U eie lewe hang in die volgende paar jaar af van u bereidwilligheid om te verander! U ewigheid hang af van wat u met die waarheid doen wat onthul word.


In net die afgelope paar jaar het miljoene kykers na die Tomorrow's World-televisieuitsending gekyk of die Tomorrow's World of Wêreld van Môre-tydskrif gelees of ons webwerf besoek. Elke maand wat verbygaan, is daar talle duisende mense wat hierdie boodskap vir die eerste keer hoor. Hulle lees die sterk, uitgesproke artikels wat op die Bybel gegrond is en in die Wêreld van Môre-tydskrif verskyn. Hulle het ons boekies en artikels bestudeer wat die waarheid wys oor die bestaan van hul goddelike hemelse Vader–die Skepper–wat aan hulle elke asemteug gee. Hulle het die uiterste belaglikheid van die evolusiefantasie en ander vals leringe gesien.

Hulle luister, hulle lees en hulle praat. Moontlik praat hulle met familielede of vriende, of mense by die werk. Moontlik praat hulle met mense by die kerk of by die skool.

Hulle luister en hulle lees en hulle praat alreeds. 
Ja, hulle luister en hulle lees en hulle praat–maar wat sal hulle doen?

Wat sal u doen?
God sê: “En hulle kom na jou toe soos 'n volk saamstroom en sit voor jou as my volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklaringe met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan. En kyk, jy is vir hulle soos 'n minnelied, soos een skoon van stem, wat goed op die snare speel: hulle hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie. Maar as dit kom–kyk, dit kom!–dan sal hulle weet dat daar 'n profeet onder hulle gewees het” (Esegiël 33:31-33).

Wat gaan dit verg vir u om persoonlik te besef dat ware dienaars van die Almagtige God met u praat deur die Tomorrow's World-televisieuitsending?

Wat gaan dit verg vir u om te luister en te reageer op kennis wat u ontvang deur die Tomorrow's World-televisieuitsending, -tydskrif en die webwerf?

Tot watter mate sal geprofeteerde bonatuurlike straf u persoonlik moet raak voordat u bereid is om u leefwyse te verander en God te gehoorsaam?

Want dit is die sleutel–u bereidwilligheid om te verander.

Baie diepdenkende mense is intellektueel oortuig deur wat hulle op die Tomorrow's World-televisieuitsending hoor en in die bladsye van die Wêreld van Môre-tydskrif lees–en hulle weet dat dit reg is. Hulle weerstaan dit egter en dit grief hul dat hulle hul leefwyse moet verander!

Tog, in hierdie tyd meer as ooit tevore, is u bereidwilligheid om te verander en om die waarheid te aanvaar en om gehoorsaam te wees aan wat God in hierdie eindtye deur Sy dienaars onthul, die sleutel tot u einste oorlewing–nou en vir ewig.

Kort voor lank sal u kan sien dat dit nie net 'n sentimentele gedagte is nie–dit is 'n feit.

U gesindheid is die sleutel

Regdeur die tye het elke ware dienaar van God 'n boodskap van verandering gepreek. Dit is bloot omdat mense altyd geneig was om die weg van die menslike aard te volg–die weg van ydelheid, selfsug, wellus, haat en oorlog.

Asof met een stem, het hierdie getroue dienaars van God uitgeroep teen die nasionale misdade en sondes van hul volke–nie net in regverdige verontwaardiging of uit wraak nie, maar uit diepe, persoonlike besorgdheid.

Esegiël roep uit: “Waarom wil julle sterwe, o huis van Israel?” (Esegiël 18:31). Jeremia beklaag: “Nie van harte verdruk of bedroef Hy [God] die mensekinders nie” (Klaagliedere 3:33).

Esegiël en Jeremia het met diepe insig, die sieklike oordadigheid en sondes van hul mense gesien. Hulle het deur God se spesiale openbaring die geprofeteerde strawwe gesien wat daardie mense oor hulself bring. Hulle het ook hul mense, vir wie hulle lief was en van ganser harte wou bedien, aangemoedig om hulle van hul sondes te bekeer–om te verander.

Elkeen het die oproepe van mense geantwoord wat so baie probleme gehad het–mense wat van hom gesê het: “Hy sê net sleg van die nasie en hy bied nooit enige oplossings nie!”

Hulle het oplossings gebied–omvattende, verreikende oplossings vir wêreldprobleme en die probleme van individue deur God se eie antwoord te gee.

Die antwoord is om te bekeer–om bereid te wees om te verander. Want om te bekeer beteken nie net om berou te hê nie, maar om soveel berou te hê dat u bereid is om op te hou om te doen wat verkeerd is, en om om te draai en die ander weg in te slaan.
Ware bekering behels 'n ware verandering.

Ter voorbereiding van Christus se eerste koms, het Johannes die Doper in die woestyn van Judea kom preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mattheus 3:1-2).

Kort daarna begin Jesus Sy eie bediening en preek die evangelie van die komende regering (of heerskappy) van God. Hy verkondig: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15).

Jesus waarsku die mense herhaaldelik dat die enigste manier waarop hulle gered kon word, was om hulle te bekeer van die weë, gewoontes en gebruike van die mense om hulle, en om te begin om God te gehoorsaam. Hy waarsku: “Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom” (Lukas 13:3, 5).

Toe die Nuwe-Testamentiese Kerk begin het, het die geïnspireerde apostel Petrus die weg na verlossing aangedui: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38).

Ook weer: “Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom” (Handelinge 3:19). 
Die bedoeling van die einste woorde “tot inkeer kom” beteken om selfondersoek te doen en te verander.

Om geestelik tot inkeer te kom, moet 'n mens werklik, aktief jammer wees en berouvol wees vir sy ongehoorsaamheid aan die ware God in die verlede en dan moet hy sy leefwyse verander om te voldoen aan God se wil.

U het seker al opgelet dat die artikels in die Wêreld van Môre-tydskrif gedurig aan u toon hoe baie van die gewoontes, gebruike en oortuigings van hierdie wêreld teenstrydig met God se gebooie is. Wat is die heilige dae wat u behoort te onderhou? Wat is die beloning–die ware doelwit–van die Christen? Wat behoort ons te doen aangaande die gedurige vermanings om die gebooie van God te gehoorsaam–almal van hulle? Wat behoort ons te doen met die opdrag om volgens elke woord van God te leef?

Doen u werklik iets met die kosbare kennis wat God u gee?
Hier volg 'n brief–tipies van baie ander–van 'n man wat weet dat hy moet verander: 
“Ek waardeer die literatuur wat u oor die afgelope twee jaar vir my gestuur het baie. Ek het baie dinge geleer en moontlik naby daaraan gekom om myself heeltemal vir God te gee. Dit is jammer dat ek tekortgeskiet het. Siende dat ek hierdie herfs na Oklahoma Universiteit gaan, dink ek dat u materiaal wat u vir my stuur, verlore sal gaan. Ek kan duidelik sien dat die materialistiese trekke en sosiale invloed–veral van my kamermaats–sal veroorsaak dat ek dit opsy sit. Soos u moontlik kan sien, is ek nie te bekommerd oor God se toorn nie. Ek het die saak opsy gesit en dink dat God my vroeër of later sal deurhaal. Ten minste weet ek waarheen om te gaan wanneer dinge erg raak. Dit is amper soos om iets vir niks te kry, nie waar nie? Ek het geen verskoning nie. Ek het die waarheid gesien en dit geïgnoreer. Ek is nie ontnugter nie en soek nie 'n antwoord vir die mensdom se euwels nie. Ek het die antwoord deur u werk gekry. Ek is nie deurmekaar nie; ek is bloot sondig. Dit is jammer dat u literatuur gemors moes word. Ek is bloot 'n tipiese mens.”

Te “swak” om te verander?

Weerstaan u ook verandering? Lyk dit of dit te moeilik is om van u leefwyse na God se leefwyse te verander?
U moet besef dat u menslike aard self iets is om van te bekeer! God sê: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9).
Met daardie woorde beskryf God die soort geaardheid wat u het!

U hou waarskynlik nie van verandering nie. U hou waarskynlik nie van die gedagte om te erken dat u godsdiens of u leefwyse verkeerd kon wees nie.

Let op hierdie treffende beskrywing van die menslike verstand in professor James Harvey se insiggewende boek The Mind in the Making:
“Ons is inderdaad onagsaam in die vorming van ons oortuigings, maar bevind onsself met 'n ongeoorloofde passie daarvoor wanneer enigiemand van plan is om ons van hul geselskap te beroof. Dit is duidelik nie die idees wat hulself bedreig wat vir ons gelief is nie, maar ons selfbeeld wat bedreig word ... Die klein woordjie “my” is die belangrikste een in mensesake en om dit behoorlik te hanteer is net die begin van wysheid. Dit het dieselfde krag, of dit nou my kos, my hond, my huis of my geloof , my land en my God is. Ons verag nie net die aantyging dat ons horlosie verkeerd, of ons kar vuil is nie, maar ook dat ons konsep van die kanale van Mars, of die uitspraak van die woord “Mpumalanga”, die medisinale waarde van soutwater of die datum van Sargon 1 hersien behoort te word...

Ons hou daarvan om aan te hou glo wat ons gewoond is om as waar te aanvaar en die veragting wat opvlam wanneer enige van ons veronderstellings in twyfel getrek word, lei ons daartoe om elke moontlike verskoning aan te haal om daaraan te bly vasklou. Die gevolg is dat die meeste van ons sogenaamde redenasies, daaruit bestaan om argumente te vind om aan te hou glo wat ons reeds glo.”

Wat 'n klassieke illustrasie van die menslike verstand–u verstand! 
Let nou op wat God sê van die natuurlike, vleeslike verstand van die mens: “Omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Romeine 8:7). En in die vorige vers sê God “wat die vlees bedink, is die dood.”

So toon die Bybel dat die einste sleutel tot u oorlewing, u bereidwilligheid is om u te bekeer van u eie weë en u eie idees, gewoontes en oortuigings te verander, sodat dit waarlik ooreenstem met God se weë en leringe soos u Bybel onthul.

God se waarheid bring verantwoordelikheid

God het aan baie van ons lesers getoon dat hierdie Sy Werk is. Deur die Tomorrow's World-televisieuitsending en in die bladsye van hierdie tydskrif, word u gedurig in duidelike terme uitgedaag om die Tien Gebooie letterlik te gehoorsaam soos God beoog. U word uitgedaag om Sy dae heilig te hou en om uit hierdie wêreld se baie heidense godsdiensvieringe, gewoontes en tradisies te kom.

Baie van u sit egter net terug en luister en sê: “Wel, ek stem saam met wat u onderrig, maar ek sien nie dat daar iets is wat ek daaraan moet doen nie.”

Tog sê God: “Omdat nie die hoorders van die wet by God regverdig is nie, maar die daders van die wet geregverdig sal word” (Romeine 2:13).
God sê weer: “Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde” (Jakobus 4:17).

Die meeste van u wat lesers van die Wêreld van Môre is, weet werklik wat u veronderstel is om te doen. U weet dat u moet begin reageer op die noodsaaklike kennis wat u deur God se werk leer.

U weet dat selfs meer kosbare kennis van God se waarheid beskikbaar is deur die wonderlike gratis boekies wat ons oor baie onderwerpe bied, te bestudeer.
U weet dat u selfs meer van hierdie belangrike geestelike waarhede gevoer kan word, deur die Wêreld van Môre-Bybelstudiekursus te doen en daarop te reageer.

U weet waar die waarheid beskikbaar is. U weet dat daar vandag niemand anders op aarde is wat werklik die Bybel so duidelik maak soos ons nie–of wat groot wêreldgebeure in hul besliste, profetiese belang duidelik maak nie.

Sal u reageer terwyl daar tyd is?

Hoe sal u voel wanneer hierdie gebeure waarvan u lees skielik voor u eie oë plaasvind? Hoe sal u voel wanneer u nog altyd geweet het van hierdie dinge–geweet het dat u God behoort te gehoorsaam en te reageer op Sy kennis wat Hy vryelik aan u onthul–maar net te lui was of botweg geweier het om u weë te verander en betyds onder Sy beskerming te kom?

Gaan u reageer soos die man wat hierdie brief geskryf het: “Ek is nie 'n Christen nie. Dit verg 'n man om een van hulle te wees. Ek bid nie. Ek het nog nooit in my lewe gebid nie. Ek het 'n kans gehad om by 'n kerk aan te sluit, maar die manier waarop hulle dinge verduidelik het, het nie vir my reg gelyk nie. Ek het 'n goeie kans gehad om die weg van die evolusieteorie te loop, maar dit het nie reg gelyk nie. Toe die waarheid wel my pad kruis, was ek nie so dom dat ek dit nie herken het nie. Ek help om die werk finansieel te ondersteun, want ek glo een honderd persent daarin. Moet egter asseblief nie dink dat ek bid nie. Ek kan myself nie genoeg verootmoedig nie.”
Skokkend?

Ja. Of ten minste, dit behoort te wees, mits u kan verstaan wat op die spel is.
Die God van u Bybel sê: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2).

U behoort beslis by hierdie tyd te weet dat ons nie sentimentele speletjies met u speel nie. Ons daag u uit om te bewys wat ons oor wêreldgebeure en die vervulling van Bybelprofesieë sê, want dit wat ons onderrig kan en word wel bewys.

Maar om bloot hierdie dinge te weet sal u en u geliefdes niks baat nie, want u moet op die waarheid reageer. U moet volgens God se wette leef–almal van hulle. U moet u benadering en u leefwyse verander om eenvormig te wees aan die voorbeeld en leringe van die ware Jesus Christus van u Bybel.

Om die lewe en ewigheid se ontwil: sal u die moed en vasberadenheid aan die dag lê om hierdie verandering te maak?