VRAAG: Is dit ooit aanvaarbaar om na inligting van “heldersiendes” soos spiritiste, mediums of fortuinvertellers te soek? Dit lyk of baie mense groot hulp en troos van hulle verkry.

ANTWOORD: Terwyl hulle op die punt was om die Beloofde Land binne te gaan het God die Israeliete gewaarsku om nie die gruwels van die nasies te volg wat Hy voor hulle uit verdryf het nie (Deuteronómium 18:9). God het daardie nasies verwerplik gevind want hulle “luister na goëlaars en waarsêers” (vers 14) en Hy het die Israeliete spesifiek verbied om deel te hê aan daardie nasie se gruwels, met inbegrip van afgodediens, offering van mense, goëlery, waarsêery, verklaring van voortekens, towery, besweringe, raadpleging van geeste van afgestorwenes, raadpleging van mediums, spiritisme en die oproep van die dooies (verse 10-12). Die Skrif maak dit dus duidelik dat sulke praktyke nie aanvaarbaar is vir diegene wat probeer om God te gehoorsaam nie.

Sommige bedrieërs mag dalk lyk of hulle “Christelik” of “heilig” of “welmenend” is. Let daarop dat dit lyk of Satan se predikers regverdig is. Wanneer hy vals apostels beskryf, skryf die apostel Paulus: “Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Korinthiërs 11:14-15).

Jesus Self het gewaarsku: “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” (Matthéüs 24:11). Dit is belangrik om te besef dat diegene wat hulleself “mediums” of “profete” noem, in werklikheid mislei is of doelbewuste bedrieërs is. God waarsku: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Johannes 4:1).

Een voorbeeld van ’n valse profeet is Simon die Towenaar, wat baie mense in een Samaritaanse stad mislei het om te dink dat hy “die groot krag van God” is (Handelinge 8:9-11). Nadat hy gesien het dat die apostels Petrus en Johannes die mag het om die Gees van God aan mense te gee, wou Simon daardie krag met geld koop (verse 17-20), maar Petrus het hom bestraf (vers 20). Petrus sê toe: “Bekeer jou dan van hierdie boosheid van jou, en bid God of die gedagte van jou hart jou miskien vergewe mag word. Want ek sien dat jy in ’n gal van bitterheid en bande van ongeregtigheid is” (verse 22-23). Simon die Towenaar het ’n gees van opstand en bitterheid gehad. Sy krag het nie van God gekom nie, maar uit die beoefening van towery. In teenstelling daarmee het Petrus en Johannes die waarheid en gehoorsaamheid aan God se Woord geleer, gerugsteun deur die onmiskenbare krag van die Heilige Gees. Nadat hulle hierdie kontras gesien het, was baie mense verlos van Simon se misleiding en kon hulle werklike hulp ontvang wat tot die begin van hulle verlossing gelei het.

Vra die ware God

Gedurende die tyd van die Nuwe Testament was die grootste deel van die “beskaafde” wêreld in afgodediens, demonisme en okkultisme gedompel (Handelinge 17:16; 19:18-20). Ons lees van ’n slavin wat ’n waarsêende gees gehad het, wat vir haar eienaars baie geld ingebring het deur middel van fortuinvertelling (Handelinge 16:16-18). Paulus het, nadat hy deur die bose gees geteister is, dit beveel om uit te kom en dit het hom gehoorsaam. ’n Ware Christen behoort nooit hulp te soek van psigiese of paranormale bronne nie, aangesien Satan en sy demone direk of indirek agter al hierdie soort aktiwiteite is. Luister na die profeet Jesaja se vermaning: “En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel – moet ’n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word? Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ’n volk wat geen dageraad het nie” (Jesaja 8:19-20).

Christene moet waaksaam wees teen alle vorms van heksery en spiritisme. God waarsku dat towenaars in die poel van vuur verbrand sal word (Openbaring 21:8). Daarenteen sal diegene wat God soek, Hom glo en doen wat Hy sê, altyd deur die waarheid gelei word. Soos Jesus Christus tot die Vader gebid het: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Johannes 17:17).