Die meeste van u wat hierdie artikel lees, woon in veilige, stabiele woonbuurtes. Sommige van u woon al dekades lank in dieselfde huis. Baie mense geniet die stabiliteit van ’n langtermyn woonplek – stuur hulle kinders na plaaslike skole, ken en vertrou die bure en het die finansiële vermoë om ’n huis af te betaal. Die lewe is nogtans nie so vir almal nie.

Vandag sien ons massa-migrasies, waar mense met slegs die besittings wat hulle kan dra wegvlug van gewelddadige konflikte of op soek is na ’n beter lewe. Dit is die geval in die Midde-Ooste en Afrika asook in Sentraal- en Suid-Amerika. Miljoene mense het uit Sirië gevlug, nie omdat hulle hul geboorteland gehaat het nie, maar bloot om te oorleef. Alhoewel omstandighede verskil, sien ons ’n massa-migrasie uit Venezuela. Mense hou van hulle huise. Hulle is lief vir hulle land en kultuur met hulle unieke gebruike, kosse en lewenswyses. Ons kan ons net voorstel hoe dit moet wees en treur oor diegene wat hulle ou lewens moet agterlaat om elders ’n heenkome te soek. Die meeste van ons vind dit moeilik om ten volle te verstaan wat dié mense deurgaan.

Wat meer is, is dat dit vir ons in Noord-Amerika, Europa, Australië, Nieu-Seeland en ander stabiele lande haas ondenkbaar is dat ons eendag dalk in dieselfde situasie mag beland as waar daardie mense nou is. Hoe moet dit wees om alles te verloor waarvoor mens gewerk het en dan na ’n onbekende bestemming te vertrek?

Massa-uitsettings en migrasies is niks nuuts nie. Nét voor die Tweede Wêreldoorlog het duisende Jode en ander mense hulle besittings gepak en Europa verlaat voordat ontsnaproetes gesluit is en diegene wat agtergebly het het hulleself as gevangenes bevind in wraaklustige omstandighede – gevangenes van Volksmoord. Gedurende die Amerikaanse stofstorms en Groot Depressiejare het baie mense in Oklahoma hulle plase en huise verloor en moes hulle weer in die Sentrale Vallei van Kalifornië ’n nuwe begin maak. Ander mense het vroeër in die twintigste eeu, tydens die Russiese revolusie, uit Rusland gevlug.

Vergete geskiedenis, verlore begrip

Die meeste belydende Christene ly aan ’n jammerlike gebrek aan begrip van die Bybel en die geskiedenis van die Israelitiese volke. Hulle weet nie dat die Jode slegs ’n klein gedeelte was van wat bekend gestaan het as die volk van Israel nie, alhoewel dit duidelik is in die Bybel vir enigiemand wat die moeite doen om dit te lees. Na die dood van koning Salomo het sy seun Rehábeam die noordelike tien stamme só kwaad gemaak dat hulle hom as koning verwerp het en in ’n afsonderlike nasie verdeel het. Hulle het die naam “die huis van Israel” behou. Die Jode en Benjaminiete het oorgebly om die huis van Juda te vorm en hulle was steeds getrou aan die troon van Dawid, met Jerusalem as hulle hoofstad. Dit is alles deel van die geskiedenis (1 Konings 12) en het betrekking op ons moderne wêreld.

Een van die grootste gedwonge migrasies in die geskiedenis het in die agtste eeu v.C. plaasgevind, toe die Assiriese Ryk hierdie noordelike tien stamme verslaan het en die bevolking hervestig het in ’n gebied tussen die Swart- en Kaspiese See. Meer as honderd jaar later is die Jode ook in ballingskap weggevoer, maar hierdie keer deur die Chaldeërs wat hulle na Babilon weggevoer het. Amerikaners en nasies van Britse afkoms vind dit moeilik om hulleself in ’n situasie in te dink waar hulle op die slagveld verloor en in ballingskap weggevoer sal word. Bybelprofesie toon egter dat dit weer sal gebeur – met ons!

Dink u dalk dit kan nie gebeur nie? Die Verenigde State is steeds ’n baken van hoop, die “Beloofde Land” vir miljoene mense wat veiligheid en ’n meer voorspoedige lewe soek. Alles is egter nie wel onder die oppervlak nie. Dink aan Amerika se skuld van $22 biljoen en hoe verdeeld die nasie is. Ja, ons mag onsself op die oomblik wát verbeel, maar kan ’n huis wat teen homself verdeeld is, bly staan? Hoe lank sal ’n liefdevolle Skepper ons morele slykput waarin alle selfbeheersing oorboord gegooi word, verdra? Hoe lank sal Hy die moord op miljoene onskuldige babas duld – selfs tot en met die geboorte en daarna?

Die huis van Juda het die volk geword wat ons as die Jode ken, maar wat het van die antieke huis van Israel in die noorde geword? Daar word soms na daardie deel van Abraham se afstammelinge verwys as die “verlore tien stamme” omdat die meeste geskiedkundiges klaarblyklik nie weet waarheen hulle verdwyn het nie. Maar is hulle wérklik verlore?

Hulle is beslis nie verlore in die eindtyd nie en die Bybel beskryf hulle as nasies wat duidelik onderskeibaar is van die Jode. Die profeet Eségiël beskryf ’n tyd in die toekoms, wanneer Israel asook Juda – verteenwoordig deur twee afsonderlike stukke hout – saamgevoeg sal word en nie meer verdeeld sal wees nie (Eségiël 37:15-24). Hoe kan dit wees as een “stuk hout” nie meer bestaan nie?

In daardie tyd sal Koning Dawid van ouds opgewek en koning gemaak word oor al twaalf stamme van Israel en die twaalf Apostels van Christus sal elkeen oor een van die stamme heers (Eségiël 34:23-24; 37:24; Matthéüs 19:28). Waarom word daardie boodskap verontagsaam in die kerke van ons lande?

Indien die Jode en Israel twee afsonderlike groepe is en albei in die eindtyd sal bestaan, behoort ’n regdenkende persoon te vra: “Wie is hierdie verlore stamme? Kan hulle gevind word?” Die antwoorde behoort vir u belangrik te wees.

Die verlore sleutel

In die Bybel lees ons van eindtydse profesieë aangaande Jerusalem en Damaskus. Daar is ook profesieë aangaande Egipte, Ethiopië en Libië – nasies wat oorskadu word deur China, Rusland en Indië. Indien die Bybel van toepassing is op alle tye, waarom sou ons nie verwag om oor Amerika, Brittanje, Frankryk en Duitsland te lees nie? Die antwoord is dat ons wél van hulle lees, maar nie onder hierdie moderne name nie.

Sommige profesieë is van toepassing op streke van die aarde, soos die profesieë oor ’n leër van 200 miljoen man wat van die oostekant van die Eufraatrivier sal kom (Openbaring 9:13-16). Interessant genoeg, is dit die enigste streek in die wêreld wat so ’n weermag vinnig op die been sal kan bring.

Ander profesieë is meer spesifiek en is van toepassing op nasies waarin baie van u tans woon. Daar word egter na daardie nasies verwys onder hulle antieke name. Begrip van die identiteit van moderne nasies gee ons die sleutel om eindtydse Bybelse profesie te begryp en die Bybelse prentjie vir ons tyd is nie mooi nie – ten minste nie op die korttermyn nie. Ons Westerse nasies het ons Skepper verwerp en ons Skepper gaan ons verwerp: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet” (Hoséa 4:6).

Een van die belangrikste publikasies wat ons nog ooit uitgegee het, is, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? U het hierdie hulpbron nodig, aangesien dit u kennis dramaties sal verbreed. Nog ’n hulpbron is ’n belangrike artikel wat op versoek beskikbaar is en wat ’n ander antieke nasie identifiseer: “Herrysende Duitsland: ’n Vierde Reich?” Die antieke Assiriërs is besig om weer op te staan en Amerika moedig hulle aan om dit te doen deur ’n beroep op hulle te doen om meer aan verdediging te spandeer. Ons het nie die les van twee wêreldoorloë geleer nie.

Ek verstaan dat dit belaglik klink om te beweer dat Amerika en die nasies van Britse afkoms verower sal word en uit hulle gerieflike huise na slawerny geneem sal word, maar dit is wat wel sal gebeur. Neem kennis van wat u hier lees. Ons kan ’n paar verrassende gebeure in die jare wat binnekort voorlê verwag – gebeure wat ons wêreld sal voortdryf na die hoogtepunt van hierdie tydperk.

Godsdiensvervolging wat ondenkbaar was drie dekades gelede, is selfs nou in Amerika, Kanada, Australië en dele van Europa ’n werklikheid. Bybelse waardes wat voorheen die grondslag van ons beskawings was, word verwerp teen die spoed van lig. Ons wêreld verval in chaos, moreel en geopolities. Soos Robert Kagan skryf in The Jungle Grows Back: America and our Imperiled World: “[O]ns het nou vergeet dat wanneer dinge begin verkeerd gaan, hulle baie vinnig baie verkeerd kan gaan, dat ás ’n wêreldorde eers ineenstort, die slegste eienskappe van die mensdom na vore tree en amok maak” (bl. 24).

Berei u voor vir moeilike tye wat voorlê. Om u “af te sonder” sal u nie red nie. Om voort te gaan om “God te dien” met gemaklike heidense praktyke sal ’n noodlottige fout wees. Dit is nodig dat ons nasies berou sal hê dat ons ons Skepper verwerp, Hom as vanselfsprekend aanvaar en Hom probeer hervorm na ons eie beeld. Die wêreld wat ons ken, is besig om tot ’n einde te kom. Presies hoe gou, kan ek nie sê nie, maar die skrif is aan die muur. Baie dinge sal egter nog eers gebeur ter vervulling van eindtydse profesieë, maar daar sal nog verrassings vir baie mense wees in die toekoms – en wanneer die einde kom, sal dit skielik wees.