Baie mense maak daarop aanspraak dat hulle dieselfde boodskap preek as wat Jesus Christus gepreek het. Waarom ignoreer hulle dan die werklike hoofsaak van Sy boodskap – wanneer die wêreld dit meer as ooit nodig het?

Oral smag mense na vrede. Hulle wil uiters graag ’n einde aan armoede, geweld en siektes sien. Hulle wil liefhê en lief gehê word, gesinne groot maak en in vrede gelaat word deur diktatoriale en selfsugtige heersers. Hierdie vrede ontwyk ons egter. Armoede, geweld en siekte floreer en regerings wat mense behoort te help, onderdruk hulle dikwels.

Gedagtig aan hierdie onvervulde verlange in die mensehart, het ’n antieke profeet een maal verwys na: “the desire of all nations” (NKJ Haggai 2:7). Daar word verwys na die begeerte van alle nasies. Presies waarna het hy verwys en hoe sal hierdie begeerte vervul word? Is dit moontlik dat hierdie verlange van die mensdom ’n werklikheid kan word?

Haggai het na die Messias verwys, die Een op wie die Jode vir ’n groot deel van hulle bestaan as ’n volk gehoop het. Hierdie hoop is egter nie net vir een volk nie. Dit is waarlik oral die hoop van alle manne en vroue. Ons hoop dat iemand ’n einde aan die euwels sal maak wat ons in die lewe ervaar en ’n vrede wat baie beter sal wees as net die afwesigheid van oorlog.

Die Messias oor wie Haggai geprofeteer het, was Jesus van Nasaret, maar Sy eerste koms was slegs ’n gedeeltelike vervulling van die profesie. Haggai het gepraat van ’n onstuimige tyd wanneer God in die wêreld sou ingryp op ’n manier wat niemand sal kan miskyk nie: “Want so sê die Here van die leërskare: ’n Rukkie nog, ’n kort tydjie, dan sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe. Ek sal ook al die nasies laat bewe, sodat die skatte van al die nasies sal toevloei” (Haggai 2:6-7). Hy het met die volk van Juda gepraat ná hulle terugkeer uit Babiloniese ballingskap en hulle aangemoedig om die tweede tempel in Jerusalem te bou. Dit was tydens ’n onstuimige tyd en die profesie het aangedui dat die begeerte “the desire” waarvan gepraat is sou kom. Hy sou na daardie tempel kom en blywende vrede bewerkstellig.

Jesus het na daardie tempel gekom, maar eers verskeie eeue later. God se tydsberekening is nie dieselfde as die mens se tydsberekening nie! Selfs toe was die profesie nie volledig vervul gedurende die eerste eeu n.C. nie. Die tyd wanneer Hy “die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe” en wanneer Hy alle nasies sal skud, lê nog voor.

Mens behoort te wonder: Sal hierdie profesie ooit vervul word of is dit net ’n lugkasteel waarmee ons onsself mislei? Om te verstaan, moet ons die geheelbeeld begryp van wat God hier benede doen.

In die begin

Indien ons na die begin teruggaan, sien ons dat God lewe op hierdie klein bolletjie geskep het, wat Hy in ’n heelal geplaas het wat so groot is dat ons dit nie werklik ten volle kan begryp nie. Ons is soos die kleinste miertjies wat op die aarde rondkruip. Nietemin laat die mens se verstand ons toe om wonderlike dinge te doen. Alhoewel ’n paar mense weier om te glo dat die mens op die maan geloop het, het selfs die Sowjetunie tydens die Koue Oorlog dit nooit betwis dat twaalf Amerikaners dit gedoen het nie. China se leiers bestee tyd en geld daaraan om dieselfde te bereik. Hulle glo beslis die Amerikaanse vlag is daar! Ja, die mensdom is in staat om verbasende dinge te doen en u kan u persoonlike lys maak van ongelooflike menslike prestasies.

Hier is ons in vergelyking, die kleinste mikrobes op die kleinste vlekkie in wat soos ’n oneindige heelal lyk. Afgesien van ons ongegronde hoop en spekulasie, dui alle bewyse daarop dat ons alleen in die kosmos is. Geen geloofwaardige bewyse van buiteaardse lewe is al ooit gevind nie.

Waaroor gaan dit dus nou eintlik? Waarom is ons hier? Hoe kon lewe uit die nie-lewende ontstaan het? Dit is nie ’n maklike vraag vir wetenskaplikes om te beantwoord nie! Trouens, hulle kan dit nie beantwoord nie! Hoe kon sulke intelligensie as waaroor die mens beskik, ontwikkel het van koerslose wette? Hoe kon sulke wette ontstaan het? Waarom sien ons sulke volmaaktheid en skoonheid in die natuurlike wêreld? Behoort ons te glo dat daar geen doel vir al hierdie dinge is nie?

Om terug te keer na die vraag of dit wat almal begeer, ooit sal gebeur en indien wel, hoe – dit is nodig dat ons na ’n beginpunt teruggaan. Daar is groot dele uit die prentjie weggelaat en baie afdraaipaadjies waarvoor ons nie tyd het in hierdie artikel nie, maar laat ons met die eerste man en vrou begin. Daar moet tog ’n eerste wees.

Evolusioniste beweer dat die mens uit ’n soort soogdier ontwikkel het, maar ’n mens moet wonder hoe evolusionêre prosesse in manlik en vroulik ontwikkel het ongeag waar dit begin het. Voortplanting van twee selle, in teenstelling met voortplanting deur ’n enkele selverdeling, is nogal merkwaardig. Was dit die gevolg van ’n onbekende, fratsongeluk, met ’n man en vrou wat op een of ander manier op dieselfde tydstip ontstaan het? Wat ’n merkwaardige ongeluk! Is daar ’n Skepper wat dit tot stand gebring het? Ons by die Wêreld van Môre glo dat die getuienis aan die kant van ’n Intelligente Wese is wat ons as God ken. Ons erken verder dat God ons nie aan ons eie lot oorgelaat het sonder ’n openbaring van Sy plan en doel vir ons nie.

Wanneer ons na Sy openbaring kyk, vind ons dat Hy ’n man en vrou gemaak het, hulle in ’n pragtige omgewing geplaas het en hulle ’n keuse gegee het. “Toe het die Here God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. En die Here God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Génesis 2:15-17). Die keuse was duidelik. Hy kon God vertrou of hy kon kies om self te bepaal wat reg en wat verkeerd is. Ons weet wat sy keuse was. Hy en die vrou het verkies om dit op hulle eie manier te doen en sedertdien het alle manne en vroue op hierdie weg voortgegaan. Is dit ’n wonder dat probleme ontstaan wanneer die mens dink hy weet meer as die Een wat hom geskape het?

Soos God gesê het met betrekking tot antieke Israel: “Ag, as hulle maar so ’n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan” (Deuteronómium 5:29). In teenstelling met die algemene geloof, het God aan ons Gebooie, Wette en insettinge vir ons beswil gegee! Dink net hoe anders die lewe sou wees as elkeen maar net een van Sy Gebooie gehoorsaam het. Sê nou maar niemand het owerspel gepleeg nie? Hoeveel meer stabiel sou ons huwelike nie wees nie. Hoe sou dit wees indien niemand van sy naaste steel nie? Watter gemoedsrus sou ons nie gehad het wanneer ons ons huise verlaat nie. Geen behoefte meer aan sekuriteit-stelsels nie. Dit sou ’n heel ander wêreld gewees het indien net een van die Gebooie gehoorsaam sou word. Die probleem is natuurlik kompleks. U mag hierdie Wette gehoorsaam, maar nie almal doen dit nie. Ons leef egter in ’n wêreld waar ons almal verantwoordelikheid dra. Dink net aan hoeveel van die vermaak wat ons “geniet”, oortreding van die Tien Gebooie behels. Wanneer seks en geweld uit vermaak geneem word sal draaiboekskrywers aan “breinvries” ly!

Die mensdom se enigste oplossing

Jesus Christus is “die Begeerte van alle nasies”! Dit is bekend dat sommige teoloë sê: “Jesus is die antwoord” en Hy is dit wel. Op watter manier is Hy egter die antwoord? Dit is waar baie van hierdie teoloë in die donker rondtas.

Christus, Sy Apostels en Christene van die eerste eeu het verstaan dat Haggai se profesie van “die begeerte” nie ten volle vervul was met Christus se eerste koms nie. Hulle het iets verstaan wat algemeen verlore gaan in vandag se lofprysing- en aanbiddingsdienste. Edward Gibbon verduidelik: “Die antieke en gewilde leerstelling van die Millennium was nou verbind met die Wederkoms van Christus ... Terwyl die kerk se bouwerk amper voltooi was, is die tydelike steun opsy geskuif. Die leerstelling van Christus se heerskappy op aarde is aanvanklik as ’n opregte versinnebeelding beskou, daarna as ’n twyfelagtige en nuttelose opinie en is uiteindelik verwerp as die absurde uitvinding van kettery en dweepsug”. (The Decline and Fall of the Roman Empire, Vol. 1, bl. 262).

Is dit kettery en dweepsug? Waarom het die vroeë Christene in die toekomstige heerskappy van ’n geesgebore Koninkryk van God op aarde geglo? Omdat dit is wat Jesus verkondig het! Hy het van die begin van Sy bediening af ’n boodskap oor Sy toekomstige Koninkryk verkondig en gesê: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15).

Jesus het nie net in een stad gebly, tevrede met ’n gemaklike klein groepie volgelinge nie. Dit was nie waarom Hy hier was nie. Hy het eerder deur Galilea, Judea en tussen ander streke gereis. Baie vroeg in Sy bediening lees ons: “[D]ie skare het Hom gesoek en by Hom gekom en Hom teëgehou, dat Hy nie van hulle sou weggaan nie. Maar Hy het vir hulle gesê: Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur” (Lukas 4:42-43).

Die bergpredikasie is die middelpunt van Christus se boodskap. Hoeveel mense sien nogtans al die verwysings na Sy Koninkryk raak? Gaan hierdie gedeeltes in u Bybel na: Matthéüs 5:3, 10, 19-20; en 6:10. Van spesiale belang is die opdrag: “Maar soek eers die koninkryk van God” en ’n waarskuwing dat “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matthéüs 6:33; 7:21).

Baie mense is geskok om te hoor wat die rede is waarom Jesus in gelykenisse gepraat het. Hulle dink Hy het dit gedoen om beter met vissers, boere en herders te kommunikeer, maar dit is glad nie die geval nie. Sy dissipels vra Hom toe: “Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie” (Matthéüs 13:10-11; Markus 4:10-11). Min mense verstaan dit, maar dit was Jesus se standaardpraktyk om dikwels met skares slegs in gelykenisse te praat, terwyl Hy dan later die betekenis van die gelykenisse aan Sy dissipels verduidelik het: “Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie” (Matthéüs 13:34), “... maar afsonderlik het Hy vir sy dissipels alles uitgelê” (Markus 4:34).

Die boodskap van Jesus se gelykenisse

’n Studie van die Skrif openbaar dat die Koninkryk van God die fokus van Jesus se gelykenisse was. Een gelykenis was oor ’n saaier wat uitgegaan het om te saai. Party saad het langs die pad geval, party het op klipperige grond geval, party het tussen dorings geval en ander het op goeie grond geval (Markus 4:3-8; kyk verse 13-20 vir die verduideliking). Matthéüs voeg by dat hierdie gelykenis oor die Koninkryk handel (Matthéüs 13:18-19).

Dit is belangrik om op hierdie stadium die verskil tussen die uitdrukkings, Koninkryk van God en die Koninkryk van die hemele, te verduidelik. Matthéüs gebruik dikwels die term “koninkryk van die hemele”, maar hy het die twee terme afwissellend gebruik, soos in Matthéüs 19:23-24. Wat is dus die verskil?

Die meeste mense aanvaar dat “koninkryk van die hemele” beteken dat ons hemel toe gaan, maar dit is problematies sowel as foutief. Byvoorbeeld, in die bergpredikasie sê Jesus: “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele” (Matthéüs 5:3). Twee verse later sê Hy: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (vers 5). Behoort ons te verstaan dat terwyl diegene wat “arm van gees” na die hemel toe gaan en die sagmoediges “sal die aarde beërwe”?

Die antwoord is eenvoudig. In hierdie konteks dui die woordjie ‘van’ eienaarskap aan. Wanneer ons praat van die Bank van Morgan, verstaan ons dat die bank nie binne-in die man met die naam Morgan is nie. Morgan was die eienaar of stigter daarvan. Net so sal die “Koninkryk van die hemel” ten volle besit en bestuur word volgens die Wette en beginsels van God wat in die hemel heers! Aan die ander kant is ons erfenis in werklikheid die Aarde.

Baie Skrifgedeeltes toon in baie duidelike terme aan dat die Koninkryk van God op aarde gevestig sal word! Een van die kragtigste daarvan word in Sagaria 14 gevind. Die hoofstuk begin deur ons in te lig: “[D]aar kom ’n dag vir die Here” (vers 1). Met verwysing na die Messias, sê dit aan ons: “En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg” (vers 4). Dit word bevestig deur die Nuwe Testamentiese weergawe van Jesus wat in ’n wolk van die Olyfberg af opvaar (Handelinge 1:9-12). Sagaria gaan voort deur te verklaar “die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sagaria 14:9).

Lees dan Sagaria 14:16-19. Stof u Bybel af en lees dit self! Die Koninkryk van God sal op hierdie aarde heers, nie in die hemel nie! Diegene wat aan Christus behoort met Sy Wederkoms is bestem om saam met Hom te regeer (Openbaring 20:4) en waar sal ons regeer? Ons word meegedeel dat God “het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:10). Wanneer die Bybel na die Koninkryk van die hemele verwys, verwys dit nie na ’n koninkryk in die hemel nie, maar net na God se Koninkryk. Dit is ’n ander manier om na die Koninkryk van God te verwys.

Het Sy dissipels “dit gesnap”?

Ons het reeds gesien dat die gelykenis van die saaier oor die Koninkryk handel. Laat ons nou na ’n paar ander gelykenisse kyk. Markus 4:26 lees: “So is die koninkryk van God, soos wanneer ’n mens die saad in die grond gooi” en vers 30 sê: “[W]aarmee moet ons die koninkryk van God vergelyk?” Matthéüs 13 vertel aan ons dat Jesus die Koninkryk vergelyk het met ’n mosterdsaad, suurdeeg, met ’n vyand wat onkruid saai tussen koring, ’n verborge skat, ’n kosbare pêrel en ’n visnet.

Jesus het Sy volgelinge opdrag gegee om die Evangelie te verkondig, die goeie nuus van die Koninkryk van God (Lukas 9:60-62). Sy dissipels het verstaan dat dit ’n werklike Koninkryk is wat oor hierdie aarde sal regeer. Wat hulle nie verstaan het nie, was wanneer die Koninkryk gevestig sou word. Dit is waarom Jesus die gelykenis van die edelman gegee het. Hy het die gelykenis gegee “omdat Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn” (Lukas 19:11). Hy het voortgegaan en verduidelik dat Hy na ’n ver land sou gaan (na die hemel na Sy opstanding) en een of ander tyd in die toekoms na die aarde sou terugkeer en Sy diensknegte roep om te verduidelik wat hulle gedoen het met wat aan hulle gegee is.

Baie mense het van Josef van Arimathéa gehoor, maar hoeveel van hulle besef dat sy doel voor oë die Koninkryk van God was? U kan dit self lees in Lukas 23:50-51. Jesus het van hierdie Koninkryk ná Sy opstanding gepraat en Sy dissipels het Sy boodskap verstaan. Hulle wou net weet wanneer (Handelinge 1:3, 6).

Wat van die apostel Paulus? Wat was sy boodskap? Op een spesiale geleentheid het hy met die oudstes van Éfese gepraat en gesê: “En nou weet ek dat julle almal onder wie ek rondgegaan en die koninkryk van God verkondig het, my aangesig nie meer sal sien nie” (Handelinge 20:25). Dit was dieselfde boodskap wat hy gedurende Sy Romeinse aanhouding aan almal geleer het: “En hulle het vir hom ’n dag bepaal ... En in ’n kragtige getuienis het hy vir hulle die koninkryk van God uitgelê; en van die môre vroeg tot die aand toe het hy uit die wet van Moses en uit die profete hulle probeer oortuig aangaande Jesus. ... terwyl hy die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus” (Handelinge 28:23, 31).

Die nuut verordende diaken met die naam Filippus het afgegaan na Samaria en “die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig” (Handelinge 8:12). Let daarop dat hy nie net oor die Koninkryk gepreek het nie, maar ook oor die Naam van Jesus Christus. Ons het dit ook in die vorige paragraaf gesien ten opsigte van Paulus se prediking.

Die woord “evangelie” beteken bloot goeie nuus en mens kan nie die boodskap van God se Koninkryk skei van die goeie nuus van wat Christus vir ons gedoen het nie. Hy het Sy lewe gegee sodat ons in God se Koninkryk kan leef. Hy is die weg na die Koninkryk en die Koning van die Koninkryk! Ja, die sentrale boodskap van die Nuwe Testament handel alles oor Jesus van Nasaret, die Seun van God! Die probleem is dat die boodskap wat Hy verkondig het, weggelaat word. Dit is vervang met ’n boodskap oor die persoon van Christus. Ongelukkig word die boodskap wat oor daardie persoon met die naam Jesus gepreek word, dikwels grootliks verdraai of dit beskryf eerlikwaar heeltemal iemand anders.

Paulus het die Kerk van God in Korinthe gekorrigeer: “Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Korinthiërs 11:4). Hy het verder verduidelik dat nie almal wat hulleself na die naam van Christus noem, Christus se dienaars is nie. Nee, baie van hulle is dienaars van iemand anders! “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (verse 13-15). Dit is kragtige woorde! Paulus het hulle dienaars van Satan genoem, alhoewel hulle op die oog af lyk na predikers van geregtigheid en dienaars van Christus.

Mens moet wonder waarom die goeie nuus van Christus se Koninkryk wat na hierdie aarde gaan kom, nie wyer verkondig word nie. Trouens, tensy Hy weer kom, sal geen vlees die mens se rebelse weg oorleef nie (Matthéüs 24:21-22). Die Wederkoms van Jesus Christus na hierdie aarde is die beste nuus wat mens jou ooit kon voorstel. Moontlik is dít waarom Jesus ons beveel om dit op die voorgrond van ons gedagtes te hou wanneer ons bid. Soos die voorbeeldgebed sê: “[L]aat u koninkryk kom ... Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matthéüs 6:10, 13).