Ons leef in 'n gevaarlike wêreld. Miljoene mense is bang, bekommerd en beangs. Time Magazine berig: “Nou, meer as ooit in die verlede, bekommer ons onsself siek”. Kan u u vrese oorwin?


Die spanning van die alledaagse lewe kan ons dood veroorsaak. Ons reis in druk verkeer, ons kry te doen met wêreldse twisgieriges en ons staar menige finansiële, maatskaplike en persoonlike probleme in die gesig. Voeg dan nog daarby ons vrese vir die rampe wat op ons stede en volke wag!

Hoeveel van ons is “siek van bekommernis”? Een artikel berig: “Daar is sekerlik baie vrese wat die rondte doen. Angsneurose—dit is wat gesondheidskenners enige sodanige blywende angs noem wat jou lewe beïnvloed—is die algemeenste geestessiekte in die VSA. Ongeveer 19 miljoen Amerikaners word deur verskeie vorme daarvan geteister wat wissel van baie spesifieke fobies tot algemene angsneurose” (“Understanding Anxiety”, Time, 10 Junie 2002, bl. 48).

Hoe bekommerd en beangs is u? Wat kan u doen om gemoedsrus te hê? Wat kan u doen om u vrese te oorwin? Hier is sewe “sleutels” om u angs te oorwin.

Sleutel 1: Berei voor vir die geprofeteerde toekoms

Hierdie beginsel is so belangrik dat die wyse koning Salomo dit twee keer in Spreuke genoem het: “'n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf” (Spreuke 22:3; 27:12).

Ons behoort die ware gevare wat ons wêreld toenemend bedreig te trotseer en gepaste aksies te neem. Ons behoort onsself te bewapen met kennis oor vandag se menigte gevare en die werklikheid te aanvaar. Te veel mense verkies vandag om van die werklikheid te ontvlug en te ontsnap na vermaaklikheid, dwelms en alkoholmisbruik, asook ander ongeoorloofde gedrag.

Behoorlike voorbereiding vir die geprofeteerde toekoms sal u help om u vrese te oorwin. Jesus het gesê ons moet die profetiese gebeurtenisse verstaan. Na die beskrywing van die tekens wat Sy Wederkoms sal voorafgaan, het Jesus 'n bemoedigende vermaning gegee: “So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie” (Lukas 21:31-33).

Jesus het gesê dat ons op ons hoede moet wees vir profetiese gebeurtenisse, sodat u sal “weet dat die Koninkryk van God naby is”. Hy het nie gesê dat hierdie profetiese tekens ons sal help om te raai dat die Koninkryk van God naby is nie. Jesus het gesê dat ons kan weet wanneer die Koninkryk van God naby is. Hy gee vir ons hierdie waarskuwing in Lukas 21:34: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie” (Lukas 21:34).

Jesus waarsku ons dat daardie dag nie onverwags op ons moet kom nie. “Want soos 'n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (verse 35-36).

Ons behoort wakker te wees vir wêreldgebeure en vir die geprofeteerde tekens waarvan Jesus gepraat het. God sal die nasies oordeel gedurende die geprofeteerde Dag van die Here, wat in meer as 30 profesieë regdeur die Bybel genoem word. God het dit aan antieke Israel baie duidelik gemaak dat daar seëninge vir gehoorsaamheid en strawwe vir ongehoorsaamheid is. Ons toenemend sedelose Westerse nasies wat agteruit gaan, sal 'n swaar straf ondergaan. So waarsku God ons: “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge 'n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek—dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik” (Levitikus 26:14-16).

Kan dit besig wees om met ons te gebeur? Baie mense voel dat die wêreld besig is om, soos die gerespekteerde Economist tydskrif op hul 19 Oktober 2002 voorblad bekend maak, “’n Wêreld van terreur” te word. Is daar enige deel van die wêreld wat veilig kan voel teen terrorisme? Terrorisme kan deesdae in elke hoek van die samelewing gevind word. Selfs in die eensbeskermde Verenigde State, het 'n paar sluipskutters in 2002 miljoene mense in die Washington, DC, gebied vreesbevange gehad elke keer wat hulle hul wonings moes verlaat. Slegs twee mans het so 'n skrikbewind oor miljoene mense gebring. Vermenigvuldig dit met die duisende terreurvoorvalle elke jaar regoor die wêreld en u begin besef dat die Economist reg is: Ons leef nou in 'n wêreld van terreur.

Ons moet die werklikheid van hierdie geprofeteerde eindtye in die gesig staar. Soos Jesus gesê het: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie” (Lukas 21:34). Hy het egter gesê: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36).

Die terreur van ons wêreld dra by tot ons persoonlike vrese, maar daar is die hoop en die goeie nuus van Jesus Christus se terugkeer, om vir 'n duisend jaar te regeer in God se komende Koninkryk op aarde. As ons onsekerheid en onkunde ondervind, mag dit lei tot verwarring en neerslagtigheid, maar Jesus gee ons hierdie aanmoediging: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Ja, u kan vry wees van onsekerheid. U kan weet wat die toekoms inhou!

Sleutel 2: Ken u prioriteite

Die Bybel maak dit duidelik wat ons prioriteite in die lewe behoort te wees. Ons behoort te bid soos Jesus onderrig het: “Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheus 6:10). Hunker u na God se wil? Of hunker u na die wêreld? Soos die apostel Jakobus geskryf het: “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God” (Jakobus 4:4).

Miljoene mense volg die nuutste “neiging” of “gier” en pas by die wêreld aan. Hulle poog nie om die ware doel in hulle lewens te vervul nie. Trouens, hulle weet nie eens wat daardie doel is nie! Wat sê Jesus is die grootste prioriteit? Hy sê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheus 6:33).

Sodra u uself daartoe verbind het om na die Koninkryk van God te streef, kan u gemoedsrus hê. U kan u bekommernisse, fobies en vrese oorwin. As u egter besluiteloos is—as u met een voet in die wêreld staan en met die ander voet probeer om in die weë van die Bybel te loop—sal u nêrens kom nie! Jesus praat oor hierdie besluiteloosheid: “Niemand kan twee here dien nie; want óf hy sal die een haat en die ander liefhê, óf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie” (Mattheus 6:24).

Probeer u om twee meesters te dien? Daardie besluitelose benadering moedig net vrees aan. Jesus gaan voort: “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (verse 31-33). Dit is u roeping! Om na die belangrike dinge te streef, sal u help om te groei in geloof en geloof is 'n teenmiddel vir bekommernis!

Die belangrikheid van prioriteite was 'n tema van die 1974 trefferboek How to Get Control of Your Time and Your Life. Die skrywer, Alan Lakein, het voorgestel dat elkeen van ons onsself drie eenvoudige vrae moet vra: Wat is my lewenslange doelwitte? Hoe gaan ek die volgende drie jaar deurbring? As ek nou sou weet dat ek vandag oor ses maande deur weerlig doodgeslaan gaan word, hoe sal ek tot dan leef?

Hierdie vrae—veral die laaste een—behoort u te help om te onderskei tussen die belangrikste en onbelangrikste prioriteite in u lewe. Is u prioriteite God se prioriteite? Leef u volgens die prioriteite wat God in Sy “handleiding”, die Bybel, gegee het? Die Bybel onthul prioriteite wat u 'n ware doelwit in u lewe kan gee. Wanneer u die instruksies volg, kan u gemoedsrus vind.

Sleutel 3: Bekeer u van u sondes

Wanneer ons gesondig het en ons weet dat ons gesondig het, voel ons skuldig. Ons verwag dat iets vreeslik met ons gaan gebeur en, waarlik, iets vreeslik gebeur met ons. Die patriarg Job het gesê: “As ek iets vreeslik vrees, kom dit oor my; en die ding waarvoor ek bang is, kom na my toe” (Job 3:25). Party mense noem dit 'n “selfvervullende profesie”.

Ons behoort ons sondes in gebed te bely. Wees openhartig en eerlik met God. Soos die apostel Johannes geskryf het: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9). Ons behoort ons vrese, bekommernisse en sondes te erken. As ons ons waarlik van ons sondes bekeer, sal God ons vergewe. Ons kan vry wees van die vrese en bekommernisse wat met skuldgevoel gepaard gaan! Christene kan gemoedsrus hê!

God laat ons die lewe ervaar, om te leer deur ons eie foute en ondervindinge. Die apostel Petrus verduidelik dat 'n tyd van oordeel sal kom, wanneer ons rekenskap sal moet gee oor ons leefwyses en ons gesindhede: “Maar die dag van die Here sal kom soos 'n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?—julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt” (2 Petrus 3:10-12).

Ons moet ons gedrag ondersoek. Ons moet ons bekeer, wat beteken dat ons ons gedrag en denkwyse verander. Bekering beteken om om te draai en in die ander rigting te gaan. Dit beteken om ons sondes voor God te erken en Sy vergifnis te vra. Dit beteken ons moet onsself verbind om God se regverdigheid te gehoorsaam en die offer van Christus te aanvaar om vir ons sondes te betaal. Iemand wat waarlik bekeer en gedoop is en aanvaarding van Christus se offer toon, kan 'n nuwe lewe begin. Die apostel Paulus beskryf die betekenis van die doop. “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?” (Romeine 6:1-2).

Miljoene beleidende Christene glo dat sodra mens onder genade is, jy nie meer God se Tien Gebooie hoef te onderhou nie. Met ander woorde, u kan voortgaan in sonde, u kan God se geregtige en heilige wet oortree, omdat u onder genade is. Wat het Paulus gesê? “Nee, stellig nie!” In die nuwe vertaling staan: “Beslis nie”. Paulus beskryf dan die algehele verbintenis wat ons na ons doop bring: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel” (verse 3-4). Dit is die vrugte van ware bekering!

Sleutel 4: Bid oor alles wat u bekommer

Wat was Paulus se oplossing vir vrees? Watter raad het hy vir ons gegee om kommer en vrees te hanteer? Hy skryf: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God” (Filippense 4:6). Met ander woorde, deel u bekommernisse, u vrese en u sorge in gebed met God!

Vertel God in besonderhede van u probleme. Koning Dawid het dit telkemale gedoen. U kan sy klagtes, frustrasies en persoonlike gevoelens in sy gebede lees, soos in die Psalms aangeteken staan. Dawid het ses-en-twintig keer in die Psalms by God gepleit: “Red my!” Een so 'n gebed lui soos volg: “Red my van my vyande, o my God! Beskerm my teen my teëstanders! Red my van die werkers van ongeregtigheid, en verlos my van die manne van bloed!” (Psalms 59:2-3).

Soos Dawid, moet ons ons intieme gedagtes teenoor God uitspreek. Nog 'n sleutel om ons vrese te oorwin, is om met danksegging te bid! Ons moet God dank vir al ons seëninge. Wanneer ons ons seëninge tel—wanneer ons God dank vir al die seëninge wat ons in ons lewens ondervind en sal ondervind—is daar 'n wonderlike gevolg: “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:7).

U kan gemoedsrus hê—God se eie vrede. God verwag egter dat u self ook stappe sal neem. Hy verwag dat u Sy instruksies sal volg deur u sorge in gebed met Hom te deel en Hy verwag dat u Hom om hulp, bystand en redding sal vra—asook om te bid met 'n gesindheid van danksegging. Dank God dat Hy bereid is om u te help om u vrese te oorwin, dat Hy gewillig is om u gemoedsrus te gee.

Pas hierdie beginsels vir gesonde verstand en vrede toe en u kan die oorvloedige lewe hê wat God u toewens. Jesus sê: “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10). Ware Christene kan 'n oorvloedige lewe lei. Ondanks die lewe se beproewinge, kan hulle hulself verbly. Christene sal altyd moeilike tye verduur. God gee ons egter die geestelike geloof en vertroue om ons beproewings die hoof te bied. Toe Paulus aan die Filippense Christene geskryf het, het hy die woord “verbly” tien keer in agt verse in hierdie sendbrief gebruik! Let op sy vermaning: “Verbly julle altyd in die Here ek herhaal: Verbly julle!” (Filippense 4:4). Ons vertroue, ons gemoedsrus, is in die Here, nie in onsself nie! Wanneer ons ons lewens oorgegee het aan ons Vader en aan sy Seun, Jesus Christus, kan ons blydskap en vrede hê. Trouens, Paulus spreek hierdie algemene probleem van vrees aan. Hy vertel ons in Filippense 4:6: “Wees oor niks besorg nie...” Een woordeboek se definisie vir angs is: “vreesagtig betrokke of belangstellend”. Angs word ook omskryf as “'n gevoel van vrees, benoudheid, onsekerheid, onveiligheid” (HAT, Perskor). Ons moet egter 'n normale, natuurlike besorgdheid hê, nie 'n “gevreesde besorgdheid” nie.

Sleutel 5: Beoefen geloof

Hebreërs 11 word dikwels die “geloofshoofstuk” genoem. Dit noem die helde en heldinne van geloof en verduidelik geloof se definisie: “Die geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Hebreërs 11:1).

Hoe kan u geloof beoefen? Geloof is 'n sekerheid en vertroue. Abraham, hoewel hy baie oud was, het God se belofte geglo dat hy die vader van baie nasies sal wees. “En hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee” (Romeine 4:20). Abraham was “ten volle oortuig dat Hy [God] ook die mag het om te doen wat Hy beloof het. Daarom is dit hom ook tot geregtigheid gereken” (verse 21-22).

God was vir Abraham 'n werklikheid, en hy het geweet dat Hy meer as in staat was om Sy beloftes te vervul. As ons geloof het, sal ons die vraag vra: “Wat het God my belowe?” Wanneer ons dan die Bybel lees, vind ons honderde beloftes wat God vir ons kan vervul—as ons glo dat God in staat is om daardie beloftes te vervul.

Jesus het Sy luisteraars, wie te bekommerd was oor hulle fisiese behoeftes, bestraf deur te sê: “En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in 'n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?” (Mattheus 6:28-30).

God verwag van ons om geloof te beoefen. Hy verwag van ons om op Hom te vertrou en Sy opdragte te volg. Christus en die Apostels het 'n voorbeeld gestel van 'n gelowige leefwyse. Wanneer ons hulle voorbeeld volg, kan ons ons vrese oorwin. Soos Paulus skryf: “En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees” (Filippense 4:9).

Geloof is 'n teenmiddel vir angs! Om eers die belangrike dinge in die lewe na te streef, sal u help om in geloof te groei! God is in staat om by verre meer te vermag as wat mense kan verstaan of hul selfs kan indink. Een van my gunstelingverse verduidelik hierdie punt: “En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen” (Efesiërs 3:20-21).

God is in staat “om te doen ver bo alles wat ons bid of dink”. Hy wil hê ons moet ná aan Hom wees. Hy wil hê ons moet ons bekommernisse, vrese en sorge met Hom deel. God wil ook hê ons moet Hom vra vir hulp! Wees sterk! Vra God om u te help soos Hy beloof het: “ver bo alles wat ons bid of dink”.

Glo God se beloftes en u sal vrede vind. “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Die sleutel hier is om God naarstiglik te soek! Ons soek Hom deur elke dag tot Hom te bid. Ons soek Hom deur ons Bybels elke dag te lees. “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Romeine 10:17).

Sleutel 6: Vrees God

Baie mense in die hoofstroom Christendom noem die vrees van God “primitief”. Hulle stel die vrees van God gelyk aan die gehoorsaamheid van bygelowige heidene wat voor hul valse gode neerval, maar die Bybelse vrees van God is 'n diepe eerbied en respek vir die Skepper. Dit is ons ontsag vir God se majesteit en grootheid. Dit is ons reaksie op die werklikheid van God. Wanneer u kies om God te vrees, sal u nie mense vrees nie. Onthou, die vrees van God en die liefde van God, is nie wedersyds uitsluitlik nie. Baie Christene in algemene kerke dink dat mens net die een óf die ander kan hê. Dit is nie wat die Bybel sê nie. Albei eienskappe is nodig in ons verhouding met God. “En nou, Israel, wat eis die Here jou God van jou as net om die Here jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die Here jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die Here en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan?” (Deuterono-mium 10:12-13).

God vereis dat ons Hom beide liefhê en vrees. Lees deur die boeke van Psalms en Spreuke. Die seëninge en voordele van goddelike vrees sal u verbaas! Let op: “In die vrees van die HERE lê 'n sterk sekerheid, ook vir die kinders van 'n sodanige sal daar 'n toevlug wees” (Spreuke 14:26). Ware geloof en “sterk sekerheid” kom van God.

Die einste rede waarom ons nie wêreldvrede het nie, is die gebrek aan goddelike vrees. Paulus maak dit baie duidelik as hy aanhaal uit Jesaja. “Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie” (Romeine 3:15-18).

Hoeveel mense ken u wat arrogant is en geen goddelike vrees het nie? Ons wêreld het opregte, nederige Christene nodig wat die ware God eerbiedig. Ons moet die voorbeeld volg van die Messias, Jesus Christus. Hy het 'n goddelike vrees gehad. U kan daarvan lees in Jesaja 11:1-3. Goddelike vrees gee ons vrede en vertroue. Soos Jesus waarsku: “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel” (Mattheus 10:28). Let nou op wat volg: “Word twee mossies nie vir 'n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie. En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies” (verse 29-31).

Wanneer u gereeld die Bybel lees, sal u baie voorbeelde ontdek van God se ingryping en Sy redding van Sy mense. Ons leef in 'n sekulêre en ongelowige wêreld, maar u kan u angste en u vrese oorwin wanneer u geloof beoefen en 'n goddelike vrees aankweek.

God ken u vrese. Jesus sê dat u Vader in die Hemel u intiem ken. Soos Jesus sê: “Julle is meer werd as baie mossies” (Lukas 12:7). God gee om vir u. Hy sal u die geloof en vertroue gee wat u nodig het om u vrese en kommer te oorwin. Hy sal ook aan u Sy Heilige Gees gee.

Sleutel 7: Vra God vir Sy Heilige Gees

God se Heilige Gees is die gees van liefde en van krag. Hy gee ons daardie geskenk nadat ons ons bekeer het en gedoop is. Petrus het op Pinksterdag, toe die Nuwe-Testamentiese Kerk begin is, met duisende mense gepraat. “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38).

Die kragtigste strategie om u vrese en kommer te oorwin, is om met die Heilige Gees gevul te word. Soos Petrus gesê het, sal God u daardie gratis geskenk gee na opregte bekering en die doop. Na die doop, gaan die leraar voort met die oplegging van hande. Paulus verklaar: “Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is deur die oplegging van my hande” (2 Timotheus 1:6). Ons het die Heilige Gees nodig. Hoe beskryf Paulus die Heilige Gees? “Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (vers 7).

God se gees in u sal u help om u vrese te oorwin. Soos Johannes geskryf het: “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie” (1 Johannes 4:18). God sal u die geskenk van Sy liefde gee wat u vrees sal besweer. Dit is die geskenk van goddelike liefde deur die Heilige Gees.

Soos ons gereedmaak vir die Messias se Wederkoms aarde toe, sal ons baie beproewinge en uitdagings moet trotseer in 'n wêreld wat kop verloor het. Die Skrif gee ons egter die ware sleutels om angs te oorwin en die toekoms met geloof te trotseer. Mag God u die oorvloedige vrede verleen wat Hy belowe het aan diegene wat Hom van ganser harte soek en vertrou!