en in hierdie kort nota sal ek ’n paar besonderhede in hierdie verband met u deel.
’n Lig vir verlossing
Die apostel Paulus haal die profeet Jesaja aan en sê: “Ek het U ’n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die eindes van die aarde” (Handelinge 13:47). Soos ek tydens ons reis na Tierra del Fuego gesien het, bereik ons boodskap wél die uithoeke van die aarde, só ook ontelbare plekke tussen die twee poolstreke. Ons het intekenare wat oor die verre noordelike Kanadese dorpies versprei is en dit sluit – gemeenskappe waarvan u waarskynlik nog nooit gehoor het nie – die gebied van Nunavut in: Pangnirtung, Gjoa Haven, Pond Inlet, Cambridge Bay, Baker Lake, Sanikiluaq, Arviat en Whale Cove.
’n Paar jaar gelede het een van my kollegas ’n man besoek wat in Kugluktuk, bokant die Arktiese sirkel, woon. Hierdie toegewyde man het versoek om gedoop te word. Ons leraar kon aan sy versoek voldoen. Ja, ons is ’n klein kuddetjie, maar ons bereik baie mense. Die Tomorrow’s World-tydskrif bereik 176 lande en ons het aktiewe Living Church of God gemeentes in 67 lande. Ons het gedoopte lidmate in ’n bykomende 31 lande – waar ons hoop om in die nabye toekoms gemeentes te kan vorm. Ons het intekenare in Rusland, China en die Midde-Ooste, Skandinawië en Suid-Afrika asook in lande tussenin. Ons het gemeentes in Vanuatu en het onlangs ’n gemeente van ongeveer 35 mense in Fidji begin. Ons lede in Mianmar moes weens die burgeroorlog daar uit hulle huise en besighede vlug.
Jesus het die Apostels ’n opdrag gegee om Sy ware Evangelie na die wêreld te neem, om dissipels van alle volke te maak en hulle te doop. Die doop simboliseer ons aanvaarding van Jesus Christus as ons Verlosser wat gesterf het, begrawe is en drie dae en drie nagte later uit die dood opgewek is. Deur die doop te ondergaan, toon ons ons aanvaarding van Sy offer namens ons en demonstreer ons ons volle voorneme om af te sien van ons vorige lewe en op te staan tot ’n nuwe manier van lewe (Romeine 6:1-7).
Verkondig geregtigheid
Natuurlik besef ons dat ons nie die hele wêreld op hierdie tydstip sal bekeer nie. Ons leef vandag in Satan se wêreld, soos Jesus dit duidelik gemaak het (Johannes 12:31; 14:30; 16:11). Die apostel Paulus praat ook reguit hieroor. “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korinthiërs 4:3-4). “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efésiërs 2:1-2).
Waarom versuim die meeste hoofstroomkerke om hierdie belangrike waarheid te onderrig? Ons vind die antwoord juis in hierdie gedeeltes: Satan is nou die god van hierdie wêreld en hy het die mensdom mislei (Openbaring 12:9) – dit sluit die oorweldigende meerderheid van diegene in wat hulleself Christene noem. Dit is waarom Jesus ons waarsku teen valse Christenskap (Matthéüs 24:3-5).
Ons verkondig die ware Jesus van die Bybel en die boodskap wat Hy verkondig het terwyl Hy in die vlees was, ons erken egter die tyd waarin ons leef. Net soos wat Noag geregtigheid verkondig het en die wêreld voor die vloed gewaarsku het, is ons verplig om dieselfde te doen terwyl ons die hoogtepunt van Satan se 6,000 jaar van heerskappy oor die mensdom nader (2 Petrus 2:5).
Ons moet ook die huis van Israel erken om daardie boodskap te verkondig. Die Jode is een van die twaalf stamme van Israel, maar hulle is nie al wat van die Israeliete oorbly nie. Dit word duidelik gesien in Eségiël 37:15-28 waar daar geprofeteer word dat die huis van Juda en die huis van Israel (twee nasies wat gedurende die tiende eeu v.C. geskei is) weer bymekaar gebring sal word na Christus se Wederkoms. Indien u nie hierdie wonderlike waarheid verstaan nie, bestel ’n gratis eksemplaar van Wat lê voor vir Amerika en Brittanje asook Suid-Afrika? U kan dit ook aanlyn lees by wvm.co.za. U kan nie sin maak van gebeure wat nou in ons wêreld plaasvind sonder hierdie kennis nie.
Aangesien ons weet wie die huis van Israel is, word ons aanspreeklik gehou om sy mense te waarsku (Eségiël 33:1-7). God hou ons egter verantwoordelik om almal wat in gevaar verkeer te waarsku: “Red die wat na die dood gesleep word, en die wat na die slagbank wankel, hou hulle tog terug! As jy sê: Kyk, ons het dit nie geweet nie! – sal Hy wat die harte toets, dit nie merk nie? En Hy wat let op jou siel, Hy kom dit te wete. En Hy vergeld die mens na sy werk” (Spreuke 24:11-12).
God het sy dienaars die verantwoordelikheid gegee om die ware Evangelie te verkondig, die wêreld te waarsku oor wat kom, om dissipels van alle nasies te maak en om diegene wat Hy roep, geestelik te voed. Ja, ons is ’n klein kuddetjie, maar ons gaan voort om hierdie opdragte ernstig op te neem – al die pad “tot aan die einde van die aarde.”


