’n Persoonlike boodskap van Gerald E. Weston Hoofredakteur

“Die Onse Vader” is vir baie mense bekend, maar hoeveel mense wat dit herhaal, verstaan wat hulle eintlik bid? Die gebed kan gevind word in twee verskillende Nuwe-Testamentiese gedeeltes. Dit is nodig om die twee weergawes met mekaar te vergelyk indien ons ’n behoorlike begrip daarvan wil hê.

Jesus het nooit bedoel dat hierdie gebed onoplettend herhaal moes word soos sommige mense doen nie. In plaas daarvan om ’n spesifieke gebed te wees wat woord vir woord herhaal word, is hierdie sogenaamde “Onse Vader” bedoel om ’n raamwerk te wees en is gegee in antwoord op ’n versoek van een van Jesus se dissipels. “En toe Hy op ’n sekere plek besig was om te bid, sê een van sy dissipels vir Hom ... Here , leer ons bid, soos Johannes ook sy dissipels geleer het” (Lukas 11:1).

Wat gevolg het, was Jesus se reaksie op daardie versoek. “En Hy sê vir hulle: Wanneer julle bid, sê ...” (Lukas 11:2). Indien ons net oor hierdie een weergawe beskik het, sou ons kon aanneem dat Hy wil hê ons moet hierdie presiese woorde memoriseer en herhaal, soos wat ’n kindjie bid voordat hy gaan slaap: “Voor my bedjie kniel ek nou ...” Ek en my suster het ’n gebedjie van dank geleer wat ons as kinders, sonder om te dink, gesê het voor aandete. Is dit werklik wat Jesus wil hê ons moet doen?

Die weergawe in Matthéüs voeg ’n effense afwykende nuanse by die onderwerp en vertel dat Hy beveel het: “Só moet julle dan bid ....” (Matthéüs 6:9). Dit is voorafgegaan met ’n belangrike waarskuwing: “En as julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie” (vers 7). Memorisering is goed en dien ’n belangrike doel. Soos ek aan die begin van hoofstuk ses in ons boekie, Johannes 3:16 Verborge waarhede van die goue vers noem, is die probleem met memorisering dat sodra ons die woorde leer ken, ons dikwels nie dink aan die betekenis daarvan nie.

 

Drie belangrike woorde

Alhoewel die sleutelwoorde belangrik is, wil ek op drie woorde konsentreer. Hoeveel mense verstaan wat hulle bid wanneer hulle die woorde “laat u koninkryk kom” (Matthéüs 6:10; Lukas 11:2) sê? Wat is hierdie Koninkryk, en wanneer kom dit? Hierdie inligting is meestal verborge vir die moderne hoofstroom Christendom. Sommige mense meen dat die koninkryk in hulle harte gevestig is. Ander mense dink dit is die kerk. Ander mense dink weer dat dit die hemel is. Wat is waar? Volgens die Bybel is nie een van hierdie opvattings waar nie!

Jesus se boodskap was reg van die begin af, die Koninkryk van God (Markus 1:14-15). Lukas vertel aan ons van ’n geleentheid toe Jesus, nadat Hy op die Sabbat gepreek en mense genees het, daardie aand nog baie meer mense genees het. Hy het die volgende dag opgestaan om na ’n verlate plek te vertrek om verder te gaan. Die skares het Hom egter gevind en gesmeek om te bly. “Maar Hy het vir hulle gesê: Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur” (Lukas 4:43). Die Koninkryk van God was die vernaamste boodskap wat Jesus voortdurend tydens Sy aardse bediening verkondig het en ’n noukeurige bestudering van die vier Evangelies (Matthéüs, Markus, Lukas en Johannes), bevestig dit.

Die Koninkryk van God is die onderwerp van baie van Jesus se gelykenisse, wat dit duidelik stel (Markus 4:26–32; Lukas 13:20-21) of duidelik impliseer (Lukas 14:15-24). Jesus se luisteraars het verstaan dat Sy boodskap oor ’n komende Koninkryk handel (Lukas 19:11-27). Hulle het die tydsberekening verkeerd verstaan, maar hulle het verstaan dat Hy hulle geleer het dat daar ’n Koninkryk sal kom.

 

Gefokus op die Koninkryk

Daar is ’n rede waarom hierdie tydskrif wat u nou lees – asook ons beeldsending, wat op honderde stasies regoor die wêreld uitgesaai word –The Tomorrow’s World genoem word. Ons praat nie van ’n wêreld van toenemende tegnologiese ontwikkelings wat deur die mens uitgedink is nie, maar van 'n wêreld waarin die menslike natuur verander sal word. Hierdie artikel laat nie ruimte toe dat ’n volledige uiteensetting hieromtrent gegee word nie, maar hou in gedagte dat dit is waaroor die Nuwe Verbond wat in die Bybel genoem word, handel. “Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer en sê: Ken die Here nie; want almal sal My ken, klein en groot onder hulle” (Hebreërs 8:10-11). Ons praat van Jesus Christus se Wederkoms na hierdie aarde om die heerskappy oor te neem en uitvoerbare oplossings vir die mensdom se probleme te bring. Hy sal oor die mag beskik om dit ten uitvoer te bring.

Die profeet Sagaría vertel van ’n toekomstige tyd wanneer Jerusalem deur vyande omring sal word en ’n sterk hand die inwoners van die stad sal red (Sagaría 12,14). Dit sal gebeur wanneer Jesus Christus sal terugkeer en sal “Koning wees oor die hele aarde” (Sagaría 14:9). Dit is wanneer koning Dawid uit die dood opgewek sal word om onder Jesus Christus, oor al die stamme van Israel te regeer (Jeremia 30:9; Eségiël 34:23-24; 37:24-25). Dit is wanneer Christus se twaalf Apostels koning Dawid sal bystaan en elkeen van hulle oor een van die twaalf stamme van Israel sal regeer (Matthéüs 19:28). Dit is hierdie komende Koninkryk van God wat Jesus drie-en-’n-half jaar voor Sy kruisdood verkondig het!

Is dit die boodskap waaraan mense dink wanneer hulle bid: “... laat U koninkryk kom”? Is dit die boodskap waaraan u dink wanneer u hierdie woorde lees of daaroor praat? Jesus het gesê dat Hy weer sal kom en ’n Koninkryk op hierdie aarde sal vestig. Glo u dit? Ek hoop so, want Hy beveel ons om dit te glo: “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15).

Jesus is die Koning van die Koninkryk en Hy was gereed om dit te verteenwoordig, maar let op dat dit nie vir daardie tyd was nie. “En terwyl hulle na hierdie dinge luister, vertel Hy daar nog ’n gelykenis by, omdat Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn” (Lukas 19:11).

 

Die ware hoop vir Christus se volgelinge

Die koms van daardie Koninkryk hang nie daarvan af of ons dit glo of nie, maar daar is baie goeie nuus vir diegene wat wel glo. Die gelykenis wat Jesus in Lukas 19 vertel het, toon dat daar ’n ongelooflike beloning vir diegene is wat aan Christus behoort by Sy koms. Net soos daar aan Dawid en die Apostels posisies van heerskappy beloof is, so word dit ook aan ons belowe. Aan die een persoon wat sy talent tienvoudig vermeerder het, gee Hy tien stede. Aan die een persoon wat dit vyfvoudig vermeerder het, gee Hy vyf stede. Die talente hier verteenwoordig wat ons met God se roeping doen, hoeveel ons groei en oorwin. Ons word gered deur geloof (Efésiërs 2:8), maar ons word volgens ons werke beloon: “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Openbaring 22:12 ).

Jesus roep individue wat nie met die stroom van hierdie wêreld saamgaan nie, wat uit hulle gemaksones tree en in geloof die Werk van God doen. Dit is die paar uitverkorenes wat handel volgens wat hulle weet – nie die baie mense wat geroep word maar wat uitstel en nalaat om tot aksie oor te gaan nie. Let op hierdie ernstige waarskuwing: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Matthéüs 7:13-14).

Die Koninkryk van God is dít waarna elke ware gelowige behoort te streef. Jesus het ons self opdrag gegee: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33). Elkeen wat daardie doel voorop in sy denke en hart stel, sal elke dag bid – watter opregte woorde ookal in ’n persoon se gemoed opkom om te gebruik – dit is presies dít wat Jesus gesê het waarvoor ons moet bid: “... laat U koninkryk kom”!