Reeds sedert die Acts of Union in 1707, die koninkryke van Skotland en Engeland as Groot-Brittanje verenig het, het Skotland ’n ietwat gespanne verhouding met haar magtiger buurman in die suide gehad. Nadat die Skotse Nasionale Party (SNP) in 2007 in die Skotse parlement aan bewind gekom het, het al hoe meer stemme opgegaan om oproepe vir onafhanklikheid van die res van die Verenigde Koninkryk. Die onlangse algemene verkiesing in Desember 2019, toe die SNP 48 van die 59 Skotse setels in die V.K.-parlement gewen het, het dit diegene aangemoedig wat daarop aangedring het om weg te breek. Tydens ’n referendum in 2014 het die Skotte onafhanklikheid met ’n naelskraap van 55% teen 45% verwerp, maar een meningspeiling in Augustus 2019 het daarop gedui dat ’n skrale meerderheid in 2020 ten gunste van onafhanklikheid is (“Scots favor independence from United Kingdom, Ashcroft poll shows,” Reuters, 5 Augustus 2019 ).

Dit is verbasend dat ’n 700 jaar oue brief, wat deur die Skotse adel geskryf is en aan die pous gerig was, wat die Verklaring van Arbroath genoem word, ons betekenisvolle insig en begrip van hierdie diepgesetelde Skotse denke kan bied. Dit neem ons terug na die antieke oorsprong van die Skotse bevolking en tans onherkenbare familiebande met die nasies rondom hulle.

Nadat die Skotse monarg, Alexander III, van die Huis van Dunkeld in 1286 oorlede is, het die Skotse baronne vir Edward I van Engeland genooi om tussen opponerende mededingers vir die troon, as bemiddelaar op te tree. In plaas daarvan het Edward die Skotte met geweld gedwing om trou aan hom te sweer. Robert I, wat bekend was as Robert the Bruce, het daarná teen die Engelse geveg, onder bevel van Edward II en ’n beslissende stryd vir Skotland in Bannockburn in 1314 gewen.

Diplomatieke briewe

Deur herhaaldelik briewe te skryf, het die pous probeer om vyandelikhede tussen die twee Katolieke lande te beëindig. Hy het egter geweier om Robert the Bruce as die wettige koning van Skotland te erken. Gevolglik is ’n brief met die handtekeninge en persoonlike seëls van 39 Skotse edelmanne op 6 April 1320 aan pous Johannes XXII in Avignon, Frankryk geskryf, wat as die Verklaring van Arbroath bekend staan en wat die Skotse standpunt oor die konflik met Engeland uiteengesit het.

Om briewe aan die pous te skryf was niks nuuts vir Skotse baronne nie. In 1237 het koning Alexander II en die baronne van daardie tyd, vir pous Gregorius IX ’n vredesverdrag aangestuur wat met Engeland gesluit is in die teenwoordigheid van ’n pouslike gesant en vir die pous verduidelik dat hulle van plan was om daarby te hou. Deur dus aan die pous te skryf en hom in kennis te stel van hulle persepsie van onreg in 1320, sou destyds as ’n potensieel vrugbare diplomatieke benadering beskou gewees het. Die verklaring het nie ’n skielike opwelling van nasionalistiese gevoel beskryf nie, maar eerder ’n begeerte na respek en selfbestuur binne die bestaande verhouding met Engeland. Dit was ’n diplomatieke brief en ’n stuk wat intelligente propaganda genoem kan word. ’n Afskrif van die oorspronklike brief van 1320 kan gevind word in die Nasionale Argiewe van Skotland wat in Edinburgh geleë is.

Die Verklaring van Arbroath het die Skotte se geskiedkundige nasionale geloofsbriewe uiteengesit en dit was in wese ’n versoek dat die pous die Engelse regering moes dwing om hulle met rus te laat. Daar is egter geen bewyse dat die brief destyds ’n wesenlike impak gehad het nie. Dit het uit die geskiedenis verdwyn en was selfs in Skotland feitlik vergete, totdat ’n Engelse vertaling van die oorspronklike Latyns in 1689 verskyn het.

Slegs vir vryheid

Die bekendste aanhaling uit die brief, wat soms deur Skotse nasionaliste gebruik word, lui: “Solank as wat ’n honderd van ons aan die lewe bly, sal ons nooit onder enige voorwaardes aan die heerskappy van die Engelse onderwerp word nie. Dit is in der waarheid nie vir roem nie, ook nie vir rykdom of vir eer wat ons veg nie, maar slegs vir vryheid, wat geen geloofwaardige man prysgee nie, behalwe met die lewe self”.

Die SNP het probeer om Brexit te vermy en wil ’n ander referendum vir onafhanklikheid in Skotland hê (waarna verwys word as “IndyRef2”), met die doel om Skotland te skei van die ander V.K.-lande, Engeland, Wallis en Noord-Ierland. Indien die Verklaring van Arbroath ’n verklaring van Skotse onafhanklikheid was, sou u kon sien waarom die SNP dit dalk mag gebruik. Die party het egter daarvan weggeskram om na die verklaring te verwys of selfs aandag te vestig op die frase oor vryheid, aangesien sulke verwysings in hulle vorige veldtogte probleme veroorsaak het.

Ondanks die bemoedigende uitslae vir die SNP-saak in Skotland, soos dit in die 2019 algemene verkiesing weerspieël is, is daar nie ’n grondwetlike dooiepunt in die vooruitsig nie. Die Eerste minister Boris Johnson het reeds verklaar dat hy nie ’n IndyRef2 sal steun nie, aangesien die eerste een in 2014 veronderstel was om die kwessie vir minstens ’n generasie te besleg.

Wie is die Skotte?

Watter bykomende agtergrond met betrekking tot hierdie moderne gebeure kan die Verklaring van Arbroath aan ons openbaar? Die inleiding daarvan maak ’n duidelike verklaring met betrekking tot die Skotte se kennis van hulle Israelitiese oorsprong, hulle antieke migrasies, hulle oorwinnings in oorloë en hulle lang geskiedenis van selfbestuur as ’n nasie.

... ons weet en uit die geskiedenis en in boeke van die antieke volke vind ons dat onder die ander beroemde nasies ons eie, die Skotte, met wydverspreide roemrykheid bekroon is. Hulle het vanaf Groter Skithië gereis deur die Tirrheense See [Middellandse See] en die Pilare van Hercules [Straat van Gibraltar]. Hulle het vir ’n lang tydperk in Spanje onder die wreedste volke gewoon ... Daarvandaan het hulle twaalfhonderd jaar nadat die volk van Israel deur die Rooi See getrek het, na hulle tuiste in die weste gegaan waar hulle vandag nog woon. Hulle het eers die Britte verdryf en die Pikte heeltemal vernietig. Hoewel hulle dikwels deur die Noorweërs, die Dene en die Engelse aangeval is, het hulle besit geneem van daardie tuiste met baie oorwinnings en ongekende probeerslae. Soos die antieke geskiedenis getuig, het hulle sedertdien hulle vryheid behou. In hulle koninkryk het honderd-en-dertien konings van hulle eie koninklike lyn regeer, die lyn wat nie deur enige buitelander onderbreek is nie.

Dus, waarom is sommige Skotte so gretig om die Verenigingsverdrag van 1707 tussen Engeland, Wallis en Skotland te verbreek? Ons boekie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? is gratis beskikbaar in gedrukte vorm of aanlyn en beskryf Bybels-geprofeteerde situasies soos hierdie moontlike verbrokkeling van lankgevestigde, vermoënde alliansies.

In Levítikus 26 is God se waarskuwing aan die Israeliete teen ongehoorsaamheid aan Hom opgeteken – ’n toestand wat ons vandag in ons samelewing sien. Hy verklaar spesifiek in vers 19 dat Hy ons “trotse mag [sal] verbreek” in antwoord op ons nasionale verwerping van Hom. Verder beskryf Jeremia 30:7 die tyd van ’n nasionale ramp wat voorlê as “’n tyd van benoudheid vir Jakob”. Ons weet dat Jakob se naam na Israel verander is (Génesis 32:28), wat in ons boekie aangetoon is en verwys na die nasies van Noordwes-Europa vandag, met inbegrip van die Skotte, Engelse, Walliesers en Noord-Ierland.

Wat hou die toekoms dus vir die V.K. in? Dit wil voorkom asof dit in die algemene verkiesing in Skotland nie noodwendig oor Skotse onafhanklikheid gegaan het nie, maar eerder dat die Skotte teen Brexit gekant was. Met Brexit wat nou egter geskiedenis is, is dit nog onseker hoe die dinamika sal verander. Na bykans 50 jaar beoog die V.K. om weer sy eie nasionale bestemming te beheer, wat ook tot voordeel van Skotland kan wees. Sal daardie hernude beheer egter tot ’n nasionale bekering en strewe lei om waarlik aan God gehoorsaam te wees? Mag dit so wees ter wille van ons nasie se lotsbestemming.