Vraag: In Openbaring 18:4, beveel ’n stem uit die hemel: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie”. In 2 Korinthiërs 6:17, word aan ons gesê: “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem”. Wil God hê dat ek in ’n wildernis moet gaan woon soos ’n kluisenaar, weg van alles wat onrein is? Wat beteken hierdie verse?

Antwoord: Eerstens moet ons die konteks van hierdie verse verstaan. Openbaring 18:4 sê Christene aan om uit “Babilon” uit te kom (lees vers 2). In 2 Korinthiërs 6:14-17, vermaan die apostel Paulus Christene om hulself af te sonder van “ongelowiges” (vers 14).

“Babilon” verwys hier nie na ’n spesifieke stad nie, maar eerder na ’n vals godsdienstige stelsel met sy oorsprong in antieke heidense Babilon. Daardie stelsel is vandag baie meer aan die orde van die dag as wat die meeste mense besef. Vir meer inligting hieroor, bestel ons gratis boekie, Satan se Vervalste Christendom. Indien u die ware leringe van die Bybel verstaan, maar u nog steeds deelneem aan godsdienstige rituele en tradisies wat die spot dryf met daardie leerstellings, dan het u nog nie uit Babilon gekom nie.

Wat beteken dit om “afgesonder” te wees van ongelowiges, soos beveel in 2 Korinthiërs 6:17? Vir eeue het groepe mans en vroue geïsoleerde gemeenskappe gevorm, selfs teruggetrek in kloosters, om afgesonderd te wees van diegene met ander geloofsoortuigings. So ’n stap is egter slegs oppervlakkig en spreek nie die werklike probleem aan nie. Die werklikheid is, waar daar mense is, is daar vleeslike menslike natuur. Selfs wanneer ons alleen is, mag ons “in” die wêreld wees, indien ons die dinge van die wêreld meer begeer as die dinge van God (Mattheüs 6:33).

Om uit die wêreld te kom, is dit nodig dat ons onsself verander. Ons kom uit die wêreld uit deur ons weë te verander – deur die ongesonde geestelike en fisiese praktyke van diegene wat God verwerp, prys te gee. Daarom moet elkeen van ons die lendene van ons verstand omgord (1 Petrus 1:13). Dit beteken dat ons ons gedagtes moet beskerm teen onwelkome en ongesonde invloede. Luister ons na skinderstories en kwaadpratery? Koester ons gedagtes van geweld en haat? Kyk ons na films met pornografiese of vernederende uitbeeldings van seksuele dade? Of volg ons Paulus se raad? “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” (Filippense 4:8).

Om ná aan God te bly, behoort ons Christus om hulp te vra om die regte keuses oor ons handelinge en ook ons vriende te maak. Die mense met wie ons assosieer kan ons pogings om uit die wêreld uit te kom, maak of breek. “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes. Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming” (1 Korinthiërs 15:33-34).

Per slot van sake kan ons natuurlik nie uit eie krag ten volle uit die wêreld uit kom nie. Ons benodig die Heilige Gees – God se geskenk aan ons – waardeur God se wet op ons harte geskryf sal word. Met God se Gees in ons, sal ons leer om God se wet en Sy weë lief te hê en sal ons tot die punt kom waar ons Hom werklik intiem ken. Hoe kan ons weet dat ons Hom ken? “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Johannes 2:3-6).

Ongelukkig is ontelbare miljoene mense wat hulself vandag volgelinge van Christus noem, nie eens besig om te probeer “wandel soos Hy gewandel het” nie. Sal ons die onbybelse tradisies van mense volg, of sal ons doen wat Hy gedoen het? Een van die belangrikste tekens van ons getrouheid is hoe ons Sy direkte voorbeeld volg deur onderhouding van die sewende-dag Sabbat (Lukas 4:16-17). Vir meer inligting, lees ons boekie Watter Dag is die Christelike Sabbat? Die wêreld rondom ons sal druk op ons uitoefen om Sondag as “Sabbat” te hou – of glad geen Sabbat nie. Sal ons swig voor daardie druk? Of sal ons “uitkom” uit daardie wêreld, en leef soos God wil hê ons moet lewe? Die keuse berus by elkeen van ons!