Kan u ’n verskil maak in ’n wêreld wat onbeskof geraak het?


Die-agt-en-sewentigjarige Angel Arce Torres het maar net probeer om ’n besige straat oor te steek in Hartford, Connecticut, toe hy getref is deur ’n motor wat oor die middellyn gery het. Erg beseer, het hy vir ’n hele paar minute op die sypaadjie gelê waar ’n straatlig se waarnemings-kamera sy benarde toestand op film vasgelê het. Motor na motor het by die gewonde man verbygery en voetgangers het verbygeloop sonder om hulp te verleen.

Volgens ’n polisieverslag was Torres vir ’n hele paar minute alleen gelaat, totdat hy opgemerk was deur ’n polisiebeampte wat op ’n ander oproep reageer het. Die polisie het gereël dat ’n ambulans Torres na Hartford hospitaal neem, waar dokters gevind het dat hy van die nek af ondertoe verlam was.

Die Hartford Courant het hierdie tragiese storie publiseer met ’n skreeuende opskrif: “SO INHUMANE” [so onmenslik] en het die plaaslike polisiehoof aangehaal waar hy sê: “Ons het nie langer ’n morele kompas nie” (“Hartford missing ‘moral compas’?”, Associated Press, 6 Junie 2008).

Daar is uiteindelik ontdek dat vier verbygangers wel 911 gebel het om die tragedie aan te meld, terwyl hulle verder gehaas het. In elk geval, waarom het dit so lank geneem voordat iemand gepraat het – en waarom het Torres geen hulp ontvang vir verskeie minute totdat die polisie opgedaag het nie?

Het iets verskriklik verkeerd gegaan in ons samelewing wanneer – vir watter rede ookal – mense “nie betrokke wil raak” nie en teësinnig – selfs onwillig – is om hulself te verwerdig om andere in nood te help?

Torres het op 11 Mei 2009 gesterf, byna ’n jaar na die tref-en-trap ongeluk. Vir die inwoners van Hartford – en vir baie ander mense wat bekommerd is oor die verval van ordentlikheid en beleefdheid in ons moderne samelewing – bly hy nogtans ’n kragtige simbool van ’n wêreld wat verkeerd gegaan het.

’n Growwe samelewing?

Anders as wat met Angel Torres gebeur het, is die meeste gevalle van gevoelloosheid nie sake van lewe en dood nie. ’n Mens hoef egter nie baie ver te soek om te vind dat daardie selfde gesindheid algemeen is in ons moderne wêreld nie. Mense is deesdae nie slegs minder gewillig om mekaar te help nie, hulle is dikwels nie eens gewillig om mekaar met algemene ordentlikheid te behandel nie. Kyk na die groeiende verskynsel van “padwoede”. Kyk hoe winskopie-jagters mekaar in die tou stamp en stoot voordat ’n uitverkoping begin. Kyk met watter gemak “kuber-afknouery” ontstoke mense toelaat om oor die Internet hul woede vir mekaar uit te stort.

Outeur Stephen L. Carter het baie Amerikaners se gevoelens opgesom in sy boek: Civilty:, Manners, Morals and the Etiquette of Democracy: “Alhoewel ons Amerikaners nog altyd gedink het dat beleefdheid besig is om te verdwyn, dink ek, hierdie keer mag ons reg wees”, (bl. xi).

Nogtans, ten spyte van die media se stereotipes van die “lelike Amerikaner”, is die gebrek aan beleefdheid ’n internasionale probleem. In Junie 2002 het die owerheid van die staat Victoria, Australië, ingegryp om reëls vas te lê vir ouers van junior sport spanlede, in antwoord op wat die pers die “lelike ouer sindroom” genoem het. Die regering se optrede was die gevolg van ’n “toenemende gebruik van vuil taal en selfs fisiese aggressie wat openbaar is deur ouers wat toeskouers is wanneer hul kinders aan junior sportaangeleenthede deelneem” (“Why Civility Matters”, Centre for Independent Studies Policy, Nicole Billante and Peter Saunders, vol. 18, no. 3, bl. 35, Lente 2002).

In 2009 het outeurs Alessandra Buonfino en Geoff Mulgan, Civility Lost and Found, uitgegee waarin hulle die groeiende growwigheid van die Britse samelewing uiteengesit het. Hulle merk op: “’n Onlangse ITV-opname het tot die gevolgtrekking gekom dat Brittanje ‘meer onbeskof raak’, en byna 90% van die respondente is oortuig daarvan dat goeie maniere versleg het. Antisosiale gedrag het ’n prominente saak van openbare besorgdheid geword deur die laaste dekade en Brittanje is nou, volgens berig word, die slegste land sover dit padwoede aangaan in die Europese Unie” (bl.12).

 Selfs Kanada, ’n land bekend vir beleefdheid, is aangetas. ’n Kanadese statistiese opname van 11,000 Kanadese het bevind dat een uit elke vier mense bekommerd is oor die bewyse van “onbeleefdheid”, of tekens van potensiële misdaad, in hul samelewing (CBC News, 15 Julie 2008).

In antwoord op hierdie kwellende verskynsel gaan meer en meer stemme op wat ’n oproep doen vir hernuwing van beleefdheid in ons persoonlike en openbare lewens. Webtuistes soos collapseofcivility.org en civilityproject.org kom te voorskyn. Konvensie-beplanning en openbare betrekkinge assosiasies plaas meer klem op beleefdheid en respek tussen kollegas en kliënte. Die Civility Inisiative wat in 2000 gestig is deur Johns Hopkins se professor Dr. P. M. Forni, was ingestel met die doel om “die belangrikheid van beleefdheid, goeie maniere en hoflikheid in ons hedendaagse samelewing te bepaal”.

Waarlik, groepe reg oor die wêreld het met programme begin om die gety van onbeleefdheid om te swaai. “Dit wissel van studentebewegings wat plaaslike goedhartigheid in Japan bevorder, tot die regering-befondsde Wêreld Goedhartigheidsbeweging in Singapoer wat ’n Wêreld Goedhartigheidsdag in November voorstaan en ’n veldtog wat goeie maniere voorstel vir elke situasie. Die Suid-Koreaanse Helder Glimlagbeweging bevorder die belangrikheid van glimlag en uitdeling van glimlagte deur middel van programme in skole en plaaslike gemeenskappe, terwyl die Goedheid Offensief in Londen se Wes-Hampstead, deur die werk van vrywilligers, klein en groot willekeurige dade van goedhartigheid teenoor vreemdelinge uitvoer” (Buonfino, bl. 30).

Eerlikwaar, baie mense voel aan dat iets verkeerd is en is besorgd dat onbeleefdheid reggestel moet word. Die vraag is: Hoe?

Die “Goeie Ou Dae”?

Baie van die ouer geslag dink dat hulle graag sal wil terugkeer na ’n eenvoudiger, sagmoediger tyd uit die verlede. Studies maak dit egter duidelik dat onbeleefdheid nie net een geslag van ’n ander skei nie, of ’n probleem van jonger mense is nie. In How Rude! The Teenagers Guide to Good Manners, het Alex J. Packer geskryf: “93% Van die tieners wat ons in ’n opname ondervra het aangaande goeie maniere, vereenselwig hulle met die opmerking: ‘Dit is belangrik om goeie maniere te handhaaf’” (bl. 4). Party jong mense is uitdagend en verwerp die slegte voorbeeld van hul voorsate. In 2003 het ’n groep jong leiers in die Duluth, Minnesota/Superior, Wisconsin area, Dr. P. M. Forni se boek, Choosing Civility geneem en die “Speak Your Peace” projek gestig wat op die uitgangspunt daarvan gegrond is. Dit was ’n gesamentlike poging om plaaslike leiers in die stadsraad en distrikskommissie te oorreed om die bespotlike skreeuende woordestryd by hul vergaderings te staak.

Nie elkeen glo dat die samelewing voorheen meer beleefd was nie. “Daar is min ooreenstemming oor die basiese feite op die vraag of die Britse samelewing werklik meer of minder beleefd is as in die verlede. Ons weet dat moordsyfers baie laer is as in die verlede, en dat dit ook lyk of daar baie minder onverskillige geweld is. Oor die algemeen was Brittanje, selfs in die veronderstelde goedgemanierde tye in die verlede (byvoorbeeld die 1950’s) minder geordend en meer gewelddadig as nou, of dit nou vir straatgevegte of kindermoorde geld” (Buonfino, bl. 14).

Baie mense betreur deesdae die bitsigheid in Amerikaanse politiek, en met goeie rede. Nogtans toon ’n eerlike evaluasie dat politiek nog altyd besoedel was met onbeleefdheid. Byna 150 jaar gelede het die Amerikaanse kongresman, Preston S. Brooks van Suid-Carolina, Senator Charles Sumner van Massachusetts wreed met ’n kierie toegetakel en hom bewusteloos geslaan as gevolg van twee toesprake wat Sumner, ’n Republikeinse afskaffer, gelewer het. Net vyf jaar later het die bloedigste oorlog wat nog ooit op Amerikaanse grondgebied plaasgevind het, uitgebreek, die baie “onbeleefde” Amerikaanse Burgeroorlog, met 600,000 gesneuweldes. Kan enige geslag daarop aanspraak maak om die finale antwoord op die kwessie van “beleefdheid” te hê?

So oud soos die mensdom?

Onbeleefdheid is nie ’n probleem van die jeug nie, nog minder is dit beperk tot een geslag. Dit kan eintlik teruggespoor word na die Tuin van Eden – waar Adam en Eva, deur te sondig, hulle Skepper se aanbod van ’n innige, liefdevolle verhouding gebaseer op vertroue en wedersydse respek, verwerp het. Let ook op die gedrag van hulle seuns, Kain en Abel. Elkeen het ’n offer aan God gebring, maar Kain het kwaad geword toe God sy offer verwerp het. “En die Here sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang?” (Genesis 4:6). Met moord in sy hart het hy na sy broer gegaan, hom woedend aangeval en doodgeslaan (Genesis 4:8).

Uiteindelik het God gesien “dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was” (Genesis 6:5). God het die ou, bose beskawing in die Sondvloed vernietig, en geslagte later het Hy die aartsvader Abraham en sy kinders geroep om van voor af met Hom te wandel. Nogtans, selfs in die huisgesin van Abraham se kleinseun Jakob, toon die Skrif dat onbeleefdheid weer sy aaklige kop uitgesteek het. Wrokkigheid teenoor Josef – Jakob se gunsteling – het gegroei en ’n kanker geword in die denke van sommige van sy broers, totdat “hulle hom gehaat [het] en kon nie vriendelik met hom praat nie” (Genesis 37:4). Hulle harde woorde het verander in dreigemente van geweld – tot die skokkende misdaad deur hul eie broer as slaaf te verkoop.

Selfs toe die einste Seun van God na die aarde gekom het om in Sy skepping te woon en te wandel, was Hy mishandel en uitgelag (Lukas 8:53). Teen die einde van Sy bediening is Hy gevange geneem en voor die Hoëpriester gebring. “En sommige het begin om op Hom te spuug en sy aangesig toe te maak en Hom met die vuis te slaan en vir Hom te sê: Profeteer! En die dienaars het Hom met stokke geslaan” (Markus 14:65). Selfs terwyl die Seun van God sterwend aan die kruis gehang het, het party mense Hom nog gelaster en gespot (Mattheüs 27:39, 41). Waarom het die Seun van God so ’n uitermatige onbeskoftheid teenoor Hom verdra? Sodat ons ’n Redder mag hê, vergewe kan word en dan self ware, goddelike beleefdheid kan aanleer.

Lê daar meer voor?

Historici toon aan dat die verval van elke groot beskawing gepaardgegaan het met ’n verlies aan beleefdheid. “Verslegtende sedes, onbeleefdheid en swak gedrag was in antieke Griekeland en Rome gesien as die beslissende faktore vir die verval van beskawings. In die 1700’s het Edward Wortley Montagu in sy Reflections on the Rise and Fall of the Ancient Republics, bespiegel dat die ‘hoofoorsake van die [verval van die antieke Griekse en Romeinse beskawings] verslegting van maniere was, wat daardie eens brawe en vrye volke laat verval het in die mees veragtelike slawerny’” (Buonfino, bl. 17).

Bybelse profesieë waarsku dat nog meer onbeleefdheid voorlê. Jesus Christus het voorspel dat in die jare net voor Sy Wederkoms mense mekaar sal verraai en ware volgelinge van God sal vervolg. “En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat ... En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Mattheüs 24:10, 12). Namate enige beskawing sy rug op God en Sy Woord draai – die enigste ware riglyn vir regte beleefdheid – brei die mens se wreedheid teenoor die mens net uit.

Die apostel Paulus bou voort op hierdie tema wanneer hy ook die verval van ’n selfsugtige en narsistiese [liefde vir die self] samelewing in die eindtyd voorspel: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Timotheüs 3:1-5). Beskryf dit ons vandag?

Die slegte nuus is dat onbeleefdheid sal toeneem en erger sal word. Lesers wat die Wêreld van Môre reeds vir ’n lang tyd lees verstaan dat die moderne Israelitiese nasies geseënd was met materiële besittings, dit was ondenkbaar vir vervloë geslagte! Nogtans, as gevolg van ons sondes, sal God se seëninge aan Abraham weggeneem word. Ongelukkig wag daar verwarring en chaos op ons, tensy ons indiwidueel en nasionaal berou tot bekering het.

Doen aan ander ...

Die essensie van beleefdheid is om te kies om selfbeheersing uit te oefen wat nodig is om die behoeftes van andere in ag te neem, ongeag hoe ons op die oomblik voel. Beleefdheid beteken om andere lief te hê omdat God ons so beveel en omdat ons vir hulle omgee. Die apostel Paulus het dit verduidelik in Filippense 2, verse 3-5: “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was”. Beklee u uself met die denke van Christus? Leer u om nie net op u eie behoeftes te fokus nie, maar op die belange van ander?

Paul Meier, outeur van Don’t Let Jerks Get the Best of You, skryf dat wanneer dit beleefdheid aangaan, kan die meeste mense verdeel word in verskeie kategorieë. Dit is die heel moeilikste om oor die weg te kom met daardie mense “wat dit werklik geniet om hul medemens te beheer, te misbruik en te oorheers, sonder enige skuldgevoelens oor die pyn en lyding wat hulle veroorsaak”. ’n Ander groep wat net ’n bietjie beter is, is mense wat “doelbewus en opsetlik hul medemens manipuleer, beheer en misbruik. Terwyl hulle ook dikwels daarna skuldig voel, sal hulle dit weer doen”. Die laaste groep sluit die meeste mense in met wie ons daagliks te doen kry. Hulle is die “goeie ouens” wat “dit goed bedoel, probeer om eerlik en regverdig en oor die algemeen geloofwaardig te wees, maar wie tog ’n bietjie selfsugtig mag wees nou en dan en ander sal uitbuit sonder dat hulle dit sleg bedoel” (bl. 8).

Dink egter daaraan – hoeveel selfsugtigheid is in orde? Watter vlak van beleefdheid is ons gewillig om in ons lewens te aanvaar? Paulus het geskryf dat ware Christene daarna moet streef om te groei “totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ’n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (Efesiërs 4:13). Die probleem is in die laaste instansie nie die onbedagsame koper wat ons in die kruidenierswarewinkel uit die ry druk, of die bestuurder wat ons in die verkeer afsny nie, of iemand wat aan ons ’n onbesonne e-pos stuur nie. Indien ons eerlik is, besef ons: Die probleem is ons!

’n Koninkryk van beleefdheid?

Sal beleefdheid ooit weer in die samelewing terugkeer? Party wêreldleiers probeer dit bewerkstellig. Die Britse Eerste Minister, David Cameron, het klem gelê op “algemene ordentlikheid” as van die eienskappe wat aan die taan is, wat hy hoop om in Brittanje te laat herleef (lees “Londen Roep” elders in hierdie uitgawe). Ook in Amerika was “beleefdheid ’n algemene tema in politieke retoriek. In 1998 het die destydse Burgemeester van New York, Rudolph Giuliani, voorgestel dat ‘studente (behoort) die belangrikheid van beleefdheid in hul geskiedenisklasse te leer’, terwyl die voormalige Amerikaanse President George W. Bush in sy inhuldigingstoespraak voorgestel het dat ‘beleefdheid nie ’n taktiek of ’n sentiment is nie, dit is ’n doelbewuste keuse van vertroue bo sinisisme, van geordenheid bo chaos’” (Buonfino, bl. 15). Terwyl die pogings van burgerlike, besigheids- en selfs politieke leiers prysenswaardig is, sal hul werklik die gety van onbeleefdheid omswaai? Kan hulle?

Die waarheid is dat werklike, blywende, goddelike beleefdheid regoor die hele menslike samelewing slegs gevind sal word wanneer Christus oor die aarde sal heers. Bybelse profesieë toon aan ons dat die Redder van die wêreld nie net met ’n ysterstaf en met mag sal regeer nie (Psalm 2:9; Openbaring 2:27), maar ook met wysheid, begrip en geregtigheid (Jesaja 11:2-4). Jesaja 11:6-9 beeld die rustigheid en harmonie in die toekomstige wêreld uit. Indien die toekomstige duisendjarige vrederyk van Christus getipeer word deur vrede en beleefdheid tussen selfs die wilde diere, hoeveel te meer dan nie tussen mense wat volgens die beeld van God gemaak is nie?

Hoe omskryf God ware beleefdheid? Lees oor hoe kinders hul ouers behoort te respekteer (Efesiërs 6:2) en hoe ouers hul kinders moet oplei en nie te vertoorn nie (Efesiërs 6:4). Vind uit hoe huweliksmaats mekaar behoort lief te hê en te respekteer (Efesiërs 5:33). Lees hoe die jonger geslag die ouer geslag behoort te respekteer (Levitikus 19:32). Ontdek wat God sê oor beslegting van konflikte en die gee van opbouende kritiek (Mattheüs 18:15-17). Neem u voor om nie te skinder nie (Psalm 15:3). Praat die waarheid, in liefde, en sagkens (Efesiërs 4:15). Dink aan die gelykenis van die Goeie Samaritaan (Lukas 10:30-37), en vergelyk dit met hoe Angel Torres se medemense hom behandel het terwyl hy bloeiend op daardie Hartford pad gelê het.

Christelikheid is nie ’n sagte, afgewaterde, goedvoel filosofie vir die wat week van hart is nie. Dit is ’n uitdaging om geloof en moed in te span om ons medemense lief te hê. In sy boek, The Case of Civility: And Why Our Future Depends On It, verduidelik skrywer Os Guinness korrek dat beleefdheid herbou moet word indien ons as ’n beskawing wil oorleef: “Beleefdheid moet werklik herstel word. Dit moet nie verwar word met gaafheid of blote etiket of afgemaak word as liggeraaktheid oor verskille nie. Dit is ’n geharde, kragtige, selfstandige begrip ... en ’n wyse van optrede wat bepalend sal wees vir die toekoms van die Amerikaanse Republiek” (bl. 3).

Selfs as sou die wêreld om ons onbeleefd word, het ons elkeen indiwidueel ’n keuse. Ons moet besluit watter pad ons gaan volg: Die pad wat lei tot groter selfsugtigheid en woede; of die een wat lei na nederigheid, diens en liefde. Luister na die oproep om ’n sterk, getroue en goddelike ambassadeur van Christus te wees. Kies beleefdheid!