Die oorgrote meerderheid van God se mense is klaarblyklik aan die einde van hierdie tydperk “Laodisees”. Wanneer ons Openbaring 3 werklik verstaan is dit die duidelike aanduiding. Dié wat Laodisees is sal getugtig moet word deur die “vuur” van die komende Groot Verdrukking (Openbaring 3:18-19). Hoe kan u persoonlik hierdie lot vryspring en een van dié wees wat deur God teen hierdie komende “uur van beproewing” (vers 10) beskerm sal word?

Onthou, die Laodiseërs is nie “Satan se mense” nie. Hulle is God se mense wat aan die heel einde van ’n uiters materiële en hedonistiese tydperk leef – ’n tydperk waar die klem op “self,” “gemak” en “kompromie” is, in plaas van op onbeskaamdheid vir ware Christelikheid. Deesdae is dit uiters maklik vir mense – selfs vir baie van God se mense – om aan te hou om God se Sabbatte te wil onderhou en ook om die Tien Gebooie oor die algemeen te onderhou, asook om die meeste van die uiterlike tekens van ware Christenwees te handhaaf, maar sonder die “vuur in die boesem” wat Petrus, Paulus, Moses, Dawid en feitlik elke uitstaande dienaar van God wat in die Bybel beskryf word, gekenmerk het.

Dit blyk dat die “hart” uit die Laodiseërs se geloof en hul verhouding met God gegaan het, want, hoewel hulle “goeie mense” is en goed bedoel sê God aan hulle: “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Openbaring 3:15-16). Hierdie “louheid” beïnvloed hul ywer om presies te doen wat God in Sy Woord sê. Daarom sal hierdie mense neig om baie van God se dogmas en leerstellings te “verwater”. Hulle en hul leiers sal hier en daar ’n paar toegewings maak in hoe hulle hul lewens lei, hoe hulle God se Sabbat en Heilige Dae onderhou, hoe hulle God se beveelde tiendes nakom, hoe hulle die duidelike voorbeeld van hiërargiese regering navolg wat so duidelik in die Bybel beskryf word, hoe ywerig hulle die evangelie aan die wêreld verkondig en hoe vurig hulle die Eségiël-waarskuwing aan die Israelitiese volke verkondig – voordat dit te laat is!

Vergelykenderwys neig die Laodiseërs om redelik welaf te wees. God sê vir hulle: “Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien” (verse 17-18). Miskien, omdat hulle meer materiële goed besit – gemaklike lewens lei en “sosiaal meer aanvaarbaar” is as baie van God se ander mense – kan hierdie Laodiseërs maklik laat slaplê en selfvoldaan en selftevrede word. Hulle kan voel dat hulle geestelik, intellektueel of sosiaal “meerwaardig” is. Tog sal die opregte ywer om te dien, om op te offer en om “die Werk te doen” nie daar wees nie. Die gees van selfopoffering en passie om die Eségiël-waarskuwing te verkondig, sal afwesig wees. Ook sal die “toon” van selfoorgawe en opregte gehoorsaamheid om te lewe volgens elke woord van God nie bestaan soos dit eens in die Filidelfia-era was nie.

Wat om te doen?

Die apostel Paulus was geïnspireer om ons in 2 Korintiërs 13:5 aan te moedig: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie – as julle ten minste nie verwerplik is nie!” So moet ons voortdurend op ons hoede wees om te sien of Jesus Christus werklik Sy lewe in ons leef al dan nie. Soos die apostel Paulus skryf: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20). Hierdie is ’n deurslaggewende sleutel. Leef die ware Christus van die Bybel werklik binne-in u? Het u dieselfde ywer en gees van diensbaarheid wat Christus, die apostel Paulus en andere geopenbaar het?

Leer om dikwels oor Jesus se leerstelling in Johannes 4:34-36 te mediteer: “Jesus sê vir hulle: My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring. Sê julle nie: Dit is nog vier maande, dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes. En hy wat maai, ontvang loon en vergader vrug vir die ewige lewe, sodat die saaier en die maaier saam bly kan wees”. Is dit u “kos” om die Werk van God te doen? Is u “rede vir bestaan” hoofsaaklik om werklik gereed te maak vir die koms van Christus se regering wat eersdaags op aarde gevestig sal word, om Christus se boodskap na die hele wêreld uit te dra as ’n “getuienis” (Mattheus 24:14) en om “u lewe neer te lê” vir u medelidmate?

Jesus sê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Want wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ’n mens gee as losprys vir sy siel?” (Mattheus 16:24-26). Baie van God se mense is in ’n “gemaksone”. Hulle is “aangename” mense en bedoel goed, maar die passie vir Christus en Sy diens het uit hul lewens verdwyn, indien dit ooit werklik in hul lewens was! Hierdie mense is “gemaklik” in hul sosiale lewens. Sover moontlik, skaar hulle hulle gewoonlik by ander “suksesvolle” mense. Hul werklike begeerte is, moontlik sonder dat hulle dit besef, om ’n veilige en gemaklike lewe te leef – hoewel hulle uiterlik in die Kerk van God bly. In werklikheid vind die idee dat hulle ’n “kruistog” voer om Christus se boodskap uit te dra na die wêreld – ongeag persoonlike veiligheid of gemak – geen inslag by hulle nie.

Wanneer hulle Jesus se woorde hoor dat elkeen van ons onsself behoort te “verloën en ons kruis opneem”, word die Laodiseërs se oë soort van glasig. Miskien onbewustelik, dink hulle dat hierdie gesegdes van Jesus maar bloot idealisties is en waarskynlik bedoel is vir mense soos die apostel Paulus, maar nie vir hulle nie. Hulle wil nie hê dat enigeen hul persoonlike lewens “opmors” met ’n benadering tot Christelikheid wat hulle voel te streng of veeleisend mag wees nie!

Jesus Christus sê egter weer: “Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Openbaring 3:16).

Leer om God te soek

Nog ’n sleutelkonsep wat elkeen van ons se persoonlike Christelike lewens totaal kan hervorm, is die konsep om God ywerig te soek. Die meeste mense in die verskeie “Kerk van God” groepe neem aan dat hulle God en Sy weë reeds ken. Sonder om dit te besef, beperk hulle hulself dikwels tot die halfhartige handhawing van die uiterlike fatsoen van Christenlewe. Hulle gaan kerk toe. Hulle onderhou die Sabbatte ten minste gedeeltelik. Oor die algemeen leef hulle volgens die Tien Gebooie. Gou word alles alledaags. Die apostel Paulus skryf egter: “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins” (Filippense 1:21). Die soort geesdriftige verhouding wat Paulus met Jesus Christus gehad het, is bykans heeltemal afwesig in die lewens van die Laodiseërs. Dikwels besef hulle dit nie werklik nie, nóg weet hulle wat om daaromtrent te doen.

God herinner ons egter keer op keer in Sy geïnspireerde Woord om Hom daadwerklik te “soek” met ons hele hart! Nadat die hedendaagse Israeliete verstrooi en in slawerny weggevoer is, sal hulle uiteindelik leer om dit te doen. “Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die HERE jou God terugkeer en na sy stem luister” (Deuteronomium 4:29-30).

Met verwysing na Juda se eerste gevangenskap, beskryf God hierdie selfde “sleutel” reaksie – wat Hy ooglopend in al Sy mense verlang: “Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart” (Jeremia 29:12-13).

God het die profeet Jesaja geïnspireer om ons hierdie basiese opdrag te gee: “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik. Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes” (Jesaja 55:6-9). Elkeen van ons moet dus in ons harte en gedagtes die bewustheid kweek om God voortdurend te “soek” en altyd nader aan Hom te beweeg. Ons moet God of Jesus Christus nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Ons moet nie in die “gemaksone” van die Laodiseërs verval nie.

Ons behoort almal die primêre kanale te ken waardeur ons God moet soek, naamlik ywerige Bybelstudie, opregte gebed, sorgsame, doelbewuste meditasie, vas en om daadwerklik die Heilige Gees te gebruik en “met God te wandel” in elke faset van ons lewens. Indien ons, as ware Christene, enigeen van hierdie afskeep of nalaat, sal die krag en uitwerking van ons Christelike lewens grootliks verminder. Hierdie vyf “werktuie” vir Christelike groei moet voortdurend gebruik word, anders sal ons terugval in ’n “lou” Christelikheid indien ons nie as’t ware geheel en al wegval nie.

Ja! Dit is só ernstig! Ons moet hierdie vyf werktuie gebruik om ten volle volwasse Christene te word. Daar is geen ander uitweg nie!

In al ons Bybelstudie, gebed, meditasie en vas moet ons ook voortdurend die benadering hê om God te “soek” – soekend na ’n dieper, inniger en liefdevoller verhouding met Christus en met ons medemens. Ons moenie aanneem dat ons op een of ander manier “meerwaardig” is of dat ons “dit gemaak het” nie. Onthou, Jesus sê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35).

Daar is ’n paar belydende Kerk van God gemeenskappe wat presies die teenoorgestelde gesindheid teenoor hul medemens openbaar. Hoewel hulle sommige van die basiese waarhede wat ons geleer het aanhang, stel hierdie mense hulself aan as die “laksmanne” van nie net die sinlike wêreld nie, maar ook van ander opregte Kerk van God mense! Hulle word geken aan hul voor die hand liggende meerwaardigheidsgevoel en die atmosfeer van strengheid, vrees en intimidasie wat hul samesyn deurweek.

Opregte liefde en spontane besorgdheid moet die gemoed en harte van alle “Filadelfiese” Christene deurweek! Indien nie, is hulle niks meer “Filadelfies” as “die man in die maan” nie!

Tog, namate elkeen nederig na God en Sy dinge soek, sal die ware Filadelfiër ywerig verhoed dat hy verstrengel raak in wêreldse strewe en belange. Hy sal altyd die waarskuwing van Jesus Christus in Mattheus 13:22 in gedagte hou: “En by wie in die dorings gesaai is – dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar”.

Deur te fokus op die “sorge van die wêreld” kan enigeen van ons aandag maklik afgelei word, indien ons nie versigtig is nie. Dit is een rede waarom Filadelfiese Christene baie van hul tyd, energie en hulpbronne moet bestee aan die kruistog om die boodskap van Christus aan die hele wêreld te verkondig. Jesus sê: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheus 24:14). Aan die Filadelfia-era van die Kerk verkondig Jesus: “Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou ’n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie” (Openbaring 3:8).

In 2 Korintiërs 2:12; 1 Korintiërs 16:9 en Kolossense 4:3, word duidelik verwys na die term “deur” as ’n opening of geleentheid om die evangelie te verkondig. Die Filadelfiërs verlang ywerig om ’n baie daadwerklike deel te hê in die verkondiging van Christus se boodskap. Hulle werk persoonlik, bid en offer op sodat die roemryke boodskap van Christus se eerskomende Koninkryk kragtig aan al die nasies verkondig kan word.

Om ons harte werklik daarin te sit om God se Werk te doen, met ywer die “werktuie” vir Christelike groei te gebruik en sorgvuldig die valstrikke van louheid te vermy, sal ons help om te verhoed dat ons “Laodisies word” – veral as ons God in elke faset van ons lewens nederig en hartstogtelik “soek”.