Baie waarnemers merk die “kommersialisering” van Kersfees op en betreur dit. Presies wat is die ware “rede vir die seisoen”? Kan ons Christus in Kersfees plaas? Was Hy ooit daar?

Kersfeesgolf”. Dit is die term wat kleinhandelaars gebruik om die verskynsel van die Kersfees-kleinhandelseisoen, wat skynbaar elke jaar al vroeër begin, te beskryf. Baie van ons kan onthou toe vakansieversierings eers in Desember in die winkels verskyn het. Daarna het die verkoopseisoen in die Verenigde State reeds in November begin insluip en Kersmusiek het om en by Danksegging in die winkels begin speel. Dit is toe teruggeskuif na die week voor Danksegging. Nou sien ons in Oktober rondomHalloween gewoonlik versierings en hoor ons Kersmusiek in die inkopiesentrums. ’n Paar van die VS se winkels het selfs hulle eerste Kersuitstallings net na Arbeidersdag, die eerste Maandag in September gehou! Sal Rudolf die Rooi-neus Rendier spoedig met die Paashaas meeding om verbruikers se kontant?

Wil u graag weet wat “die rede vir die seisoen” is vir sover dit die wêreldse bevordering van die Kersvakansie aangaan? “Volg net die geld”!

“Swart Vrydag” is die naam wat kleinhandelaars in die VS en die VK aan die dag net ná Danksegging gee – of Vendredi Noir in Frankryk en wat almal rondom die einde van November voorkom. Dit verwys na die tyd wanneer kleinhandelaars tradisioneel in ag neem dat hulle kontantvloei oorgaan van ’n verlies – “loop in die rooi” vir die grootste deel van die jaar – na ’n wins, wanneer hulle sê hulle is “in die swart”. Dit beteken dat die meeste van hulle winste op verkope gedurende die vakansieseisoen voorkom –geen Kersfees, geen wins. Die Kersvakansie is van kritieke belang vir die kleinhandel-ekonomie. Hulle sal natuurlik graag die koopseisoen wil verleng vir so lank as moontlik. Daar is groot finansiële aansporing om gedurende daardie tydperk kleinhandel-bedrywighede te verhoog.

Maak dit of breek dit

Kersfees kan vir kleinhandelaars ’n “maak of breek” tyd wees. Elke jaar moet hulle maniere vind om hulle verkoopsvolume gedurende die vakansie te handhaaf of te vergroot. Kreatiewe bemarkers vind talle maniere om ’n langer verkoopseisoen te skep want dit beteken dat meer van die verbruikers se swaarverdiende kontant beskikbaar is om hulle produkte te koop. Indien klante nie gedurende die jaar vir Kersaankope spaar nie, wat die geval vir die meeste mense is, sal hulle waarskynlik hulle aankope moet finansier met óf bestaande lone of kredietkaartskuld. ’n Drie of vier maande lange verkoopseisoen sal derhalwe meer verkope tot gevolg hê as wanneer bemarking slegs in Desember geskied. Ons sien dus wat kleinhandelaars bedoel met “Kersfeesgolf”. Die vakansie bemarkingseisoen “sluip” al in November, Oktober of vroeër in, indien die handelaars daarmee kan wegkom.

Een van die belangrikste verkoopstegnieke is om ’n “Kersfeesgees” in en om die winkels te skep. Aanvanklik herinner die vakansieversierings kopers aan die seisoen en ’n feestelike gevoel van betrokkenheid word bygevoeg. Spoedig is Kersmusiek daar, gewoonlik van ’n wêreldse aard om te voorkom dat nie-godsdienstige persone nie aanstoot sal neem nie en dit is ’n baie belangrike element om kopers te oortuig om al hoe meer te koop. Neuriesangers, van wie sommiges lank nie meer met ons is nie, sing sentimentele weergawes van Santa Claus is Coming to Town of Rudolph the Red-Nosed Reindeer. Nadat die verkoopseisoen in Januarie verby is, is die meeste mense baie verlig om van die konstante musikale bemarking ontslae te wees.

Baie werkgewers gee aan die einde van die jaar bonusse en die kleinhandelaars wil soveel as moontlik van daardie bonusse opraap. Baie handelaars hou derhalwe groot uitverkopings aan die einde van die jaar om van oorblywende voorraad ontslae te raak en om só die bonusse van kliënte in die hande te kry.

Skuldgevoelens verkoop. Ouers word wysgemaak dat hulle nie goeie ouers is as hulle kinders nie “’n oorvloedige Kersfees” het nie. Hoe dikwels is u al gevra, “Het jy ’n oorvloedige Kersfees gehad hierdie jaar?” Baie sentimentaliteit word aan die ontvang van ’n klomp geskenke geheg. U het finansieel opgeoffer om dit te koop en die belangrikste begunstigde van daardie sentiment is moontlik die handelaar wat die geskenke verkoop het, eerder as die ontvanger daarvan. Finansiële oorspandering weens emosionele redes is tydens Kersfees ’n algemene probleem – soos krediet-invorderingsagentskappe weet.

Kredietkaartskuld – die spook van die vorige Kersfees

Wat is dit met kaarte? Kredietkaartskuld skiet gedurende die vakansiedae die hoogte in en moet dan vir die res van die jaar afbetaal word teen baie hoë rentekoerse. Raadgewers aangaande persoonlike finansies noem hierdie opeenhoping van duur skuld die “Vakansieskuld-babbelas”. Krediet-invorderingsmaatskappye hou baie daarvan!

“Verbruikersberading-agentskappe sien ’n 25 persent toename in die aantal mense wat in Januarie en Februarie hulp soek en die meeste van daardie mense word na die deure van agentskappe gedryf deur vakansie-rekeninge wat by die verbruikers spook, soos die spook van die vorige Kersfees ... ‘Heelwat mense hou kop bo water deur die minimum op hulle kredietkaarte af te betaal’, sê Durant Abernethy, president van die Nasionale Stigting vir Kredietberading. ‘Voeg die vakansie rekeninge by en ewe skielik is daardie minimum meer as wat hulle kan bekostig’” (Eileen Alt Powell, “Lingering Christmas Bills Can Lead to Debts Woes”. ABCNews.go.com. 7 Maart 2014).

Neem in ag dat met ’n tipiese 17 persent kredietkaart-rentekoers, die rente sal oploop tot R170 vir elke R1,000 kredietkaart-balans wat vir ’n jaar deur ’n verbruiker gehandhaaf word. Iemand wat ’n R5,000 skuldbalans vir ’n jaar het, sal jaarliks R850 aan rente betaal. Sommige koerse is aansienlik hoër. Minimum betalings wat gemaak word om kredietkaartskuld af te betaal, kan buitengewoon duur wees. Teen ’n 2,5 persent minimum maandelikse betaling wat baie kaarte hef (R120 vir R5,000), sal dit iemand 21 jaar en 2 maande neem om daardie R5,000 balans af te betaal. Die skuldenaar sal uiteindelik R6,045.45 net aan rente alleen betaal – bykomend tot die oorspronklike balans! Kredietkaartmaatskappye hou van die vakansieseisoen en die “Vakansieskuld-babbelas” wat dit meebring. Dit is uiters voordelig vir hulle en uitsonderlik duur vir onverstandige vakansiekopers.

Daar is baie verstandige raad beskikbaar om die probleme te hanteer wat deur die vakansieseisoen geskep word. Deborah Fowles beveel op about.com aan: “Hoe om die finansiële vakansie-babbelas te vermy: Klink hierdie scenario bekend? U gebruik kredietkaarte om u vakansie-inkopies te doen en belowe uself om die skuld binne twee of drie maande af te betaal. Ses of agt maande later (of langer), betaal u nog steeds af aan daardie items wat na groot winskopies gelyk het. Dit kos u nou 10 tot 20 persent meer as wat u gedink het, as gevolg van kredietkaartrente. By baie Amerikaners word hierdie skuld-patroon jaarliks herhaal. Persoonlike finansiële raadgewers noem dit die ‘vakansie-babbelas’. Daar is tye wanneer die aangaan van kredietkaartskuld sin maak, maar deur geskenke te koop is nie een daarvan nie. Die gebruik van kredietkaarte lei dikwels tot impulsiewe besteding, oorbesteding en verhoogde skuld” (“Avoid Credit Card Debt During the Holidays”).

Indien die koop van geskenke gedurende die vakansieseisoen ’n ekonomiese seën vir kleinhandelaars en kredietkaartmaatskappye is, is die maande  die vakansiedae ’n ware goudmyn vir krediet-invorderingsmaatskappye. Krediet-invorderingsmaatskappye doen baie van hulle besigheid as gevolg van vakansie kredietkaartaankope.

Die vakansieseisoen het vroeër begin as wat die meeste mense dink

Die gebruik om geskenke gedurende Kersfees te gee dateer terug uit die Romeinse tye en vroeër en die heidense oorsprong van Kersfees is welbekend. Bykans al die kulture wat die son aanbid, het om en by die einde van Desember ’n belangrike fees gehou om die wintersonstilstand en die begin van die stadige groei van die son se boog in die lug te vier. In landelike gemeenskappe was dit die belofte van die lentetyd wat kom en is dit gewoonlik geassosieer met die “hergeboorte” van die songod van daardie kultuur. Soos ’n gewilde ensiklopedie beskryf: “Die viering van Saturnalia het die maak en gee van klein geskenke ingesluit (saturnalia et sigillaricia). Hierdie vakansie is oor ’n hele paar dae gevier en het op 17 Desember (die geboortedag van Saturn) begin en op 25 Desember (die geboortedag van Sol Invictus, die ‘Onoorwonne Son’) geëindig. Die gekombineerde feeste het gelei tot ’n verlengde wintervakansieseisoen ... Die fees van Sol Invictus op 25 Desember was ’n heilige dag in die godsdiens van Mithraïsme, wat wydverspreid was in die Romeinse Ryk. Die god Mithras was ’n songod van Persiese oorsprong en word geïdentifiseer met die Son. Dit vertoon sy onoorwonnenheid asSol Invictus wanneer dit hoër in die lug begin beweeg ná die Wintersonstilstand, dus is 25 Desember gevier as die son se verjaarsdag. In 274 n.C. het Keiser Aurelianus 25 Desember amptelik aangewys as die fees van Sol Invictus” (“Christmas”. New World Encyclopedia).

Dit is ’n geskiedkundige feit dat die feesviering op 25 Desember begin het as die geboortedag van die songod, nie van die Seun van God nie! Daar is geen Bybelse of ander historiese bewyse dat Jesus op daardie dag gebore is nie.

Hierdie vierings was baie gewild. Nadat die Romeinse Ryk onder Konstantyn Christenskap bely het, is die bestaande heidense fees dus by ’n nuwe teologie aangepas, wat gehelp het om populêre steun vir Konstantyn se bewind te wen. Die winterfees het heelwat deur die eeue heen ontwikkel, maar baie beginsels het dieselfde gebly, veral partytjies, geskenke gee en immergroen versierings.

Kan die mensdom “heidensheid heilig maak?”

Godsdienstige geskiedkundiges weet dat Kersfees sy oorsprong in die heidendom het, maar teoloë het lank geredeneer dat dit moontlik is om “heidensheid te heilig”. Volgens hierdie uitgangspunt, kan ’n kultuur die voor-Christelike vorme behou, maar die heidense simbole en mites kan Christelik word in hulle betekenis en doel. Die invloedryke Katolieke leier, kardinaal Newman, skryf: “Ons word op verskeie maniere deur Eusebius [’n vroeë kerkhistorikus] vertel dat Konstantyn, ten einde die nuwe godsdiens by die heidene aan te moedig, die uiterlike ornamente waaraan hulle gewoond was daarin oorgedra het ... Die gebruik van tempels en die gebruik om dit op te dra aan spesifieke heiliges ... vakansiedae en seisoene ... om na die Ooste te draai, latere beelde ... is almal van heidense oorsprong en geheilig deurdat hulle in die Kerk aanvaar is” (“An Essay on the Development of Christian Doctrine”, Hoofstuk 8:6).

Die teoloog, Christopher Dawson, gaan selfs verder wanneer hy skryf: “Die volledige heiligmaking van die heidendom is die eindresultaat van die verchristeliking van die wêreld” (“The Leavening Process in Christian Culture”, 7 Augustus 1955). Dus, volgens hierdie siening, behels die bekering van die wêreld tot Christelikheid noodwendig die aanvaarding van heidense praktyke. Wie gaan egter wat aanneem? Sou die heidendom Christelikheid aanneem of sou die Christendom die heidendom aanneem?

Die feit is dus goed bekend onder wêreldse en godsdienstige geskiedkundiges dat baie van die simbole van Kersfees en die tyd van die viering daarvan uit heidense praktyke kom. Wat egter bevraagteken kan word is die leerstelling van die “heiliging van die heidense”, wat gebruik word om baie praktyke in die Christendom te regverdig. Terwyl hierdie redenasies vir teoloë en tradisie-navolgers aantreklik kan wees, word dit deur die Bybel weerspreek.

God het gesê: “As die Here jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon, neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die Here jou God nie; want alles wat vir die Here ’n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode. Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie” (Deuteronomium 12:29-32).

God het nie sy sienswyse hieroor verander nie. Hy het aan ons gesê, “Want Ek, die Here, het nie verander nie” (Maleagi 3:6) en “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). God verwerp heidense praktyke en beveel ons om dit nie in te sluit wanneer ons Hom aanbid nie. Hy sê aan ons watter dae ons behoort te onderhou, hoe ons hulle behoort te onderhou en waarom ons dit behoort te onderhou. Daar was geen opdrag van Christus of van die Apostels om jaarliks Christus se geboorte te herdenk of om die heidene in hulle feeste na te boots nie, inteendeel, om heidene na te boots wanneer ons God aanbid, was verbode. U kan nie die “heidensheid heilig maak” nie.

Baie mense onttrek

Behoort Kersfees vir u ’n godsdienstige viering te wees? Die oorsprong van Kersfees is wel bekend en word nie juis betwis nie. Dit is ’n tradisionele vakansiedag waarvan die oorsprong in die heidendom is en dit is in die vierde en vyfde eeu n.C. in die belydende Christendom opgeneem. Dit is nie ’n Bybelse fees nie en is nooit deur die eerste eeuse Kerk gevier nie. Jesus Christus het nooit die herdenking van Sy geboorte beveel nie; inteendeel, Hy het Sy getroue volgelinge beveel om Sy dood te gedenk (Lukas 22:19; 1 Korinthiërs 11:23-26). Die Bybel verbied aanneming van heidense gebruike in aanbidding van die ware God, die God van Abraham, Isak en Jakob. Kersfees is dus nie ’n geskikte viering vir die mens wat Christus bely nie!

Bo en behalwe die wêreldse aspekte van die Kersvakansiedae, is die koste en moeite wat die seisoen meebring, probleme wat baie mense liewer sal wil vermy. Die seisoenale vierings behels dikwels oormatige drankgebruik en die aantal verkeersongelukke neem drasties toe gedurende die vakansiedae. Almal behoort baie versigtig op die paaie te wees, veral in die nag. Die bemarking van Kersfees oorheers die seisoen. Inkopies kan baie stresvol wees, aangesien winkels volgepak is met kopers wat probeer om hulle inkopies vir ’n lang lys name wat geskenke verwag, af te handel. Die skuld wat gedurende die seisoen ophoop bly dikwels tot diep in die volgende jaar by die kopers. Dus onttrek al hoe meer mense, tot hulle groot verligting, hulle van die wêreld se feesvierings.

God bied ’n beter weg aan

Dit is ’n geskiedkundige feit dat die eerste-eeuse Kerk van God die Christelike Pasga en die sewe jaarlikse Heilige Dae soos beveel in Levitikus 23, onderhou het. Deur dit te doen, het hulle nie probeer om “Joods” te wees nie, hulle het God net eenvoudig gehoorsaam. Hierdie dae beeld God se plan van verlossing uit. Deur die onderhouding daarvan te beveel, verseker God in werklikheid dat ons aan hierdie groot plan uitvoering gee wanneer ons aan Sy jaarlikse feeste deelneem. Die apostel Judas vermaan die eerste-eeuse Kerk en so ook vir ons vandag: “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan dieheiliges oorgelewer is” (Judas 3). Bybels, sowel as geskiedkundig, sluit “die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is”, die jaarlikse Bybelfeeste in. Die werklike keuse is of die opdragte van Christus en die Apostels, soos opgeteken in die Bybel, vandag gevolg behoort te word – of voortgegaan moet word met die bekende tradisies wat daardie opdragte vervang.