Die geesteswêreld is ’n realiteit en dit het ook ’n werklike bose sy. God waarsku ons dat Satan die god van hierdie huidige tydperk is. Hoe kan u die versoekings van Satan en sy demone weerstaan?

Kan u uself beskerm teen die magte van die bose wat voorkom of dit toenemend magtiger word in ons wêreld?


Wilde en bykans onverklaarbare dinge is besig om te gebeur. Oënskynlik “versteurde” individue is besig om mense dood te maak in openbare plekke wat eens as veilig beskou was. Ongewone gevalle van selfmoord is ook aan die toeneem – dikwels is mense betrokke wat normaal “voorgekom” het net voordat hulle hulself doodmaak!

Hoekom gebeur dit alles? Wat baie min mense – selfs die meeste sogenaamde “kundiges” – nie besef nie, is dat daar werklik ’n “geesteswêreld” is. Satan die duiwel is ’nmagtige geestelike wese wat baie keer in u Bybel genoem word. Satan het ook ’n letterlike leër van “demone” – gevalle engele wat saam met hom teen God in opstand gekom het. Die duiwel gebruik hierdie gevalle engele om mense te beïnvloed, mislei, ontmoedig en selfs om mense te “beset” wat hy spesifiek wil aanval.

Glo u, persoonlik, werklik dat die Bybel deur God geïnspireer is? Indien wel, dan kan hierdie artikel u geweldig help. Andersins lees u maar net van “iemand anders se mening”. Mag God u help om Sy geïnspireerde Woord te verstaan! Wat sê God aan ons aangaande demone? Wat het Christus gedoen? “Toe het hulle ’n duiwelbesetene wat blind en stom was, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde en stomme kon praat en sien. En die hele menigte was verbaas en het gesê: Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie? Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie. Maar Jesus het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie. En as die Satan die Satan uitdryf, dan is hy teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan bly staan?” (Mattheüs 12:22-26).

Hierdie verse toon dat Satan die duiwel ’n “koninkryk” het – ’n koninkryk gevul met demone! Openbaring 12:3-4 toon beslis dat Satan se kragtige invloed veroorsaak het dat ongeveer een derde van die totale engele skare hom gevolg het in sy opstand teen die Skepper. Daar is ’n groot aantal demone daar buite! Dus, wanneer die geprofeteerde eindtydse “geestesoorlog” uitbreek met Satan en sy demone wat veg teen die leër van die hemel (Openbaring 12:7), sal miljoene van Satan se gevalle “engele” saam met hom “neergewerp” word (vers 9).

Ons betree nou ’n tyd van “geestelike oorlogvoering”, meer dramaties as enigiets wat hierdie wêreld vir ’n lang, lang tyd ondervind het! Dit is geprofeteer dat, voor die einde van hierdie huidige tydperk, een van Satan se menslike dienaars letterlik “vuur uit die hemel [sal] laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense” (Openbaring 13:13).

Satan en sy demone besmet hierdie wêreld se atmosfeer. U Bybel noem Satan dus “die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:2). Hy en sy demone het ’n geweldige invloed op hierdie wêreld – in die samelewing, die media en in die manier waarop mense dikwels gelei word om te dink. Satan is dus ’n moordenaar. Hy en sy demone keur die feit af dat – in teenstelling met die engele en die demone – ons mense gemaak is na die “beeld” van God Self, dat ons ook die ontsaglike potensiaal het om werklike seuns van God te word. Daarom sal Satan en sy demone op elke manier probeer om dit te verhoed. As die opperste moordenaar, sal Satan probeer om die mens op baie verskillende maniere te vernietig – deur godsdienstige misleiding, politieke bedrywighede, misplaasde onderwys en vals “kennis”. Hy en sy demone is besig met die toediening van gesindhede van wellus, afguns, haat en moord in dikwels niksvermoedende mense. Satan is die opperste leuenaar – die “vader” van leuens (Johannes 8:44) – hy en sy demone probeer selfs om ’n subtiele “kinkel” van boosheid in skynbaar edel idees en aktiwiteite te plaas, om liggelowige mense te verwar en hul te distansieer van ons Skepper, die enigste ware God.

Media invloed

Die Westerse samelewing, veral ons media, gaan voort om mense se gedagtes, van hul vroegste kinderjare af, te deurweek met vreemde beelde van ’n onwerklike wêreld – dit behels dikwels vreemde geestelike wesens, vreemde ruimtewesens, verskriklike geweld en ongewone karakters wat simpatiek uitgebeeld word, soos dié in die Harry Potter-reeks en die onlangse vlaag “vampier”-boeke en rolprente. Dit is geen wonder dat die gedagtegang van jong mense so dikwels verwar word met wat werklikheid is en wat nie werklikheid is nie. Deur na al hierdie gemors te kyk, word hulle ook duidelik verwar tussen wat goed en wat kwaad is.

Die meeste jong mense aanvaar al hierdie tipe ongewone aktiwiteite as vanselfsprekend. Sommige van hulle wat hierdie artikel lees, mag selfs lag dat ons by die Wêreld van Môre sulke dinge heeltemal te ernstig opneem. Hoewel diegene van ons wat grootgeword het in ’n tyd toe daar nog nie so iets soos televisie of die Internet was om al hierdie “eienaardige wêrelde” beskikbaar te maak nie – met baie donker, onheilspellende “ontsnappings”-wêrelde, wat uitgedink word deur siniese skrywers en vervaardigers watdikwels grootliks deur drank en dwelms beinvloed word, wat oor die algemeen absoluut ellendige huwelike en gesinslewens het – weet dat daar ’n ander en beter weg is.

Wat is die antwoord? Dit is nie te vinde in ons menslike redenasies nie. Indien ons nogtans bereid is om te verstaan, sal ons vind dat slegs die geïnspireerde woord van die Skepper wat aan ons lewe en asem skenk, vir ons die ware weg kan aanwys om die euwels van hierdie wêreld te oorwin en te lewe volgens die weg wat uiteindelik vrede en geluk bring.

Koning Dawid van Israel – die “man na God se hart” – verklaar onder inspirasie: “Ek stel geen lae ding voor my oë nie; die dade van afvalliges haat ek; dié sal my nie aankleef nie. ’n Verkeerde hart moet ver van my af bly; wat kwaad is, wil ek nie ken nie” (Psalm 101:3-4). Nogtans is misleide mense voortdurend besig om allerhande soorte “bose” beelde en dinge voor hul oë te stel.

Ontelbare miljoene van ons jong mense vul hul verstand met grafiese beelde van geweld, verdraaide seks, wreedheid, vreemde “ruimtewesens” en “ruimte-oorloë” – sodoende projekteer hul hulself in onwerklike wêrelde en situasies in waar hulle nie betrokke raak met normale situasies en ordentlike standaarde van gedrag nie. Ditverdraai natuurlik hul vermoë om logies en rasioneel te dink – dit verhoed hulle beslis om geestelik te dink, volgens God se Woord.

Die Ewige God beveel ons: “Begeef julle nie tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê nie. Soek hulle nie om julle deur hulle te verontreinig nie. Ek is die Here julle God” (Levitikus 19:31). God se woord gaan voort: “En as ’n persoon hom begewe tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê om agter hulle aan te hoereer, sal Ek my aangesig teen dié persoon rig en hom uitroei onder sy volk uit. Toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is die Here julle God” (Levitikus 20:6-7).

Die idee om met “geeste” om te gaan, lyk vir party mense baie opwindend. Dit is dus geen verrassing dat baie rolprente en TV-programme daaraan gewy word om menslike kontak met die geesteswêreld uit te beeld as opwindend, boeiend en selfs nuttig nie! Waartoe lei dit egter? Dit behels om verwarde mense in verhoudings met bose geeste te bring – wat sal probeer om diegene wat met hulle kontak het, te verlei en uiteindelik te vernietig!

Al te dikwels verwar moderne sielkundiges en ander mense demoniese bedrywighede met geestelike en fisiese siektes soos skisofrenie. Nogtans erken baie boeke oor sielkunde dat skisofrenie ’n “alles-omvattende” term is wat psigiaters gewoonlik gebruik om alle vorme van ongewone geestelike en emosionele afwykings te beskryf wat hulle en andere dikwels nie regtig verstaan nie. Om eerlik te wees, hulle kan nie hierdie sake van die gees verstaan nie, omdat sodanige begrip geopenbaar word deur die Almagtige God – Wie hulle basies verwerp en weier om na te luister!

Hoe werk demone met ontstelde en verwarde menslike denke? Die Charlotte Observer het ’n artikel geplaas waarin ’n situasie beskryf word wat beslis klink of dit ooreenkom – heel moontlik ook kan wees – met ’n voorbeeld van demoniese invloed op ’n man wat sy werk verloor en in diep mismoedigheid selfmoord oorweeg het. “Die werk was verlore, die geweer was gelaai, ’n stem het gesê: ‘Jy is ’n mislukking, gee nou moed op, doen dit nou’. Dit was ’n opdrag, nie ’n voorstel nie, wat op daardie oomblik saak gemaak het – op ’n wintersaand in 2000 – dit het nie gegaan oor waar die stem vandaan gekom het nie, maar hoe selfversekerd, hoe oorredend, dit was” (7 Augustus 2011).

Let op hoe ’n baie oorredende stem in hierdie man se gedagtes gekom het en aan hom gesê het “doen dit nou” terwyl hy die gelaaide geweer in sy hand gehou het. Dit klink baie soos die oorredende stem wat Jesus byna twee duisend jaar gelede gehoor het toe gesê is vanaf die toppunt van die tempel: “As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ’n klip stamp nie” (Mattheüs 4:6). Hierdie stem het Hom verseker dat Hy nie sou seer kry nie.

Toenemend meer “stemme” word waarlik regdeur ons land gehoor om verwarde mense te beïnvloed – meer sterk “drange” wat mense uitlok om gewelddadige dinge te doen, selfs om hulself en ander mense dood te maak. Vir u wat egter die Wêreld van Môre-tydskrif lees, hoef dit nie so te wees nie!

Satan die duiwel probeer sekerlik op enige moontlike manier wat hy maar kan, om mense heeltemal te ontmoedig en hulle weg te lok van die Skepper God af. Hy mag hulle uitlok om in valse, denkbeeldige wêrelde te lewe wat hul hele denkproses verwar en selfs hul konsep van die lewe self. Hy mag hulle verlei deur die idee van geweld in hul gedagtes te plaas, soms gekoppel aan verdorwe seksuele aktiwiteite of ander dade wat uiteindelik hul lewens op baie maniere vernietig. Satan – die opperste vyand van die mensdom – wil beslis alle menslike lewe vernietig (Mattheüs 24:21-22).

Die enigste ware antwoord

Die oopmaak van u koerant of die aanskakeling van u televisie kan u al talle voorbeelde gee van wat ek besig is om te beskryf. U kan dalk ’n man vind wat homself identifiseer met die strokiesprent “Joker” se karakter en dan werklik geweld pleeg wat mense doodmaak en gesinne vernietig. Of u mag ’n man sien wat hom verbeel hy kan ’n fantasie-lewe hê as hy maar net sy vrou sou doodmaak. Sataniese geweld is ’n werklikheid, dit is wydverspreid.

U hoef egter nie daardeur geraak te word nie, indien u staatmaak op die hulpmiddels wat God gegee het aan diegene wat bereid is om dit te gebruik. Ek sal nou aan u vier “sleutels” gee om hierdie demone en Satan self, teen te staan namate Satan se oorlog teen die mensdom al hoe kragtiger word. Alhoewel hierdie vier sleutels dalkeenvoudig of selfs voor-die-hand-liggend kan lyk, mag God u help om hulle werklik te gebruik in u eie lewe! Indien u dit doen, sal hulle beslis vir u ’n beskermende verskansing wees wat Satan die duiwel en sy demone daarvan sal weerhou om beheer te neem oor u gedagtes en u weg te lei van alles wat goed, heilsaam en reg is.

Die eerste sleutel is om ’n sterk verhouding op te bou met die Skepper-God, die God van die Bybel. Leer om God te “soek” deur opregte bestudering van die Bybel, wat Sy openbaring aan die mensdom is. Ek stel voor u begin u studie met die boek van Mattheüs en lees dan deur die Nuwe Testament. Dit sou goed wees om, na die lees van die Evangelies, die boek Handelinge te lees en dan te gaan na die “Algemene Sendbriewe” soos Jakobus, 1 en 2 Petrus, 1, 2 en 3 Johannes en Judas. Hierdie boeke is geskryf deur diegene wat werklik saam met Jesus Christus in die vlees gewerk het vir drie volle jare, of wat grootgeword het met Hom as Sy fisiese broer! Diegene van u wat vertroud is met die oorspronklike volgorde van die boeke in die Nuwe Testament (vir meer inligting hieroor, skryf gerus vir ons gratis boekie: Die Bybel: Feit of Fiksie?) sal verstaan dat hierdie “algemene” sendbriewe eintlik voor die briewe van Paulus geplaas was, om goeie redes. Bestudeer hulle en hulle sal u ’n goeie grondslag gee vir ’n Christelike lewe en geestelike krag om Satan en sy demone te weerstaan.

Wanneer u studeer, lees voorbeelde van gebed in die Bybel – veral die “Onse Vader” in Mattheüs 6 wat ’n gebedsraamwerk gee wat as model behoort te dien vir al ons gebede. Leer ook om uit die hart met God te praat – u behoort nie die woorde uit u geheue soos ’n papegaai te herhaal nie. Leer om goed na te dink oor wat u in die Bybel lees, mediteer oor wat God aan u sê in Sy geïnspireerde Woord en aangaande die betekenis van die lewe uit die oogpunt van u Skepper Self. Vra God om u te help dink soos Hy dink en om die “gees van Christus” te hê (Filippense 2:5). U behoort nie die Ou Testament te verwaarloos nie – die enigste Skrif wat beskikbaar was tydens Jesus se tyd en waaruit Hy en Sy apostels gereeld gepreek het!

Rig u lewe so in dat u saam met ander mense omgaan wat die Bybel ernstig opneem. Leer om u tyd te spandeer saam met goeie en opbouende mense – nie snaakse of verwarde mense nie. Negatiewe en goddelose mense sal u egter aftrek, tensy u ’n sterk geestelike karakter ontwikkel het. Die Bybel sê aan ons: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg” (Spreuke 13:20). Leer dus om u vriende versigtig te kies en laat uself beïnvloed word deur mense wat skoon, opbouend en positief is in hul uitkyk op die lewe en nie geneig sal wees om u af te trek nie.

Die tweede sleutel is om bewus te word van Satan en die geesteswêreld uit die oogpunt van God en Sy woord. U behoort uself nie te verdiep in die geesteswêreld deur Satan se eie propaganda, of boeke en rolprente oor demonisme of omgang met “mediums” of “spiritiste” en ander mense wat betrokke is in die okkulte nie. Satan is mos ’nbaie kragtige en oorredende valse engel en hy was in staat om ons eerste ouers, Adam en Eva, te verlei.

Wanneer u egter oor Satan leer deur die oë van God se Woord, toon die Bybel duidelik dat hy en sy demone u nie kan doodmaak of dwing om enigiets te doen, tensy u self daarmee “saamgaan” en dit moontlik maak nie. Die Ewige God beveel ons derhalwe in Sy geopenbaarde Woord: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!” (Jakobus 4:7-8).

Ons word dus direk deur ons Skepper beveel om nie “rond te mors” met Satan en sy demone nie. Ons moet Satan weerstaan en ons liewer “tot God nader”. Soos ons verduidelik het, ons “nader tot God” deur diep en ernstige bestudering van Sy geopenbaarde Woord – die Heilige Bybel – dan ook te mediteer oor daardie Woord en daarnavurig tot God te bid om Hom te vra vir Sy wysheid, Sy leiding, Sy ingryping en Sy verlossing van Satan en alle bose dinge.

Die derde sleutel is om ’n strategie te ontwikkel om Satan en sy demone te weerstaan. Deur ’n sterk verhouding met God te bou, soos hierbo beskryf, is u goed op pad! Ten einde Satan werklik te kan weerstaan, behoort u spesifieke strategieë te ontwikkel wat u denke, u lewe en die manier waarop u dink sal beinvloed!

Een belangrike deel van enige suksesvolle strategie is om seker te maak dat enige kontak met Satan en sy demone vermy word. Wees versigtig na watter soort rolprente of TV-programme u kyk, watter soort video-speletjies u speel en watter webwerwe u besoek. Baie misleidende (selfs doelbewus bose) aanbiedings plaas ’n heeltemal verkeerdeopvatting van die lewe – op wat goed en waar is en beslis op die regte benadering tot die bose geesteswêreld wat rondom ons teenwoordig is, in u denke. Satan is in staat om ontelbare miljoene mense te verwar en hul aandag af te trek van die belangrike kwessies van die lewe, deur hul “te trakteer” met leë en bose voorstellings deur middel van die televisie en ander media. Satan en sy demone is gretig om ons tyd in beslag te neem soveel as wat hulle kan. Hulle weerhou ons daarvan om te dink en tyd te spandeer aan intense bestudering van die openbaring van ons Skepper en die dinge wat regtig saak maak.

Nog ’n deel van ’n suksesvolle strategie is om seker te maak dat ons tussen positiewe mense is – daardie mense wat wys is en hul aandag toespits op God se wil eerder as op dwase onsin en verdraaide idees. Maak ook seker dat u gereeld na buite gaan, om die sonskyn in te drink en vars lug in te asem! Kyk op na die maan en die sterre en besef dat die Skepper hierdie hemelse liggame gemaak het. Doen energieke oefening – indien u daartoe in staat is – ondervind die emosionele “opheffing” wanneer die endorfiene inskop en u help om beter te voel oor uself en u lewe. Lei u denke om aan positiewe onderwerpe te dink, eerder as om u verstandelike prosesse te laat “dwaal” na mismoedigheid, swartgalligheid, selfbejammering of verbittering. Soos God aan ons sê: “Verder ... alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” (Filippense 4:8). Ja, dít is die onderwerpe om oor te mediteer: “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (vers 7).

Die vierde en finale sleutel is om te besef dat u in ’n geestelike oorlog teen een van die magtigste geestelike wesens in die heelal gewikkel is. Slegs God die Vader en Jesus Christus is magtiger. Dit is deur die krag van die Vader en Christus – Hulle krag – dat u krag kan hê om Satan en sy demone te oorwin! U hoef nie toe te gee aan die verwarrende, ontmoedigende en lewe-verswelgende gesindhede wat Satan en sy demone voortdurend verkondig nie. Met die hulp van die Heilige Gees moet u hierdie oorlogveg asof u lewe daarvan afhang! Dit hang inderdaad daarvan af.

Die apostel Paulus is geïnspireer om aan ons te sê, toe hy hierdie oorlog beskryf het: “... want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Korintiërs 10:4-5).

Ons het inderdaad God se hulp nodig om ontslae te raak van verkeerde gedagtes en vleeslike drange – dikwels direk in ons gedagtes geplaas deur Satan en sy demone, wanneer ons hulle toelaat om dit te doen. In stede daarvan om toe te gee aan demoniese invloede, behoort ons voortdurend daaraan te werk “en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus”. Ons moet tot God uitroep en Christus vra om Sy lewe binne-in ons te leef deur die Heilige Gees (Galasiërs 2:20).

Een van Satan se gunsteling strategieë is om geestelike waarhede te verdraai en hulle aan te wend vir sy eie doeleindes. Baie van u mag die Star Wars rolprente onthou waarin die karakters dikwels gepraat het van “die krag”. Die bemoedigende waarheid is dat ons as Christene die opperste “krag” in die heelal het wat vir ons werk, indien ons ons onderwerp aan God en daardie krag met ons hele wese gebruik!

Ons behoort dus bewus te wees van die krag wat beskikbaar is deur middel van ’n werklik noue verhouding met die Skepper-God – die God van die Bybel – deur Sy Heilige Gees binne-in ons. God sal ons help as ons vra en probeer om aan Hom gehoorsaam te wees. Hy sal ons red van bose gedagtes en drange in ons gedagtes wat daar geplaas word deur gevalle engele, wat waarlik daarop uit is om ons te laat val en te vernietig. God het aangebied om aan ons die hulpmiddels te gee om die geestelike stryd wat voorlê, heeltemal te wen. Mag God dus elkeen van ons help en inspireer om hierdie vier sleutels te gebruik as ’n basis om die allergrootste stryd te wen – om uiteindelik lede van die Koninkryk van God te word, die bereiking van die wonderlike doel waarvoor aan ons lewe en asem gegee is!