Die Midde-Ooste is al vir dekades lank in gedurige konflik gewikkel. Baie mense wat die wêreldnuus volg, wonder wat volgende sal gebeur en wat die finale uiteinde gaan wees. Tog besef baie min mense dat daar reeds lankal vooruit, deur middel van Bybel­profesie, voorspel is watter aardskuddende gebeure tot groter rampe in dié gebied, en uiteindelik tot die Derde Wêreldoorlog sal lei!

Die Bybel omlyn die eindtydgebeure wat tot Jesus Christus se wederkoms sal lei. Die gebeure in die Midde-Ooste sal, namate Sy wederkoms nader kom, u lewe en die lewens van almal op aarde raak. Begrip van hierdie gebeure sal u help om in die belang van u gesin se welsyn op te tree. U kan die geprofeteerde rampe en oordele (Lukas 21:36) oor ’n oorlogvoerende en God-uittartende wêreld vryspring.

Dit blyk dat die Midde-Ooste ’n gedurige stroom slegte nuus vir die wêreld meebring. Bybelprofesie toon aan dat hierdie slegte nuus tot en met Jesus Christus se wederkoms sal voortduur, maar as die wêreld eers “Armagéddon” in die Midde-Ooste oorleef het, sal daar ’n tydperk van goeie nuus volg. Jerusalem sal dan sy naam as “Stad van Vrede” gestand doen. ’n Millennium van vrede en voorspoed, onder die heerskappy van die Messias, lê voor. As Koning van konings sal Jesus Christus vanuit Jerusalem die aarde met reg en geregtigheid regeer en alle nasies op die aarde sal ’n nuwe lewenswyse – die weg na vrede – aanleer.

Maar eers moet die Midde-Ooste die moeilike tyd wat voorlê, deurstaan.

Dwarsdeur die geskiedenis het die menslike natuur oorlog beskou as die uiteindelike arbiter van geskille. Die apostel Paulus het ’n grondige stelling gemaak: “En die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie” (Romeine 3:17-18). Meer as ’n miljoen mense het in die Irak-Iranoorlog van 1980 tot 1988 gesterf. Duisende der duisende het in die Persiese Golfoorlog en Operation Desert Storm in 1990-91 gesterf. In dié konflik het Irakese troepe meer as 600 olieputte in Koeweit aan die brand gesteek. Die swart rook het beelde van Armagéddon opgeroep. Hierdie wydverspreide besoedeling is daardie tyd beskou as die “wêreld se ergste mensgemaakte omgewings­ramp ooit” (Time Almanac 2000, bl. 605). ’n Dekade later is Irak steeds ’n sleutelfiguur in Midde-Oosterse politiek en wêreldterreur.

Sal daar meer oorloë in die Midde-Ooste wees? Ongelukkig is die antwoord “ja”. U Bybel onthul dat daar selfs meer streeksoorloë sal wees wat tot dít wat alge­meen as “Armagéddon” bekendstaan, sal lei. Jerusalem sal ’n brandpunt van konflik wees.

Arabiere en Israeli’s is al in oorlog gewikkel sedert die stigting van die moderne staat Israel. Daar is al dikwels vrede in die streek verklaar, maar dit het nog nooit gerealiseer nie. Meer as 25 jaar nadat die Egiptiese president, Anwar Sadat, hoop aan die wêreld gebring het deur na Israel te vlieg in ’n poging om dramatiese voorstelle tot vredesonderhandelinge aan te bied, is die proses wat hy gehoop het om aan te moedig, vertraag, indien nie gestaak nie. Huidiglik is daar min hoop vir blywende vrede onder die Midde-Oosterse nasies.

Die Bybel onthul dat daar wel in die nabye toekoms ’n vreedsame oplossing vir hierdie duisendjare-oue konflik sal kom, maar voordat hierdie oplossing bereik word, sal daar eers baie bloed vergiet word en sal die mensdom deur ’n tyd van oorlog en lyding, ongekend in menseheugenis, gaan.

’n Begrip van die Bybelprofesie aangaande die Midde-Ooste, kan vir ons hoop en vertroosting bring, selfs al sou die huidige krisis toeneem. Die Bybel is vol inligting wat ons kan help om die huidige Midde-Oosterse konflik in die lig van God se plan vir eindtyd-wêreldgebeure te sien. Dit omlyn baie besonderhede waarvan die wêreld se politici en beleidsvormers geen kennis dra nie. Soos ons sal sien, word daar onthul watter betekenis die eertydse wedywering tussen Abraham se kleinseuns, Jakob en Esau, op die Midde-Oosterse konflik van vandag het. Die Bybel ontmasker ook baie populêre, dog vals leringe omtrent Rusland se rol in eindtydprofesie. Dit gee ’n oorsig van die “hoofspelers” in eindtydprofesie – insluitend die “Dier”, die vals profeet en die koning van die Noorde – en die laaste fase van die Derde Wêreldoorlog, waarvan ons later in hierdie boekie sal lees.

Bybelprofesie het baie kernfeite en besonderhede vooruit onthul. Dit kan ons help om voor te berei vir die gevaarlike en uitdagende tye wat voorlê, terwyl ons daarna streef om Jesus Christus se gebod, naamlik om te “waak en [te] bid” namate eindtydgebeure nader, te gehoorsaam (Markus 13:33). Dit onthul ook die belang­rike rol van Jerusalem – ’n stad met ’n merkwaardige verlede en selfs ’n meer merkwaardige toekoms – as die middelpunt van baie eindtydgebeure en profesieë.

Jerusalem – Heilige stad vir drie godsdienste

Jerusalem (in Arabies al-Quds genoem) is heilig vir die drie vernaamste monoteïstiese (geloof in slegs een god) godsdienste: Die Christendom, Judaïsme en Islam. Gevolglik is dit al vir eeue lank ’n brandpunt van geskille.

Toe dit deur die Romeine voor Christus se geboorte verower is, was dit in die hande van Bisantynse heersers totdat dit in 638 in die hande van ’n Moslem­leër, onder leiding van Caliph Umar, geval het. In 1071 het die Seldjoekse Turke beheer van Jerusalem oorgeneem en deurdat hulle die pelgrimsroetes van die Weste afgesny het, is stukrag aan die Eerste Kruistog gegee. Hierdie kruistog bring Jerusalem onder Westerse beheer in die “Latynse Koninkryk van Jerusalem”, wat in beheer was van die stad vanaf 1099 tot 1187, toe Jerusalem deur Saladin vir Islam herower is. Latere kruistogte bring Jerusalem weer vlugtig, vanaf 1229 tot 1239 en weer vanaf 1243 tot 1244, toe dit deur die Tartare geplunder is, onder Westerse beheer. In 1247 val die stad in die hande van die Egiptiese Mammeluke en bly in hul beheer tot in 1517, toe die Ottomaanse (Turkse) sultan, Selim I, die stad verower het.

Jerusalem het vir omtrent presiés vier eeue lank onder Turkse beheer gebly. In 1917, tydens die Eerste Wêreldoorlog, oorwin Generaal Allenby en die Britse leër die Ottomaanse Turke en val die stad binne. In November daardie jaar reik die Britse regering die Verklaring van Balfour uit wat Brittanje se voorneme om ’n Joodse tuisland in Palestina te vestig, aangekondig, met dien verstande dat “niks gedoen sal word wat die burgerlike en godsdiensregte van bestaande nie-Joodse gemeenskappe in Palestina sal benadeel nie”.


ISRAEL-ARABIESE OORLOË

14 Mei 1948
Die Joodse Nasionale Raad verklaar die vestiging van Israel. Oorlog breek uit tussen die nuwe staat en die omliggende Arabiese volke. Wanneer die oorlog in 1949 eindig, beheer Jordanië die Wesoewer en Oos-Jerusalem, en Egipte beheer die Gazastrook. Israel word as staat gevestig, maar sonder toegang tot die heilige plekke in Ou Jerusalem! David Ben-Gurion word Israel se eerste Eerste Minister.

Julie 1956
In die voetspore van Egipte se nasionalisering van die Suezkanaal sone, val Israel Egipte binne en neem beheer van die Gazastrook en Sinai Skiereiland oor. Nadat die Verenigde Nasies ’n veiligheids­mag in hierdie streke gevestig het, onttrek Israel.

Junie 1967
Israel tree in stryd met die verenigde magte van Egipte, Sirië en Jordanië, in dít wat bekend word as die “Sesdaagse Oorlog”. Israel neem die Sinai Skiereiland, Golan Hoogtes, die Wes-Oewer en Oos-Jerusalem oor. Israel het nou toegang tot sy geskiedkundige heilige plekke, insluitende die Wesmuur by die Tempelberg.

6 Oktober 1973
In dít wat bekend staan as die “Yom Kippoer-oorlog” omdat dit op die Versoendag geveg is, weerstaan Israel invalle deur Egipte en Sirië. Israel, Egipte en Jordanië kom later ooreen op ’n Verenigde Nasie skietstilstand.

6 Junie 1982
Israeli magte val Libanon binne en omsingel Beiroet teen 14 Junie. In Februarie 1985 onttrek Israeli magte eensydig uit Libanon, maar behou ’n “veiligheidsone” in die suide van Libanon, wat hulle behou totdat militêre eenhede in Mei 2000 onttrek.

In 1947 is Jerusalem afgeskort deur die Verenigde Nasies en is die stad toe verdeel onder Arabiese en Joodse beheer. In Mei 1948 verklaar die eerste minister, Dawid Ben-Gurion, Israel as ’n onafhanklike staat. Israel verdedig homself suksesvol teen die aanval van die Arabiese Bond. Gedurende die Sesdaagse Oorlog van 1967, verower Israel die hele Jerusalem en plaas dit, vir die eerste keer sedert die Romeinse vernietiging in 70 n.C., ten volle onder Joodse beheer.

Die toekoms van die wêreld hang grootliks af van die toekoms van hierdie stad. Vir die Jode was Jerusalem die stad van die groot profete en die hoofstad van die Koninkryk van Israel en Juda onder koning Dawid en sy seun, koning Salomo. Die eerste en tweede tempels was die middelpunt van aanbidding totdat die stad in 70 n.C. deur die Romeine vernietig is. Jerusalem is ook, ná die stede Mekka en Medina, die derde heiligste stad van Islam. Die Moskee van Omar – ook genoem die “Rotskoepel” – is in 691 n.C. voltooi en oorheers van­dag die Tempelberg. Die Arabiese woord vir die heilige plek is “al-Haram as-Sharif” wat “die Edele Heiligdom” beteken. Moslems glo dat Mohammed vanaf daardie plek in die hemel opgevaar het. Christene vereer dié stad as die plek waar hul Verlosser in die tempel onderrig gegee het – en later gekruisig is. Christene glo dat Jesus sal terugkeer om Sy koninkryk, met Jerusalem as wêreldhoofstad, te vestig.

Die Tempelberg is die fokuspunt vir Moslems en Jode wat vir meer as 1,300 jaar – sedert ’n Arabiese handelaar, Mohammed, die godsdiens van Islam 1,300 kilometer Suidoos van Jerusalem gestig het – in die Midde-Ooste in konflik is. Islam se Rotskoepel staan nou waar Salomo se tempel eens gestaan het. Jode word nie toegelaat om op die Berg self te bid nie, dus gaan hulle na die Wesmuur – of Klaagmuur – aan die voet van die Berg om te bid. Jode smag daarna om religieuse teenwoordigheid op die Tempelberg self, te hê.

Op 13 September 1993 het hoop op vrede opgevlam toe Israel en die Palestynse Bevrydingsorganisasie ’n “Deklarasie van Beginsels” in Washington, D.C. onder­teken het. Waarnemers is so bemoedig deur hierdie gebeurtenis dat die 1994-Nobel Vredesprys gesament­lik toegeken is aan die Palestynse leier, Yasser Arafat, die Israelse Eerste Minister, Shimon Peres en Minister van Buitelandse Sake, Yitzhak Rabin.

In Mei 1994 onderteken Israel en die Palestyne ’n tussen­tydse ooreenkoms wat tot toenemende Pale­stynse selfbestuur in die Wes-oewer en Gazastrook lei. In November 1995 spat die vredesproses egter aan skerwe, toe ’n Israeliese ekstremis ’n sluipmoord op die Eerste Minister, Yitzhak Rabin, uitgevoer het. Net ’n week voor sy dood het Rabin aan joernaliste te kenne gegee dat hy beplan om voort te gaan met onderhandelinge met Sirië.

Rabin se dood het ’n skaduwee oor die vredesproses gegooi. Tog het Israeli’s en Palestyne steeds gepoog om vir vrede te onderhandel. In Oktober 1998 word die “Wyerivier Memorandum” onderteken wat stappe daar­stel om die tussentydse ooreenkoms van 1995 in werking te stel, met Mei 1999 as teikendatum vir die finale oplossing van die Israeli-Palestynse konflik. Geen oplossing kon egter gevind word nie. Die “Camp David”-beraad van Julie 2000, wat deur die Amerikaanse President, Bill Clinton, saamgeroep is, kan nie daarin slaag om ’n finale vredesooreenkoms te formuleer nie – ’n beklemtoning van die feit dat Israel en die Palestyne albei Jerusalem as hul uitsluitlike hoofstad beskou en nie wil hê dat die ander vrye beheer van hierdie historiese stad verkry nie.

In September 2000, toe hy nog die leier van die opposisie was, besoek die Israelse Eerste Minister, Ariel Sharon, die Tempelberg. Dit gee aanleiding tot oproerige Palestynse betogers. In die daaropvolgende weke neem geweld toe – honderde Palestyne en Israeli’s sterf of word gewond. Dit was die ergste ge­weld wat die streek in vier jaar beleef het. Amerikaanse pogings om Israel en die Palestyne te versoen, was onsuksesvol. Toe Sharon, ’n hooffiguur in baie van Israel se militêre bedrywighede oor die jare, Eerste Minister word, het baie Arabiere hul teenstand teen die staat Israel verskerp. Die godsdienskonflik, met sy oorsprong in Jerusalem, laat die intifada (Arabies vir “opstand”) weer opvlam en die geweld word regoor die streek uitgebrei.

Meer as 200,000 Israeli’s woon in ongeveer 150 nedersettings dwarsoor die Wes-oewer en Gaza. Pale­stynse gemeenskappe in Hebron, Jerigo, Nablus en Bethlehem is ook oor die streek versprei. Konflik tussen die Israeli’s en Palestyne neem toe; vroeg in Desember 2000 berig die Associated Press dat 1,954 Palestyne en 683 Israeli’s reeds omgekom het sedert die intifada ’n aanvang geneem het. Sedert 2001 het Israeli’s gereeld die teiken van selfmoordbomaanvalle geword. In reaksie hierop het die Israeli’s met militêre geweld in die Wes-oewer opgetree.

Die Weste se siening van Midde-Oosterse geweld en die verwantskap daarvan met wêreldterreur, het op 11 September 2001 vir altyd verander toe terroriste die tweelingtorings van die Wêreldhandelsentrum in New York vernietig en die Pentagon in Washington, D.C. beskadig het. Die Business Week-tydskrif noem die aanval ’n “oorlogsdaad” (24 September 2001). Na die aanvalle is die hoofopskrif in die Economist-tydskrif: “Die Dag toe die Wêreld verander het” (15-21 Sep­tember 2001). Toe, op 20 September 2001, verklaar president George W. Bush voor ’n gesamentlike sessie van die Kongres, oorlog op internasionale terrorisme. ’n Koalisie, onder leiding van Amerika, span kragte saam met die Afghaanse verdedigingsmag in ’n poging om al-Qaeda magte te verdryf en te vernietig. Maar dwars­deur 2002 gaan terroriste voort met hul internasionale aanvalle op verskeie lande, insluitend ’n aanval in Okto­ber 2002 op Bali, Indonesië, waarin talle Australiërs en Indonesiërs, sowel as twee Suid-Afrikaners, sterf. Die Economist-tydskrif reageer hierop deur ’n aankondiging op die voorblad dat ons ons nou in ’n “Wêreld van Terreur” bevind.

Die meeste Moslems beskou hulself nie as terroriste nie en steun ook nie die terreur wat deur al-Qaeda gevoer word nie. Daar is ongeveer 1,2 biljoen Moslems regoor die wêreld waarvan tussen ’n kwart en ’n derde in die Midde-Ooste woon. Tog, terwyl die oorgrote meerderheid Moslems hulself as vredeliewend beskou, gebruik ’n klein groepie ekstremiste wat nasies omver wil gooi ten einde hul doel te bereik, hul godsdiens as ’n gemeenskaplike belang.

Onstabiliteit blyk ’n lewensfeit te wees in die 21ste eeu. Die VSA poog nou om ’n alliansie aan te voer as teen­voeter teen potensiële terreurbedreigings – laas­ge­noemde gesteun deur wat President George W. Bush ’n “spilpunt van onheil” noem en wat die twee Midde-Oosterse lande, Iran en Irak, insluit. Dit is bekend dat Pakistan en Indië, net soos Israel, oor kernwapens beskik. Ander lande, soos Noord-Korea, word alge­meen daarvan verdink dat hulle oor kernvermoëns beskik. In vandag se wankelende omgewing, word kernoorlog deur baie van die wêreld se kenners as ’n besliste moontlikheid – selfs waarskynlikheid – beskou. Sal toekomstige missiele, indien grootskaalse oorlog in die Midde-Ooste uitbreek, moontlik lei tot kern-, biologiese- en chemiese vernietiging van Israel en sy omliggende nasies? Sal die Heilige Land die fokuspunt van nog ’n Wêreldoorlog word?

Wat lê voor?

Baie waarnemers dink dat dit dwaas of selfs onmoontlik is om die toekoms te voorspel. God het egter vir ons profesieë in die Bybel gegee wat ons kan help om te verstaan wat in die eindtyd in en om Jerusalem sal plaasvind. Wat sal, volgens die Bybel, uiteindelik gebeur? “Kyk, daar kom ’n dag vir die Here; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem! Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie” (Sagaria 14:1-2).

“Al die nasies” sal in hierdie konflik, wat gedurende daardie tydperk as die “Dag van die Here” sal bekendstaan veg – dit is die jaar net voor Jesus Christus se geprofeteerde wederkoms. Watter belang­rikste profetiese gebeure sal egter tot die oorlog in Jerusalem lei? “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheus 24:21-22).

Die boek Openbaring, of die Apokalips, onthul die dramatiese eindtydgebeure wat tot die glorieryke wederkoms van Jesus Christus sal lei. Openbaring 6 beskryf die gebeure aanleidend tot die “Dag van die Here”. Die ganse mensdom sal die dramatiese en vrees­aanjaende aktiwiteite aan die hemele sien. Openbaring 6:12-14 beskryf hierdie “hemelse tekens” as die “sesde seël”. Jesus sê: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word” (Mattheus 24:29). Hierdie hemelse tekens gaan die “Dag van die Here” vooraf (Joël 2:30-31) – die jaar van God se oordeel oor die nasies. Dan, na al hierdie gebeure, sal die Messias – Jesus Christus – oor al die nasies op die aarde regeer (Openbaring 11:15).

Watter rol sal Jerusalem in hierdie komende koninkryk speel? Sal dit die toekomstige hoofstad van die wêreld wees? Dalk nog in u leeftyd? Die Bybel gee aan ons die wonderlike en bemoedigende voorspelling: “Die woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem. En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom” (Jesaja 2:1-2).

Berge is ’n Bybelse simbool vir ’n koninkryk of regering. Jesaja stel dit duidelik dat die Here se Koninkryk in Jerusalem gevestig sal word en dat “al die nasies daarheen sal stroom”. Dit sal nie ’n regering in die hande van selfsugtige mense wees nie. Die mensdom ken nie die weg na blywende vrede nie omdat hy die heerskappy en oppermag van God oor die mens se belange, verwerp het.

God se regering op aarde sal vanuit Jerusalem, die toekomstige wêreldhoofstad, geadministreer word, soos bevestig is deur Sagaria met ’n pragtige beskrywing van die lewe in die toekoms. Let op die boek Sagaria: “So sê die Here: Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon; en Jerusalem sal genoem word: Die stad van trou, en die berg van die Here van die leërskare: Die heilige berg. So sê die Here van die leërskare: Daar sal weer ou manne en ou vroue op die pleine van Jerusalem sit – elkeen met sy stok in sy hand vanweë die veelheid van hulle dae. En die pleine van die stad sal vol wees van seuntjies en dogtertjies wat op die pleine daarvan speel” (Sagaria 8:3-5).

Vandag is die strate van Jerusalem egter gevul met bitter vyande wat ’n ryk erfenis en verlede, maar ook ’n geskiedenis van konflik, deel.

Bittere familie-wedywering

Om die huidige Midde-Oosterse konflik te verstaan, moet ons die geskiedenis van diegene wat in konflik is – die Jode en die Arabiere – verstaan. Historici wys dikwels op die “familie”-verband tussen hierdie twee volke; sommiges verwys na hulle as “neefs” omdat beide se oorsprong nagespeur kan word tot by die groot patriarg, Abraham.

Die Judaïsme, Christendom en Islam eer almal vir Abraham as een van hul patriarge. In ’n hoofartikel van ’n Time-tydskrif waarin na hom verwys word as “Godsdiens se Superster”, word daar gevra: “Abraham het die geskiedenis verander deur slegs een God aan te neem as sy eie en hy word as heilig beskou deur die Moslems, die Jode sowel as die Christene. Is dit moontlik dat hierdie gemeenskaplike Bybelse held kan help om die wêreld te genees?” (30 September 2002, bl. 5).

Die antwoord is: nie in hierdie tyd nie! Maar in die wêreld van môre sal Abraham, as “erfgenaam van die wêreld” (Romeine 4:13) onder Jesus Christus en as een van die heiliges in God se koninkryk, help om die weg na vrede te onderrig wanneer al die nasies na Jerusalem sal kom (sien Jesaja 2:2-4).

In die 19de eeu v.C. het die Skeppergod met Abraham (toe “Abram” genoem) begin werk. God het telkemale sy geloof getoets; hom selfs ’n seun op sy oudag beloof – ’n belofte wat lank uitgestel is. Abram se vrou, Sarai, wat nie kon kinders baar nie, het Abram aangemoedig om ’n kind by haar Egiptiese diensmeisie, Hagar, te hê. Abram was ses-en-tagtig toe die kind gebore is en hy het die seun aan wie Hagar geboorte geskenk het, Ismael genoem (Genesis 16:15-16). Die meerderheid Arabiere vandag voer hul oorsprong terug na Ismael en Abraham.

Toe Abram 99 jaar oud was, sluit God met hom ’n verbond dat hy die “vader van ’n menigte van nasies” sou wees. God verander toe Abram se naam na Abraham, wat “vader van ’n menigte van nasies” beteken. God het vir Abraham en Sarai, wie se naam na Sara verander is, belowe dat hulle ’n seun, genaamd Isak, sou hê. God het aan Abraham gesê: “Ek sal my verbond met hom [Isak] oprig as ’n ewige verbond vir sy nageslag ná hom” (Genesis 17:19). Een van Isak se kleinseuns, Juda, sou die voorvader van die Jode, wat nou die moderne land bekend as Israel bewoon, wees.

Nadat Isak gebore is, het Sara daarop aangedring dat Abraham vir Hagar en Ismael wegstuur. Sara het vir Abraham gesê: “Jaag hierdie slavin en haar seun weg, want die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erwe nie” (Genesis 21:10). Abraham was baie ontsteld deur hierdie versoek, maar God het vir Abraham gesê: “Laat dit nie verkeerd wees in jou oë ter wille van die seun en van jou slavin nie. Luister na Sara in alles wat sy van jou verlang, want deur Isak sal daar vir jou ’n nageslag genoem word. Maar Ek sal ook die seun van die slavin tot ’n nasie maak, omdat hy jou kind is” (Genesis 21:12-13).

Die jaloesie en wedywering tussen hierdie twee volke duur tot vandag toe voort. Nog ’n dimensie wat help om vandag se voortslepende konflik te verduidelik, is die wedywering tussen Jakob en Esau, Isak se tweeling­seuns. Esau was die eersgeborene en erfgenaam van die familiegeboortereg. Maar toe hy honger was, verkoop Esau sy geboortereg aan Jakob vir ’n bakkie sop. Later vermom Jakob hom om soos Esau te lyk en mislei sy bejaarde vader, Isak, om aan hom die geboorteregseëning te gee (Genesis 25; 27). Wat was Esau se reaksie? “En Esau was Jakob vyandig gesind vanweë die seën waarmee sy vader hom geseën het, en Esau het in sy hart gedink: Die dae van die rou oor my vader is naby; dan sal ek my broer Jakob doodmaak” (Genesis 27:41).

Hierdie bittere wedywering sou deur die geskiedenis voortduur. Esau word ook Edom genoem (sien Genesis 36). Die Edomiete het met die Ismaeliete, aangevoer deur Esau self, ondertrou (sien Genesis 28:9). Die afstammelinge van hierdie mense was voortdurend in konflik met Israel. Die leierstam van Edom, die Amale­kiete, het Israel voortdurend geteister (sien Eksodus 17). God het gesê: “Oorlog het die Here teen Amalek van geslag tot geslag” (Eksodus 17:16).

Een van die Psalms bevestig ook geskiedkundig sowel as profeties dat Edom, Ismael en Amalek saam­gesnoer is in ’n bondgenootskap teen Israel. “Hulle sê: Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie. Want hulle het van harte saam raad gehou; teen U sluit hulle ’n verbond: die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die Hagareners, Gebal en Ammon, en Ámalek, Filistéa saam met die inwoners van Tirus. Ook het Assur by hulle aangesluit; hulle is ’n arm vir die kinders van Lot. Sela” (Psalm 83:4-9).

Watter nasies het hulself voortdurend daartoe ver­bind om Israel se naam te vernietig?

In Julie 1968 het Palestynse leiers die “Palestynse Nasionale Handves” onderteken wat die vernietiging van die Staat Israel ten doel gehad het. In 1993, kort voor die ondertekening van die “Deklarasie van Beginsels” met Israel, teken PBO-voorsitter, Yasser Arafat, ’n ooreenkoms wat hierdie eis ophef en instem tot die verandering van die handves, maar tot vandag toe bly dit ’n vurige geskilpunt. Soos Psalm 83 aandui, sal ’n bond van Arabiese nasies hul by Assirië (vandag bekend as Duitsland) aansluit. Kyk op u Bybelkaart na die antieke ligging van Moab, Ammon en Edom, soos genoem in Psalm 83 – volke wat ook prominent in Daniël se eindtydprofesie genoem word. Dit is al die Moslemvolke van die Midde-Ooste!

Begrip van hierdie bittere familiewedywering wat begin het by Jakob en Esau, gee vir ons ’n beter begrip van hul afstammelinge se hedendaagse oorloë en konflikte, veral in die Midde-Ooste.

Daniël se bekende profesie

Die Bybel toon duidelik aan dat ’n groot geskied­kundige mag in die Midde-Ooste sal ingryp. Histories het die Romeinse Ryk in Jesus se tyd ’n Pax Romana – “Romeinse Vrede” – in die Heilige Land afgedwing.

Die profeet Daniël onthul dat daar in die eindtyd ook ’n Romeinse Ryk sal wees wat ’n belangrike rol in eindtydkonflikte in die Midde-Ooste sal speel. Daniël 2 vermeld dat koning Nebukadnésar al die wyse manne van Babilon sou teregstel as hulle hom nie kon vertel wat sy droom was en ’n vertolking daarvan kon gee nie. Die Skeppergod het die profeet Daniël gebruik om die opkoms en val van groot ryke te onthul, selfs tot in ons moderne tyd. Hier volg wat Daniël aan die koning vertel het: “Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnésar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur” (Daniël 2:28). Daniël vertel Nebukadnésar dat God hom ’n koning onder konings gemaak het en beskryf die beeld wat die koning in ’n visioen gesien het. Die beeld het ’n kop van goud gehad. Daniël het aan koning Nebukadnésar vertel: “Ú is die hoof van goud” (vers 38). Die oorblywende elemente van die groot beeld simboliseer die groot ryke wat na die Babiloniese ryk sou volg.

Wie was hierdie ryke? Alle agtenswaardige Bybel­kenners stem saam oor hul identiteit en hul profetiese vervulling. Daniël beskryf voorts wat uiteindelik met die groot beeld sal gebeur. Die kop van goud het die Babiloniese Ryk van 625 tot 539 v.C. voorgestel. Hierna het die Medo-Persiese Ryk van 558 tot 330 v.C. gevolg, voorgestel deur die bors en arms van silwer. Die maag en bobene van brons het die Grieks-Macedoniese Ryk van Alexander die Grote van 333 tot 31 v.C. voorgestel. Die twee bene van yster stel die Romeinse Ryk van 31 v.C. tot 476 n.C. voor. Uiteindelik word die toekomstige herlewing van die Romeinse Ryk deur die tien tone aan twee voete van yster, gemeng met klei, voorgestel.

Die beeld in Nebukadnésar se droom

Kop van Goud
Babiloniese Ryk
625 tot 539 v.C.

Bors en Arms van Silwer
Medo-Persiese Ryk
558 tot 330 v.C.

Maag en Bobene van Brons
Grieks-Macedoniese Ryk
333 tot 31 v.C.

Bene van Yster
Romeinse Ryk
31 v.C. tot 476 n.C.

Tone van Yster, gemeng met Klei
Romeinse Ryk
(Toekomstige Ryk)

Hoe weet ons dat die voete van die beeld tot in ons moderne tye sal duur? Daniël beskryf ’n groot rots wat die beeld op sy voete tref. Hy beskryf ook die rots se betekenis: “Maar in die dae van dié konings [gesim­boliseer deur die tien tone] sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44). Die Koninkryk van God wat “al daardie koninkryke verbrysel”, is egter nog in die toekoms geleë!

Die Mag in die eindtyd wat uiteindelik die Midde-Ooste sal oorheers, sal ’n herleefde Romeinse Ryk wees, soos gesimboliseer deur ’n dier in die profesieë van Openbaring en Daniël. Hierdie groot mag sal polities, militêr en ekonomies wees. Die huidige Euro­pese Unie is op pad om al drie dimensies van daardie mag te volbring. Dit sou die potensiaal hê om ’n mag ten goede te wees, maar die geskiedenis leer ons dat groot ryke en politiese alliansies hul ook tot diktatoriale mag kan wend vir die doel van wêreld­uitbrei­ding en oorheersing, sonder om die oorwonne nasie-state se welstand in ag te neem. Die Skeppergod sal só ’n ryk in die toekoms gebruik, net soos Hy in die verlede gedoen het. God het Assirië gebruik om die rebelse koninkryk van Israel te straf. In die openingsverse van Jesaja 10 kla God Israel aan vir haar sondes en sê dan: “Wee Assur! die roede van my toorn en ’n stok is hy – in hulle hand is my grimmigheid! Ek sal hom stuur teen ’n roekelose nasie, en Ek sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid, om buit te maak en roof in te samel en om hulle tot ’n vertrapping te maak soos modder van die strate. Maar hy bedoel dit nie so nie, en sy hart dink nie so nie; maar om te verdelg, is in sy hart, en om nasies uit te roei, nie min nie” (Jesaja 10:5-7).

God sal die eindtydse afstammelinge van Assirië – die nasie van Duitsland – weer eens gebruik om die moderne afstammelinge van die antieke Huis van Israel – die Amerikaners en Britse afstammelinge, insluitend die Suid-Afrikaners – te straf. Duitsland is tans die leidende nasie van die Europese Unie. Hou ontwik­ke­linge in Europa dop. Om meer te leer oor Duitsland se rol in die eindtydprofesie, skryf gerus vir u gratis afskrif van ons herdrukte artikel, A Fourth Reich?

In Daniël 11 vind ons twee antagoniste: die koning van die Noorde en die koning van die Suide. In antieke tye is Sirië as die koning van die Noorde beskou, maar die Romeinse Ryk het Sirië verower, wat toe in 64 v.C. ’n provinsie van Rome geword het. Bybelprofesie toon aan dat die koning van die Noorde in die eindtyd geïdentifiseer sal word as die herrese Romeinse Ryk. “Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei. Hy sal ook kom in die Pragtige Land [of die Heilige Land], en baie sal struikel; maar hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon. En hy sal sy hand uitsteek teen die lande; ook Egipteland sal nie vrykom nie” (Daniël 11:40-42).

Let daarop dat die koning van die Noorde die “Pragtige Land” – die ligging van die moderne staat van Israel – sal binnegaan. Die feit dat Ammon (deur Bybelkenners geïdentifiseer as die moderne Jordanië), tesame met Edom en Moab, uit sy hand ontsnap, laat baie mense glo dat Jordanië in alliansie met die Europese mag sal wees. Psalm 83 identifiseer die volke wat saam met Assirië teen Israel sal saamstaan. Daardie alliansie sluit Moab, Ammon en Edom in.

Daniël 11:43 gee vir ons ’n aanduiding van die nasies wat in alliansie met die koning van die Suide sal wees. Hierdie nasies is die volke van Noord-Afrika. Vers 40 sê dat die koning van die Suide die koning van die Noorde aanval. Wat sal aanleiding gee tot hierdie aanval? Sal dit die passie van Islamitiese fundamen­taliste wees? Sal dit ’n skielike onderbreking van die olietoevoer na Europa wees? U moet wêreldgebeure in Europa en die Midde-Ooste dophou.

Wie sal die Midde-Ooste inval? Wees op die uitkyk vir ’n herleefde Romeinse Ryk – ’n politieke entiteit wat huidiglik in sy vormingstadium is met die Europese Unie as kern. Vrede sal op Israel in die Midde-Ooste afge­dwing word. Maar, soos ons later sal sien, sal die “Diermag” wat die Midde-Ooste beset, deur die terug­kerende Bevelvoerder van die Hemelse leërmagte, Jesus Christus, oorwin word. Die Koning van konings en Heer van here wat in Openbaring 19 onthul word, sal toesien dat die dier en die valse profeet in die poel van vuur gewerp word. Jerusalem sal deur die Aarde se nuwe Koning, Jesus Christus, beset word. Die naam van die stad sal selfs “Die Here is daar!” genoem word (Esegiël 48:35). Vrede sal uiteindelik in die Midde-Ooste en die Stad van Vrede, Jerusalem, heers.

Sal Rusland die Midde-Ooste beheer?

Sommige kenners van Bybelprofesie glo verkeerdelik dat Rusland die Midde-Ooste sal oorneem voor Christus se wederkoms. Waar kom hierdie verkeerde opvatting vandaan? Dit spruit hoofsaaklik uit ’n mis­opvatting van Esegiël 38, wat so begin: “Verder het die woord van die Here tot my gekom en gesê: Mensekind, rig jou aangesig teen Gog, in die land Magog, die vors van Ros, Meseg en Tubal, en profeteer teen hom” (verse 1-2). Die meeste Bybelkenners identifiseer hierdie mense as dié van Noord-Rusland. Wilhelm Gesenius, ’n 19de-eeuse Hebreeuse geleerde en andere, merk op dat die stad Moskou se naam van die Hebreeuse naam, Meshech, afgelei is. Esegiël gaan voort: “So spreek die Here Here: Kyk, Ek het dit teen jou, o Gog, vors van Ros, Meseg en Tubal! En Ek sal jou weglok en hake in jou kakebene sit en jou laat uittrek en jou hele leër, perde en ruiters, almal volkome toegerus, ’n groot menigte met die groot en die klein skild, wat almal die swaard hanteer; Perse, Kusiete en Putéërs saam met hulle, almal met skild en helm; Gomer en al sy leërs, die huis van Togarma, in die uithoeke van die Noorde, en al sy leërs – baie volke saam met jou” (verse 3-6).

Let op die feit dat die huis van Togarma in die Verre Noorde, dit wil sê, Noord van die Heilige Land, geleë is. Wanneer ’n mens ’n kaart bestudeer, sal gevind word dat Rusland in die Verre Noorde geleë is. Wie sal hulle by Rusland aansluit? Persië word vermeld. Die meeste geleerdes stem saam dat Persië die hedendaagse Iran is. Die Hebreeuse woord vir Ethiopië is Kus, die oostelike tak van dít wat as Indië geïdentifiseer word. Die Hebreeuse woord vir Libië is Put (Put was die derde seun van Gam, volgens Genesis 10:6), waarvan die oostelike tak, net soos Kus, ook as Indië geïdentifiseer word. Magog word met die Mongole en Gomer met Indo-Sjina geïdentifiseer. Togarma word waarskynlik as Siberië geïdentifiseer.

Ons kan oor die algemeen saamstem oor die identiteit van hierdie volke wat in Esegiël 38 genoem word en Bybelprofesie dui aan dat hierdie leërs die Midde-Ooste wel uiteindelik sal binneval. Maar die vraag is: Wanneer? Na Jesus se wederkoms, sal Hy werk vir die totstandkoming van wêreldvrede en die heropvoeding van nasies (vergelyk Jesaja 2; Miga 4). Maar dit sal tyd neem. Al die nasies sal nie outomaties die regering van Jesus Christus aanvaar wanneer Hy terugkeer nie. Selfs Egipte sal skynbaar die Here se opdrag om die Loofhuttefees in Jerusalem te onderhou, veronagsaam (vergelyk Sagaria 14:18-19). Die Russies-Sjinese alliansie wat in Esegiël 38 genoem word, sal aanval nadat die Millennium ’n aanvang ge­neem het – na Christus se wederkoms en nadat vrede in die Heilige Land gevestig is. Let op wat God van die invallende leërmagte sê: “Ek sal optrek teen die land wat ooplê, ek sal kom by rustige mense wat in veiligheid woon; wat almal woon sonder muur en geen grendel of poorte het nie; om buit te maak en roof te rowe, om jou hand uit te steek teen die puinhope wat weer bewoon is, en teen ’n volk wat uit die nasies versamel is, wat vee en goed verwerf het, wat op die middelpunt van die aarde woon” (Esegiël 38:11-12).

Is Israel vandag veilig in dorpe sonder mure, dit wil sê, dorpe sonder militêre beskerming? Natuurlik nie! Esegiël praat van ’n tyd in die toekoms, wanneer Christus vrede na die Heilige Land sal bring. Let op: “Daarom, profeteer, o mensekind, en sê aan Gog: So spreek die Here Here: Sal jy dit nie opmerk in dié dag as my volk Israel veilig woon nie?” (vers 14).

God sal hierdie Oosterse alliansie en sy weermagte vernietig wanneer hulle die hervestigde Israel sal aanval (vergelyk Esegiël 39). Daar sal so baie lyke wees dat dit maande sal neem om almal te begrawe. “En die huis van Israel sal hulle begrawe om die land te reinig, sewe maande lank” (Esegiël 39:12). Die Almagtige God het al die mag in die heelal om Sy wil te verwesenlik. Dit is dwaas vir nasies om teen Hom en Sy plan te veg. Maar die volke sal leer wie in beheer is. Soos God sê: “So sal Ek My dan as groot en as heilig laat ken en Myself bekend maak voor die oë van baie nasies; en hulle sal weet dat Ek die Here is” (Esegiël 38:23).

Wie sal Jerusalem beheer?

Sedert 1967 het Israel in oorloë geveg en vredesverdragte met verskeie Arabiese State onder­handel. Israel was egter nog nooit in staat om met die Palestyne te onderhandel vir ’n permanente vredes­ooreenkoms nie. In Julie 2000 het die Israelse Eerste Minister, Ehud Barak, gedoen wat geen Israeliese onderhandelaar al ooit tevore gedoen het nie – hy het voorgestel dat Israel administratiewe selfbestuur aan die Palestyne in Oos-Jerusalem gee. Maar Barak wou hê dat Israel veiligheidsbeheer oor Oos-Jerusalem be­hou, en die Palestyne het sy voorstel verwerp. Onder­handelinge het misluk en gelei tot die huidige konflik. Wat was die oorsaak van hierdie dooie punt in die onderhandelinge? Die enigste kwessie wat onoplosbaar blyk te wees, is: “Wie sal Jerusalem beheer?”

In 1980 het Israel Jerusalem as sy “verenigde en ewige hoofstad” verklaar. Die Palestyne wil Jerusalem ook graag as hul hoofstad hê. Voor sy dood in 2002, sit Faisal Husseini, ’n verteenwoordiger van die Palestynse Owerheid in Jerusalem, die Palestynse eise uiteen naamlik dat Israel “uit die hele Oos-Jerusalem na die voor-1967 grense moet onttrek … dat alle vestings en Israeliese buurte in Oos-Jerusalem ontbind moet word … dat Israel die Palestyne moet vergoed vir die skade wat hy veroorsaak het, insluitend die verandering in die stad se karakter en die lewens van sy burgers” (The Jerusalem Post, 19 November 1999).

Israel het gestaan by sy houding dat Jerusalem die onverdeelde hoofstad van Israel moet bly. Soos die Israelse woordvoerder, Gadi Baltiansky, in 1999 verklaar het: “Daar sal geen onderhandelinge oor Jerusalem wees nie, en as die Palestyne anders dink, is dit jammer. Hierdie is ’n rooi lyn wat Eerste Minister Barak nooit sal oorsteek nie” (ibid.). Selfs Barak se voorstel vir “gedeelde oppermag” het nie die toegewing ingesluit dat Jerusalem nié ’n verenigde stad onder Israeliese veiligheidsbeheer sou wees nie. In die jare sedertdien, terwyl hulle die intifada in die gesig gestaar het, het Barak se opvolgers geen ywer aan die dag gelê om sy voorstel, wat deur die Israeli’s as vrygewig en die Palestyne as onaanvaarbaar beskou is, weer te herhaal nie.

Die Verenigde State het Israel se kant in hierdie dispuut gekies en homself gevolglik ’n teiken vir internasionale gramskap gevind. Op 30 September 2002 onderteken president Bush kongreswetgewing wat van sy administrasie vereis het om Jerusalem as Israel se hoofstad te erken. Wat was die reaksie? Kaïro se leidende koerant berig: “Die nuwe VS-wetgewing wat van alle amptelike Amerikaanse dokumente vereis om die besette Stad, Jerusalem, as hoofstad van Israel te erken, het baie driftige reaksie dwarsdeur die Islamitiese wêreld uitgelok. Duisende betogers het deur Gaza gestap en gedreig om selfmoordbomaanvalle binne Israel te verskerp, terwyl gewilde godsdiensleiers ’n beroep op die Arabiese en Islamitiese parlemente gedoen het om sterk standpunt in te neem teen hierdie nuutste uitbarsting deur, onder andere, ’n verbod op Amerikaanse goedere te plaas” (Al-Ahram, 16 Oktober 2002).

Die gaping tussen sienings oor die opperheerskappy in Jerusalem is groot en diep! Wat dink die inter­nasionale gemeenskap van hierdie konflik? Wat is die oplossing? In 1980, toe Israel Jerusalem as sy “verenigde en ewige hoofstad” verklaar het, het die Vatikaan sterk beswaar aangeteken teen hierdie verklaring. Pous Johannes Paulus II skryf in 1984 in sy apostoliese brief, Redemptoris Anno, dat hy graag wil hê Jerusalem moet ’n “spesiale internasionale gewaarborgde status” geniet. Selfs so vroeg soos 1975 het die Amerikaanse Staatsekretaris, Henry Kissinger, ’n soortgelyke voorstel gemaak naamlik dat Jerusalem ’n internasionale stad moet word en dat beheer oor die heilige plekke en godsdiensadministrasie aan die pous gegee sal word.

Op 28 Mei 1998 het Pous Johannes Paulus II met die nuwe Jordaniese ambassadeur in die Vatikaan gepraat. Reuters het as volg verslag gelewer van sy kommentaar: “Die lang geskiedenis van die stad Jerusalem, gevul met beproewinge, sal ’n nuwe drumpel in die jaar 2000, met die aanbreek van die derde millennium van Christendom, bereik …. Dit is my innige hoop dat dit mag lei tot ’n formele erkenning, met internasionale waarborge, van die unieke en heilige identiteit van die Heilige Stad”.

Sal nie-Israeli’s Jerusalem beheer? Die apostel Johannes sê dat dit die geval sal wees! “En ’n riet soos ’n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid. Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap” (Openbaring 11:1-2).

Heidene sal die “heilige stad”, Jerusalem, vir 42 maande beheer. Die boek Openbaring beskryf ’n tydperk van drie-en-’n-half jaar wat strek tot en met die wederkoms van Christus. Twee profete van God sal met groot krag gedurende daardie selfde periode van drie-en-’n-half jaar of 1,260 dae getuig (Openbaring 11:3-15). Hierdie twee getuies sal wedywer met die magte van ’n herleefde Romeinse Ryk wat in daardie tyd die Midde-Ooste sal oorheers.

Sal tempelofferandes weer heringestel word?

Baie godsdiensleraars verstaan slegs ’n deel van Bybelprofesie. Hulle verwag dat die Joodse ortodokse owerheid in Israel weer eens die tempeloffers sal instel. Groepe soos die Derde Tempelinstituut in Jerusalem tref huidiglik voorbereidings om priesters op te lei en die artikels, wat nodig sal wees vir die herinstelling van offerandes, te versamel. Sal die Joodse priesterdom weer eens diere-offerandes bring? Sommige Joodse groepe doen groot moeite om dit te laat plaasvind.

Sommige godsdiensgroepe en individue het oor­boord gegaan in hul begeerte om die profesie in vervul­ling te sien. Die Israelse owerheid het hul veiligheids­magte gedurende Desember 1999 en Januarie 2000 op spesiale gereedheids­grondslag geplaas omdat verskeie godsdiensgroepe, waarna verwys word as “apokalip­ties”, na bewering beplan het om “profesie aan te help” met hul eie pogings. Hulle het gedreig om die Rots­koepel op te blaas ten einde die oprigting van ’n derde tempel moontlik te maak.

Ware Christene erken dat God in beheer is. Hy het nie ons hulp nodig om profesieë te volbring nie! In elk geval, ware Christene maak nie ’n punt daarvan om geweld te veroorsaak en geboue op te blaas nie. Selfs sommige Joodse ekstremiste het gedreig met geweld rondom die Tempelberg in ’n poging om hul sin te kry. Enige sodanige geweld op die Tempelberg kan ’n Arabiese opstand, of selfs ’n jihad (heilige oorlog), veroorsaak wat internasionale gevolge mag hê.

Die Rotskoepel, ’n heilige moskee vir die Moslems, staan op die Tempelberg waar daar geen Joodse tempel is nie. Tog verwag baie Jode, en sommige Christene, ’n soort goddelike ingryping wat dit moontlik sal maak om ’n derde tempel op die Tempelberg te bou.

Wat sal gebeur? Profesie dui aan dat die offerandes wél heringestel sal word. Die Romeinse leërs het Jerusalem en die tweede tempel in 70 n.C. vernietig. Die Jode het sedertdien geen tempeloffers gebring nie. Een van die belangrikste vrae wat nou gevra moet word, is: Is ’n tempel nodig vir die herinstelling van die offerandes?

Die Babiloniese Ryk van die sesde eeu voor Christus het die koninkryk van Juda verower. Die Babiloniërs het duisende Joodse gevangenes na Babilon weggevoer. Die leërs van koning Nebukadnésar het ook die eerste tempel in Jerusalem in 586 v.C. vernietig. Uiteindelik, onder die Persiese Ryk, het koning Kores ’n groep uitgewekenes ondersteun om na Jerusalem terug te keer. Toe die teruggekeerde Jode uiteindelik die fondasie van die tweede tempel gelê het, was daar vreugde en hartseer – vreugde omdat hulle nou ’n sentrum vir aanbidding gehad het en hartseer omdat die tweede tempel baie eenvoudig was in vergelyking met die voormalige glorieryke tempel, gebou deur koning Salomo. Maar let op die Jode se gesindheid. In werklikheid het hulle offerandes gebring voordat die fondament van die tempel gelê is. “Van die eerste dag van die sewende maand af het hulle begin om brandoffers aan die Here te bring, alhoewel die fondament van die tempel van die Here nog nie gelê was nie” (Esra 3:6). Die Jode het die Loofhuttefees met daaglikse offerandes in hul onvoltooide tempel gevier.

Neem kennis van nog ’n belangrike punt. Waarheen het die uitgewekenes teruggekeer? Esra verwys na die ligging van die heilige plek as die huis van God, toe die tempel nog nie gebou was nie: “En in die tweede jaar ná hulle aankoms by die huis van God in Jerusalem, in die tweede maand …” (vers 8). Dit het rondom 536 v.C. plaasgevind. Daar was egter nog geen gebou nie. Die derde hoofstuk van Esra beskryf voorts die lê van die tempel se fondament. Offerandes moet in ’n heilige plek gebring word, maar in hierdie geval is offerandes daagliks gebring sonder die teenwoordigheid van ’n fisiese gebou wat ’n tempel genoem is.

Die heiligste plek wat vandag onder beheer van die Joodse godsdiensowerhede is, is die Wesmuur of die Klaag­muur. Dit is die westelike steunmuur van die Tempel­berg. Jode word nie toegelaat om in die open­baar op die Tempelberg te aanbid nie; slegs Moslems geniet tans hierdie voorreg. Dit blyk dus nog onbekend te wees waar die Jode met offerandes sal begin. Dit sal moontlik ’n nasionale krisis verg om daardie gebeurtenis te bespoedig.

Jesus praat van ’n tyd wanneer vyandelike magte die Heilige Land sal binneval en die stad Jerusalem sal omsingel. “En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is” (Lukas 21:20). Beskou hierdie in die konteks van Jesus se Olyfbergprofesie wat ook in Mattheus 24 en Markus 13 beskryf word. ’n Magtige alliansie van nasies sal die Midde-Ooste inval en die streek oor­heers, soos voorspel is deur die profeet Daniël (ver­gelyk Daniël 11:41).

Daar sal internasionale waarborge wees – afgedwing deur ’n Supermoondheid – wat Jerusalem sal beskerm. Die skyn-Christendom van ’n herleefde Romeinse Ryk sal egter ook deur hierdie waarborge afgedwing word. Daar sal ’n herleefde Pax Romana (“Romeinse vrede”) wees, opgelê deur dít wat die Bybel die eindtydse “dier” noem (sien Openbaring 13).

Die oorname van Jerusalem deur die “dier”-super­moondheid kondig die tyd van die “groot verdrukking” aan en “dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word” (Lukas 21:22).

Hoewel die woord “Jerusalem” die betekenis het van “stad van vrede”, het Jerusalem menige bloedige gevegte en oorloë oor die millennia beleef. Maar binnekort sal hierdie groot stad waarlik die stad van vrede vir alle mense wees. Dit is goeie nuus waarna u kan uitsien!

Ons moet bewus wees van hierdie grootse gebeure wat in die Bybel voorspel word. Die geprofeteerde “groot verdrukking” is hoofsaaklik ’n tyd van sorge vir die VSA en afstammelinge van Brittanje (wat Suid-Afrikaners insluit) en alle afstammelinge van die eertydse patriarg, Josef. Toe hy op sterwe gelê het, het Jakob twee van sy kleinseuns – Josef se seuns, Efraim en Manasse – geseën en gesê: “die Engel wat my uit elke teëspoed verlos het – mag Hy die seuns seën, en mag deur hulle my naam [Jakob d.i. Israel] genoem word en die naam van my vaders Abraham en Isak, en mag hulle vermeerder in die land in menigte” (Genesis 48:16).

Die eindtydprofesieë wat met Jakob (of Israel) verband hou, verwys oor die algemeen na die afstam­melinge van Efraim en Manasse, aan wie Jakob se naam gegee is. Die Skrif gee ’n eindtydwaarskuwing van ’n groot “verdrukking”. Oor wie sal hierdie verdrukking kom? “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ’n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jeremia 30:7). Om meer te wete te kom oor hierdie “tyd van benoudheid vir Jakob” en wat dit vir Suid-Afrika [1] en ander Britse afstammelinge inhou, skryf gerus vir u gratis eksemplaar van ons boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook vir Suid-Afrika?

Wees op die uitkyk vir die gruwel van verwoesting

Die geprofeteerde “groot verdrukking” sal ’n unieke tyd in die menslike geskiedenis wees – ’n tyd soos daar nog nooit was nie. Wat moet ons volgens die Bybel doen? Jesus sê vir ons: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36).

Waarvoor moet u op die uitkyk wees in die Midde-Ooste? Toe Jesus op die Olyfberg was, het Hy ’n beskrywing van die eindtydprofesie gegee, met ooreen­stemmende beskrywings in Mattheus 24, Lukas 21 en Markus 13. Jesus se dissipels het Hom gevra vir ’n teken van Sy koms en die einde van die wêreld, of die eindtyd. Hy het van godsdiensmisleiding, oorloë, honger­snood, pessiektes en aardbewings gepraat. Hierdie neigings onthul, in volgorde, die betekenis van die vier perderuiters van Openbaring 6, wat aan die einde van hierdie tydperk, hulle gevaarlike galop sal versnel. Jesus verklaar: “Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte” (Mattheus 24:8).

Godsdiensvervolging en martelary sal volg: “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” (Mattheus 24:9-11).

Die Waarheid sal egter steeds gepreek word! “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheus 24:14). Namate Jesus Christus deure open vir die evangelie om in krag en dekking toe te neem, sal u weet dat die einde nader kom. Moenie aan die slaap wees vir wêreldtoestande en profetiese gebeure wat voor u oë verskerp nie!

Jesus gee aan ons ’n sleutelteken waarvoor ons moet uitkyk – ’n sleutelteken wat die begin van die groot verdrukking en die probleme in die Heilige Land sal aandui. Hy waarsku: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug” (Mattheus 24:15-16).

Wat is hierdie “gruwel van die verwoesting”?

Eeue voor Christus het ’n engel aan die profeet, Daniël, ’n visioen omtrent eindtydgebeure gegee. Toe Daniël vra wat die betekenis van die boodskap is, sê die engel vir hom: “Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe” (Daniël 12:9). Nou, meer as 2,500 jaar later, kan ons daardie profesieë verstaan. Let op ’n verdere belangrike besonderheid: “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend-tweehonderd-en-negentig dae verloop” (Daniël 12:11). God onthul dat, teen die eindtyd kort voor die wederkoms van Christus, die daaglikse offerandes gestaak of “weggeneem” sal word. Dit impli­seer natuurlik dat die offerandes eers begin moet word voordat dit gestaak kan word! Maar wat presies is hierdie “gruwel van die verwoesting”?

Volgens die geskiedenis het die Griekse heerser, Antiochus Epifanes, in 167 v.C. ’n edik uitgereik wat verdere Joodse offerandes in die tempel te Jerusalem verbied het. “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel” (Daniël 11:31).

Behalwe die staking van die daaglikse offerandes in die tempel, het Antiochus ook ’n standbeeld van Jupiter Olympus in die Allerheiligste opgerig; ’n vark op die altaar geoffer en dit met varkbloed ontheilig. Hierdie gruwel, wat ook in Daniël 8 beskryf word, was ook die profetiese voorloper (of vooruitbeelding) van ’n eindtydgebeurtenis – die eindtydofferandes sal 1,290 dae voor Christus se wederkoms gestaak word. Jesus waarsku ons om op die uitkyk te wees vir ’n eindtydse gruwel van verwoesting. Net soos Antiochus Epifanes die tempel in 167 v.C. ontheilig en die offerandes verbied het, sal ’n ander onheilige owerheid in die toekoms offerandes verbied. Trouens, die apostel Paulus rig ’n waarskuwing omtrent ’n groot vals profeet wat in die heilige plek sal staan: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thessalonicense 2:3-4).

’n Groot vals profeet sal verbasende wonderwerke doen en miljoene mense mislei. Hy sal dit so bewerk­stellig dat hyself aanbid word en daarop aanspraak maak dat hy goddelik is. Die Bybel beskryf ’n simboliese figuur wat soos ’n lam voorkom (die simbool vir Christus), maar soos ’n draak praat (die simbool vir Satan, die duiwel). Hierdie is die groot godsdiensmag wat ’n eindtydse herlewing van die Romeinse Ryk sal lei: “En uit die aarde het ek ’n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ’n lam en het gepraat soos ’n draak. En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ’n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het” (Openbaring 13:11-14).

Hierdie Antichris sal selfs vuur uit die hemel laat kom! Hierdie misleidende wonderwerke sal miljoene bekoor – maar ook veroorsaak dat baie mense hul van die ware Jesus Christus van die Bybel sal wegkeer. U moet u nie laat mislei nie. Die profeet Jesaja het verduidelik aan watter toets God se ware dienaars herken kan word: “Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ’n volk wat geen dageraad het nie” (Jesaja 8:20). Christus se ware dienaars spreek volgens die Woord van God, die Bybel! U moet u Bybel ken en bestudeer. Bewys en toets alle dinge, soos ons beveel word om te doen in 1 Thessalonicense 5:21!

Die eindtydse godsdiens-politiese mag wat Jerusalem sal oorheers, sal veroorsaak dat die offerandes gestaak word. Onthou dat die Jode nie sedert 70 n.C., toe die Romeine die tempel in Jerusalem vernietig het, diere-offers gebring het nie. Vir daardie eindtydse offerandes om uiteindelik gestaak te word, moet dit eers begin! Wanneer diere-offers weer eens in Jerusalem gebring word, sal u weet dat die profesieë waarvan Jesus gepraat het, op ’n hoogtepunt afstuur.

Drie profetiese mylpale

Wanneer die gruwel van die verwoesting wat deur Jesus geprofeteer is, opgerig (ingestel) word, sal drie profetiese mylpale oor ’n periode van drie-en-’n-half jaar volg: die Groot Verdrukking, die Hemelse tekens en die Dag van die Here. Hierdie profetiese raamwerk help ons om eindtydontwikkelinge in die Midde-Ooste en hoe dit die wêreld sal beïnvloed, te verstaan.

Let daarop dat Jesus Self die volgorde van gebeure gee. Hy waarsku ons in Mattheus 24:15 teen die gruwel van die verwoesting en verduidelik dan die eerste profetiese mylpaal in verse 21 en 22: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word”. Dit is ’n unieke tyd in die ganse geskiedenis. Dit is die tyd van benoudheid vir Jakob (Jeremia 30:7), die tyd van God se straf op die Westerse nasies – insluitende die Verenigde State, Brittanje, Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika[2] . (Vir meer inligting oor hierdie insiggewende onderwerp, vra gerus skriftelik aan vir u gratis eksemplaar van ons boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?) Die Groot Verdrukking is die tyd wat Daniël as volg aankondig: “Dit sal ’n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op dié tyd nie” (Daniël 12:1).

Dit is ’n tyd van oorlog, vervolging en martelary. Dit is die tyd wanneer die vier perderuiters van Openbaring 6 hul galop sal versnel. Hulle word mag gegee oor “die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde” (Openbaring 6:8). Die vyfde seël van Open­baring beskryf die marteling van Christene (Openbaring 5:9-11).

Ons sien dan ’n tweede profetiese mylpaal. Die sesde seël onthul skrikwekkende, dramatiese gebeure in die lug, of dít waarna die Bybel verwys as die “hemelse tekens”. Die apostel Johannes skryf: “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit” (Openbaring 6:12-14).

Jesus bevestig ook hierdie volgorde van die verdrukking wat gevolg sal word deur die tekens in die hemelruim[3] : “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word” (Mattheus 24:29).

Hoe sal mense op hierdie hemelse tekens reageer? “En die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:15-17).

Die hemelse tekens kondig die tyd van God se oordeel oor die nasies aan, “die groot dag van sy toorn”. Dit is die sewende seël, die tydperk wat ook die Dag van die Here genoem word – ’n derde profetiese mylpaal. In ’n visioen verwys die apostel Johannes daarna in Openbaring 1:10 as “die Dag van die Here”. Johannes verwys nie hier na ’n dag van die week nie maar na die tydperk wat die wederkoms van Christus, soos dit in meer as 30 profesieë genoem word, voorafgaan! Die profeet Jesaja beskryf dit as volg: “Want die Here hou ’n dag van wraak, ’n jaar van vergelding in die regsaak van Sion” (Jesaja 34:8).

Die profeet Joël bevestig ook dat die hemelse tekens die Dag van die Here voorafgaan: “En Ek sal wondertekens gee aan die hemel en op die aarde: bloed en vuur en rookpilare. Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom” (Joël 2:30-31).

Die sewende seël, of die Dag van die Here, bestaan uit die geblaas van sewe basuine: “En toe Hy die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel omtrent ’n halfuur lank. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe basuine is aan hulle gegee” (Openbaring 8:1-2). Die eerste ses basuine klink op gedurende die jaar wat Christus se tweede koms voorafgaan. Die sewende basuin kondig die goeie nuus aan van Christus se wederkoms om oor alle nasies op die planeet Aarde te regeer: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15). Terwyl dit goeie nuus vir alle ware Christene is, sal die nasies vertoornd wees (vers 18) en hul militêre magte verenig om teen die terugkerende Koning te veg (Openbaring 19:19). Soos ons sal sien, sal daardie finale stryd in die Midde-Ooste, naby Jerusalem, geveg word.

Die goeie nuus is dat die wederkomende Jesus Christus al die rebelse leërs en volke van die planeet Aarde sal oorwin. Die terugkerende Koning van konings sal Sy Koninkryk in Jerusalem oprig en blywende wêreldvrede afdwing (verwys Sagaria 14:1-3). Jesus Christus sal terugkom na Jerusalem toe. Hy sal oor al die koninkryke, nasies en regerings van hierdie aarde regeer. “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die Here een wees, en sy Naam een” (vers 9). Die Messias sal Koning oor die hele aarde wees en sal vanuit Jerusalem regeer. Hy sal ware godsdiens regoor die aarde instel om die vals godsdiens wat die herleefde Romeinse Ryk oorheers het, te vervang.

Wie ry op die Dier?

Ons het gesien dat die Midde-Ooste die plek sal wees waar ’n hedendaagse vervulling van Daniël se profesie rakende die “gruwel van die verwoesting” sal plaasvind. Watter godsdiensstelsel sal hierdie eindtydse gruwel, wanneer dit kom, oorheers? Die boek Open­baring verwys na die groot, vals eindtydse godsdiens as Verborgenheid, die groot Babilon. In Openbaring 17 sien die apostel Johannes in ’n visioen die oordeel van ’n groot hoer, simbolies van ’n groot, vals kerk of godsdiensstelsel. “Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit, met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery” (Openbaring 17:1-2). Hierdie vrou ry op ’n “dier” wat sewe koppe en tien horings het (vers 3). Die “dier”, soos ons vroeër gesien het, simboliseer die politieke en militêre mag wat die Midde-Ooste sal binneval.

Johannes gaan voort deur hierdie groot hoer te beskryf: “En op haar voorhoof was ’n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Openbaring 17:5). Dit sal die stelsel wees wat die groot verdrukkingsperiode gaan oorheers. Die leier van daardie stelsel, die vals profeet, sal selfs in staat wees om vuur uit die hemel te laat kom, soos ons in Openbaring 13:13 lees. Moenie toelaat dat u mislei word deur sulke “wonderbaarlike” vertonings nie. In Openbaring 13:11 word ons vertel dat hierdie gods­dienstige figuur simbolies die voorkoms van ’n lam (die simbool vir Christus) sal hê, maar soos ’n draak sal praat! Hy sal in die heilige plek van Jerusalem staan en selfs daarop aanspraak maak dat hy God is!

Ons het in Openbaring 17 gesien dat die hoer op die “dier” ry. Maar wie of wat sou hierdie “dier” wees? Die antwoord sal aan ons openbaar wie dit sal wees wat die Midde-Ooste sal binneval. “En die dier wat was en nie is nie, is self ook die agtste, en hy behoort by die sewe en gaan na die verderf. En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier. Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (Openbaring 17:11-14).

Die Kerk van God het vir jare lank uitgewys dat die eindtydse “Diermag” van Openbaring die finale herlewing van die eertydse Romeinse Ryk sal wees. Laasgenoemde het vanaf ongeveer 31 v.C. tot 476 n.C. bestaan. Daar was ses herlewings, insluitende die Keiserlike Herstelling onder Justinianus in 544 n.C., sowel as ’n verdere herlewing onder leiding van Karel die Grote in 800 n.C. (Vir meer inligting oor hierdie geprofeteerde “Diermag”, vra gerus skriftelik aan vir ons gratis boekie, Die Dier van Openbaring).

Ander kommentators identifiseer ook die dier van Openbaring as die Romeinse Ryk. Ons het pas in Openbaring 17:11 gelees van die finale eindtydse herlewing van “die dier wat was en nie is nie” – die laaste dier wat gedoem is tot die “verderf” of wat vernietig sal word. Die New Catholic Edition van die Bybel maak die volgende opmerking omtrent die dier van vers 11: “Die dier waarvan hier gepraat word, blyk die Romeinse Ryk, soos ook in hoofstuk 13, te wees”.

Die boek Openbaring, Jesus se Olyfbergprofesie sowel as die boek Daniël, onthul gesamentlik ’n komende herlewing van die Romeinse Ryk, beïnvloed en gery deur ’n vrou[4] deur’n. Die vrou is simbolies van ’n kerk. Die “diermag” draai uiteindelik teen die vrou: “En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand. Want God het dit in hulle harte gegee om sy bedoeling uit te voer en een bedoeling uit te voer, en hulle heerskappy aan die dier te gee totdat die woord van God volbring is. En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde” (Openbaring 17:16-18). Weer eens lewer die Douay-Rheims-vertaling kommen­taar oor die uiteindelike vernietiging van die vrou deur die dier: “tien ander koninkryke is bondgenote van die dier en veg teen die Kerk. Maar hul heerskappy is van korte duur, simbolies voorgestel as ’n uur lank”. Hoewel die Douay-Rheims die dier met die Romeinse Ryk en die vrou met die Kerk vereenselwig, erken dit nie dat die groot stad wat in vers 18 genoem word, Rome self is nie. Baie Bybelkommentators het dit eens dat die groot stad, waarvan sprake is in Openbaring 17:18, in der waarheid Rome is!

Die koning van die Noorde val die Midde-Ooste binne

Die leërs van Benito Mussolini – ’n 20ste-eeuse “koning van die Noorde” – het Noord-Afrika tydens die Tweede Wêreldoorlog ingeval. In teenstelling hiermee sal die eindtydse koning van die Noorde uitgelok word deur die koning van die Suide. Ons het reeds oorlog oor die oliekwessie in die Midde-Ooste gesien. Sal daar ’n volgende Arabiese olieverbod soos dié van 1974 wees?

Toe brandstofpryse in die somer en herfs van 2000 begin styg het, was die Europese protes oor hemelhoë brandstofpryse en tekorte selfs nog erger as in Amerika [5] . In 2000 was invoere verantwoordelik vir 53 persent van Amerika se olieverbruik. Rofweg geskat was 24 persent – omtrent die helfte van alle ingevoerde olie – vanaf die Midde-Ooste afkomstig. Europa is selfs nog meer afhanklik van Midde-Oosterse olie aangesien ongeveer 90 persent van sy olie – waarvan meer as die helfte afkomstig vanaf die Midde-Ooste – ingevoer word (Newsweek, 11 November 2002, bl. 30).

Wat ook al die provokasie mag wees, die Midde-Ooste sal deur die koning van die Noorde ingeval word.

Lukas se weergawe van die Olyfbergprofesie volg dieselfde algemene volgorde as dié van Mattheus wat ons vroeër in oënskou geneem het. Hy voeg egter een belangrike besonderheid by – die waarskuwingsteken wat deur Jesus uitgelig word betreffende die eindtydse lotsbestemming van Jerusalem: “En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is” (Lukas 21:20). Na wie se leërmagte word hier verwys? Wie sal uiteindelik die Midde-Ooste inneem en beheer oor Jerusalem – sy belangrikste stad – verkry?

Soos ons vroeër gesien het, sal die koning van die Noorde – die “diermag” of herleefde eindtydse Ro­meinse Ryk – die Pragtige Land (Daniël 11:41) betree. Jesus het gesê dat wanneer u sou sien dat Jerusalem omsingel word deur leërs, dit vir u ’n teken sal wees dat die stad op die punt staan om verower te word. In 70 n.C. het Titus en die Romeinse leërs die stad en die tempel vernietig. Die Romeinse beleg van die stad het hongersnood en siektes hier veroorsaak. Die Joodse historikus, Joséphus, het geskryf dat “nie minder nie as seshonderdduisend by die hekke uitgegooi is, en die getalle van die oorblywendes nie vasgestel kon word nie” (Wars of the Jews, boek 5, hfst. 13, afd. 7). Watter leër het hierdie ramp oor Jerusalem gebring? Dit was die Romeinse leër. Sal ’n ander Romeinse leër moontlik in die 21ste eeu die geskiedenis herhaal? Bybelprofesie sê “ja”!

Die feit dat Jerusalem deur ’n ander Super­moondheid beheer sal word, word ook in Lukas 21 beklemtoon. Let op Jesus se kragtige stelling: “Dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie. Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word” (Lukas 21:21-22).

Hierdie is baie duidelik die eindtydse vervulling van dié profesie. Dit gaan voort: “Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog in daardie dae; want daar sal ’n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (verse 23-24). Openbaring 11 dui aan dat Christus, 42 maande nadat Jerusalem verower is, sal ingryp.

Sommige Bybelkommentators glo egter verkeerdelik dat Lukas se profesie slegs betrekking het op die eerste eeu n.C. toe die Romeinse bevelvoerder, Titus, Jerusalem beleër en die tempel vernietig het. Jesus se waarskuwing in Lukas 21 het wel betrekking gehad op hierdie eerste-eeuse vernietiging. Soos Bybelstudente egter weet, is profesie dikwels tweeledig. Daar is die tipe en die ante-tipe. Daar is ’n vroeëre en ’n latere vervulling van die profesie. Jesus het aan Sy dissipels gesê dat, gevolg op die verwoesting van Jerusalem, baie mense Sy wederkoms na die aarde sal sien. “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ’n wolk, met groot krag en heerlikheid” (Lukas 21:25-27).

Hierdie profesie is nie in 70 n.C., met Titus se vernietiging van die tempel, vervul nie. Jesus was duidelik hier besig om die gebeure wat Sy wederkoms sal voorafgaan, te skets. Die konteks van Jerusalem se finale verwoesting, soos hier uiteengesit, verwys na die eindtyd.

Die finale fases van die Derde Wêreldoorlog

Die koning van die Noorde se leërs sal Noord-Afrika en die Heilige Land beset. Ontwikkelinge in die Noord­ooste sal hierdie koning egter so verontrus dat hy militêre aksie sal neem. Daniël 11:44-45 sê: “Maar gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom verskrik; daarom sal hy met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref. En hy sal sy paleistente opslaan tussen die see en die berg van die heilige Prag; maar hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie”.

Hierdie optrede blyk die beskrywing in Openbaring 9 te wees van die eerste wee of die vyfde basuinplaag (verwys Openbaring 8:13; 9:1). Die apostel Johannes beskryf 21ste-eeuse oorlogvoering in eerste-eeuse beeldspraak: “En die voorkoms van die sprinkane was soos dié van perde wat vir die oorlog toegerus is, en op hulle koppe was iets soos krone wat net soos goud gelyk het, en hulle gesigte was soos die gesigte van mense. En hulle het hare gehad soos vrouehare, en hulle tande was soos dié van leeus. En hulle het borsharnasse gehad soos van yster, en die gedruis van hulle vlerke was soos die gedruis van baie strydwaens met perde wat opruk na die oorlog. En hulle het sterte gehad soos dié van skerpioene, en daar was angels in hulle sterte, en hulle mag was om die mense vyf maande lank skade aan te doen. En hulle het as koning oor hulle die engel van die afgrond; sy naam in Hebreeus is Abáddon, en in Grieks het hy die naam van Apóllion” (Openbaring 9:7-11).

Let daarop dat hierdie optrede vyf maande lank, tydens die jaarlange Dag van die Here, duur. Wat gebeur volgende? ’n Massiewe weermag uit die Ooste, bestaande uit 200-miljoen manskappe, steek die Eufraatrivier oor. Die Eufraatrivier vloei van Turkye, deur Sirië en Irak, na die Persiese Golf. Of Irak ook al sal voortgaan om as ’n nasie in sy huidige vorm te bestaan of nie, sy geografiese ligging sal ’n belangrike rol in die finale oorlog wat kom – die Derde Wêreld­oorlog – speel! Die tweede wee, of sesde seël sal nou oopgemaak word: “Die een wee het verbygegaan; hierna kom daar nog twee weë. En die sesde engel het geblaas, en ek het ’n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, en dié het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat. Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om ’n derde van die mense dood te maak. En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tien­duisend; en ek het hulle getal gehoor. En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan. Deur hierdie drie plae is ’n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het; want hulle mag is in hulle bek en in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee rig hulle skade aan” (Openbaring 9:12-19).

In hierdie fase van die Derde Wêreldoorlog sal ’n derde van die ganse mensdom, meer as tweebiljoen mense, uitgewis word! Die “vuur, rook en swael” waarvan sprake is, roep beelde van kernvernietiging op. Tensy Jesus Christus ingryp, sal “geen vlees gered word nie”, soos Hy in Mattheus 24:22 sê!

Die sewende en finale basuin sal die wederkoms van Jesus Christus om die wêreld te kom regeer, aankondig (Openbaring 11:15). Die nasies is vertoornd, soos ons vroeër gesien het (Openbaring 11:18), en sal hul leërs verenig in die stryd teen ’n gemeenskaplike vyand – die Bevelvoerder van die Hemel se leërmagte (sien Openbaring 19:19)! Die sewende basuin of die derde wee bestaan uit “die sewe laaste plae” wat die “grimmigheid van God” oor rebelse nasies sal voleindig (sien Openbaring 15:1, 7-8; 16:1).

Op hierdie punt sal oostelike leërs weswaarts oor die Eufraatrivier beweeg op hul weg na Megiddo – Armagéddon. “En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die Ooste af kom, reggemaak kon word” (Openbaring 16:12). Satan en sy demone beïnvloed die oorlog­voerende nasies om hul magte saam te span teen die indringer vanuit die buitenste ruim, die Koning van konings, Jesus Christus. Die apostel Johannes skryf: “En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” (Openbaring 16:13-14).

Wanneer die finale fase van die Derde Wêreldoorlog begin, sal Satan reeds al die konings en leërs “van die hele wêreld” beïnvloed het om voorbereidings te tref vir die groot slag teen Christus. Oorlogvoerende, rebelse nasies sal teen die Verlosser van die wêreld veg! Waar sal hulle versamel? “En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon” (Openbaring 16:16). Die naam Armagéddon kom van die Hebreeus har Magedon, wat “heuwel van Megiddo” beteken. Megiddo is in moderne Israel, omtrent 90 kilometer Noord van Jerusalem, geleë. Die heuwel of koppie van Megiddo kyk uit oor die grootste vallei in Israel, die Vlakte van Esdraelon, of die Jisreëlvallei.

Die ontplooiende Europese godsdiens-politieke mag sal uiteindelik die beherende mag oor die Heilige Land uitoefen. Soos ons gesien het, sal die leier van daardie unie, die “koning van die Noorde”, uiteindelik Jerusalem en die Midde-Ooste domineer. Die boek Openbaring voorspel ook ’n konflik tussen Asiatiese magte en die Europese “Diermag”, die koning van die Noorde (vgl. Daniël 11:44; Openbaring 9:13-19). Dit is skokkend dat hierdie leërs, na Christus se wederkoms, sal verenig “om oorlog te voer teen Hom” (Openbaring 19:19). Die Almagtige God sê: “Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem” (Sagaria 14:2). Dan sal “die Here … uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant” (Sagaria 14:3-4). Jesus Christus sal ingryp! Hy sal die Derde Wêreld­oorlog beëindig en ewige vrede na die wêreld bring!

Let daarop dat die klimaksale eindtydse stryd waarna algemeen verwys word as Armagéddon, eintlik bekendstaan as “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” (Openbaring 16:14). Maar waar sal hierdie stryd plaasvind? Die profeet Joël vertel ons dat hierdie klimaksale stryd naby Jerusalem sal plaasvind: “Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ’n strafgerig te hou” (Joël 3:1-2).

Die dal van Jehosafat word ook die Kidronvallei (tussen die Olyfberg en die Tempelberg geleë) genoem. Hier sal God die nasies oordeel. Die vallei verbreed na die Suide, en daardeur sal die wêreld se leërs suid­waarts vanaf Megiddo beweeg om teen Jesus Christus by Jerusalem te gaan veg. By hierdie groot klimaksale stryd van alle tye, sal die Skeppergod seëvier en sal Hy nietige mensewesens, in hul poging om God te oorwin, verslaan.

Dwase militêre leiers sal spoedig agterkom hoe magteloos hulle teen die alomteenwoordige, goddelike krag van God is! Hoe sal hulle gestraf word? God verduidelik: “Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem ... En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg” (Sagaria 14:2-4). Let verder op die verskriklike straf wat gebring sal word oor daardie rebelse, bose leërs: “En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond” (vers 12).

Jesus sal die grootste militêre kartel wat ooit saamgeroep is, totaal oorwin. Hy sal terugkeer as Koning van konings en Heer van here om vir hierdie oorlogsgeteisterde planeet ’n duisend jaar van vrede te bring. “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (vers 9).

Christus sal al die opponerende nasies teen Hom verslaan. Hy sal die Millennium van vrede op aarde aankondig en alle nasies die weg na vrede leer. Dan sal daar versoening kom tussen die Arabiere en Israeli’s. “In dié dag sal daar ’n grootpad wees van Egipte na Assirië, en Assiriërs sal in Egipte kom en Egiptenaars in Assirië, en Egipte sal saam met Assirië die Here dien. In dié dag sal Israel die derde wees naas Egipte en Assirië, ’n seën in die midde van die aarde, omdat die Here van die leërskare hom geseën het, met die woorde: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!” (Jesaja 19:23-25).

Nadat die wêreld se leërs verslaan is, sal die Skeppergod Jerusalem as die hoofstad van die wêreld vestig. Alle nasies sal hulle onderwerp aan die Koninkryk van God op aarde en uiteindelik die weg na vrede leer. “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom. En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Miga 4:1-2).

Die Koning van konings en die heiliges sal die nasies heropvoed in die weg van liefde, vrede en voorspoed (sien Daniël 7:18, 27). Onder die heerskappy van die Messias, Jesus Christus, sal die weg van sonde, lyding en oorlog verdwyn. “En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Miga 4:3).

Hou die Midde-Ooste dop

Jesus Christus waarsku ons om geestelik gereed en waaksaam te wees (Lukas 21:36). Maar waarvoor moet ons op die uitkyk wees in die gewoel en konflik in die Midde-Ooste?

Wees op die uitkyk vir voortdurende konflik in die Heilige Land tussen die Israeli’s en die Palestyne. Die Palestyne steun die intifada steeds sterk; ’n menings­peiling in September 2002 deur die Jerusalemse Media en Kommunikasiesentrum, onthul dat 81 persent begeer dat die intifada moet voortduur totdat Israel toegee aan die Palestynse eise.

Wees op die uitkyk vir toenemende versoeke vir internasionale ingryping en beheer, nie net in die Gaza en Wesoewer nie, maar ook in Jerusalem self. Die Palestynse leier, Yasser Arafat, het self steun probeer werf vir ’n Verenigde Nasies-vredesmag in Gaza en die Wesoewer. Wees op die uitkyk, namate die intifada voortduur, vir meer wêreldleiers wat hul verbind tot die aandrang van internasionale beheer in Jerusalem.

Wees op die uitkyk vir toenemende eenheid tussen Arabiese nasies in hul houding teenoor Israel. In Psalm 83, wat ons vroeër gelees het, word diegene wat deel uitmaak van die Arabiese en Moslem nasies in die Midde-Ooste, gelys. Hulle word deur Europese groepe gesteun in hul sterk opposisie teen Israel. “Hulle sê: Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie. Want hulle het van harte saam raad gehou; teen U sluit hulle ’n verbond” (Psalm 83:5-6). Wees op die uitkyk vir ’n eindtydse Arabies-Moslemse unie of konfederasie wat gevorm word teen Israel.

Wees op die uitkyk vir die Europese Unie se groeiende ekonomiese, politieke en militêre een­wording. Soos ons in Daniël se profesie gesien het, sal die koning van die Noorde uiteindelik die Heilige Land beset. In November 2000 het die Europese Unie ’n Duitse generaal verkies as hoof van sy Blitse Reaksiemag, met die oog daarop om teen 2003 Europese mag oor ’n 4,000 kilometer-area na krisis­gebiede te projekteer. “Waarom moet ons deur NAVO werk?” het Generaal Jean-Pierre Kelche, Frankryk se Hoof van Verdedigingstaf gevra. Hy het gesê dat die mag teen die einde van die jaar, selfs sonder NAVO se toestemming, operasioneel sou wees en dat die “magsbalans verander moes word” (“EU Force will not need NATO”, London Daily Telegraph, 28 Maart 2001). Sal hierdie magte uiteindelik ’n betekenisvolle rol in die Midde-Oosterse konflik speel? Hou die ontwikkeling van Europa se eie militêre magte dop.

Wees op die uitkyk vir die voorbereiding en uiteindelike implementering van diere-offerandes deur die Jode in Jerusalem. Baie glo dat ’n fisiese tempel ook gebou sal word, maar geskiedenis en die boek Esra bevestig dat offerandes uitgevoer kan word met slegs ’n altaar by die heilige plek.

Wees op die uitkyk vir die toenemende versterking van godsdiensmag in Europa. In 1983, met ’n besoek aan Oostenryk, het Pous Johannes Paulus II vir Europese eenheid gepleit deur te sê: “Europeërs moet die dreigende internasionale konfrontasies van state en alliansies oorkom en ’n nuwe, verenigde Europa, vanaf die Atlantiese Oseaan tot by die Oeralgebergtes, skep” (The Principality and Power of Europe, Adrian Hilton, bl. 36).

Finale vrede

Jerusalem het ’n geprofeteerde glorieryke toekoms wat voorlê. Dit sal die hoofstad van die planeet aarde, onder die heerskappy van die Vredevors en Koning van konings, Jesus Christus, wees. Dit is goeie nuus vir al die nasies – vir u, u kinders en kleinkinders. Ons moet egter onthou dat vrede in die mens se lewe slegs tot stand kan kom as sy menslike natuur verander word. God sal aan die oorgrote meerderheid van alle mense die gawe van Sy Gees skenk. Dan sal hulle leer hoe om die weg na vrede te vind.

Die hele wêreld sal God se weë leer ken. “En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:3-4).

Jerusalem sal nie net die regeringshoofstad van die wêreld wees nie; dit sal ook die opvoedkundige hoof­stad van die wêreld wees. Die groot Opvoedkundige en Onderwyser, die Here Jesus Christus, sal aan ons ware kennis, gebaseer op die Woord van God, leer. Alle nasies sal die ewige beginsels, wette en waardes, wat vrede en voorspoed vir almal waarborg, leer.

Dit is die goeie nuus van u toekoms, en die toekoms van die wêreld. In die hart van die Midde-Ooste – en die hele wêreld – sal Jerusalem die sentrum van die wêreld se regering, opvoeding en godsdiens wees. Die Skeppergod sal toekomstige wêreldvrede waarborg (Miga 4:1-3), “want die mond van die Here van die leërskare het dit gespreek” (vers 4). Ons almal sien uit na die vrede en versoening wat net die Messias, Jesus Christus, vir die Midde-Ooste – en vir die hele wêreld – kan bring. Intussen waarsku Jesus ons om te waak (op die uitkyk te wees) en te bid (Markus 13:33). Hy vermaan ons in vers 37: “En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!”