Ware Christene is diegene wie Christus se voorbeeld volg. Hoe sou Jesus Self die komende verkiesing benader? Die antwoord mag u verras!

Wie kan ons lei uit die moeras van ons vinnig-vervallende sedes, ons onsekere ekonomie en die toenemende spanning in ons samelewing? Terwyl die Verenigde State voorberei om ’n President te kies, hoe sou ons Verlosser reageer het? Hoe behoort ons as Christene te reageer? Hoe behoort ons die verkiesingsproses te bejeën?


Oral om ons beklemtoon die Amerikaanse presidensiële verkiesingsproses die diep verdeeldheid tussen Amerikaners. Wyd uiteenlopende menings bestaan oor wat die nasie behoort te wees. “Wanneer Amerikaners November 2012 koers kry na die stembusse, sal hul waardes en basiese oortuigings meer gepolariseerd wees volgens partydige lyne as op enige ander tydstip in die afgelope 25 jaar”. So sê die gerespekteerde Pew Research Center, in ’n onlangse ontleding van die Amerikaanse 2012 presidensiële verkiesingsveldtog (“Partisan Polarization Surges in Bush, Obama Years”, 4 Junie 2012).

“Waardes” en kwessies van godsdiens bly ’n belangrike bron van kommer vir Amerikaners wat hul president wil kies. Die Gallup-organisasie het Amerikaners se menings vroeër die somer gepeil en bevind dat 11% glo dat President Obama ’n Moslem is, hoewel die President by herhaling gesê het dat hy as jong volwassene ’n Christen geword het (“Many Americans Can’t Name Obama’s Religion”, 22 Junie 2012). In teenstelling hiermee het 57% Mitt Romney korrek geïdentifiseer as ’n Mormoon. Baie Romney-ondersteuners het moeite gedoen om hul kandidaat se geloof te verdedig as “net so Christelik” as enige ander vorm van die belydende Christelikheid. Intussen, hoewel President Obama homself beskryf as ’n Christen, het hy deurgaans sy siening van ’n pluralistiese Amerika waarin geen spesifieke godsdiens bevoordeel word bo enige ander nie, beklemtoon.

God beveel beslis Christene aan om bedag te wees op wêreldse tendense, om te “waak” vir die tekens van die tye (Lukas 21:34-36). Hy beveel ons om respek te betoon aan en selfs te bid vir die verkose en aangestelde regeringsamptenare wat in beheer is van ons nasies (1 Timótheüs 2:1-4; 1 Petrus 2:17-18). Behoort enige een van die groot party-kandidate egter aanspraak te maak op die getrouheid van Christene in Amerika? Indien wel, watter een? Waarom, of waarom nie?

Maak dit saak? Wat moet ons doen?

Eerstens, laat ons vra: “Maak enigiets hiervan regtig saak?” ’n Onlangse Pew Research Center opname het bevind dat hoewel 63% van die Amerikaanse kiesers sê dat dit “regtig saak maak” watter kandidaat die verkiesing in November wen, is slegs 56% “baie tevrede” of “redelik tevrede” met hierdie verkiesing se presidensiële kandidate. Dit is die laagste meting op die tevredenheidskaal sedert die 1996 presidensiële verkiesing. Sewe-en-vyftig persent van die respondente het gesê hulle sou graag wou sien dat ’n derde groot party na vore moes tree as alternatief (“Obama Better Liked, Romney Ahead on Economy”, 21 Junie 2012).

Dus, te midde van al die “moddergooiery” en die omstrede heen en weer rondgeslinger van beskuldigings, wat moet ware Christene doen? Hoe moet ons reageer? Belangriker nog, hoe sou Jesus Christus reageer het in hierdie politiekgelaaide atmosfeer? Ons behoort almal te besef dat ware Christene diegene is in wie Christus leef deur die krag van die Heilige Gees. Die apostel Paulus skryf: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in [van] die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20).

’n Ware Christen moet leer om te leef soos Jesus Christus werklik geleef het – nie soos so baie mense hul verkeerdelik voorstel hy dalk sou geleef het nie. Jesus sê Self aan ons: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Die werklike antwoord oor hoe ons behoort te leef en te funksioneer in ’n demokratiese nasie, kan gevind word in die Bybel – die geïnspireerde Woord van God. Ons moet die “gesindheid van Christus hê” (Filippense 2:5). Die Bybel is die openbaring van die denke, die gesindheid van God – wat aan ons sê hoe die Vader en Jesus Christus werklik dink oor die basiese kwessies van die lewe.

Reg deur die afgelope somer was Amerikaners verswelg deur boodskappe wat die kiesers aangespoor het om die een of ander kandidaat te ondersteun. Wanneer ons na die manne kyk wat president kan word, vra ons onsself af: “Dink hy werklik hy is opgewasse om die wêreld se enigste supermoondheid te lei? Dink hy dat enige menslike weseopgewasse is vir die taak?”

Waar is God in al hierdie dinge?
Van die begin af het menslike wesens probeer om hulself te regeer sonder God se direkte leierskap. Die meeste belydende Christene besef nie eens wat Jesus Christus met regering te doen het nie. Hulle is baie meer vertel van die “klein Here Jesus, ver weg in ’n krip”, as wat hulle geleer is van die Bybelse Jesus Christus wat nou aan die regterhand van God in die hemel staan (Handelinge 7:55-56). Die werklike Christus sal binnekort terugkeer in majesteitlike glorie as die letterlike Koning van konings oor die hele aarde! Hierdie Jesus is aan die meeste mense heeltemal onbekend.

Onthou, baie min belydende Christene besef dat Jesus se evangelie gegaan het oor ’n toekomstige wêreldregering. Een van die mees slimste Sataniese misleidings wat nog ooit versprei is, behels dat Jesus Christus se boodskap hoofsaaklik oor Homself gegaan het. Die beginpunt van ware Christenskap is die aanvaarding van die gestorte bloed van Jesus Christus (Romeine 5:8-11) na werklike – wat selde ooit vermeld word – berou tot bekering van sonde (Handelinge 2:38-39). Jesus se belangrikste boodskap – die Evangelie wat Hy verkondig het – is gesentreer om wêreldregering en die gewilligheid van elke mens om homself werklik te onderwerp aan God en uiteindelik deel van Sy goddelike gesin te word. Hierdie goddelike regering sal binnekort oor die hele aarde heers (Openbaring 12:5)!

Wie heers oor die huidige wêreld

Alhoewel baie mense mislei is om te glo dat hierdie nou God se wêreld is, vertel die Bybel ons iets heel anders. Die apostel Johannes was geïnspireer om te skryf: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie” (1 Johannes 2:15).

Tydens Jesus Christus se versoeking is Hy na ’n berg geneem en al die heerlikheid van al die koninkryke van hierdie wêreld getoon: “En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee [om te regeer] en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil” (Lukas 4:6).

Het Jesus Satan weerspreek en aan hom gesê dat hy nie in beheer is van al die koninkryke van hierdie wêreld nie? Nee, Hy het nie. Jesus het eerder, ná aan die einde van Sy bediening, op hierdie wyse van Satan gepraat: “Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word” (Johannes 12:31). Net soos Hy ook gesê het: “Ek sal nie veel meer met julle spreek nie, want die owerste van hierdie wêreld kom, en het aan My niks nie” (Johannes 14:30).

Later skryf Paulus: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korinthiërs 4:3-4). Satan die duiwel is die onsigbare heerser – die “god” van hierdie wêreld, wat ongeveer 6,000 jaar van die mens se geskiedenis sedert die skepping van Adam dek. Hierdie tydperk sal egter eindig met die wederkoms van Jesus Christus as die Koning van die konings! God het Paulus geïnspireer om aan ons te openbaar dat Satan die “... owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” is (Efesiërs 2:2). Die onsigbare geestelike heerser – die owerste – oor hierdie wêreld se samelewing, is in werklikheid Satan die duiwel!

Nietemin, die ware Skepper God gryp in wanneer dit nodig is om Sy doel te bereik. In Galasiërs 1:4 leer Paulus ons van Christus “wat Homself gegee het vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld ...”. Egoïstiese mense wat egter glo dat hulle alles weet, is in werklikheid onbewus daarvan dat hulle onder die kragtige heerskappy van die onsigbare Satan is. Hulle dink dat hulle idees aangaande die samelewing en regering – dikwels lynreg in teenstelling met dié van God – sin maak. God sê egter: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 14:12).

Satan mislei hierdie wêreld op duisende verskillende maniere! In die boek van Openbaring, kon Johannes ’n geestelike oorlog vooruitsien: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei [mislei], hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9).

Later onthul God aan ons dat met die aanvang van Christus se heerskappy op die aarde, Satan in die afgrond gewerp sal word en toegesluit en verseël sal word, “sodat hy die nasies nie meer sou verlei [mislei] totdat die duisend jaar voleindig is nie” (Openbaring 20:3). Die Bybel maak dit baie duidelik dat hierdie huidige samelewing aan Satan behoort. Eerder as om werklik God se wil na te streef, is die hedendaagse beskawing gebaseer op ydelheid, wedywering, misleiding en blatante bedrog.

Jesus het aan Pontius Pilatus gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie” (Johannes 18:36). Dit is duidelik dat Jesus geen voorneme gehad het om te probeer betrokke raak in hierdie wêreld se politiek en oorloë nie. Hy het ’n ander wêreld, ’n ander regering – die Koninkryk van God – verteenwoordig. Daarom sou Jesus beslis nie probeer het om hierdie wêreld te herorganiseer en betrokke te raak in ’n leuenagtige, knoeiende, politieke stelsel onder die mag van Satan die duiwel nie!

Opleiding om konings te wees

Heel moontlik nog binne hierdie einste geslag sal die Bybelse Jesus Christus terugkeer om op ’n werklike troon te sit in die stad Jerusalem. Sy regering sal oor die hele aarde gevestig word – ’n letterlike regering bemagtig deur die Almagtige God, en onder die beheer van die Koning van die konings en die Here van die here (Openbaring 19:15-16). Wat sal Jesus se volgelinge – die ware heiliges van God – dan doen? “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korinthiërs 6:2-3). In die volgende paar verse gaan Paulus voort om uit te brei oor hoe die Christene in Korinte veronderstel was om te leer hoe om God se regering in die Kerk toe te pas deur probleme onder hulleself, korrek te “oordeel”. Van Genesis tot Openbaring is ’n posisie in God se regering nog altyd deur aanstelling gevul – nooit deur politiekery of om andersins aan mense beloftes te maak, met die hoop om hul stemme te koop nie. Dit was in hierdie konteks dat Paulus kon vra: “As julle dan alledaagse regsake het, [waarom] moet julle dié persone daaroor laat sit wat in die gemeente die minste geag word” (vers 4).

Christene is tans in opleiding om konings en priesters te wees in die komende Koninkryk van God. Jesus sê: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:26-27). Ons behoort dus ons menslike weë en menslike selfsugtigheid te oorwin – ons behoort te leer om God se regering toe te pas. Let op hierdie “gebed van die heiliges” in Openbaring 5:9-10: “U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers”. Dit is duidelik, die ware heiliges van God sal binnekort heerskappy hê – nie bo in die hemel nie, maar op hierdie aarde!

Bestudeer noukeurig die gelykenis van die ponde in Lukas 19:11-27. Hier word Jesus uitgebeeld as sou Hy na die hemel gaan om Sy Koninkryk te ontvang en dan weer terug te kom. Wanneer Christus terugkeer, beloon Hy Sy dienaars volgens hoe goed elkeen gedoen het deur sy God-gegewe tyd, talente en wysheid te gebruik in diens van God. Watter beloning het Christus Sy getroue dienaars gegee? “En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg, omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (vers 17). Wat egter van die dienaar wat slegs vyf ponde bygekry het? “En Hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede” (vers 19).

Sien u enige aanduiding van politiekery of stemmery hier? Nee gladnie. Dit is liewer slegs nog ’n skriftuurlike voorbeeld om aan Christene duidelik te maak dat die beste vorm van regering – God se regering – op geen wyse gebaseer is op menslike politiekery, kompromie, knoeiery en die vorendag kom met halfgebakte oplossings vir ons probleme nie.

Jesus sê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Johannes 18:36). Hy sou Homself beslis nie verneder het om deel te wees van hierdie wêreld se verkeerde benadering tot regering nie. Trouens – deur aan ons ’n voorbeeld te stel – het Jesus Christus in Sy menslike bediening nooit enige toenadering gesoek by die menslike leiers van Sy tyd nie, Hom nooit bemoei met enige politieke veldtog en Sy volgelinge nooit geleer om te probeer om die politieke situasie of die menslike regerings van Sy tyd te probeer verander nie!

Christus sal ferm handel met die konings van hierdie wêreld wanneer Hy terugkeer: “Maar in die dae van dié konings [die owerhede onmiddellik voor Christus se wederkoms] sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44).

Later in Daniël beskryf God duidelik hoe die ware heiliges, met die Messias se wederkoms, heerskappy gegee sal word – onder Christus – oor al die regerings van hierdie aarde. “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (Daniël 7:27).

Christene en vandag se regerings

Alhoewel Jesus Christus nie aktief deelgeneem het aan die regerings van hierdie misleide wêreld nie, het Hy tog aan ons ’n voorbeeld gestel van gehoorsaamheid aan siviele wette en betoning van respek aan die ampsdraers. Die Fariseërs het na Jesus gekom om Hom te vra aangaande betaling van belasting, Sy antwoord was: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom” (Mattheüs 22:21).

God het Paulus geïnspireer om te skryf: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan, en die wat dit weerstaan; sal hulle oordeel ontvang” (Romeine 13:1-2). Paulus verduidelik dan ook verder: “Want daarom betaal julle ook belastings, want hulle is dienaars van God wat juis hiermee voortdurend besig is. Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan wie belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom” (verse 6-7).

Paulus sê aan ons om te bid vir diegene wat in posisies van gesag is. “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid” (1 Timoteus 2:1-2).

Waaragtige Christene – wat die Kerk uitmaak (Grieks ekklesia, letterlik diegene wat “uitgeroep is”) – is soos buitelandse ambassadeurs. “Want ons burgerskap is in die hemele, vanwaar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus” (Filippense 3:20).

’n Aantal jare gelede het ek die geleentheid gehad om waar te neem as adjunk-kanselier van ’n klein kollege naby Londen, Engeland. As gevolg hiervan en ander verantwoordelikhede, het ek ’n aantal belangrike onthale in Londen en aan huis van die Amerikaanse ambassadeur aan Haar Majesteit se regering, bygewoon. By twee van hierdie geleenthede, het ek die Amerikaanse ambassadeur ontmoet.

Dit word van die Amerikaanse ambassadeur aan Brittanje – of vir dieselfde prys, enige ander regering – verwag om gehoorsaam te wees aan die wette van die land waarin hy of sy woonagtig is, om die owerhede te respekteer en eer te betoon aan wie eer toekom. By die twee geleenthede toe ek Winfield House – die ambassadeur se ampswoning – besoek het, is ’n heildronk ingestel op die Koningin. Almal het opgestaan en hul glase gelig ter ere van die minsame dame wat nog steeds vors is oor die Britse volk. By elke geleentheid het die Amerikaanse ambassadeur – Elliot Richardson in een geval en Walter Annenberg in die ander – gedeel in die heildronk. Om hierdie soort respek te betoon aan persone in gesagsposisies, reflekteer duidelik die gesindheid wat God wil hê ons almal moet hê. Dit word sekerlik van ons verwag om ons belastings te betaal en al die wette van die land te gehoorsaam, solank as wat hulle ons nie verplig om teen God se wet te gaan nie. Natuurlik, indien een of ander totalitêre regering ons ooit sou probeer verplig om direk aan die hoër wette van die Almagtige God ongehoorsaam te wees, dan moet ons die geïnspireerde voorbeeld volg van die Apostels wat gesê het: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Handelinge 5:29). Selfs dan, indien ons besluit om in daardie land aan te bly, moet ons verwag om enige boete of straf wat sodanige owerhede mag oplê, te dra – om in geloof na God op te sien om vir ons te sorg (vgl. Daniël 3).

Soos Paulus egter skryf, ons is “gesante [ambassadeurs] van Christus” (2 Korinthiërs 5:20). Ons behoort met liefde en respek teenoor alle mense op te tree – insluitende diegene in politieke posisies. Ons behoort egter altyd te onthou dat ons werklike burgerskap nie in of van die regerings van hierdie Satan-geïnspireerde samelewing is nie! Hoewel ons ander mense van diens moet wees en goed moet doen op ’n individuele basis, kan of mag ons nie betrokke raak in militêre of politieke pogings om Satan se misleide wêreld te herorganiseer of op te ruim nie. Die hele stelsel self is nie God se stelsel nie! Hy laat slegs toe dat misleide mense hul eie gang gaan en eksperimenteer met verskillende tipes van regering tydens hierdie huidige 6,000 jaar van menslike ervaring.

Paulus skryf: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige” (2 Korinthiërs 6:14-15). Wanneer Hy na die godsdiens-politieke stelsel verwys wat die grootste deel van die ontwikkelde wêreld sal oorheers ten tye van Jesus Christus se wederkoms, beveel God Sy volk: “En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openbaring 18:4).

Wat sou Jesus gedoen het in die Amerikaanse verkiesingsjaar? Hy sou so besig gewees het met die verkondiging van die goeie nuus van die naderende Koninkryk van God dat Hy geen tyd sou hê vir die politiekery, stemmery of deelname aan enige groepe wat sou druk uitoefen om Satan se wêreld op te ruim nie. Hy sou weet dat – alhoewel hulle dit meestal goed bedoel – menslike pogings om hierdie wêreld te red gedoem is tot mislukking, omdat hulle onder Satan se mag en deel van sy stelsel is, dit wat God Self “Babilon” noem (Openbaring 14:8). Hy sou weet dat dit God die Vader is wat volgens Sy Eie wil, konings in posisies aanstel en hul weer daarvan onthef, om Sy doel op die aarde te volbring (Daniël 2:21). Dit word nie van Christene verwag om God se wil in hierdie sake uit te daag, of om dit selfs teen te staan nie.

Die missie en roeping van alle ware Christene is om te help om die weg voor te berei – as gesante in die voorhoede – vir die koninkryk van God, die letterlike regering wat die lewende Jesus Christus binnekort sal vestig. Dit sal al die misleide menslike regerings van hierdie aarde vervang. “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid!” (Openbaring 11:15).

Namate die spesifieke eindtydse gebeure wat in die Skrif – God se geïnspireerde Woord – geprofeteer is, besig is om rondom ons gestalte aan te neem, behoort ons deeglik te verstaan dat Christus se naderende regering werklik is! Namate die Amerikaanse dollar skerp in waarde daal, namate Amerikaanse en Britse aansien reg rondom die wêreld voortgaan om af te neem en die Almagtige God voortgaan om ons “trotse mag [te] verbreek” (Levitikus 26:19), behoort ons te besef dat Christus werklik spoedig sal kom!Ons behoort ook intense begrip te hê dat alles rondom ons binnekort gaan verander! Indien ons werklike fokus op daardie oorheersende faktor is, sal ons uiteindelik “al ons kragte inspan” in ons voorbereiding om oorwinnaars te wees (Openbaring 2:26), om ons deel te doen namate ons voorberei om die terugkerende Jesus Christus werklik by te staan om oor hierdie aarde te heers – volgens God se manier!