Vraag: Wat het Kain aangespoor om sy broer Abel te vermoor volgens Génesis 4?

Antwoord: Alhoewel Kain bekend is as die eerste moordenaar omdat hy sy broer Abel doodgemaak het, was sy ontevredenheid fundamenteel met God.

Die broers se ouers, Adam en Eva – die eerste mense – is uit die tuin van Eden verban nadat hulle die verbode vrugte van die boom van die kennis van goed en kwaad geëet het en ongehoorsaam was aan God se opdrag. “Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie! Toe stuur die HERE God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk waaruit hy geneem is” (Génesis 3:22-23).

Nadat God Kain se ouers uit Eden verban het, het Hy ’n vloek uitgespreek: “En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie – vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (verse 17-19).

Voordat hulle gesondig het het Adam en Eva nie nodig gehad om vir hulle lewensonderhoud te swoeg nie. Kain en Abel moes egter van die begin af hard werk om produktief te wees. Abel het as ’n skaapherder gewerk, terwyl sy ouer broer Kain ’n landbouer was en oeste van die grond af versorg het (Génesis 4:2).

Moord begin in die hart

Wanneer God ’n offerande vereis het, het Abel van “die eersgeborenes van sy kleinvee ... naamlik van hulle vet” gebring (vers 4). Deur die eersgeborenes van sy kudde as offer te bring, het Abel se offer die voorbeeld gestel van Jesus Christus se offer vir die hele mensdom. Kain, daarenteen, het bloot “van die vrugte van die land aan die HERE [as] ’n offer” gebring (vers 3).

Hoe het God reageer? “En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien,

maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang” (verse 4-5). God het nie Kain se offer aanvaar nie. God het Kain sélf egter nie verwerp nie; Hy het vir Kain gesê dat Hy inderdaad ’n gepaste offer sou aanvaar het (vers 7).

God het Kain gewaarsku om oor sy sondige drange te heers; tog het hy kwaad gebly en in sy toorn sy broer Abel, wat God behaag het, doodgeslaan (vers 8).

God verlang barmhartigheid en gehoorsaamheid

Watter lesse behoort ons hieruit te leer? Dit was Kain se gesindheid wat sy offer onaanvaarbaar gemaak het; sy werklike probleem was in sy hart. God, wat Kain se opstandige en onboetvaardige gesindheid bespeur het, het die offer verwerp. God het immers duidelik gesê: “Want ek het ’n behae in liefde en nie in offerande nie” (Hoséa 6:6; Matthéüs 9:13). Kain met ’n moorddadige hart – kwaad omdat sy regverdige broer se offer aangeneem is – het aan die genade asook die gehoorsaamheid ontbreek wat God van hom verlang het.

Die apostel Johannes het ons teen Kain se gesindheid gewaarsku en skryf: “Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê; nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie. En waarom het hy hom doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en dié van sy broer regverdig” (1 Johannes 3:11-12).

In teenstelling daarmee bly Abel se regverdige dade nog tot vandag toe ’n herdenking: “Deur die geloof het Abel ’n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het; en deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is” (Hebreërs 11:4).

Christene word geroep om soos Abel gehoorsaam en regverdig te wees, nie opstandig en kwaad soos Kain nie. Hulle behoort God en Sy weë lief te hê en Hom gewillig te gehoorsaam, eerder as om gegrief te wees om onder Sy bevele te leef. Ongelukkig is daar ’n mate van Kain se gesindheid in elke gedagte wat nog nie volkome aan God onderwerp is nie, maar gelukkig het God Sy Seun as ’n offer vir ons gegee. Indien ons Christus se offer aanvaar en ons van ons sondes bekeer, kan ons God behaag soos Abel gedoen het en met die hulp van Sy Heilige Gees kan ons die regverdige lewens lei wat God van ons verlang.