Dit lyk of die wêreld se ekonomie begin herstel van die finansiële ineenstorting van 2008. Produktiwiteit is hoër en die pryse van bates styg. Besigheidsbeleggings en verbruikerspandering neem toe. Die nasionale Bruto Binnelandse Produk van sekere lande is besig om te groei teen ’n vuurwarm tempo – China sin staan op dubbele syfers, met Indië en Brazilië nie ver agter nie. Die Internasionale Monetêre Fonds voorspel nou dat wêreldwye produksie hierdie jaar met 4.2% sal toeneem (“Curb your enthusiasm”,Economist, 24 April 2010, bl.12).

Hoewel dit bemoedigend is, vertel hierdie syfers nogtans nie die hele storie nie. Sekere regerings wankel nog onder geweldige hoë buitelandse skuld. Griekeland is ’n goeie voorbeeld hiervan, en ander nasies soos Italië, Ierland en Portugal is ook netso kwesbaar. Tog, as gevolg van hulle eie geweldige groot borgskap-programme, staar Amerika en Brittanje nou ook ’n onsekere toekoms in die gesig. “Rolspelers wêreldwyd ... het eintlik met hul respektiewe ekonomiese lotsbestemmings gedobbel. Hulle is óf besig met openbare besteding teen vlakke wat baie hoër is as hulle vermoë om belasting te in, óf is besig om toksiese privaat skuld te absorbeer ... Ons analise lei tot die gevolgtrekking dat owerhede regdeur die wêreld, maar in besonder Amerika en Brittanje, hierdie dobbelspel gaan verloor” (Global Economic Forecast 2010-2015: Recession into Depression, Sheldon Fliger, bl. 3, 2009).

Die “Groot Resessie” wat in 2008 begin het, is nie net besig om regerings se begrotings te laat misluk nie, maar kos ook tiene van miljoene verlore werksgeleenthede reg oor die wêreld – 20 miljoen slegs in China. Werkloosheid dobber steeds in die omgewing van 10% in Amerika en die gemiddelde tydperk van mense se werkloosheid is die langste sedert die Tweede Wêreldoorlog (Freefall: America, Free Markets, and the Sinking of the World Economy, Joseph Stiglitz, bll. xi, 313, 2010).

Waar gaan dit alles eindig? Dreig daar miskien nog ’n groter ineenstorting? Sal selfs “eerste-wêreld” nasies gedoem wees om vir baie jare uiters streng maatreëls ter besnoeiing te moet verduur? Is “die goeie lewe” wat baie mense vir dekades geken het, bestem om slegs ’n herinnering van die verlede te wees?

’n Eeu van Seëninge

Vir die grootste deel van die 20ste eeu was Amerika die hoofaandrywing van die wêreld se ekonomiese groei. Meer as ’n honderd jaar gelede het die koerant, Washington Evening Star, berig: “Op hierdie dag van ons Here, 1 Januarie 1907, is ons die rykste mense in die wêreld”. Gedurende die twee administrasies van die Amerikaanse President Theodore Roosevelt, het die nasionale rykdom “toegeneem teen ’n koers van $4.6 miljard per jaar, $127.3 miljoen per dag, $5.5 miljoen per uur, $88,430 per minuut en $1,474 per sekonde” (aangehaal uit The Rise of Theodore Roosevelt, Edmund Morris, bl. 11, 1979). Amerika was sekerlik geseënd – vir dekade na dekade.

Die meeste Amerikaners het egter nie geweet waar hulle seëninge vandaan gekom het nie. Party van hulle het aangeneem dat die stortvloed van seëninge die onvermydelike gevolg was van eie vernuftigheid, harde werk of tegnologiese kundigheid. Niks kon egter verder van die waarheid af wees nie! Die seëninge wat Amerika ervaar het was diedirekte gevolg van God se voorsienende hand. Gereelde lesers van Die Wêreld van Môre besef dat die Bybelse patriarg Josef die voorvader was van die Verenigde State en nasies van Britse afkoms. Sy naam beteken, heel toepaslik, “Die Ewige God het bygevoeg”, want vir sy nageslag was voorspel: “Josef is ’n jong vrugteboom, ’n jong vrugteboom by ’n fontein; sy takke klim oor die muur” (Genesis 49:22). God het sekerlik seëning op seëning bygevoeg vir die seuns van Josef deur Efraim (die Britse Gemenebes lande) en Manasse (Amerika). Om meer te leer aangaande die moderne nasies van Israel – wat nie net die volk van Juda in vandag se staat van Israel insluit nie, maar ook baie van die volke van Noordwestelike Europa – vra asseblief vir u kopie van ons gratis boekie: Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?

Die seëninge van die patriarge Abraham, Isak en Jakob – in besonder deur die geboortereg wat aan Josef gegee is – het die hele wêreld bevoordeel, soos God voorspel het (Genesis 18:18, 22:18, 26:4). Onbeteuelde hebsug en inhaligheid mag egter nog Amerika se grootste swakheid en ondergang beteken. Soos God dit beklaag, Josef “... het nie erken dat Ek aan haar die koring en die mos en die olie gegee het nie, ook silwer vir haar vermenigvuldig het en goud, wat hulle vir Baäl gebruik het” (Hosea 2:7). In plaas van om God te bedank vir die oorvloed wat Hy voorsien het, het ons dit al te dikwels verspil met aanbidding van die valse god van die verbruikerswese en meer as ooit op die self gekonsentreer.

Die oorsprong van die 2008 finansiële ramp kan gevind word in die roekelose kapitale oplewing van die 1990s. Daardie tyd het die lone in Amerika naastenby konstant gebly. Baie Amerikaners het moed verloor aangaande hulle finansiële toekoms. Soos verslaggewer Bernd Debusmann opgemerk het: “Deur die grootste deel van die Amerikaanse geskiedenis, was elke geslag meer welvarend en het beter gelewe as hul ouers. Statistieke bewys dat dit nie langer die geval is nie” (“American dream or nightmare? This season, many wonder”, Reuters, 20 Desember 1990).

Die huismark het toe egter ’n geweldige oplewing getoon. Die waarde van huise het oënskynlik in baie van die land se streke oornag begin klim. Miljoene Amerikaners het voor die versoeking geswig om geld te leen teen die waarneembare waarde van hul huise, om te kompenseer vir die verlies aan groei van hulle salaristjek, sodat hulle kon voortgaan met hul spandabelrigheid (Freefall, bll. 1-2). Daar was egter waarskuwings vir diegene met ore om te hoor. Lees net die opening van hierdie 27 Julie 1999 artikel deur verslaggewer James Schembar: “Die regering se aankondiging verlede maand dat die spaarkoers die laagste was sedert die Depressie, het baie onrus veroorsaak. Op stuk van sake, hoe kan Amerikaners in ’n tyd van soveel oorvloed nie van hulle surplus wegsit om te voorsien vir moeiliker tye nie?” (“Americans spend more than they earn”, New York Times News Service). Gedurende ’n tyd van oorvloed was die netto spaarkoers nul – of minder. Gedurende die 1990s, het die onttrekking uit huisverbande $975 miljard bedra – meer as 7% van die totale BBP vir daardie jaar.

Die algemene reaksie op hierdie knaende besorgdheid oor die gebrek aan spaarsin was: “Moet nog nie daaroor bekommerd wees nie”. Na alles was spaarkoerse nie belangrik terwyl kapitaalwinste groei nie. Schembar het egter op ’n onheilspellende noot geëindig: “Die kapitale groei wat die ouer reklamemakers gehelp het om op te maak vir die lae spaarkoers, kan natuurlik ons klatergoud wees. Wie kan voorspel hoe die markte gaan wees teen die tyd dat ons aftree?”

Klatergoud

Gedurende die laaste paar geslagte was mense mislei om te dink dat geld en besittings blywende vervulling en geluk meebring. Vir heeltemal te lank was die Westerse samelewing behep met meer van alles – meer motors, meer klere, groter huise, beter televisies – die lys gaan aan en aan. Verbruikers reg oor die wêreld was vasgevang in die slagyster van glo dat ’n “oorvloedige lewe” gekoop kan word. Jesus het ons egter gewaarsku: “Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie” (Lukas 12:15).

Wat van u? Het die Groot Resessie u en u gesin ook hard geslaan? Sukkel u ook finansieel? U mag te doen hê met depressie en terneergedruktheid. U mag selfs genoodsaak wees om ’n paar moeilike keuses te maak om u huishouding aan die gang te hou. God weet wat u verduur en sal u help as u uself na Hom wend met ware, opregte bekering. Hy sal u help as u ernstig na Hom roep en Hom met u hele hart gehoorsaam (Hebreërs 11:6).

Die somber waarheid is dat die meeste mense nie die koers wat hulle ingeslaan het, sal verander nie. Ons geslag stuur af op baie onstabiele tye as gevolg van ons persoonlike en nasionale sondes. God se Woord openbaar dat namate Christus se wederkoms nader kom, wêreldwye krisisse sal vermeerder totdat geld waardeloos sal wees en lewensmiddele soos kos en water onbetaalbaar duur sal wees. Selfs goud en silwer sal mense nie aan die lewe kan hou in tye van wydverspreide hongersnood nie. Die profeet Esegiël waarsku: “Hul silwer sal hulle op die strate gooi, en hulle goud sal ’n voorwerp van afsku wees; hul silwer en hul goud sal hulle nie kan red in die dag van die grimmigheid van die Here nie; hul siel sal hulle daarmee nie versadig of hul ingewande daarmee vul nie, want dit was die struikelblok tot hulle ongeregtigheid” (Esegiël 7:19).

Ons geslag het God se Wette verwerp en verag (Levitikus 26:15), en ons sal daarvoor gestraf word. God het lank gelede al voorspel dat ons rampspoed op rampspoed sal beleef as gevolg van Israel se gruweldade aan die einde van die tyd. Mislukte oeste (verse 16, 20) en voedselskaarste (vers 26) sal selfs lei tot afskuwelike kannibalisme, namate oorlewendes in verlate stede sal worstel om te oorleef (verse 29-31). Dit sal uiteindelik lei tot nasionale ballingskap deur ’n buitelandse moondheid (verse 32-33). Die ondenkbare sal gebeur! Amerika, Groot Brittanje en ander nasies van eindtydse Israel sal sink, soos die “onsinkbare” Titanic. Waar laat dit ons dan? Moet u en u gesin “saam met die skip ondergaan” in die straf wat voorlê vir die moderne afstammelinge van antieke Israel? Is daar ’n manier om hierdie ramp vry te spring?

Die son verrys ook

Mense wat Die Wêreld van Môre lank reeds lees, weet daar kom goeie nuus in die toekoms. Nie van enige politieke beweging of party, ’n nuwe ekonomiese model of ’n regeringsalliansie nie, maar deur die ingryping van die Almagtige God! Ná Christus se dramatiese wederkoms na die aarde, sal Hy ’n nuwe samelewing vestig. Daar sal ekonomiese geleenthede wees vir almal, soos die profeet Miga voorspel het: “Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die Here van die leërskare het dit gespreek” (Miga 4:4). Seëninge sal soos reën uitgegiet word oor nasies regoor die aarde, “want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9). Soos Amos 9:13 voorspel: “Kyk, die dae kom, spreek die Here, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees”.

Burgers van die toekomstige nuwe tydperk – ’n duisendjarige tydperk wat ons die “Duisendjarige Vrederyk” of die “Millennium” noem (Openbaring 20:4) – sal leef en werk in ’n nuwe samelewing wat gegrond sal wees op regverdigheid, goeie etiek, eerlikheid, liefde teenoor naaste en aanbidding van die ware God. Jesus Christus, as die heersende Koning, sal almal Sy “wet van vryheid” (Jakobus 1:25, 2:12), die Tien Gebooie, leer. Bygestaan deur Sy heiliges, sal Hy hierdie wette afdwing en oor die hele aarde regeer (Judas 14-15). Dit sal ’n algehele omwenteling in die wêreld teweegbring, en veroorsaak dat die ekonomie so floreer soos wat die mensdom nog nooit gesien het nie!

Daar is selfs nou al goeie nuus! U hoef nie te ly onder die plae van God se komende strawwe nie – die “tyd van benoudheid vir Jakob” (Jeremia 30:7). U hoef nie “na die slagbank [te] wankel” (Spreuke 24:11), soos die ander wat dwaas God se waarskuwings verwerp nie. U kan voorberei en gereed wees vir meer moeilike tye wat voorlê. Glo dit as u wil, maar u kan nou ’n “goeie lewe” hê.
Hoe?

Wat van nou?

Wat is die “goeie lewe” werklik? God beloof nie dat u ’n stewige bankrekening sal hê of nooit probleme sal ervaar nie. Paulus het geskryf: “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” (2 Timotheüs 3:12). Die lewe van ’n ware volgeling van Christus is nie maklik nie. Die Skrif toon egter hoe u nou gelukkig en vervuld kan wees. U kan ’n vervullende, getroue en genotvolle huwelik hê. U kan ’n gelukkige, verrykende gesinslewe hê. U kan selfs ’n genotvolle, bevredigende werk hê. Hoe?

Die sleutel is om te besef dat die “goeie lewe” nie gemeet word aan hoeveel motors ons het, hoeveel televisiekanale tot ons beskikking is, of hoeveel vierkante meter ons huis beslaan nie. Dit word nie gemeet aan vinnige toegang tot die Internet of spoggerige selfone nie. Dit is nie gebaseer op kredietkaarte of bankrekenings nie. Dit kom eerder van ’n noue, persoonlike en gehoorsame verhouding met God. Jesus Christus wil graag hê dat u nou ’n oorvloedige lewe moet hê! Hy sê: “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10). Het u ’n verhouding met Jesus Christus wat verder strek as blote woorde en emosionele sentiment? Het u uself onderwerp om Hom heelhartig gehoorsaam te wees? Het u u bekeer van u sondes en besluit om u lewe aan God te wy? Die goeie lewe is moontlik – en hierdie keuses is waar dit begin.

Gerusstellende sekerheid in chaotiese tye

God wil hê dat u Hom moet “beproef” – om in u hart en denke vas te stel of Hy en Sy beloftes ’n werklikheid is. Hy wil hê dat u van die mallemeule van spandabelrigheid moet afklim. Hy beveel u selfs om aan Hom tiendes te betaal. Belowe Hy om u ’n multimiljoenêr te maak? Nee, maar Hy belowe wel om in al u behoeftes te voorsien. Wat ’n wonderlike belofte!

Kyk na God se uitdaging: “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie. Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die Here van die leërskare” (Maleagi 3:10-11).

Ons by Die Wêreld van Môre daag u uit om God te beproef en te toets deur Sy Wette getrou te gehoorsaam. Hy wil hê dat u die sewende-dag Sabbat moet onderhou, Sy jaarlikse Heilige Dae moet vier, getrou aan u eggenoot in die huwelik moet wees, afgodediens moet verwerp en altyd die waarheid moet praat. God se manier is ’n totale lewenswyse (Handelinge 22:4)! U sal ook geseënd wees as u dit doen. Soos Dawid geskryf het: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie” (Psalm 37:25).

Elkeen van ons behoort natuurlik wyslik te beplan, iets weg te sit vir moeilike tye, en so getrou en vlytig te werk as wat ons kan. Ons moet versigtig wees en goeie finansiële raad inwin van mense wat ons kan vertrou. In die laaste instansie moet ons egter nooit ons allerlaaste vertroue in mense stel nie – nie in onsself of ander mense om ons nie. Ons moet liewer op God vertrou, want slegs Hy kan ons verlos van die donker dae wat kom. Soos Jeremia geskryf het: “Geseënd is die man wat op die Here vertrou, en wie se vertroue die Here is. Want hy sal wees soos ’n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ’n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie” (Jeremia 17:7-8).

Jesus Christus daag ons uit: “... maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie” (Mattheüs 6:20) – of, mag ons byvoeg, waar die onsekerhede van die finansiële mark die bates soos mis voor die son kan laat verdwyn. God wil aan ons ’n oorvloedige lewe skenk as ons na Hom sal opsien met vertroue en oortuiging. Nou – van alle tye – is die tyd om ons vertroue te stel in die Een wat alle goeie dinge aan die hele mensdom voorsien (Jakobus 1:17). Is u gewillig om God te toets en te beproef? Is u gewillig om vas te stel of wat Hy sê waar is, en wat Hy beveel werklik die beste is vir u en u huisgesin?

Die goeie nuus is dat u die ware goeie lewe kan hê, selfs in moeilike tye. U kan finansiële sekerheid, gemoedsvrede, ’n gevoel van doelgerigtheid en vervulling hê, selfs in onstuimige, chaotiese tye. U kan u vertroue in God stel en die kalm versekering hê dat Hy vir u sal sorg. Soos God gesê het deur die profeet Jesaja: “O almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk! Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig. Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met julle ’n ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid” (Jesaja 55:1-3).

Daar is moeilike tye aan die kom. Bybelse profesieë toon dat ons slegs maar aan die begin daarvan is. Nou is die tyd om u finansiële huis in orde te kry en te besluit wat u werklik graag wil hê. Geld? Besittings? ’n Eindelose kringloop van aanskaf en verbruik? Of wil u toelaat dat die Groot Resessie u op u knieë dwing om ’n nuwe en innige verhouding met u Skepper te smee? Waarlikwaar, dit is die goeie lewe!