Op 11 Februarie 2016 het ’n groep baie opgewonde wetenskaplikes aangekondig dat hulle na dekades se geduldige ondersoek, gravitasiegolwe ontdek het.

Sommige mense het dit die “deurbraak van die eeu” genoem. Tydens die aankondiging het sommige van hulle selfs trane van vreugde gestort (“It’s Official! Gravitational waves have been detected, Einstein was right”, ScienceAlert.com, 11 Februarie 2016). Waarom dan al die blydskap? Wat is gravitasiegolwe? Wat kan so ’n ontdekking ons van die God daaragter vertel?

Die verhaal van hierdie ontdekking gaan ’n honderd jaar terug na 1915, toe die 26-jarige Albert Einstein sy teorie van algemene relatiwiteit gepubliseer het. Sy teorie was revolusionêr en het verduidelik dat enige massa in die ruimte – soos die son of die aarde – ruimte en tyd rondom dit verbuig en verwring. Hierdie verbuiging van ruimte en tyd – of “ruimtetyd” – veroorsaak die effek wat ons as swaartekrag sien.

Wat beteken dit?

Om die effek vir uself te visualiseer, probeer om ’n klein albaster oor die gladde laken van ’n netjies opgemaakte bed te rol. Normaalweg sal dit in ’n reguit lyn rol. Stel u vervolgens voor, dat ’n swaar rolbal-bal in die middel van die bed lê en veroorsaak dat die laken in die matras insak. Indien u nou die albaster te na aan die rolbal-bal rol, sal dit in die rigting van die rolbal-bal draai.

Einstein se teorie verduidelik dat dit is hoe swaartekrag werk. ’n Voorwerp soos die aarde, buig die ruimte-tyd rondom dit en veroorsaak dat voorwerpe soos die maan daarheen “draai”. Die son wat veel groter as die aarde is, veroorsaak so ’n diep verwringing dat die planete van die sonnestelsel daarom wentel in plaas daarvan om weg te beweeg.

Algemene relatiwiteit word as een van die bes bewese wetenskaplike ontdekkings in die mens se geskiedenis beskou, hoewel een van die belangrikste voorspellings – gravitasiegolwe – nog nooit as waar bewys is nie.

Einstein se teorie het voorspel dat sekere kolossale gebeurtenisse in die ruimte – soos ’n botsing tussen twee swart gate, wat die digste en heel grootste voorwerpe in die heelal is – gravitasiegolwe sou veroorsaak. Hierdie golwe sou verwringing van die struktuur van ruimte-tyd wees, waar dit gerek en gekrimp word en dit uitwaarts sou beweeg vanaf die gebeurtenis, regdeur die heelal soos rimpels op water versprei nadat ’n klip in ’n dam gegooi is.

Sulke golwe sou ruimte egter in klein hoeveelhede verwring sodat dit onmoontlik sou wees om dit op te spoor. Dit was onmoontlik tot 14 September 2015, toe wetenskaplikes wat op die Laser Interferometer Gravitational-Wave Observatory (LIGO) eksperiment gewerk het inderdaad die bestaan van ruimte-tyd golwe ontdek het. LIGO se voortreflik sensitiewe instrumente het die uitrekking en inkrimping van ruimte-tyd gemeet – een van die “rimpelings” van ’n massiewe kosmiese gebeurtenis – soos ’n swaartekrag golf wat deur die aarde gegaan het. Dit het plaasgevind selfs al was die verwringing in ruimte-tyd ongelooflik klein – net een-duisendste van die deursnee van ’n sub-atomiese proton!

Net om seker te wees, het die wetenskaplikes die volgende vyf maande spandeer om die resultate na te gaan en dubbel seker te maak dat resultate en die bewyse duidelik en onmiskenbaar was. Na ’n eeu van soek is gravitasiegolwe ontdek. Einstein se voorspelling was korrek.

Die geweldige kosmiese gebeurtenis wat hierdie golwe veroorsaak het, is deur dr. Kip Thorne opgesom: “Die botsende swart gate wat hierdie gravitasiegolwe veroorsaak het, het ’n hewige storm in die struktuur van ruimte en tyd veroorsaak, ’n storm waarin tyd versnel en vertraag en weer versnel is, ’n storm waarin die vorm van ruimte hierheen en daarheen gebuig is” (“Gravitational waves: breakthrough discovery after a century of expectation”, TheGuardian.com, 11 Februarie 2016). Swart gate is die digste voorwerpe in die heelal en daar word gereken dat die botsing 1,3 miljard ligjare weg plaasgevind het.

Rimpelings in ruimte en tyd

Wat ’n vreemde en fantastiese heelal bewoon ons, waar selfs ruimte en tyd ’n “rimpel-effek” soos die oppervlak van ’n meer kan hê! Watter kragtige magte moet in hierdie heelal ontketen word om sulke geweldige en ruimte-veranderende gebeure te veroorsaak! Watter insig gee dit ons in die wese, krag en goedheid van die Grote Skepper van alle dinge.

Hoe was Albert Einstein byvoorbeeld in die verloop van meditasie en die uitvoering van “gedagte-eksperimente” in die eerste plek in staat om die bestaan van sulke golwe af te lei – golwe wat deur voorwerpe veroorsaak word wat miljoene der miljoene kilometers ver is en wat hy nog nooit gesien het en nooit in sy lewe sou sien nie?

Hy kon dit doen omdat ons heelal verstaanbaar is – ’n wettige en ordelike skepping! God het “die insettinge van hemel en aarde ... vasgestel” (Jeremia 33:25) en die skepping – van die een punt tot die ander punt van die hemel – toon dat dit deur die Soewereine Wetgewer ontwerp is!

Dat ’n blote mens op planeet Aarde die onmeetlike lugruim van die kosmos kon aanskou en deur meditasie en berekening, beginsels kon ontbloot wat nie bevestig sou word tot 100 jaar later nie, is ’n huldeblyk aan God se wonderlike en ordelike ontwerp deur die grondslag van die werklikheid!

Die ontdekking van hierdie golwe beklemtoon ook hoe magtig ons Skepper is. Neem in ag dat die toets van die berugte “Tsar Bomba” termonukleêre toestel in Oktober 1961 die grootste mensgemaakte ontploffing in die geskiedenis was. Hitte van die ontploffing was meer as 150 kilometers ver gevoel (“Big Ivan, The Tsar Bomba (‘King of Bombs’)” NuclearWeaponArchive.org, 3 September 2007) en die ontploffing se sampioenwolk het in die atmosfeer vir byna twee-derdes van die afstand in die buitenste ruim opgestyg.

Die verskriklike krag van Tsar Bomba is selfs minder as ’n kind se speelding in vergelyking met die gebeurtenis wat deur die LIGO wetenskaplikes gemeet is. Wetenskaplikes beraam dat die oomblik toe die swart gate gebots het, die gravitasiegolwe wat dit uitgestraal het, die ekwivalent was van om “drie sonne te neem en hulle uit te wis” (McDonald).

Wanneer ons so ’n majestieuse krag bedink, mag ons dalk aan die woorde van die patriarg Job herinner word: “Kyk, dit is maar die uitlopers van sy weë, en wat ’n fluisterwoord hoor ons maar van Hom! Wie sou dan die donder van sy magtige dade verstaan?” (Job 26:14).

In ’n heelal waar botsings van kosmos-skuddende swart gate ’n blote fluistering van Sy krag is, hoeveel kragtiger moet daardie Een wees wat die heelal deur die woord van Sy krag onderhou (Hebreërs 1:3)?

Sulke ontdekkings behoort ons te laat stilstaan en rede te gee om ons met dankbare harte aan die asemrowende erfenis te verwonder wat ons Hemelse Vader vir ons beplan. Nee, God het nie die heelal rondom ons as ’n soort grootse “skouspel” geskep vir ons om net na te kyk, daaroor te wonder en vir ewig op ’n afstand te wees nie. Die heelal wat deur wetenskaplikes aan ons geopenbaar word soos hierdie LIGO astrofisici, is in werklikheid u toekoms en u bestemming!

Jesus sê aan ons dat “Hy wat oorwin, sal alles beërwe” (Openbaring 21:7) en “alles” beteken “alle dinge”! Die apostel Paulus het opgemerk dat hierdie erfenis veel verder strek as wat ons nou met ons oë kan sien en sluit die geheel van God se geskape gebied in – ontsaglik groot bo ons geloof (Hebreërs 2:8)!

Namate wetenskaplikes die heelal dieper en verder ondersoek, gaan hulle voort om die krag van God bloot te lê – die grootheid van Sy plan vir ons en die onvergelyklike omvang van Sy geskenk aan diegene wat kies om Sy kinders te word!