Die mees invloedryke boek wat nog ooit in Engels geskryf is, gedenk sy 400ste bestaan hierdie jaar! In 1611 het ’n monumentale projek voltooiing bereik, waaraan meer as 50 van Engeland se bekwaamste kenners vir sewe jaar betrokke was – ’n vertaling van die Bybel in die Engelse taal, wat steeds wyd gewaardeer word as ’n meesterstuk van kundigheid en duidelikheid en is werklik ’n prageksemplaar.

Dit was gedoen in opdrag van Koning Jakobus I van Engeland en ons ken dit vandag as die King James Version – of die Authorised Version – van die Bybel. Streng gesproke, was dit nie ’n “nuwe” vertaling nie, maar daar was gepoog om die heel beste van alle vorige weergawes saam te snoer in wat die vertalers beoog het as “dié een uitnemendste goeie een” – getrou aan die oorspronklike Hebreeuse en Griekse tekste, en geskik vir hardop lees in die kerke.

Ander belangrike vertalings het dit voorafgegaan; veral dié van William Tyndale, wie se vroeëre werk ’n duidelike stempel afgedruk het op die KJV teks. Waarom het die KJV dan so invloedryk gebly tot vandag toe? Hoe het hierdie teks – waarvan die taalgebruik selfs van sy ontstaan af as verouderd beskou was – dan so ’n impak gehad op die Engels-sprekende wêreld?

Politieke en Godsdienstige doeleindes

Vanaf die oorsprong van sy ontstaan in Januarie 1604, is die “King James” vertalingsprojek aangepak met beide ’n godsdienstige en ’n politieke doelwit duidelik voor oë. Die nuwe Stuart Koning – Jakobus I van Engeland en Ierland – het dit gesien as ’n slim manier om sy eie posisie te ondersteun as beide die politieke hoof van die staat asook die geestelike hoof van die staatskerk.

Die tye was uiters onstuimig. Protestante van verskeie denkrigtings – Puriteine, Calviniste, Lutherane en Presbiteriane – het met die konings en biskoppe gebots in geskille oor ou monargiese verwagtings en geestelike wêreldbeskouings. Skrywer Adam Nicolson wys daarop dat Koning Jakobus gehoop het ’n nuwe Bybelvertaling sou dien as “’n middel tot vrede, ’n manier waarop die verdeeldhede van die kerk, en die land as ’n geheel, omvat kon word in een verenigende struktuur wat gegrond is op die goddelike gesag van die koning” (When God Spoke English, bl. 66).

Nogtans kon dit nouliks gesê word dat vrede en eenheid die wyse waarop dit begin het, karakteriseer. Indien mens die vertaling self ’n triomf kon noem, kon die druk en verspreiding daarvan ’n ramp genoem word. Dit blyk dat daar geen meester manuskrip was om van af te werk nie. Geen geld was opsygesit vir drukwerk nie. Geen dekreet was uitgevaardig om die aanvaarding daarvan af te dwing nie. As gevolg van swak bestuur is toegelaat dat baie agtelosige foute ingesluip het in die gepubliseerde boeke, en die nuwe Bybel was begroet met wat die outeur Derek Wilson beskryf as ’n “dawerende onverskilligheid” (The People’s BibleThe Remarkable History of the King James Version, bl. 121). Dit het gelyk of Koning Jakobus nie omgegee het nie, omdat sy aandag verskuif het na wat hy as meer belangrike sake beskou het.

Die bevolking van Engeland het desondanks stadig maar seker gewoond geraak aan die KJV. Dit het hul bewustheid binnegedring, en die soetvloeiende, welluidende bewoording daarvan het in hulle ore weerklink en die werklike struktuur van hul taal binnegedring. Nogtans het nasionale verdeeldheid onder die Engelssprekendes nie verdwyn nie. Ineenverstrengelde politieke en godsdienstige verskille het uiteindelik gelei tot ’n volskaalse Burgeroorlog (1642-1651), wat geëindig het met die ineenstorting van die monargie en die bevestiging van Oliver Cromwell as Engeland se “Lord Protector”.

Herstelling

Dit was slegs ná Cromwell se dood, toe Engeland se koningshuis herstel is, dat die KJV waarlik tot sy reg gekom het. Al daardie eienskappe wat so sorgvuldig in die vertaling ingebou was, het begin om hulle subtiele uitwerking te bewerkstellig. Predikante het geleidelik en stilweg hul kerke se vorige uitgawes van die Bybel begin vervang. Met verloop van tyd, tot in die laaste helfte van die agtiende eeu, is verskeie foute – van vertaal- en veral drukwerk – uitgeskakel. Namate die welluidendheid en die akkuraatheid van die KJV meer algemeen waardeer is, het die gebruik van die Engelse taal daarvan ’n standaard gestel vir skrywers en sprekers om na te volg. Selfs die veroudering van die taal was as deel van die KJV se krag beskou.

In Brittanje en Amerika het Bybelgenootskappe tot stand gekom om die KJV Bybels by die miljoene te druk en te versprei. Namate Brittanje se invloed uitgebrei het, is die KJVop die vleuels van die Ryk regoor die wêreld gedra, sodoende is die Engelse kultuur en Bybel-gebaseerde waardes na verre lande versprei. Dit het die lewe en denke van geslagte van sy lesers gevorm en ’n “kragtige simbool van Engelsheid” geword (Wilson, bl. 143).

Omdat die KJV die moderne Engelse taal gevorm het, en die Engelse taal die dominante taal van die moderne wêreld geword het, kon mens sê dat die KJV, in ’n groot mate ons moderne wêreld gevorm het. Ten spyte van die talle pogings om “verbeterde” Engelse vertalings van die Skrif daar te stel, het geeneen nog heeltemal daarin geslaag om dit te vervang nie.

Trouens, vir sommige het die KJV ’n ikoon op sigself geword, en neem dit selfs die plek van die oorspronklike geskrifte in. Hierin lê ’n groot gevaar. Christene erken dat dieoorspronklike manuskripte van die Skrif onfeilbaar is, en dat dit die gesaghebbende grondslag vir alle geestelike waarheid is. Ons moet egter nie ’n “afgod” van enige vertalingmaak nie – ons moet nie in die slaggat trap om te dink dat God elke enkele vertaalde woord geïnspireer het net soos Hy die oorspronklike openbaring geïnspireer het nie.

Ons moet ook nie die belangrikheid van die KJV geringskat en dit verwerp as’n blote literêre meesterstuk nie. Selfs die bekende ateïs Richard Dawkins is ’n aanhanger daarvan; hy stel voor dat die KJV in skole geleer moet word vir sy literêre en kulturele waarde, terwyl die leerstellings daarvan verwerp moet word (The God Delusion, bll. 340-344).

Reageer op die Waarheid!

Dit lei tot ’n belangrike les wat ons kan leer op hierdie herdenking. Ons mag ’n King James Version Bybel besit, en ons mag sy blywende literêre meriete loof. Lees ons dit egter gereeld? Indien ons dit lees, doen ons dit om ag te slaan op sy boodskap? Die Bybel maak aanspraak daarop om die “lewende woorde” van God te wees, in staat om “die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Handelinge 7:38; Hebreërs 4:12) te onderskei. Dit sê aan ons ons behoort volgens “elke woord van God” te leef (Lukas 4:4). Vertalings mag die werk van mense wees, maar die Skrif self herinner ons daaraan dat die oorspronklike teks “deur God uitgeasem” is en die “hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Timotheüs 3:16-17). Vertalings van die Bybel – selfs die KJV – mag kom en gaan, maar die Bybel se sentrale boodskap sal altyd van krag wees, want dit praat met gesag oor die menslike toestand, en kan tot reg in die hart en gees van elke mens reik.

Daar is ’n bekende spreekwoord wat die KJV vertaal as: “Where there is no vision people perish; but he that keepeth the law, happy is he” (Spreuke 29:18). Vir diegene van ons wat meer vertroud is met Afrikaans, kan die Afrikaanse Vertaling ons help om die logiese verband tussen die twee gedagtes in daardie vers te verstaan: “As daar geen openbaring is nie, word die volk bandeloos; maar hy wat die wet onderhou, gelukkig is hy”.

Dit verklaar miskien waarom so baie mense vandag die Bybel verstoot. Dit is God se openbaring aan die mensdom. Wanneer dit gehoorsaam word, bied dit ’n beperking wat sal verseker dat ons gelukkig uit die moeilikheid sal bly, en wat ons die rigting sal aandui volgens God se weë en ons sal lei. Hoewel baie mense vandag weier om enige leiding aan te neem wat moontlik hulle “lewenswyse kan inperk”, gaan ’n liefdevolle God voort om uit te roep: “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jesaja 55:7). Sal u ag slaan op God se blywende oproep?