Twyfelaars mag die idee bespot dat God wêreldgebeure bestuur maar die geskiedenis vertel ’n ander verhaal!


Dit word vandag dikwels as onvanpas beskou om ernstig van God in die klaskamer of in teksboeke te praat. Talle mense grynslag wanneer ’n wêreldleier God se naam noem en beskou enigiemand wat glo dat God direk in wêreldgebeure ingryp as jammerlik onkundig of swaksinnig. As gevolg daarvan, is die moderne geskiedenis gesuiwer van alle verwysings na die bonatuurlike en die rol wat God in wêreldgebeure speel.

Een van die groot tragedies van ons era is die feit dat merkwaardige getuienis van bonatuurlike ingryping hedendaags geïgnoreer, verbloem of doelbewus weerhou word van die meeste mense! Die Bybel en die geskiedkundige verslae toon duidelik dat God op dramatiese wyse in die aangeleenthede van die mensedom ingegryp het – dikwels deur middel van die weer. Bybelprofesie dui daarop dat God in die jare wat voorlê weer op verstommende wyse sal ingryp deur middel van weerverwante gebeure. U moet verstaan waarom!

God, die Bybel en die weer

In die Bybel is gevalle aangeteken waar God herhaaldelik die weer gebruik het om sy doel te bewerkstellig. So skep God ’n groot vloed deur middel van 40 dae se stortreën om ’n samelewing te beëindig wat totaal verrot is met geweld, boosheid en verdorwenheid (Genesis 6:5-13). Wêreldgesindes mag die Bybel se weergawe betwyfel dat so ’n vloed ooit plaasgevind het en dit probeer afmaak as ’n legende afkomstig van die Babiloniese mitologie. Selfs die vlugtige deurlees van die Babiloniese Epic of Gilgamesh, waarvan ’n meer realistiese weergawe in die Bybel is, gee te kenne dat die Babiloniese verhaal ’n verbeeldingsvlug is. Diegene wat aanneem dat die vloed slegs ’n lokale gebeurtenis was, ignoreer die feit dat oorlewerings oor Noag se vloed oor die hele wêreld voorkom – van Babilon tot in Egipte, Griekeland, China, Polinesië, Meksiko en Peru. Die wêreldwye kennis van hierdie legende maak net sin indien die gebeurtenis werklik plaasgevind en God wel ingegryp het in die mens se doen en late deur middel van weerverwante gebeure!

Ten einde te begryp waarom God namens sekere individue en volke ingegryp het, moet ons God se plan verstaan soos openbaar in die Bybel. Na die Vloed, begin God met Abraham en sy familie werk. God beloof aan Abram en Sarai dat – indien hulle Sy wette sou gehoorsaam – hulle nageslag sekere lande sou beërf, hulle geseënd sou wees en groot nasies word asook ’n seën wees vir die wêreld (Genesis 12:17). Hierdie beloftes – onderhewig aan gehoorsaamheid – is aan hulle seun Isak en hulle kleinseun Jakob herhaal en daar is ook daarop uitgebrei en uiteindelik gefokus op Josef en sy seuns Efraim en Manasse – wie se afstammelinge vandag geïdentifiseer kan word (bestel gerus ons gratis boekie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? vir meer inligting aangaande hierdie onderwerp).

Josef se broers was jaloers op hom as gevolg van voorspellings oor sy toekoms en verkoop hom as slaaf waarna hy in Egipte beland. Om Farao se aandag op Josef te vestig, maak God gebruik van ’n weerverwante droom waarin sewe jaar van oorvloed gevolg deur sewe jaar van hongersnood voorspel word (Genesis 41). Soos in die droom voorspel, beland Josef se hele familie as gevolg van die hongersnood in Egipte waar hulle in getalle aangroei en die Egiptenare hulle as slawe gebruik. God verlos egter die Israeliete deur ’n reeks bonatuurlike plae met onder andere ’n skrikwekkende haelstorm (Eksodus 9:18) wat hierdie magtigste land op aarde sou verneder en só sy almag aan die Egiptenare sou vertoon. Toe die Egiptenare hulle agtervolg sê Moses vir die vreesbevange Israeliete “Die HERE sal vir julle stry” (Eksodus 14:14,25; Josua 23:3). Daarna kloof God die waters van die Rooisee met ’n sterk oostewind oop en die Israeliete kon ontvlug, terwyl die Egiptenare omgekom het terwyl die water terugvloei.

Twyfelaars maak hierdie verhale af as mites, tog word Josef vermeld in geskrifte en dokumente van antieke Egipte, Griekeland en Arabië. Daar word melding gemaak van sewe jare van oorvloed en sewe jare van hongersnood, van die groot plae wat oor Egipte gekom het asook van Moses wat die Eksodus uit Egipte lei deur die Rooisee (sien: The Signature of God, Jeffrey, bl 44-53; asook The Exodus Case, Moller). God het die Israeliete verlos omdat Hy die volk wou gebruik – indien hulle Sy gebooie gehoorsaam – as ’n voorbeeld wat die wêreld kon navolg (Deuteronomium 4:1-10). Die Israeliete was egter ongehoorsaam en is deur die Assiriers verslaan. Na hulle ballingskap migreer die Israelitiese stamme na Noordwes Europa, waar die geskiedenis van die Britse en Amerikaanse volkere dramaties illustreer hoe God in die mens se doen en late ingryp om Sy plan en profesieë tot vervulling te bring.

Storms en die vooruitgang van Brittanje

Die vooruitgang van Brittanje as ’n wêreldmag begin in 1588 met die oorwinning en verwoesting van die Spaanse Armada. Die Spaanse koning Philip II het die wêreld se magtigste militêre mag beheer en ’n wêreldryk regeer. Hy het geglo dat hy as heerser deur God gekies is en was vasberade om die “Christendom” wat deur die Reformasie verpletter is te herenig. Aangemoedig deur sukses na die anneksasie van Portugal, die inval van die Asone en die oorwinning oor die Turke by Lepanto, het Philip sy “onoorwinlike” Armada van 130 skepe en 30,000 man geloods om Engeland te laat terugkeer na die Rooms Katolieke geloof (sien Empire, War and Faith, Parker). Philip het geglo dat aangesien hierdie “onderneming aan God opgedra is ... God goeie weer sou voorsien” en dat “God sou toesien en verseker dat die verlangde resultate behaal word” (ibid., bl. 61).

Toe die Armada egter uit Lisabon vaar, is dit geteister deur stormwinde en ’n onstuimige see wat die skepe beskadig en versprei het terwyl die moraal van die bevelvoerders en manskappe erg geskaad is. Toe hulle die Engelse Kanaal bereik, was hulle in ’n reeks gevegte met die Britse Vloot betrokke. Alhoewel die Britte minder en swak voorsiende skepe gehad het, was hulle vinniger en toegerus met ysterkanonne wat vinniger en verder kon vuur as die bronskanonne van die Spanjaarde. Nadat die Spanjaarde verskeie skepe in ’n geveg aan die kus van Frankryk verloor het, het die Spaanse admiraal nogtans noordwaarts rigting gekies na Skotland met nog steeds ’n magtige vloot van 100 skepe. Hulle is agternagesit deur die Britse vloot wat toe byna sonder buskruit was.

Alhoewel sommige moderne geskiedskrywers die oorwinning toeskryf aan die voortreflike tegnologie en bewapening van die Britse skepe, was dit in werklikheid die weer – asook die sogenaamde “Protestantse” wind wat die deurslag gegee het. Die Historikus, Simon Schama, verklaar dat dit “met elke stadium die geografie en die weer was wat die uitslag bepaal het ... dit was toe die Armada om die noordwestelike punt van Skotland gevaar en in die genadelose Hebridiese onweer en stormswindstorms beland het dat hulle vernietig is” (A History of Britain, bl. 386). Met die lewensgevaarlike seereis om Ierland het die Spanjaarde 30 tot 40 skepe verloor terwyl die 50 gehawende bote wat terug Spanje toe gesukkel het, beman is deur ’n uitgedunde mag van honger, dors en siek soldate.

’n Eeu later sou die weer weereens ’n dramatiese rol speel in die Engelse geskiedenis. Toe koning James II probeer om Engeland weer Rooms Katoliek te maak, nooi die Engelse adellikes die Nederlandse Protestante Prins, William van Oranje, om tussenbeide te tree. In 1688 het William ’n armada geloods wat selfs groter was as die Spaanse Armada – bestaande uit 500 skepe, 40,000 manskappe en 5,000 perde. William het ’n kollosale waagstuk aangegaan met die inval in November, maar hierdie keer sou ’n reeks merkwaardige veranderings in die weer die invaller begunstig! Die Nederlandse vloot het oorspronklik noord gevaar, “maar die elemente het beheer oorgeneem. ’n Stormwind het begin waai en die vloot moes in ’n suidelike rigting seil, deur die Straat van Dover en toe wes” (This Sceptred Isle, Lee, bl. 283). Hierdie verandering in die wind het William se sukses aangehelp deur “James se vloot in die Thamesmonding vas te keer” (The Glorious Revolution, Miller, Bl. 14). Terwyl die Armada verby Torbay aan die suid-kus van Engeland vaar, verander die wind skielik weer en laat die Nederlandse skepe toe om gemaklik Torbay binne te seil – tog het dieselfde wind die Britse vloot wat die Nederlanders agtervolg het, verhinder om met die landing in te meng! William se waaghalsige inval was suksesvol as gevolg van die “giere van die kanaalwinde ... wat ’n ontmoeting van die antagoniste onmoontlik gemaak het en ... verseker ’n totale Nederlandse sukses” (The English Navy in the Revolution of 1688, Powley, bl. 94). Talle mense in Holland en Engeland het hierdie gebeure gesien as weer ’n goddelike ingryping van die “Protestantse” wind.

Gure weer het ook die Franse se planne om Engeland binne te val en Rusland te verower gestuit. Sodoende is die Franse se planne vir wêreldwye uitbreiding beperk. In 1759 is ’n Franse inval in die wiele gery toe die Britse bevelvoerder, Edward Hawkke, “in ’n dreigende storm ... die Franse vloot agternagesit het tot diep in Quiberonbaai aan die suid-kus van Bretagne waar dit vernietig is – twee derdes het vergaan, is uitgebrand of op beslag gelê – met hierdie oorwinning het die Britse vloot die oppergesag verkry en die oorwinning verseker in Brittanje se stryd om ’n kolonie te bekom (Empire, Ferguson, bl. 36). As dit nie was vir die digte mis wat die ooskus van Australië verberg het vir die Franse ontdekkingsreisiger, Bougainville nie, kon Kaptein James Cook nie daardie kontinent vir Brittanje opgeëis het nie en sou die Australiërs moontlik vandag Frans gepraat het in plaas van Engels (Captain James Cook, Hough, bl. 52-53). Gedurende die Napoleonitiese oorloë, het sneeu en ysige temperature die Franse se pogings om Rusland te verower gedoem en ’n skielike reënstorm het Wellington ’n onverwagse voordeel gegee bo Napoleon by Waterloo (The Battle 100, Lanning, bl. 30-33). Napoleon se nederlaag het die Franse oorheersing in Europa beëindig.

Bybelprofesie voorspel dat Brittanje (Efraim) “’n menigte van nasies sal word” en ’n groot gekoloniserende volk (Genesis 48:19; 49:22-24), terwyl die Franse, wat afstammelinge van Reuben is, ’n ander toekoms sou hê (sien Genesis 49:3-4). Die geskiedenis van Brittanje en Frankryk demonstreer hoe God tussenbeide getree het deur die weer te gebruik om Sy plan te volbring!

’n Onlangse boek wat gepubliseer is bied verdere getuienis dat onlangse argeologiese werk bewys het dat daar in die vroeë 1400’s, onder ’n vooruitstrewende en ekspansionistiese keiser, Chinese skepe van meer as 137 meter lank, groter en meer gevorderd was as enige skepe in Europa, om die aardbol gevaar en kolonies gevestig het in Amerika, bykans ’n eeu voor Columbus. Tog in 1421 bars ’n “hewige storm” oor die Verbode Stad los ... weerlig tref die Paleis ... die hele stad was in ligte laaie (1421, Menzies, bl. 75). Die Chinese het hierdie ramp gesien as ’n slegte voorbode deur hul gode en die Keiser is ontsetel. Die Chinese leiers het tot inkeer gekom, die ontdekkingsreise beëindig, die vloot afgetakel en die rekords oor hulle ontdekkings vernietig. Sonder hierdie dramatiese weerverwante reeks gebeure sou die Chinese – nie die Britte – die see regeer en sou die dominante kultuur van die wêreld Oosters eerder as Westers gewees het. God het egter die verloop van die geskiedenis reeds duisende jare gelede in die Bybel verwoord en sou Hy tussenbeide tree om Sy doel te volbring (sien Jesaja 46:8-10).

Die Geboorte van Amerika

Tydige weerveranderings het ook ’n beslissende rol gespeel in die Verenigde State se Vryheidsoorlog. Vroeg in die oorlog beset George Washington die Dorchester Hoogtes wat oor die Bostonse hawe uitkyk. Toe die Britte uitvind van hierdie maneuver gelas generaal Howe ’n amfibiese aanval vir die volgende dag. Daar het egter gedurende die nag ’n “suidooster van stormsterkte” oor die Bostonse hawe gewoed en “die wind en golwe het Howe se planne ontwrig. Hy het die aanval afgelas en die swak weer die skuld daarvoor gegee” (The Weather Factor, Ludlum, bl. 34). Kort daarna het die Britte Boston ontruim. Vyf maande later, gaan 15,000 troepe van generaal Howe op Long Eiland aan wal, keer Washington se leër vas en dien hulle ’n verpletterende nederlaag toe. Die Amerikaanse Rewolusie kon hier geëndig het was dit nie vir die “geweldige reën” wat die volgende dag geval het wat verhoed het dat die Amerikaanse leër uitgewis is nie. Washington het daardie aand ’n onttrekking gelas, maar dit was onmoontlik weens ongunstige winde en die gety. Omstreeks elfuur die aand was daar egter ’n “toevallige verandering van die wind” en dit is verhoed dat die Britte die Amerikaanse terugtog kon waarneem of verhoed (ibid., bl. 37). Washington en sy leër wat in vodde is, ontsnap danksy ’n deurslaggewende verandering in die weer! Hulle is gespaar om hulle land weer in die toekoms te dien.

Die tog oor die Delawarerivier en die aanval op Trenton het plaasgevind in ’n hewige sneeustorm. Hulle masjeer egter onder die storm uit met die wind van agter (en reguit op die vyand af); die Amerikaanse troepe verras die buitelandse verdedigers en hulle behaal een van die eerste groot oorwinnings van die Rewolusie. As antwoord hierop maak Cornwallis, die Britse generaal, ’n moeilike opmars, oor modderige paaie, om Washington net suid van Trenton vas te keer met die doel om “die ou jakkals” die volgende oggend te vang. Daardie nag vind daar egter ’n “toevallige weerverandering” plaas (Ludlum, bl. 42). Die grond vries – wat die troepe se bewegings vergemaklik. Washington laat sy kampvure brandend agter en laat sy troepe óm die Britse leër beweeg. Teen dagbreek word Cornwallis wakker en al wat hy sien is smeulende kampvure van Washington se leë kamp. Teen die tyd dat die Britse leër gereed is om aan te beweeg, het die grond ontdooi wat die troepe se bewegings bemoeilik het. Washington kon nou veg en die slag van Princeton agter die Britse linies wen omdat die aarde op presies die regte tyd gevries het!

Die weer het ook ’n tydige rol gespeel in die finale veldslag van die Amerikaanse Rewolusie. Gedurende die beleg van Yorktown was die weer goed, behalwe gedurende twee belangrike periodes. Gedurende die nag toe Washington loopgrawe begin grawe, skryf ’n soldaat: “Ons is begunstig deur die Voorsienigheid met ’n nag van uiterste donkerte” en sagte reën wat die geluid van die grawery gedemp het. Teen die einde van die beleg probeer Cornwallis gedurende die nag ’n ontsnappingspoging deur sy beste troepe met ’n pont oor die Yorkrivier te stuur. Halfpad deur die operasie, verander “die weer ... in ’n hewige storm van wind en reën” en dryf die vragbote rivier af wat Cornwallis se troepe verdeeld en verstrooi laat. “Die ongunstige ommeswaai in die weer het die beoogde ontsnappingspoging heeltemal in die wiele gery” en Cornwallis gee die volgende dag oor (Ludlum, bl. 62-64). Die Veldslag van Yorktown was een van die mees invloedryke veldslae in die geskiedenis, omdat dit direk tot die onafhanklikheid van die Verenigde State gelei en ook so die profesieë vervul het dat Manasse (Amerika) ’n magtige volk sou word (Genesis 48:17-19). God het Sy doel bereik met nog ’n “toevallige” verandering in die weer.

Verlossing en oorwinning

Sommige van die mees dramatiese voorbeelde van bonatuurlike ingryping het plaasgevind gedurende die Tweede Wêreldoorlog – ’n oorlog wat Winston Churchill gevoel het die toekoms van die “Christelike samelewing” bedreig. Gedurende ’n kort tydperk van slegs twee weke in 1940 het die Duitsers ’n blitsaanval geloods wat deur die Franse linies gebreek het, die Belge verslaan en ’n steierende Britse leër teen die oseaan by Dunkirk vasgepen het. Talle Britse generaals het gesê dat “net ’n wonderwerk” hul beleërde magte kon red. Tog, met ’n definitiewe oorwinning in sig kom die Duitse tenks slegs 32 km van Dunkirk af op bevel van Hitler, skielik tot stilstand, omdat hy vrees dat hulle gevaarlik blootgestel en te ver van die voorraadlinies is. Gedurende hierdie verposing verhoed ’n kwaai donderstorm die Duitse vliegtuie om op te styg en word die Geallieërde magte in staat gestel om Dunkirk te nader en verdedigingslinies op te stel. Na ’n dag van nasionale gebed, gelei deur koning George VI vir die hopeloos vasgekeerde leër, begin die Britte met ’n ontruimingspoging wat nege dae duur waartydens die onvoorspelbare Engelse kanaal wat normaalweg rof is, kalm en so glad soos ’n spieël word. Tog, die dag na die ontruiming “verander die wind noord en breek reuse golwe op die leë strande” (The Miracle of Dunkirk, Lord, bl. 272). ’n Inskrywing van ’n Britse generaal lui dat “die ontruiming van Dunkirk sekerlik ’n wonderwerk was” en Churchill noem die ontruiming van meer as 330,000 soldate (amper die hele Britse leër) “’n wonderwerk van bevrydig”. Die Daily Telegraph beskryf die dankbaarheid van “offisiere en manskappe wat die hand van God daarin gesien het ... hulle bevryding uit die hand van ’n magtige vyand” (Junie 8, 1940). Die Britse volk het geweet dat God onmiskenbaar tussenbeide getree het!

Die “hand van God” is steeds waarneembaar tydens die Geallieërde magte se teenoffensief om Noord-Afrika en Europa te bevry. In laat Oktober 1942 seil ’n armada van 650 skepe van Engeland na Noord-Afrika vir bykans twee weke sonder om deur U-Bote of die Duitse lugmag opgemerk te word. ’n Britse admiraal sê dat dit “amper ongelooflik is ... dat hulle nie aangeval is en dat daar geen ongevalle was nie”. Die dag voor die beplande landing te Casablanca breek 5 meter hoë golwe oor die strande wat ’n landing onmoontlik gemaak het. Die volgende oggend egter, nader die invalsmagte die strand “in mooi weer ... en ’n kalm see” (We have a Guardian, Grant bl. 34). Die landing was suksesvol as gevolg van die skielike gunstige weer. ’n Londense nuusblad berig: “Net ’n onnadenkende persoon kan twyfel oor die groot rol wat die Voorsienigheid gespeel het in die spoedige en suksesvolle transformasie van die oorlog” (Daily Mail, Nov. 14, 1942).

Die weer het ook ’n beslissende rol gespeel toe Sisilië ingeval is. Op 10 Julie 1943, terwyl Generaal Dwight D. Eisenhower toekyk hoe die skepe vertrek, salueer hy die armada, laat sak sy kop in gebed en verklaar dat die sending nou “in die hande van God is”. Tog, kort ná die vertrek van die skepe, bereik die wind stormsterkte en moes die invalsvloot deur ’n onstuimige see swoeg. Maar, die onstuimige weer het die Sisiliane gerusgestel en veroorsaak dat hulle hul waaksaamheid verslap. Een van die admiraals het gesê dat “die wind na die landing gaan lê het op presies die regte oomblik ... en die deining vinniger gesak het as wat hy nog ooit voorheen gesien het. Dit was so skielik, dit was amper ongelooflik ... dit was wonderbaarlik ... baie stil dankgebede is gedoen” (Grant, bl. 39).

Byna dieselfde verskynsel het plaasgevind op D-dag – 6 Junie 1944 – gedurende die inval van Normandië. Eisenhower het die inval in gure weer van stapel gestuur en gehoop dat die weer sou opklaar. Dan, op die oggend van 6 Junie, klaar die weer wel vir ’n kort rukkie op. Die wind gaan lê, die see word kalm en die weer trek oop wat die Geallieërde vliegtuie toelaat om met presisie op te tree. Die landing betrap die Duitsers totaal onkant. Bykans ’n dekade later praat Eisenhower uit sy tuisdorp, Kansas, en sê: “Hierdie dag agt jaar gelede, het ek die pynlikste besluit van my lewe geneem ... die gevolge van daardie besluit ... kon nie voorsien gewees het deur enigiemand nie. As daar niks anders in my lewe was om die bestaan van ’n Almagtige en Genadige God te bewys nie, het die gebeure van die volgende vier-en-twintig uur dit gedoen ... Die grootste verandering in die verskriklike weersomstandighede het die volgende dag plaasgevind en het dit moontlik gemaak dat die inval voortgaan, met verliese ver benede verwagting” (Time, 6 Junie, 1952). Generaal Eisenhower het geweet dat God tussenbeide getree het ten tye van een van die belangrikste oomblikke in die geskiedenis van die wêreld!

Dit behoort nou duidelik te wees dat daar oorweldigende getuienis is dat God bestaan en dat Hy dramaties tussenbeide tree in die doen en late van die mensdom om Sy doel te vervul (sien Daniël 2:28; 4:25). Tog word hierdie merkwaardige getuienis oor die hoof gesien en geïgnoreer deur geleerdes en teoloë van dieselfde lande wat die meeste daarby gebaat het deur die ingryping van God! In plaas dat hierdie oortuigende gebeure ingeskerp word, ignoreer hedendaagse leiers God se hand in die geskiedenis. Hulle ignoreer God en Sy Wet en verskoon eerder egbreuk, aanvaar egskeiding en paartjies wat saamwoon, bevorder homoseksualiteit en leef saam met leuens, geweld, gierigheid en pornografie! As gevolg daarvan, verloor ons sekulêre, materialistiese, plesierlustige kultuur die God van die Bybel vinnig uit die oog en ontken dat God vereis dat Sy Wette gehoorsaam moet word – veral deur die nasies wat Hy so herhaaldelik begunstig het (sien Deuteronomium 28).

God is egter nie klaar met tussenbeide tree in die geskiedenis nie. God se waarskuwings oor die afvallige Israelitiese volke is in die Bybel opgeteken. Hy sê vir hulle: “Ek sal julle trotse mag verbreek” tensy julle julle bekeer van julle sondige weë (Levitikus 26:19). Ons sien dit vandag gebeur! Bybel profesieë dui ook aan dat vreeslike weerverwante rampe voor die deur lê (sien Mattheus 24:7; Openbaring 6, 8, 9, 16), tensy ons verrotte samelewing gewillig is om te bekeer van die verontagsaming van God se Wette. Ons moderne wêreld is op die punt om te leer dat die God van die Bybel ’n werklikheid is, dat die Bybel waar is en dat die dag van God se grootste ingryping in die doen en late van die mensdom net om die draai is.