Elke beeld van elke oomblik wat ons regdeur ons lewens aanskou, sal vir ons waardering ingesamel word deur twee klein wonderwerkies van God, wat ons so maklik as vanselfsprekend kan aanvaar: Ons merkwaardige oë. Het u al aan die verrassende wonder van die ontwerp van u oë gedink?

Terwyl ek hierdie artikel tik, ry ek en my vrou ooswaarts na Charlotte, Noord-Carolina in die oostelike deel van die Verenigde State van Amerika en op hierdie spesifieke oomblik beweeg ons deur die pragtige Smokey Mountains. In ’n oogwink versamel my oë ’n magdom van merkwaardige beelde: Van breë, uitgestrekte vergesigte tot klein en pragtige detail. Op ’n stadium neem ek die hele bergagtige gesigseinder waar en sien die onreëlmatige grenslyn teen die blou lug, sowel as die ryk skakerings van groen wat afvloei in dig-beboste heuwels.

Op die vêrgeleë kruin van ’n berg kan ek ’n enkele tak aan ’n enkele boom uitmaak, selfs sy individuele blare. Binne ’n oogwink verskuif my blik na ’n pragtige veld vol goue veldblomme net buite my motor se venster. Nie lank daarna nie gaan ons deur ’n tonnel en word die wêreld van baie helder kleure deur die wêreld van totale donkerheid vervang. Deur dit alles kan ek voortdurend en sonder onderbreking sien en drink ek die tonele van my omgewing in.

Al hierdie waarnemings was myne binne die bestek van ’n paar sekondes en het byna onmiddellike en outomatiese aanpassing van my oë by verskillende omstandighede vereis. Om dit te doen, benodig die oog van die ingewikkeldste ontwerpe en koördineringsmeganismes in die hele menslike liggaam.

Hoe dit werk

Lig gaan deur die kornea die oog binne – ’n sterk, helder, buigbare struktuur aan die voorkant van die oog. Die kornea toon merkwaardige ontwerp wat dit toelaat om twee funksies te verrig. Eerstens, dit is ’n taai, self-genesende struktuur wat die bio-meganiese stres van sy rol as ’n skild vir die binne-oog weerstaan, deur dit teen onsuiwerhede en besoedeling te beskerm. Dit begin ook werk om die beeld wat u oog binnekom te fokus, deur die lig akkuraat te buig sodat dit deur die pupil kan gaan wat die opening in die middel van die iris is.

As die oog se venster gee die iris nie net aan elkeen van ons oë hulle eiesoortige kleur nie – sê nou maar blou, bruin, of groen – maar dit het ook die merkwaardige vermoë om die grootte van die pupil presies en outomaties te verander, net soos die sluiter van ’n kamera, ten einde die hoeveelheid lig wat die oog binnegaan vinnig en met ongelooflike presiesheid te wissel.

Wanneer lig die oog verder binnedring, gaan dit deur die kristalhelder lens agter die iris om die fokus te voltooi. In teenstelling met die glaslense van ’n kamera, is die lens van u oog ’n buigbare, organiese struktuur wat voortdurend en vinnig van vorm kan verander, soos dit benodig word, ten einde die fokusvermoë daarvan te vervolmaak.

Die lig wat nou gefokus is, gaan deur die deursigtige glasagtige vloeistof van die binne-oog, wat gelyktydig die druk voorsien wat nodig is om die ronde vorm van die oog te behou, voeding aan die oog se retinale vaatjies te voorsien en as ’n medium vir die inkomende lig te dien om ongestoord van die lens na die retina deur te gaan.

Die retina aan die agterkant van die oog dien as ’n projektorskerm waarop die beeld deur die kornea en die lens gefokus word. Dit is uit meer as 130 miljoen uiters sensitiewe, mikroskopiese retinale selle saamgestel. Hierdie selle verskil in tipe – van staafvormige selle wat ontwerp is om ligverwerking te maksimaliseer om ons te help om in donker toestande te sien, tot kegelvormige selle, wat sensitief is vir kleur en wat ook voorsiening maak vir skerp visie en die bespeuring van klein detail. Daar is in werklikheid drie tipes kegeltjies, elkeen ontwerp om een van die drie primêre kleure van alle sigbare lig op te spoor: Rooi, blou en groen. Deur saam te werk in kombinasie is hierdie drie tipes kleur-sensitiewe selle in staat om feitlik enige kleur in die sigbare spektrum te onderskei.

Wanneer die gefokusde lig ’n retinale sel tref, vind ’n chemiese waterval plaas wat die lig energie in elektriese energie omskakel, wat dan deur ongeveer een miljoen senuweevesels van elke oog na u brein gestuur word, waarna die seine gedekodeer en geïnterpreteer word in die beeld wat u “sien”.

Dit alles vind voortdurend teen ondenkbare spoed plaas! Omdat u oog voortdurend deur lig en beelde van voortdurend veranderende tonele oorstroom word, is hierdie stelsel die hele tyd aan die werk: Kundig en outomaties besig om die hoeveelheid lig wat die oog binnegaan te modereer om helderheid te optimaliseer en daardie lig met verstommende akkuraatheid te fokus terwyl dit deur verskeie lae materiaal en vloeistowwe beweeg, die lig fotone in elektriese seine omskep, en hulle dan in ’n kode te stuur wat deur die brein verstaan word, sodat u die seën van sig kan geniet.

Nietemin, die beskrywing van die apparaat en masjinerie van die oog wat hier aangebied word, is slegs ’n opsomming. Dit sou ons aan tyd ontbreek om van al die merkwaardige strukture te vertel wat as ’n eenheid saamwerk om die ten volle funksionerende oog te vorm: Die sklera, die ekstra-okulêre spiere, die vaatvlies, die fovea – die lys sal onophoudelik kan aangaan. Dit is voldoende om te sê dat die twee klein bolle waardeur die skouspel rondom ons ingewin word vir ons verbruik en oorweging, ’n wonder van ontwerp en ingenieurswese is wat geen menslike vakman in staat was om te ewenaar nie.

Die verskyning van ontwerp

Soos Robert Jastrow, die beroemde agnostiese sterrekundige en astrofisikus eenkeer gesê het: “Dit lyk of die oog ontwerp is, geen ontwerper van teleskope kon dit beter doen nie. Hoe kon hierdie wonderlike werktuig toevallig deur ’n opeenvolging van toevallige gebeure ontwikkel het?” (The Enchanted Loom, bll. 96-97).

Jastrow, ’n evolusionis, was eenvoudig besig om die gedagtes van Charles Darwin self – wat die skepper van evolusie-teorie was – te parafeer en daaroor te besin. Deur die oog ’n orgaan van “uiterste volmaaktheid en ingewikkeldheid” te noem, het Darwin eenkeer gesê: “Om aan te neem dat die oog met al sy unieke vermoëns om die fokus na verskillende afstande aan te pas, vir die toelating van verskillende hoeveelhede lig, asook vir die regstelling van sferiese en chromatiese afwykings, sodat natuurlike seleksie gevorm kon word, moet ek vrylik bely, lyk absurd in die hoogs moontlike graad” (The Indelible Stamp, ed. JD Watson, bl. 444).

Darwin het nogtans geredeneer dat dit so mag wees en baie evolusioniste het gesukkel om te bewys dat sy geloof in sy teorie korrek is. Selfs die beste verduidelikings wat hulle kon saamflans oor hoe so ’n wonder soos die menslike oog deur blinde, onbegeleide natuurlike prosesse kon ontstaan het, is om dit sagkens te stel, hoogs spekulatiewe fantasieë en oorvereenvoudigde modelle, wat op ongegronde aannames gebaseer is en getuig van meer verbeelding as bewyse.

Daar is nog steeds geen bevredigende verduideliking nie, behalwe deur die ontwerp van ’n intelligente Skepper, vir die wonder van ingenieurswese wat ons die oog noem.

Daardie oë – dit wat u nou gebruik om hierdie artikel te lees – is die vensters na die wêreld wat God vir ons verstand gemaak het, waardeur die beelde van ons lewens en die heerlikheid van Sy skepping voortgaan om helder te skyn vir ons genot en bepeinsing. Soos Koning Salomo, kan ons Hom ook vir Sy werke loof: “’n Oor wat hoor en ’n oog wat sien – die Here het hulle altwee gemaak” (Spreuke 20:12).